My vreugdes en frustrasies

COVID-19

COVID-19 Die lockdown is goed vir die dieet en geite

Southport, KZN beach under lockdown to prevent the spreading of the Virus

30 Maart 2020: Dieet, grille en nukke (wat ek sommer geite noem) is baie dikwels die oorsaak van grimmigheid in hierdie huis waar vuurwarm humeure in oorvloed uitgedeel is. Die man wat op die onderste verdieping woon het vaste oortuigings oor wat hy wil eet, wanneer hy wil slaap, watter tv-programme hy wil kyk … en so aan. Die vrou wat op die boonste verdieping woon, ignoreer alles wat nie by haar idee van gesonde lewenstyl en vreedsame naasbestaan inpas nie. Die arme dogter staan in die middel en probeer die vrede bewaar.

Die lockdown het nogal ‘n mate van vrede gebring. Tenminste wat die dieet aanbetref. Ons het almal saamgestem (dit gebeur nie dikwels nie) dat ons liewer glad nie huis sal verlaat nie, behalwe vir mediese besoeke. Dus bly ons doodstil agter geslote hekke. Vir oefening loop ons al om die huis en hou twee tuine aan die gang. Buurvrou agter ons is nog steeds in Pretoria – haar tuin grens aan ons s’n en is nou ook ons grond. Ons het dus die gemeenskaplike patio en twee voortuintjies tot ons beskikking en die res van die kompleks se inwoners is ingelig oor die gebied wat ons vir onsself afgebaken het. Ons groet soggens die bure op ‘n afstand van die voorstoep, agterste patio of grasperkies aan weerskante af en waai vir almal wat verbyry. Vars groente en vrugte, brood en melk sal van hierdie week af een keer per week deur Pick n Pay afgelewer word.

Hierdie soort isolasie is nie vreemd vir ons nie, omdat die man nie baie beweeglik is nie en merendeels sy tyd voor die tv of rekenaar deurbring (of deur by die bure te kuier, maar dit word nie nou toegelaat nie). Ek en Karen kry heelwat meer oefening met ons gereelde strandlopies en inkopietogte (wat ook nou nie meer kan gebeur nie) en ek was bekommerd oor die uitwerking van min oefening en baie eet vir 21 dae. Maar dieet blyk toe nie ‘n probleem te wees nie. Ons het die kaste voor die tyd volgelaai met “gesonde” voedsel. Niks versnaperings nie. Niks soetgoed nie. Niks wat die gewig beïnvloed nie. Net sulke klein pakkies neute en gedroogde vrugte.

En die vriendelike buurvroue mag nie kom koeke en tertjies en al sulke lekker dingetjies kom aflewer vir die man nie. Sjym, man.

Die man is ongelukkig hieroor.

Baie ongelukkig. Want sy soettand huil.

Maar die skaal smaail alte mooi. En ons het die verskoning dat ons nie kan uitgaan om versnaperinge te koop nie. Pick n Pay sal so eenkeer per week ‘n klein plakkie sjokolade saambring. Maar daar is lekker dinge in die yskas om te eet – appels, druiwe, tamaties, komkommers, blaarslaai, kouevleis (rooivleis net so elke derde dag, hoender of vis tussenin). Baie goed vir die dieet. Niks om oor ongelukkig te voel nie.

Wie weet, dalk leer die man ook goeie eetgewoontes aan binne 21 dae. Dalk vergeet hy van chips en sweets en poedings en vet biltong. Maar ek is nie baie hoopvol nie, want as die buurvroue ná afloop van die lockdown weer begin soetgebak aandra, sal hy heelwaarskynlik net weer in sy ou gewoontes verval.

Vir hierdie 21 dae moet ons maar almal iets opoffer. Kan nie see toe loop nie. Nie dat dit in elk geval ‘n opsie sou gewees het die afgelope paar dae nie, want die wind het begin waai net voor lockdown. En hy waai nog steeds. Skynbaar is die haainette opgetrek, dus is swem in elk geval nie ‘n opsie nie. Ek weet dus goed hoe die see lyk, met die twee geel vlaggies gekruis om te wys dat ons nie mag swem nie. Altyd ‘n hartseer gesig. Om minder te eet, of gesonder te eet, is dus die teenvoeter wat goed werk teen moontlike gewigtoename. En ons kan darem al om die twee huise loop.

Wat die tv en die afstandbeheerder aanbetref, moes ons ook ‘n kompromie tref. Rondom middagete, die enigste maaltyd wat voorberei word in hierdie huis (die res is selfhelp), het ek die groot tv se afstandbeheerder my hand. Die res van die dag kan die man dit vashou. Ons het in elk geval rekenaarskerms in ons kamers, dus is Netflix en Showmax toeganklik.

Andersins moet die internet maar sorg vir vermaak. Hy speel Bingo, Karen hou haar besig met werk (van alle dinge) en ek luister musiek, woon e-konserte by en gesels met al wat leef en beef op sosiale media. Weemoed klap my net drie-uur in die oggend wanneer die geruis van die branders duidelik hoorbaar is en die uile sit en hoet-hoet in die groot waterbessieboom aan die kant van die patio.

Ons het nou minder as 21 dae oor om beter eetgewoontes aan te leer, minder te stry oor onbenullighede en om te leer om die afstandbeheerder te deel. Kom ons hoop dit werk.


Christa het gesê hierdie 21 dae van isolasie in jou eie huis, met die staat wat die dae namens jou aftel, skep die geleentheid om jou aandag te vestig op slegte gewoontes wat afgeleer moet word. Sy daag ons uit om te skryf of kommentaar te lewer op daardie gewoontes waaraan ons wil werk.

Follow Dis Ekke

22 Comments

  1. Ag dankie, Hester, ek het nou lekker gelees. Sien, ek moes nie dat manlief saam inkopies doen nie, ons kaste het te veel lekker goed in.

  2. En so het ek nou lekker in jou huis gekuier, dankie. Tot in jou koskaste! Ek kan glo die geluid van die see roep jou in die stil oggend-ure. Jy is mos maar ons klomp se waternimf.🤗

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek dink ek is besig om te dehidreer … 🤔

    • Ons raak nogal innoverend wat kos aanbetref in die tyd, vandag kerrieboontjies gemaak van die bone in die yskas, eergister basilpesto gemaak. Ons maak naanbrode en o ja, het wortel en komkommer piekels gemaak.

  3. Kom ons kyk wat gebeur nou. Sommer gesê ek voel skoon jammer vir jou man… maar toe onthou ek hoe moedeloos ek met myne raak wat soetgoed so kan verorber. Nie dat ek soos jy eet nie… dit los ek vir die kinders.

  4. Eish … ek eet soos ‘n ruspe!

  5. Nou ja, daar het ons dit nou. Ons word gedwing om saam te werk en ook minder te eet. Ek het reeds n week sonder my donker sjokolade klaargekom. Ergste is ek het twee slabs bestel met my inkopies wat Vrydag gaan kom. Kannie wag nie. Gelukkig kan ek nog behoorlik gaan stap. Bly maar kalm met al die veranderinge.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Julle is gelukkig om nog buite te kan rondloop. Maar nou ja, julle bevolking is heelwat kleiner as ons s’n en dalk makliker om te beheer. Hier rond het die idee mos posgevat dat Corona ‘n witmansiekte is en dat die res veilig is – dus gaan hulle aan met die lewe asof niks verkeerd is nie. Ons gaan nog lank sukkel om uit hierdie moeras te kom.

  6. Sterkte julle drie!! Nee, vet biltong is nie sleg vir Man nie… in fact, die een van die beste #LCHF disse op aarde!! So, Man het my blessing!!
    Ai… die see… lekker tuinmaak… ek dink ons sal so hier by Julie begin met “kyk my bietgriep pragtuin” poste!! 😁😁😁