My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Bloguitdaging: Vier jou lewe en kom vertel

“Vier vandag jou lewe en kom vertel ons hoe jy dit gedoen het,” het sy gesê. Hierdie bloguitdaging is gerig deur een van die sterk, moedige vroue wat ek in Blogland ontmoet het. Sy weet hoe om die lewe se laagtepunte die hoof te bied en hoe om die hoogtepunte te vier.

Ek het my dag begin deur strand toe te loop. Natuurlik. Voordat ek my lewe kan vier, moet ek eers die seebries toelaat om die spinnerakke uit my kop te waai. Daarvandaan het ek met voete vol seesand koers gekry na my haarkapper toe om haar te gaan wys hoe mooi my nuwe haarkapsel lyk, selfs nadat die wind dit beetgehad het. En om haar te soebat om iets te doen omtrent my wenkbroue wat besig is om my hele gesig te bedek. Soos ‘n baard wat nie gereeld geskeer word nie. So al asof die ouderdom wat nader kruip, lang beenhare en grys hare op my kop nie genoeg sorge in my lewe veroorsaak nie. Nou moet ek boonop heeldag op die uitkyk wees vir onwennige hare wat my gesig wil oorneem. En ek praat nie nonsies nie – sien die “before” foto hieronder wat Karen van my geneem het, omdat ek van mening is dat dit tyd is om my facebook profielfoto op te dateer met al die nuwe plooie wat ek bygekry het die afgelope jaar. Kan ek nou soiets op my facebook gaan plak? vra ek met “trane in my navy blue eyes”, soos ou Tant Alie altyd gesê het.

Toe is Karen en ek – met my verminderde gesigshare en ‘n heelwat ligter gemoed – South Coast Mall toe om inkopies te doen. Dit was besig. Vrek besig. Ons het gesukkel om in die wandelgang geloop te kry. Reg daar voor die OTM’s was ‘n samedromming van Suidkusmense wat CANSA se Shavathon ondersteun het en ek het in die tou geval. Ek moet erken, ek was op geen stadium geneë om my hare te laat afskeer nie. Ek was immers al voorheen haarloos. In 2001 is ek gediagnoseer met borskanker en vroeg in 2003 met baarmoederkanker. Ek het nooit kapsie gemaak teen alles wat afgesny en uitgehaal is om van die kanker ontslae te raak nie, maar die verlies van hare was ‘n bitter pil om te sluk. Buitendien het ek net vanoggend my wenkbroue opgeoffer vir die doel om mooier te probeer lyk. Dus het ek my geldjie betaal en gevra dat hulle vir my kleursel aanspuit.

Die CANSA medewerker met die groot glimlag het my kom toevou onder die plastiese bedekking wat my klere moes beskerm en my ewe vertroulik meegedeel: “I am your friendly barber”. Barber? Ek het myself goed onder clutch gehou, nie opgespring uit die stoel en weggehardloop nie – hom net stip in die oë gekyk vanonder my nuwe, netjiese wenkbroue en in afgemete toon vertel: “If you shave my hair today, I will kill you, slowly and painfully.” Hy het net gelag en my kapsel sorgsaam en met groot geduld bespuit. Pers onderlaag. Pienk bolaag. Met afwisseling van natuurlike grys.

Op hierdie manier het ek die beste en die slegste dae van my lewe gevier. Daardie dekade staan uit as die jare van my lewe wat ek ervaar het as miskien die gelukkigste tydperk in my lewe. Ten spyte van die kanker, want dit het ek nooit beskou as die laagste laagtepunt in my lewe nie. Om die waarheid te sê, kanker het perspektief in my lewe gebring. Dit was net ‘n terugslag in ‘n tydperk wat ek as vry, gelukkig en redelik opwindend beskou het. Dit was net voordat my hele lewe, weer eens, in ‘n warboel ontaard het. Toe ek weer ‘n keer soveel meer moes afgee as waartoe ek bereid was. Dit gebeur eenkeer elke dekade – op en af, op en af, soos ‘n wipplank. En so eenkeer ‘n dekade is daar iets om te vier, ‘n vreugde wat die lewe die moeite werd maak.

Ek dink ek sal nie vandag my hare was nie. Ek sal die pienk en pers nog ‘n dag saam met my dra, in solidariteit met kankerlyers en hulle geliefdes. En om my te herinner aan slegter en beter dae. Só vier ek my lewe vandag.

Follow Dis Ekke

23 Comments

  1. Jy is ‘n ster! 😁

  2. Ek stem saam met Toortsie, jy is n ster. Ek haal my hoed af vir jou. Baie bly jy kan jou voete vol seesand maak en die lewe voluit in die oe kyk. Baie mooi geskryf. Jy het baie stof tot nadenke hier vertel. Dankie vir n kykie in jou lewe en menswees.

  3. So is jy ook ‘n heldin, omdat jy met moed en durf die lewe in die oë gekyk het en steeds strand toe kan stap met ‘n bos pragtige hare, en boonop kleur vir jou gemoed…

  4. Met sulke blou oë maak die wenkbroue nie saak nie. Dapper vrou jy met die pienk hare en seesand voete.

  5. Ja, ek stem … die kanker kan ek ook nooit as ‘n negatiewe ding in my lewe beskou nie Dit het my so baie geleer van myself en van ander waarvoor ek oneindig dankbaar is.
    EN (sorry Lou) jou hare is pragtig

  6. Hester, ek waardeer hierdie skrywe van jou. Ek hoor en sien hoe jy die lewe vier, en ek klap sommer vir jou hande.

  7. Ai, ek sou jou darem so graag in lewende lywe wou ontmoet – en nou sit ek baie ver wanneer jy noorde toe gaan. Dalk ‘n ander keer?
    Jy het die mooiste oë!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Frannie. Ag, dalk kom ek hierdie jaar meer in JHB – my seun woon daar. Ek is deesdae net so lui om te reis. Ek hoop darem ook dat ons paaie iewers sal kruis.

  8. Dit is nou ń behoorlike vier die lewe met jou lekker reënboog hare. Vandag gaan ek ook my tone in die sand wikkel in Hermanus. Die see is vir my, my stil word, bly word, dansplek. My na aan my Skepper wees plek. You go girl!!!

  9. Jy lyk so mooi met die pers en pienk hare. Hoe is dit dat die ouderdom meer hare op al die verkeerde plekke bring en minder hare waar ons hulle soek?