Die blog wat Christa anderdag geplaas het oor sagopoeding het by my ‘n klokkie laat lui. Ek wou my verbeel dat ek ook eens op ‘n tyd oor sagopoeding geblog het, maar my soektog op my webtuiste het niks opgelewer nie. Eienaardig, het ek gedink, want hoekom onthou ek so duidelik wat die verskil is tussen sago en tapioka? Dis nie normaalweg ‘n onderwerp waaroor ek my kop sal breek nie.
Gister het ek so ‘n bietjie spring cleaning gedoen op my rekenaar en ‘n klomp verouderde lêers verwyder. Toe kom ek af op die blog oor sagopoeding wat ek in Julie verlede jaar reeds geskryf en nooit gepubliseer het nie. Dit laat my dink dat ek dalk ‘n meer indringende skoonmaakproses moet instel, want daar is sommige inligting wat ek beslis nie in my nageslag se hande wil laat val nie.
In elk geval, hier is die blog nou.
Slegs in hierdie huis sal ‘n poging om sagopoeding in die mikrogolfoond te maak, ontaard in ‘n bekgeveg van epiese formaat. My lus vir sagopoeding hang al ‘n hele ruk lank uit. Vandat die wintertemperature toegeslaan het, om presies te wees.
Hierdie week op Facebook was daar ‘n resep vir sagopoeding wat in die mikrogolf gemaak word. En van toe af kwyl my bek. Maar ek onthou al my flopsies van die verlede en raadpleeg my chef-seun op WhatsApp. Hy en vroutjie eet vandag uit sê hy, maar sy het ‘n baie lekker resep wat sy vanaand vir my sal stuur. Chefs is altyd besig met kos. As hulle nie self kook nie, eet hulle uit. Ek kan nie verstaan hoe ‘n mens ses dae van die week 12-uur skofte werk om vir ander mense te kook en dan op die sewende dag gaan uiteet by ‘n ander restaurant nie. Maar dis nou nie deel van my storie nie.
Met die verlangde resep op my selfoon, jaag ek my dogter trap af, kombuis toe. “Reg,” sê ek toe sy voor die mikrogolf staan, “hoe stel ‘n mens die persentasie krag?”
Jac staan ook nader met ‘n meewaardige grynslag op sy gesig. Hy hover alweer soos ’n helikopter, soos altyd wanneer ek my in die kombuis begewe.
Ek en Karen bekyk die mikrogolf se paneel en bepeins die saak. Tot ons verdediging – ons kook op ‘n gasstoof, in ‘n drukkoker of ‘n prutpot, of braai vleis. Die elektriese stoof en mikrogolfoond word by wyse van uitsondering gebruik. Tot ons krediet – ons het vandag, sonder behulp van die handleiding wat “iewers” gebêre is, uitgevind hoe om die mikrogolf se paneel te gebruik.
Terwyl ons die bestanddele bymekaar maak, vertel ek haar van Skoonma Kowie se gebakte sagopoeding. Skoonma Kowie was ‘n voorslag huisvrou, bakster en kok. Sy het altyd haar poeding in ‘n deurskynende Pyrexbak in die oond gebak totdat die sagokorrels groot uitgeswel en heeltemal deurskynend was, soos klein kristalballetjies. Teen die tyd wat die poeding uit die oond gehaal is, was die groot kombuis deurtrek met die geur van kaneel en appelkooskonfyt. As jy so liggies teen die bak gestamp het, het die inhoud gedril soos jellie.
My pogings daarenteen, het in die verlede almal toegeslaan en kon slegs as deurstoppe gebruik word. Dis nou te sê as die sago nie voor die bakstadium reeds tot pikswart as verbrand het nie.
“Oukei,” sê ek en raadpleeg die resep op my selfoon, gooi die sago, melk en botter in die bak en mikrogolf vir tien minute op 100% krag. Roer elke minuut. Ek gaan solank die eiers skei.”
“My ma het tapioka gebruik,” sê Jac.
“Wat is die verskil tussen tapioka en sago?” wonder ek. Hulle lyk vir my presies eenders.
“Daar’s g’n verskil nie. Die tapioka se korrels is net groter.” Hy klink baie seker van sy saak en ek kan nie stry nie.
“Is jy nie veronderstel om die sago eers te week nie?” vra hy, alwetend.
“Nie vir hierdie resep nie,” sê ek en gryp die blik konfyt by hom. Hy beskou die konfyt as sy persoonlike eiendom en maak beswaar elke keer as ek dit in kos gebruik.
“My ma het die sago oornag geweek. Die volgende dag het sy dit in melk gekook tot dit deurskynend was en jy moet aanmekaar roer sodat dit nie aanbrand nie … “
“Ma! Ma! Wat is volgende?”
“Nou moet jy die oond op 50% krag stel vir 5 minute en onthou om elke 2 minute te roer.”
“ … en dan gooi jy eers die suiker by … ” Hy is nog besig om sy ma se resep af te rammel.
“Nou wanneer kom die eiers en die suiker by?” wil Karen by my weet.
“In stap 2. Jy is nog besig met stap 1.”
“ … en voordat jy die bak in die oond sit, stip jy die sago met klontjies botter en konfyt … ” dreunsang skoonma se resep nog daar van die tv se kant af.
“Ma! Pa!” kla my dogter.
“Sjarrap!” sê ek, desperaat om gehoor te word, en hy vererg hom. Stap uit na die tuinbankie toe met sy stert in ’n krul gewip.
Tien minute later sit ons twee vroumense op die houttrap voor die venster en eet ons poeding met vla. Ek kan vla maak in die mikrogolf.
“Dit smaak glad nie sleg nie,” sê ek, dankbaar dat die konkoksie darem eetbaar is.
“So hoeveel perdehoewe het Ma nou geëet?”
“Huh?”
“Dis waarvan sago gemaak word,” sê sy kalmpies. “Ma kan mos proe, dit smaak pure gelatien.”
Googleloer: Tapioca comes from cassava – a long root of a vegetable. In some South American countries the root is actually called tapioca. Sago is made from the pith of the sago palm. However, parenting aside, they are very similar and behave the same.
Sago en tapioka is NIE dieselfde ding nie en word NIE van perdehoewe gemaak nie. Ek is vies vir my wederstrewige huisgenote. En ek verlang steeds na Skoonma Kowie se oondgebakte sagopoeding. En dis die laaste keer wat ek enige soort poeding gaan maak.
Photo credit Wikipedia – Ceeseven / CC BY-SA (https://creativecommons.org/licenses/by-sa/4.0)
Una
Hester!!! Nogal die laaste keer wat jy enige soort poeding gaan maak! Jy laar my soveel beter oor my eie bakvernuf voel.
HesterLeyNel
Ek moet sê, die kombuis is nie die opwindendste plek in die huis nie, Una.
Anne
Jy laat my terug dink aan my skooldae in die koshuis waar ons gereeld sago poeding en melksop gekry het.
HesterLeyNel
Praat jy van melksnysels soos ons dit genoem het? Jy sny deeg in dun repies of frummel die deeg en kook dit in melk met suiker tot dit gaar is. Dan strooi jy kaneel oor. Ons was baie lief daarvoor, maar my kinders trek hulle neus op daarvoor.
Anne
Ja – baie lekker.
HesterLeyNel
Dit is, ja.
Dr Christa van Staden
Ek het nou lekker saamgekuier. Dankie vir die deel.
Kameel
Oooo Hester nou is ek so lus vir sagopoeding. My ma het die oondgebakte een gemaak Ken se ma net die gekookte pap met kaneelsuiker oor. Dis soos Ken en die kinders daarvan gehou het… en ek het net so lief geraak daarvoor. My sagopap het nooit geflop nie tot hier in die stad… toe kook dit tweekeer net ‘n bal wat mens niks mee kan doen as om rond te gooi nie. Dit was die einde van sagopap. (Aangeneem die sago kom ook nou van Sjina af 😂😂😂😂)
HesterLeyNel
Kry jy ook die gevoel dat selfs die eenvoudigste voedselsoorte deesdae minderwaardig smaak teenoor die produkte waarmee ons grootgeword het? Ek dink die goed word te veel gemanipuleer of net op ander maniere verbou. Dis geen wonder ek wil soms nie die moeite doen om te eet nie.
Kameel
Definitief. Kwaliteit het verlore geraak 😭😭😭😭
HesterLeyNel
Nou weet jy hoekom ek nie brandewyn drink nie. Want Coke smaak nie meer lekker nie.
Kameel
Coke smaak deesdae soos die Soppies se coke wat jy gekry het saam met jou kaartjie. Dit was definitief afgewater… maar wat ‘n mens kon ure in die soppies sit en fliek kyk… flat coke en al.
HesterLeyNel
Siende dat ek op die platteland grootgeword het, het ek nooit sopkombuise leer ken nie, totdat my Matielandse boyfriend my eendag geskiet het vir fliek in die Kaap. Hoekom was ons in die Kaap? Ek dink ons het by sy ma gekuier vir die dag. Enniehoe, toe vat hy my sopkombuis toe en ons kom daar aan in die middel van die fliek. Ons kyk toe eers die tweede helfte en moes toe wag vir die eerste helfte. Ek was nie beïndruk nie. Kan nie onthou wat ons gedrink het nie.
Kameel
Soppies het nie ‘n goeie reputasie gehad nie. Daardie jare was die teaters mos baie fancy His Majesties (spelling,) ens…. dus is soppies as common gesien. My ouers het natuurlik nie geweet waar ek my bevind nie. Jou boyfriend moes jou nie soppies toe gevat het as jy ‘n fliek mooi netjies van die begin af wou sien nie… lekker lag ek vir jou.
HesterLeyNel
Arm studente, jy weet?
Bondelsgedagtes
Oeweeeee hul lus ek nou sago poeding, jaaaaare laas gemaak of geeet!!
HesterLeyNel
My seun het dit hierdie week vir sy huismaat gekook. Sy is soos ek – kook ook liefs nie 😁 Hy het nou vir my ‘n hele speech gegee oor hoe mens dit REG doen 🙄
Bondelsgedagtes
Oi!!
rondomtaliedraai
Die wurmpie in die koshuissago het my vir altyd laat weier … maar nou eet ek dit darem weer.
HesterLeyNel
Wurmpie? Wafferse wurmpie? Is daar wurmpies in sago? Ek sit my mond nie weer daaraan nie.
rondomtaliedraai
Eendag was daar ‘n wurmpie in my sago en ek het dit nooit weer geëet nie… Ligjare gelede
rondomtaliedraai
Beslis… dit was darem in die sestigerjare… alles was anders
Tannie Frannie
Oo, ek’s so bly jy het hierdie skrywe ontdek, dit was nou innige verlekkering. Het Jac darem ook op die ou end gekry? (Kon nog nooit sagopoeding regrky nie, nie eens met my voorslag-skoonsussie se resep nie.)
HesterLeyNel
Hy het die vla opgeëet as ek reg onthou. Hy hou nie van mikrogolfkos nie, maar as hy nie weet hoe dit gekook is nie, kom hy nie die verskil agter nie 🙄
Tannie Frannie
Hmm, soos GL heerlik aan Brusselse spruitjies gesmul het tot die kwade dag toe ek hom vertel het dis eintlik klein koppies kool…
HesterLeyNel
Bwahahaha. Nooit! 🤣🤣
scrapydo2.wordpress.com
Baie goed om te hoor jul kon dit eet. Sal lankal die kommentaar in kiem gesmoor het.
HesterLeyNel
Ek ignoreer dit gewoonlik tot op ‘n punt waar my bloeddruk dit nie meer kan hanteer nie. Ek wil emigreer na ‘n planeet waar daar geen mans woon nie.
scrapydo2.wordpress.com
Haha, nou praat jy. Ek stem nogal.
Olga
Hou vir my ook plek en hou tog die ligging geheim. Hulle dring altyd in.
HesterLeyNel
Bwahaha
Petra van Tonder
O jitte! 😂 Wel, ek is bly julle kon darem sagopoefing geniet. Skoon self nou lus daarvoor.
HesterLeyNel
Ek dink hierdie gedwonge ledigheid maak dat ‘n mens meer as gewoonlik aan kos dink.
aj vosse
Wha ha HAAA!!! Padda eiers inni dam… daai goud walg my!! Maak eerder biltong… lekker vet biltong… nes Jac dit laaik… want al daai poeding-suiker is nie goed vir jou nie… maaaaarrr, biltong is!!!
Stuur groete vir Jac… en, sterkte daar!!
Stay safe – be happy!!
HesterLeyNel
Dankie AJ. Ek was so ‘n bietjie “afwesig” want ek moes ‘n paar dae in die hospitaal deurbring met sinusprobleme. Vandag eers tuisgekom. Ek sal spoedig weer ‘n draai by jou kom maak. My komplimente met julle latest edition van die Saffer mag – julle oortref julleself elke keer.
aj vosse
Vlokkies Hester… hospitaal!! Moer… ek hoop hulle het nie probeer om vir jou die vlermuispes te gee nie!! Maar, ek weet van beter… jy sou hulle stukkend gedonner het!
Starkte en dankie vir al jou bydraes… dis julle wat dit ‘n sukses maak!! 👍😁👍
Olga
Interessant om te weet tapioka word van cassavas gemaak. Die Zimbabwiers gebruik die cassavas as stapelvoedsel soos ons ons mieliemeel gebruik. Ek was reeds anderdag so lus vir sagopoeding, in die oond gebak sonder konfyt, dankie. Maar nou ja, Spar het nie paddaogies gehad nie of Homer het dit nie geken nie.
HesterLeyNel
Paddaogies! Ons het dit ook altyd so genoem – ek het al vergeet. Ons het jare gelede ‘n inslaaphuiswerker gehad en ons het heel gou opgelet dat sy nie die sagopoeding wou eet nie – want s sy “eet nie daai lelike padda hom se oge nie”.