Die dieretuin in Bloemfontein is nou permanent toe, volgens die inligting op Google Maps. Ek het dit vandag toevallig raakgesien toe ek ‘n adres in die stad gesoek het.
Die dieretuin was die eerste besienswaardigheid wat ek en my drie spruite gaan besoek het net nádat ons in Bloemfontein aangeland het. Ons het in die vroeë ure op ‘n koue reënerige wintersoggend uit Kaapstad vertrek. Ná nege ure van ‘n martel-rit met drie verveelde kinders en die mopshond in die klein karretjie, het ons net geëet en in ons hotelbeddens geduik. Die volgende oggend, terwyl ons gewag het vir die vervoerwa om ons meubels af te laai, het ons – minus die hond wat in die sorg van die hotelpersoneel gelaat is – tyd verwyl in die dieretuin. Die kinders het afleiding nodig gehad, en ek rus vir my rustelose siel.
Ek onthou dat die son helder geskyn het, die hemelruim was presies net so blou soos wat ek dit onthou het en die lug net so vars. Hierdie was nie ons eerste verblyf in Bloemfontein nie – Karen is agt jaar vantevore hier gebore – maar vir die kinders het die herinneringe begin vervaag in die vyf jaar wat ons in die Kaap gewoon het. Die twee seuns het wel onthou van die aaphokke en dis waarheen hulle heel eerste gestorm het. Daardie wit aap wat sweerlik opleiding ontvang het in die vermaakwêreld en nog steeds gesmag het na die aandag van ‘n belangstellende gehoor, het ‘n opera-noot aangehef wat begin het in die tenoorrang. Algaande, al swaaiende in die boomtakke aan sy ellelange arms, het hy gevorder tot ‘n sopraannoot wat ‘n sjampanjeglas sou laat ontplof. Dis die eerste keer in ‘n lang tyd wat ek my kinders weer uit volle bors hoor lag het.
Daarná het ons tenminste een of twee keer per maand die dieretuin en omgewing besoek. Soms het ons net in die nabygeleë Kings Park Rose Garden rondgeloop. Daar was een keer per maand stalletjies waar jy allerlei snuisterye kon koop of kosstalletjies waar jy ‘n boereworsrol kon koop vir middagete. Soms het die kinders net in die speelpark geswaai en van die glyplanke af gegly. Selfs Vlooi, die mopshond met die kort beentjies, het dit geniet. Totdat sy eendag probeer het om op water te loop – die waterlelies het so dig gegroei op die dammetjie dat die blare seker vir haar na ‘n veilige tapyt gelyk het. Ons het ‘n paar benoude minute beleef totdat ‘n verwese nat hond uit die dam gevis is. Maar die dieretuin was altyd die grootste aantrekkingskrag. Dit was die hoogtepunt van die week ná ‘n lang werks- en skoolweek in die nuwe omgewing.
Ek was nooit ten gunste daarvan dat diere in ‘n hok aangehou word nie, maar die Bloemfontein dieretuin was daardie jare (1993 tot ons daar weg is in 1999) uitsonderlik goed onderhou en die diere het uitstekende sorg ontvang. Die kurator, Sarel van der Merwe, was ‘n dierekenner en -liefhebber sonder gelyke. Die dieretuin was bekend vir sy talryke soogdier-spesies wat die Groot 5 ingesluit het: olifant, renoster, buffel, luiperd en leeu. Dan was daar ook ‘n leeutier (‘n kruising tussen ‘n leeu en ‘n tier), sjimpansee, gorillas, slange – tot Middelkind se groot vreugde – en ‘n groot variëteit kleurvolle voëls. O ja, en seekoeie. Moenie vergeet van die seekoeie nie.
Ouma het vir ‘n rukkie by ons gewoon en die kinders kon nie wag om haar aan al die diere voor te stel nie. Veral aan die seekoeie. In die dieretuin was ‘n spesiale skuiling reg langs die waterstroompie vanwaar jy die seekoeie kon dophou sonder dat hulle van jou teenwoordigheid bewus was. Ons moes haar seker vooraf gewaarsku het dat seekoeie die manier het om hulle liggaamsnood te verlig in die water en dan daardie kort stertjies heen en weer te swaai om die onderlyf skoon te was. Ouma, wat presies op die verkeerde oomblik haar hele kop deur die opening gedruk om die seekoeie te beter te bekyk, is gebaai in ‘n streep groen seekoeimis. Natuurlik het die kinders gelag. Ek moes hulle seker vooraf gewaarsku het dat my ma die soort persoon was wat ‘n wrok kon vertroetel vir jare. Sy was nie die soort ouma vir wie jy kon lag nie. Oudste het dit tot sy nadeel uitgevind.
Die leeutier (of was dit ‘n tierleeu?) was ‘n massiewe gedierte, wat heeldag in die son gelê en deur die tralies van sy hok gestaar het. Hy het altyd so mak en besadig voorgekom. Totdat Oudste besluit het om hom ‘n bietjie te terg. Daar was ‘n veilige afstand tussen die hokke en die diere, en dit was ten strengste verbode om die diere te voer of te terg. Maar Oudste “het begin stertvere groei” volgens sy ouma se oordeel, en wou nie luister nie. Hy het reg voor die hok stelling ingeneem en die dier getart met “wha-wha” geluide. Die tierleeu het lui-lui op gestaan, omgedraai, die lastige mensekind vierkantig in die oë gekyk en self ‘n wha-brul gelos wat Oudste op sy agterstewe laat beland het, sy mooi blonde kuif deurmekaar geskrik en sy blougroen oë so groot soos pierings. Ouma het hom nooit toegelaat om hierdie episode te vergeet nie.
Die gorillas was ‘n groot bron vir vermaak, veral die ou wat altyd sigarette gebedel het by die omstanders. Daardie dae het almal nog gerook en sigarette was goedkoop genoeg om te deel met ‘n gorilla wat so mooi vra. Die ou het altyd die brandende sigaret netjies uit die lug gevang en homself gaan tuismaak op ‘n boomstomp. Dan het die rookwolke by die neus uitgeborrel terwyl die ou daar doer in die verte gesit en staar, en sy eie denke gedink het.
Nadat die seuns terug is Kaap toe, het ek en Karen steeds die tradisionele dieretuinbesoeke voortgesit. Ons het een of twee keer ‘n Zoo Snooze bygewoon, ‘n na-ure besoek waartydens ons in die nagtelike ure kon dophou hoe die vleisvreters gevoer word en waar ons waardevolle lesse geleer het oor diere in hulle natuurlike habitat, asook die rol van die mens in natuurbewaring. Besoekers het die keuse gehad om in die dieretuin te oornag, maar ons het gewoonlik ná die voertyd huis toe gegaan. Dit was ‘n uitstekende inisiatief om geld in te samel vir die versorging van die diere en vir teelprogramme.
Die een geleentheid wat egter vir altyd in my geheue bly vassteek het, was die renostertroue wat ons een Saterdagmiddag in die dieretuin bygewoon het. Ook ‘n geldinsamelingsprojek. Ons het almal op die gegewe tyd versamel buite die stewige ronde muur rondom die putvormige kamp waar die “bruid” en “bruidegom” gewag het op die seremonie. Die kurator, wat opgetree het as die strooijonker en die predikant, was saam met die renosters in die put en ons is vermaan om stil te wees vir die seremonie wat seepglad verloop het totdat die dominee die “ring” (‘n krans van blomme as ek reg onthou) aan die bruid wou oorhandig. Net vir ‘n paar oomblikke was die groot diere ongedurig en het die waaksame houding van die kurator en sy beamptes verklap dat ‘n verkeerde beweging die hele seremonie in ‘n ernstige situasie kon laat ontaard. Gelukkig is die renosters gou tot bedaring gebring en het die huweliksgaste besluit die huwelik is susksesvol voltrek.
Dis hierdie soort herinneringe wat my na al die jare nog bygebly het, lank nadat ons die Vrystaatse stof van ons voete afgeskud het, diep weggebêre agter in my kop totdat ek die berigte op die internet gelees het: Bloemfontein Zoo Animals in Shocking Condition, Starving to Death (5 Maart 2020) en Animals starved to death at Bloemfontein Zoo, SPCA calls for permanent closure (10 Maart 2020). So, die dieretuin is nou toe. En die diere – ek hoop vir die meeste van hulle was daar ‘n ander uitkoms.
Anonimicus
Ons is einde ’68 weg uit die Vrystaat uit maar ek het vir sewe jaar lank gereeld daardie dieretuin besoek. Ons was een keer na 1994 daar maar dit was nie naastenby dieselfde ervaring nie en toe het ons nooit weer gegaan nie.
HesterLeyNel
Dit was vir my steeds die beste stadsdieretuin in die land – klein en intiem. En ons het in alle stede gewoon. Ek het nooit weer teruggegaan ná 1999 nie en weet nie hoe alles so skeef geloop het nie. Dankie vir die inloer en follow 😀
Anonimicus
Ons het somtyds piekniek daar gemaak. Laas toe ons daar was, was daar amper nie diere nie. Net ‘n hartseer olifant doer agter. En ‘n volstruis of iets.
HesterLeyNel
Dis tragies, om die minste daarvan te sê. Dit laat my wonder of die diere wat op Naval Hill was, nog daar is. Ek verstaan dit het daar net so vervalle geraak.
Anonimicus
Daar was giraffes en pajamaperde toe ons daar was. En ek dink daai volstruis…..
HesterLeyNel
Daai volstruis het ons siele vertoorn. Ons het fietsgery daar en is gereeld gejaag deur ‘n volstruisouer. Daar was ook wildsbokkies.
Anonimicus
Ek wens daar was CCTV ook…….
HesterLeyNel
Ek is bly daar was nie!
Anonimicus
😀 😀
Kameel
Dit was nou ‘n lekker vertelling…. seekoeimis en al 😂😂😂 Ek dink ek sou ook gelag het. Dieretuin was definitief in my opgroei stadium ‘n heerlike dag uitstappie. Klink my al die gorillas het gerook.
HesterLeyNel
Ja, ek hoop nie die arme ou het longprobleme opgedoen nie.
vuurklip
Die Covidpreneurs het seker die diere se foodparcels gesteel?
HesterLeyNel
Sal my ook nie verbaas nie Vuurklip. Geld het mos maar ‘n manier om in die drein af te hardloop in hierdie land.
Bondelsgedagtes
Sjoe dis ‘n mooi foto van die renoster! Nou lus ek om hom te teken!!! Ek het self al gesien as die seekoei sy mis so versprei, dis regtig snaaks. Ek sou ook gelag het. Maar dis baie hartseer dat die diere so verwaarloos is en dat die dieretuin nou toe is. Ek persoonlik dink die mens gaan verantwoording doen vir dieremishandeling en verwaarloosing…dankie Hester, ek het jou skrywe baie geniet.
HesterLeyNel
Dankie Bondels. Dis maar ‘n hartseer saak, maar die prioriteite van die outoriteite het seker maar verander.
Abrie Joubert
Ai dit is jammer. Ek is mos in Bloemfontein gebore en ek neem aan ek was daar maar op ouderdom 4 is ons Transvaal toe en ek kan dit nie onthou nie. Ek was wel in 2 000 as volwassene daar en die plek was inderdaad baie goed versorg. Ek gaan vanaand blog skryf en hierdie een sommer daar aanhaak.
HesterLeyNel
O, jy’s ook ‘n ou Bloemie. Ons het twee keer daar gewoon, eers in die 80’s en toe weer in die 90’s. Daarvandaan is ek Gauteng toe. Het ook die hele landvol gewoon, maar Bloem was vir my ‘n spesiale plek van rus en vrede (die tweede rondte, bygesê). Ek sal ‘n oog uithou vir jou blog, dankie.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Hester, dis nou mooi dieretuin en Vrystaat onthou. My Bloemfontein onthou is van naby die dieretuin by my Ingelse ouma en Ingelse boontjies….ek gaan ook blog. Jy het hier iets ontketen.
HesterLeyNel
Dis reg Lekkervuurtjie, laat ons blog oor dinge wat weggeraak het voordat die herinneringe vervaag. Lyk my ons almal se voetspore lê daar in die Vrystaat.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Die hart van ons land, net te koud in die winter
HesterLeyNel
Ja, maar die hemelse somerweer maak op vir die winter! Ek het menige dag langs die Arthur Nathan-swembad myself verbeel ek lê op die strand 😂
Una
Hester, daardie dieretuin het vir my net soveel herinneringe! Ek was 1979 tot 1982 op Kovsies, en elke maand het ons die dieretuin besoek. Of op sy parkeer terrein piekniek gehou. Jy het nou omtrent my onthou-boksie oopgesluit.
HesterLeyNel
Nog een wat in die Bloem rondgehang het! Bloemfontein in die 90’s was my veilige plek en ek sou aangebly het as die werk nie ‘n doring in die vlees gehad het nie. Karen beskou haarself as ‘n volbloed-Vrystater en wil nog altyd gaan kuier, maar ek weet – dit gaan nie dieselfde wees nie. Om terug te loop op jou spore, veroorsaak net ‘n wrang smaak in die mond.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
“Om terug te loop op jou spore, veroorsaak net ‘n wrang smaak in die mond” – onthou jou aan gaan reis na onthou, dit breek net mens se hart.
HesterLeyNel
En dis nou die waarheid.
scrapydo2.wordpress.com
Ai dis tragies van die diere en omstandighede. Ek was nooit in Bloem se dieretuin maar wel baie in Pretoria dieretuin. Veral met jaarlikse skool uitstappies. KInders was mal daaroor om te gaan. In Potties het ons die Wildteelsentrum gehad wat ook baie interessant was. Dit het ook heelwat goeie jare en slegte tye gehad. Wonder of dit ooit nog bestaan. Dit was nou n lekker dieretuin kuier. Die seekoei storie het ek self ook beleef, darem nie aan my lyf nie.
HesterLeyNel
Ek was nooit baie mal oor Pretoria se dieretuin nie. En daai wit beer (polar bear?) wat altyd so by die kant van die water gestaan en net sy kop heen en weer geswaai het – hulle het gesê hy doen dit omdat die klimaat te warm was vir hom. Dit het my hart gebreek.
scrapydo2.wordpress.com
Die dieretuin het later baie verander na oop stukke as blyplek. Nie meer sulke klein hokkies soos vroeër nie. Daardie beer was vir my ook nie lekker om te sien nie. Selfs die op en af lopery langs tralies heen en weer was vir my ook erg.
HesterLeyNel
Ek dink my laaste besoek daar was voor 1981, want ons het kort daarna Bloemfontein toe getrek. Ek was jare later, so teen 2002, in die Johannesburg dieretuin, maar teen daardie tyd het ek my smaak vir dieretuine verloor.
Anne
Hester, I don’t have the Afrikaans words at hand to express how I feel about this. You have brought tears to my eyes: your wonderful memories only to be followed by the gruesomeness of neglect. For that is what it is – a lack of appreciation for the lives of the animals leads to a lack of care and thus to neglect. How very, very sad this is. You are right though: we need to write about things as they were while we can still remember. I remember that head-swinging polar bear – felt so awful about it that I never went back.
HesterLeyNel
It’s a darn tragedy, especially when you think of all the money spent on nonsensical events, buildings, monuments and lavish funerals (which the dead cannot possibly appreciate) or simply disappearing into the very deep pockets of the politicians.