My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Druk toe daai gat waar die koue wind uitkom

Die blêrrie koue wind wat oor die land waai, maak Oom Cyril se lockdown-toegewings vir ons strandlopers nou heeltemal ongedaan. Laat my nou weer dink aan my oupa Andries wat die gewoonte aangeleer het om te praat van die “liewe oostewind wat waai,” versigtig om nie te sondig deur teen die elemente te protesteer nie.

Die wind oor die Indiese Oseaan laat vandag die wit perdjies galop. Verlede week nog was dit windstil in die oggend. Die see was kalm, die water in die getypoele plat soos ‘n spieël. Die foto hierbo is geneem by Anerleystrand – om die laaste gedwonge visvangsessie te herdenk. Ek het my kaste begin uitpak op soek na ‘n swembroek. Dit wys jou net, nè?

Die wildevy hier buite my kamervenster is (hierdie tyd van die jaar?) besig om al sy blare af te gooi en is klaar besig om sy lentetooisel aan te trek. Die blare waai die hele wêreld vol en net môre is die afvoerpype weer verstop. Sebedeus loop op en af in die straat met die leaf blower – hoiing, hoiing, hoiing – en blaas die blare windop na die hek se kant toe. Die wind waai dit weer terug 🙄

Ek kon van kindsbeen af nooit vrede maak met die wind nie. Die Namakwalandse suidoostewind het my geteister in die droë maande. Ek onthou nog hoe ek altyd geweeklaag het hier na die einde van die derde skoolkwartaal toe. September en reeds vrek warm, maar die skoolhoof het daarop aangedring dat die dogters hulle lang swart winterskouse dra tot op die laaste dag wat die skool sluit. Bult-op huis toe van die bushalte af het die growwe sand my bene so erg gepiets dat die Blêk Meraais nuwe lere gehad het teen die tyd wat ek by die huis ingestrompel het.

Bloemfontein se ysige koue wind. Eish! Die wind het mos begin waai net die oomblik wanneer die boere almal hulle landerye klaar geploeg het. Teen elfuur in die oggend het daar so ‘n dik rooi wolk van Dealesville se kant af oorgetrek. “As jy nou buite staan met ‘n bokseil, kan jy vir jouself ‘n plaas vang,” het die Bloemfonteiners gespot. Die huisvroue het net met saamgeperste lippe toegekyk hoe die rooi stof neersif op hulle wasgoed en spierwit kantgordyne. En kóúd. Soms het daar so ‘n ligte motreëntjie neergesif en die nattigheid op die pad het onmiddellik verys. Ek sal nie vergeet hoe ek een middag op die inkopiesientrum se stoep staan en kyk het hoe my splinternuwe Kadett oor die ys teen die geteerde helling afgegly het tot onder in die straat nie. Slow motion magteloosheid.

Die Kaapse wind.  Spelerig en net soms lastig. Maar toe was ek heelwat jonger en die bloed warmer. Die Sedoos waai met verstommende krag. Daardie dag (circa 1970) voor die Kaapse stasie het die wind my geskep en letterlik oor die pad gewaai. Daar was ‘n ridder (te voet, nie te perd nie) wat my gevang en toe vir my ‘n koppie koffie gekoop het in die stasierestaurant. Net vyftien minute uit my lewe. Ek het jou naam vergeet, maar ek onthou jou glimlag, en ek het nooit ooit kwaad geword vir die Kaapse Dokter nie.

Wat onthou ek van Gauteng se wind? Daar in die Vaal Driehoek waar ek gewoon het, het die wind deur toe vensters en deure gedring. Alles onder stof en roet vir dae lank. Swart. Nie rooi soos Bloemfontein se stof nie. Plastieksakke wat teen die heinings vaswaai. Die ou peperboom buite my kamervenster se takke wat so opswiep soos ‘n outydse tante se uitskop-onderrok. Ons het een jaar die bome se boonste takke laat afsaag, want ek was altyd bang die boom val op my huis. Hulle het weer uitgegroei en ‘n pragtige sambreel gevorm. Maar ten minste het die wind die vuil lug verdryf sodat ons weer kon asemhaal.

In die Gautengse middestad waar ek gewerk het, onthou ek net die rokers wat in sulke bondeltjies bymekaar gestaan en sukkel het om hulle sigarette op te steek. Koue wind in die gesig, maar rook sal ons rook. En Oom Cyril het gedog ‘n lockdown sou sy volk genees van die rookgewoonte 🙄 O ja, en die stokstywe haarkapsels van die Gautengse dames daardie jare. So hard gespuit dat geen wind ‘n inkelte haar kan verroer nie. 

Ek reken ek moet ‘n vinnige draai op die strand gaan maak. Net sodat die wind my hare deurmekaar kan krap en die seesproei teen my lyf vaswaai. 

Follow Dis Ekke

49 Comments

  1. Jy skryf so goed ekcsien en voel die prentjies. Wens ek kon die seeperdjies beleef vandag. Dankie dat jy dit met ons deel

  2. Hes, jou skrywe het nou die wind hier op Waterval weer los geanker, en nou is hy nukkerig verby, vanmore was valser as ‘n oplsagsomer. Jy ken die winde van ons land en skryf mooi prente.💝📚✏

  3. As die wind so waai
    Soos hy nou daar waai
    Hy waai my Lisa teen die taaibos vas
    Hy waai my hier, en hy
    Waai my daar
    Hy waai my hare sommer deurmekaar
    Stadig, stadig oor die klippertjies
    Die reen val sulke wonderlike druppeltjies
    Dis daar waar die son en, die maan ondergaan
    Bokkie ek wil huistoe gaan……
    Dis nou wat deur my kop gaan 🤔
    Lekker skrywe Hester.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      En ek het nou lekker hesit en sing. Maar wie is Lisa – ‘ vingerfout? Ek ken dit as “hy waai my jas teen die taaibos vas”. 😍

      • Ek was nie seker van woorde nie… maar deuntjie bly in my kop. Kyk toe op google… en daar staan Lisa. Kon eerder Hester daar ingesit het!!! Of hy waai Hester teen ‘n ridder vas 😊

  4. Hierdie is ‘n wonderlike beskrywing van die wind wat alles ondertebo in ons tuin waai: stoele, blare, en takke van bome. Die wind is sterk en ysig en die temperatuur is net 5 C. Nog geen wolke nie – ek dink hulle is alles weg gewaai!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek sien oraloor verslae van sneeu wat geval het, so ons gaan nog ‘n hele rukkie koud kry. Ek sien ons begin weer met loadshedding stage 2 vanaf 4 pm. Sug.

  5. Petra van Tonder

    Ag so heerlik om dit te lees. Praftig! x

  6. Pragtig geskryf, Hester! Lekker gelag vir die bokseil wat ‘n plaas kan vang!🤣

  7. Dis presies hoe daardie ellendige stuk gereedskap klink: HOIING! Het so lekker gelees aan hierdie (onwillige) ode aan die wind.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Frannie. Ek haat daardie geluid hier reg voor my venster. Ek kan sweer ‘n hark sal dalk beter werk, maar sjym man, die outjie doen seker ook maar net wat vir hom voorgesê word.

      • Daardie selfde geluid, tussen twee en drie op ‘n Sondagmiddag…eendag gaan ek nog myself aan daardie bure voorstel en erg kla…dis nou as ek ooit weer terug in SA beland.

        • Suid Afrika wag vir jou met wawyd ope arms Frannie. Hoor jy nie die wind huil en roep jou naam nie? Of is dit nou my hart wat praat?

        • Die wind en jou hart maak myne bly.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ai Frannie, ek hoop dit sal nie meer te lank wees nie. Jy wil nie nog die winter (ons somer) ook daar oorbly nie.

        • Dankie, Hester – ek moet sê, om herfs hier te kan beleef is ‘n wonderlike bonus, ek sien regtig uit daarna!

  8. Hier in die Kaapn is nie juis donderweer nie, wat ek met heilige ontsag daar in die Hoeveld geniet het, maar die wind maak op as Moeder Natuur se stem.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek onthou toe ek van die Kaap af in Gauteng beland het, hoe ek die donderweer geniet het. Ek het daarmee grootgeword in Namakwaland. Dit donder en bliksem en dan is dit verby. Die Kaapse sagte, aanhoudende reën het my by tye irriteer. Ek kan nie onthou dat die wind my so erg frustreer het nie. Ons kry hier ‘n kombinasie van donderweer (gewoonlik oor die see) en dan waternat reënbuie.

  9. woordnoot

    Die wind is hierdie jaar vir my erger as ooit tevore, maar ek dink dis omdat ek ook ouer as ooit tevore is….maar skynbaar bring die wind die reën vir die somer.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ons verduur maar die wind sodat die binneland reën kan kry “insert tongue in cheek emoji”.

      • woordnoot

        Ag julle is so gaaf met ons arme binnelanders…..hoop jul gaan n great somer beleef

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ons kry gewoonlik wonderlike weer eers hier van middel Januarie af. Februarie tot Junie is absoluut die beste tyd van die jaar hier, so ‘n paar maande van wind is darem nie te ernstig nie 😀

        • woordnoot

          Ek kan onthou hoe heerlik die weer was oor Paasnaweek terwyl my ergste seevakansie in Durban was oor Desember. Dit het elke dag gereën ….

  10. Ja, die liewe wind. As kinders het ons altyd gespeel dat die die Impies ons bestorm as die warrelwinde op die Hoëveld sulke suile rooi grond die lug instuur. Hier in NZ is daar gedurig wind(waarvan ek nie te veel hou nie). Wellington is bekend vir sy winde. Brrrr, kry sommer koud as ek aan die Suidewind dink. Jy het regtig n pragtige stuk oor wind geskryf. Ek het net ondervinding van Transvaalse winde.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Impies 😀 Ja, ons het in al die groot stede gewoon, so ek het heelwat ondervinding van winderigheid hier in SA.

      • Donker donker nag nader kruip die Zoeloe mag- wat ons in skool geleer het. Het ins die klomp Impies laat naderkom om aan te val. Ek het nie regtig in groot stede gewoon nie. Secunda was enigste een wat gegroei het tot stad toe ek daar gebly het.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het op die platteland grootgeword en dit was heerlike kinderjare wat ek graag vir my kinders ook sou wou gee. Ongelukkig het werksomstandighede vereis dat ek in stede moes bly. Dis hoekom ek nou so ook lekker afgetree woon in ‘n klein kusdorpie.

        • My kind het ook maar in die stad/dorp grootgeword. Ek het altyd probeer om so veel as moontlik meer plattelands te bly. Hy is heel begeesterd om n stukkie grond te wil kry soos sy oupa gedoen het met ons. Ondersteun hom maar waar ek kan. Tog vandag se lewe is te gekompliseerd, hul moet werk om geld te kry om dinge te doen.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Geld ja, te veel dinge draai deesdae om geld. Dit versuur net ‘n mens se lewe.

        • Ek het lekkerder gewerk met minder geld en rustigheid dan die gedurige geld makery om luukse dinge te koop.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Om broke te wees langs die see is lekker 😂 die rat race sien my nie weer nie.

        • Gelukkige jy. Gelukkige ek wat op hierdie stadium van die lewe op die kantlyn staan en alles maar aanskou en net my kop skud!

  11. Ek het grootgeword op….

    Goed
    Beter
    Worcester

    waar die wind eiers lê as hy gaan lê en waar ek in 1970 my eerste Raleigh- baaisiekel gestoot en gedra het van Oom Kirschbaum se fietswinkel af tot bo in Worcester-Wes. Want die noordwester het gewaai.

    In Seepunt is dit sommer nou 39°C met hemelhoë humiditeit as die Swart Sedoos nie waai nie. Daarom sing ek saam met die baksteenhoë Sonja “….waaaaaaiiii wiiiiinnndd….”

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Sjoe! Dis ietwat warm. My man kla ook altyd oor die hoë humiditeit hier in die somermaande en sê hy kan nie asem kry nie. Ek maak asof ek ‘n vis is en gaan haal asem in die koel branders.

      • Ons het met ‘n Stevenson temperature by Worcester gemeet wat die weerkantoor “sterk betwyfel.” Asof hulle altyd oral is. Maar ons is gewoond as die teer smelt. As dit in Oz gebeur, dan kom dit op SA se TV nuus.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het grootgeword met die smeltende teer daar in Namakwaland. Maar dis natuurlik ‘n droë temperatuur met ‘n geweldige warm son. Dit gebeur ook in Bloemfontein – drie kinders wat huis toe kom met teer aan die sole van hulle skoolskoene.

        • Hehehe dankie! Ten minste één mens wat weet ek lieg nie.

  12. Hier by ons blom die koraalbome al, soos blosende leuenaars wat lieg lente is her. EK sit hier voor my rekenaar met ‘n kombers oor my bene en ‘n kombers om my skouers.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die koraalbome hier by ons het al in Mei begin blom. Sommiges het nog baie blomme, maar nou begin die blare meer word. Daardie besondere oranje kleur maak my altyd opgewonde, want dan weet ek die somer is op pad en hierdie jaar is hulle vroeg. Dalk voorspel dit ‘n vroeë en geseënde somer.