My vreugdes en frustrasies

COVID-19

COVID-19 Vier dae voor lockdown in Suid-Afrika

Maandag 23 Maart 2020: Karen begin vroegoggend aan my karring om winkel toe te gaan, want sy het ‘n voorgevoel dat ‘n lockdown ophande is. Dis hoe ek myself agtuur in die oggend reeds in die Southcoast Mall bevind.

Skoon hande. By elke winkel is ons gesantisize totdat ek higiënies skoon was tot by my elmboë. Die trollies is afgespons, my kredietkaart is ‘n paar keer gebad en ek het as voorsorgmaatreël sommer die OTM en die kaartmasjiene se knoppies ook skoongemaak voor gebruik. En ek het uitgevind dat dit bykans onmoontlik is om nie aan my gesig te raak nie. My neus het aanhoudend gejeuk en my oë het gebrand – dalk al die sanitizerwalms wat in die lug hang? Ek het later ‘n sneesdoekie in elke hemp- en broeksak gehad.

Gelukkig het ons nie veel nodig gehad nie, net vars groente en vrugte, want teen negeuur se kant was die ark oop en al die diere het los rondgehardloop. Daar was geen sprake van sosiale distansiëring nie. Die mense het mekaar eenvoudig verdring om by die rakke uit te kom. En goeie maniere het by die deur uitgewaai. Danksy Karen se voorgevoelens , was ons vroeg by die huis met alles wat ons nodig het. En donker sjokolade. En droëwors.

So wat doen ‘n mens wanneer jy weet dat ‘n totale inperking op hande is? Dit klink amper soos die keuse van ‘n terdoodveroordeelde wat sy laaste maaltyd beplan. In my geval het ek my kar laat was en die binnekant laat ontsmet, see toe gegaan om verlangend na die branders te staar, (wederregtelik) my tone in die water gedruk en ‘n bier gaan drink by die strandrestourant.

Ek kan sweer die getypoel was net so hartseer soos ek. Dié het net daar gelê, gelate en gedweë en gewonder hoekom ek nie wil inspring op so ‘n perfekte stranddag nie.

Daarna het ons huis toe verkas om ‘n tuisgemaakte hamburger aan te durf.

Laat ek nou eers gou vertel van hierdie hamburgers wat uit ons kombuis kom. Ons gebruik net varsgemaalde steak mince, vanoggend by Food Lovers Market gekoop, waarmee ons ordentlike grootte patties maak. In die pan gebraai sonder sout of ander geurmiddels – dit word later bygevoeg. Dan gryp jy vars hamburgerrolletjies, ook by Food Lovers Market gekoop, wat jy oopsny en en in die broodrooster indruk totdat hulle goudbruin is weerskante. Pak die bestanddele op wat die burger ‘n uitstaande maaltyd maak – gebraaide uie, sampioene en paprika of pepadew vir smaak, kruieblare, gesnyde tamatie, kaas, pynappel en vir die ekstra hongeres ‘n gebakte eier. Dan meng jy mayonaisse met kondensmelk en gooi dit oor die hamburger se binnegoed. Rond dit af met Heinz tamatiesous of met Foodlovers Market se sticky ribs sous. Dan plak jy die ander helfte van die broodrolletjie bo-op en druk die hamburger effe platter met die onderkant van jou bordjie. Die laaste stap help jou om die burger plat genoeg te kry sodat jy dit in jou mond kan kry. Gaan sit nou buite en eet daai hele burger in een sitting op. Skoon hande, né?

En dan gaan jy bed toe vir ‘n middagslapie.

Ná so ‘n uur of twee se slaap, staan jy op met ‘n effense sooibrand, maar jy sal ook nie weer honger word voor môremiddag etenstyd nie. In my huis word net eenkeer ‘n dag maaltye aangebied, want dis die enigste tyd wat ek eet. Mis dit en jy bly honger.

Ja, en toe word die lockdown aangekondig. (Is Karen dalk met die helm gebore?) En onmiddellik begin die hele land panic. Sosiale media vier fees. Dit sal interessant wees om te sien hoe hierdie storie ontvou, want daar is een ding wat die meeste mense vergeet – nadat die 21 dae lockdown verby is, beteken dit nie dat die virus uitgeroei is nie. Hopelik leer ons almal om ‘n hoër standaard van higiëne te volg en versigtig te wees in ons omgang met ander mense.

Ek wens net ek kon my ouers vertel het van sosiale distansiëring. As hulle geweet het wat wag, sou hulle nie so daarop aangedring het dat ek die tannies moet soen en die omies se hand skud wanneer hulle kom kuier nie. En ek sou nie soveel pakke slae gekry het omdat ek my mond en my hande aan my rokmou afgevee het elke keer nadat ek gesoen en bladgeskud het nie.

Leef versigtig, bly veilig en moenie sommer net soen wie voorkom nie.

Follow Dis Ekke

17 Comments

  1. Vanoggend kla ons Suidkus seun oor dieselfde ding… die strande wat gesluit is. Blykbaar mag hulle nog met die honde in die straat gaan stap. My dogter maak ook so ‘n “mean” hamburger….. en nou het jy my behoorlik lus gemaak vir een.

  2. O genade maar julle hamburger klink salig, nogal met kondensmelk!🤗

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis ‘n resep uit my vorige lewe, toe my pa nog vir my gesorg het. Wat ‘n salige tydperk in my lewe. Daar by die Corner Café het hulle die mayonaisse / kondensmelksousie gebruik op hulle hamburgers en ek eet dit nog steeds so.

  3. 😀 Dink net vanoggend ek het nodig om bietjie te smaail en hier is jou blog! Daardie hamburger laat my nou so belustig voel – gelukkig is dit amper middagetenstyd hierso.

  4. Njammies, kondensmelk op ‘n jammie! Nog nooit daaraan gedink nie, sal verseker moet probeer. Ek sal ook treurig verby wees as ek so naby die see is en dit nie kan gaan besoek…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      … noudat die seisoen op sy beste is nie, moet jy byvoeg. Oh well, such is life ou maatjie. Ek hoop dit gaan goed daar op die plaas met jou.

      • Dit gaan goed hier op die plaas, gaan nou net aansienlik stiller raak. Geeeeeeen geselskap..absolute stilte

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Eintlik klink geen geselskap nogal idillies. Dink ek moet die ouens vra om te blog oor hulle ervaring van die lockdown – alleen of saam met mense wat plesier verskaf / of kranksinnig dryf.

  5. Haha hier het hulle elke dag die rakke leeg gekoop .sonder ophou. Daar is gedurig gevra en gese koop normaal. Winkels sal steeds oop wees met voorraad. Ek wash dit nie eers om naby te Gaan nie. Ons het n melkerytjie hier naby. Selfs daar is delete daaglikse dinge vroegoggend uitverkoop.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek wonder wat gaan in die informal settlements gebeur. Hulle het nie klein winkeltjies wat oopbly sover ek weet nie en hulle kan nie online shopping doen by Woollies en PnP soos wat ons beplan nie. Nare gedagte.