Ek voer al baie jare lank ‘n verbete stryd met my hare en met haarkappers in die algemeen. Dis ‘n stryd wat toegeneem het in intensiteit vandat ek chemo gekry het op vyftigjarige leeftyd.
Eerstens, het die algehele haarverlies gedurende daardie tydperk my met ‘n lewenslange obsessie gelaat om tog net die hare op my kop te kan vóél, om my vingers deur my hare te kan trek, om ‘n nut vir my hareborsel te hê – dis iets wat net ‘n ander chemo-pasiënt kan verstaan. En nee, dis nie dieselfde as ‘n man wat bles word nie. Daar is ‘n hengse verskil. Om bles te word is natuurlik en ek, persoonlik, vind dit nogal oulik. Sexy ook, mits die man nie die bles probeer wegsteek met ‘n comb-over nie. En kyk nou waar dwaal my gedagtes heen. Wat ek wou sê, haarverlies as gevolg van siekte is nie ‘n natuurlike proses nie – dis iets waarteen jy hand en tand veg en wat diep letsels laat.
Tweedens, het chemo die natuurlike voorkoms van my hare verwoes en ek leef half moeilik daarmee saam. Ja, ek is dankbaar dat ek wel weer ‘n bos welige hare het, wat weliswaar staalgrys uitgegroei het lank voordat ek veronderstel was om grys te wees. Maar ek is verskrik oor die feit dat hulle krul, dat hulle geen gebod gehoorsaam nie en liewer wil regop staan as om plat te lê op my kop. Ek het hierdie probleme ‘n paar jaar lank vermy deur my hare te kleur en dit baie kort te sny. Totdat ek op ‘n dag genoeg gehad het. Kort hare doen dit nie vir my nie. En my hare word rooi as ek dit kleur – maak nie saak watter kleur ek aanwend nie. Maak ek dit blond, lyk dit ná twee weke asof ek ‘n nabootsing van ‘n jong wortel op my kop ronddra. Maak ek dit donkerder, sluip daar so ‘n siek pers-maroen tint in. Nou bly ek maar grys en ignoreer die ignoramusse wat my “tannie” noem.
Groei ek my hare tot net ‘n bietjie langer as baie kort, spring hulle regop rondom my ore en by die dubbelkroontjie op my agterkop. Effe langer, en hulle krul in al vier windrigtings, met sulke slierterige punte wat oral uitsteek. Baie hiervan is te wyte aan die feit dat ek nie die geduld het om elke dag met ‘n haardroër en ‘n krultang te staan en sukkel nie, net om ‘n paar ure later in die seewater te plons en dan maar weer dieselfde balhorige haarstyl te hê nie. Ek wil ‘n styl hê wat beteken ek kan my hare borsel en loop, dat daar genoeg hare op my kop moet wees om ‘n borsel die moeite werd te maak, en dat hulle lank genoeg moet wees om my kabouterore toe te vou. Is dit dan nou so baie gevra?
Lees ek nou die dag hier in ‘n facebook-groepie vir Suidkusbewoners vra ‘n dame of iemand ‘n goeie haarkapper kan aanbeveel. Een wat nie skêr-happy is nie. En ek weet onmiddellik wat sy bedoel. Uit ondervinding weet ek dat sommige haarkappers verslaaf is aan die knipbewegings van hulle skêre. As hulle eers begin knip, bly daar bitter weinig oor op jou kop, ten spyte van waarskuwings, vermanings en pleitredes. Goeie haarkappers is geplant, nie gesaai nie. ‘n Goeie haarkapper is natuurlik die persoon wat na my luister en doen soos ek sê, ten spyte van die feit dat die hare nie gesny word volgens die reëls wat hulle in die snyskool geleer het nie. Daar is van hulle, maar blykbaar verkies almal van hulle ‘n nomadiese bestaan, want hulle sny my hare net een of twee keer en as ek weer bel vir ‘n afspraak, is hulle … net weg. Wonder of dit te wyte is aan my teenwoordigheid in die dorp?
Hierdie week het my hare weer die punt bereik waar hulle te swaar is om rond te dra, die hele tyd in my oë hang en nie kan besluit of hulle wil regop staan of lê nie. En ek weeklaag oor ‘n gebrek aan ‘n haarkapper. My buurvrou beveel haar nuwe haarkapper aan en ek herkou daaroor vir ‘n paar dae.
Gisteroggend, ná ons daaglikse swem, stop ek en Karen gou by die winkel en kry parkeerplek reg voor die salon wat buurvrou aanbeveel het. Karen draf by die winkel in en ek rek my nek om by die salon in te kyk. Klim later uit en trek ‘n kortbroek en hemp aan oor my nat swembroek. Ja, ons bly in ‘n kusdorpie en hier trek niemand ‘n ooglid as jy in die parkeerplek aantrek nie. Moet net nie alles uittrek om mee te begin nie. Die personeel knip ook nie ‘n oog toe ek by die salon instap nie, sopnat, met hare wat in slierte hang, maar met my beste glimlag op my bakkies.
‘n Halfuur later het ek en Karen daar uitgestap, beide met nuwe kapsels wat nie drooggeblaas is nie. Net met die vingers gekam en gelos om droog te word in die wind. Myne is ‘n ietsie-bietsie te kort en lyk op die oomblik soos ‘n mushroompie op my kop. Maar ek het hare wat my ore bedek en wat stil en ordentlik om my kop vou. En my hare is vinnige, flinke groeiers. Ek het verlede nag rustig geslaap met my vingers in my hare verstrengel. Ek het hare. Dankie tog.
Image by Clker-Free-Vector-Images from Pixabay
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Ek kan my indink om hare te verloor en anders terug te kry moet vreeslik wees. My dilemma is weer dik, harde stokreguit kroon. Daai skêr-heppie snyers het hulle al lelik misgis. Ek is geseën met ‘n maat wat ken, sy toor met ‘n knipper en weet van elke lokval. Dankbaar.
rondomtaliedraai
Jy laat my glimlag.
HesterLeyNel
😉
Bondelsgedagtes
Ek verstaan 100% van krulle, geen ordentlike krul laat hom temple. Maar myne gaan nou maar hulle pad en ek het hulle leer lief kry…
HesterLeyNel
Maar jy verstaan, ek het my hele lewe lank reguit hare gehad – perdesterte het my pa dit genoem. Kam dit en los dit. Nou op my oudag moet ek leer om krulle plat te druk.
Bondelsgedagtes
Moenie plat druk nie Hester, dit is nodeloos en sal jou net frustreer laat hulle vreugdevol hulle pad gaan
HesterLeyNel
Shirley Temple met plooie? Ai toggie.
Bondelsgedagtes
Die ding van krulle is, hoe meer jy teestribbel hoe moeiliker raak hulle. Dis wanneer jy surrender wat als kalmer raak
scrapydo2.wordpress.com
Genade tog vir jou en jou hare. Ek sien hier is van die kinders wat bosgase het wat skrik vir niks. Mammies vleg dit styf maar o wee as dit daar loskom, dan kartel dit nie net nie maar staan ook in alle rigtings. Ek kan my indink dat dit gladnie goed voel om hare te hê wat so verander het nie. n Poniestert was altyd vir my so mooi. My ou haartjies is so fyn en groei so stadig dat ek nog nooit regtig langerige hare gehad het nie. My ma het dit altyd reguit gesny onder. Ook nooit aan n fringe geglo. Sypaadjie met n knippie aan regterkant.
HesterLeyNel
Ek het nooit vrede gemaak met haarknippies en alice bands en linte nie. Kom ook nie reg met jel en haarlak nie. My hare moet los wees. Maar dan val hulle reguit vorentoe, in my oë, en daarom verkies ek ‘n fringe.
scrapydo2.wordpress.com
My ouers het beide die fringe storie gehaat(los hare op die voorkop)
Dr Christa van Staden
Ag Hester, lees ek nou lekker hier aan. Ja, ek voel dieselfde en daarom sny ek my hare gewoonlik self. Om ure in ‘n salon te sit, mooi te vertel wat ek soek en uit te stap met te kort hare in ‘n ander styl is vir my ook een te veel. Foto?
HesterLeyNel
🤣 al wat jy sal sien is nat, windverwaaide hare.
Dr Christa van Staden
Ek lag so vir daai kaalkoude geryery van julle. Ons sien dit natuurlik nooit as ons by die see is nie. Dus gaan ek van nous af so bietjie uitkyk daarvoor … Ek dog dit is die Vaalpense wat so in die motors rondry.
HesterLeyNel
Nee, snaaks genoeg, dress die Valies vreeslik op hier by die see. Die mooi strandjurkies en t-shirtjies word ook net op die strand vertoon.
Dr Christa van Staden
Lag ek nou lekker.
Kameel
Hare deel van die lewe se stryd… ‘n groot stryd en ‘n goeie haarkapster goud werd.
Tannie Frannie
Die klimaat waar julle woon is ook nie bevorderlik vir rustige hare nie… Self volg ek my haarkapper nou al baie dekades lank van die een kant van Pretoria na die ander – sy is ‘n absolute engel. Jy het my nou weer laat besef hoe verskriklik dankbaar ek oor haar moet wees!
HesterLeyNel
Jy moet haar waardeer. Jy’s reg omtrent die klimaat – ek het nie hierdie soort probleme in Gauteng nie. Maar Gauteng het nie ‘n see nie 😕
aj vosse
Mushroompie… pasop, ek het ‘n pel wat mushrooms kou!
My oupa het altyd gesê ek het grasdak hare… en, nou waarsku ek haarkappers dat hulle die “combined harvesters” moet inspan om my the “harvest!”
Maar, ek het een moerse voordeel… ek mag lelik wees… ek is mos ‘n mansmens, dan nie?? 🤣🤣🤣
HesterLeyNel
Ja, mans se voorkoms word mos beskryf as “karakter” en vrouens word beskryf as mooi of lelik – in my huis, in elk geval.