My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Faain dankie, my ewewig is net effens verstoor

My innerlike ewewig is net so ietwat ongebalanseerd. Die nuwe jaar. Die nuwe dekade. Ou nukke wat soms weer kop uitsteek. Ou geraamtes wat nie in die kas wil bly nie. Ou koeie wat weier om uit die sloot gegrawe te word.

Dankie bloggers wat navraag gedoen het omdat ek stil is – heeltemal teen my aard. Ek’s faain. Regtig. Ek dink ek het die laaste tyd dalk net te rustig geraak. Roetine was nog altyd my doodsteek. Gebrek aan stimulasie. Skielik is ek hoogs verveeld en ontevrede met alles. Dalk moet ek begin klasse neem in martial arts. Wie het Chuck Norris se adres? Om ‘n paar klappe uit te deel sal dalk ‘n goeie uitlaatklep wees.

Karen probeer haar bes om haar ma op te beur en haar ma moet erken dat dit dalk ‘n formidabele taak mag wees. Eers het sy gesorg dat vliegtuigkaartjies vir die Junie-Julie skoolvakansie vroegtydig bespreek word vir die Kaapse kinders . Dis weer tyd om die jaarlikse gesinsvakansie te beplan. Definitief iets om na uit te sien. Maar, hemel! Waar is die tyd heen? Hulle het net die anderdag hier gekuier. Toe het sy agteraf gekonkel dat ma ‘n paar dae by Oudste in Johannesburg gaan kuier. Ma-en-seun-kwaliteit-skindertyd. En rustyd vir Karen. Dit sal seker in April wees. “En dan kan Ma sommer ‘n bietjie saam met die Johannesburg / Pretoria bloggers gaan tee drink.” Net so, nie dat ma juis tee drink nie, maar ‘n kuiertjie is definitief ‘n goeie idee. Ek sal laat weet wanneer sodat ons iets kan reël?!

En van verlede maand af hou ons pal vakansie by die see. Behoorlik. Ons swem in die reën, braai in die son en en kuier op en af langs die kus. Pandosie moet sy ry ken om by te hou.

Ek moet eers vertel van Pandosie en die spietkop. Ry ons gister so ewe besadig met die ou kuspad op na Mtwalume / Elysium se kant toe. Net daar waar ek my hart verloor het – Paradys. Dis laagwater en ons wil gaan skulpe soek. Net so skuins anderkant Hibberdene teen die oprit na die N2 raak ek moerig vir ‘n opdrukkerige kar agter my. Groot bakkie wat ongeduldig raak omdat hy agter ‘n lastige klein swart karretjie sit. “Watch this!” sê ek vir Karen. En ek smeer daai lastige klein karretjie deur elke rat. Pandosie brul soos ‘n leeu teen die hoogte uit. Dit lyk asof die bakkie agter ons bly stilstaan. En net voordat ek vir hom tong uitsteek in die spieël, sien ek die wuiwende handskoen raak. Afgetrek by ‘n padblokkade.

Terwyl ek Pandosie netjies laat sidestep om tog asseblief nie die geregsdienaar om te ry nie, hardloop ek deur ‘n lys van moontlikhede waarvoor ek opgeskryf of opgesluit kan word. Geen uitstaande boetekaartjies nie, bestuurslisensie op datum, motorlisensie betyds hernu, nuwe bande op, remme opgedoen, nuwe ruitveërs, ligte en flikkerligte werk – spoed dus. Hoe vinnig mag ek teen die oprit ry? Sestig? Dis ‘n besondere lang oprit en ek was gereed om oor te skakel na sesde rat. Agfokkietog.

Ek laat die venster afrol, glimlag my mooiste glimlag en groet flink: “Good morning, Officer. How are you?” Karen leun oor en doen dieselfde. Ek sien die Officer doen eers so ‘n double take voordat hy groet en sy hand uithou vir my lisensie. Hy loop om na die anderkant, kyk na die motorlisensie, kyk na Karen en stap flink terug. Prop my lisensie in my hand, wens ons ‘n goeie dag toe en wuif ons vort.

En ons lag kliphard. Want ons trek gewoonlik nie droë klere aan wanneer ons klaar geswem het nie. Ry sommer huis toe in nat swembroeke. Pandosie se vensters is donker getint en niemand kan sien wat daarbinne aangaan nie. Ek probeer ook nie om my hare te borsel wanneer dit vol seewater is nie. En ek meen, wees nou eerlik – as jy nou die Officer was en jy stop ‘n stowwerige swart karretjie wat op jou afstorm met groot spoed. En dan kyk jy vas in hierdie bos grys windverwaaide hare en ‘n spierwit glimlag wat strek van oor tot oor. En die insittendes in die karretjie is effens skamel geklee. Sou jy fout gevind het of sou jy maar liewer die aftog geblaas het?

Ek wag vir die dag dat hulle my stop en laat uitklim, en uitvind dat ek sonder skoene bestuur. Ek is seker dis ook teen die wet.

Die foto is geneem by Sunwich Port, beter bekend as Voetplaatpark. Dis my kop wat uitsteek daar in die middel van die swembad.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

54 Comments

  1. Voorwaar ń paradys waar julle bly! Ek is so bly jy het kom skryf, Hester, en die nuus dat ons hier iets kan reël om jou te sien, dis die lekkerste.💃💃💃

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      🤗 Dit sal lekker wees om tenminste sommiges te kan sien, Una.

      • Stuur vroegtydig jou datum dan kyk ons wie almal kan kom. Ons sal dit so naby as moontlik aan jou doen sodat dit gerieflik is.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek sal in Kemptonpark wees, maar dis oukei, ek sal óf vir Ouboet óf tenminste Ouboet se kar tot my beskikking hê. Karen sal die piep kry as ek alleen JHB toe ry, so ek gaan vlieg.

        • Dis naby Perdebytjie.🌺

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, sy woon net om die draai van my broer af ook.

        • Dit sal goed wees as ons dit ń Saterdag oggend kan maak, want dan sal Positief, WoordNoot, Woestynkind en Bondels ook kan saamkuier. Dalkies kan ons vir Kameel gaan oplaai. Frannie is nog oorsee.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Heng, ja, ek vergeet die meeste mense werk nog. Dis nie almal wat kan kuier wanneer hulle so voel nie. Frannie sal darem seker al teen daardie tyd terug wees. April is darem nog twee maande weg. Ek moet wag vir Oudste om sy verlof te laat goedkeur, want anders sien ons mekaar ook net saans.

        • O aarde, ek gaan ‘n absoluut epiese kuier misloop!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dit sal ‘n groot jammerte wees

        • O, miskien Ekmyself ook. Ag, dit kan net lekker wees.

  2. Ag dit was nou so lekker om weer van jou te hoor. Jy is skerp verby. En ‘n bietjie stout. Hoop ek is een van die Pta (Harties) bloggers wat by “tee drink” uit kom. Arme spietkop.

  3. Oeeeeeeweeeeee dit sal lekker wees, asb toggie doenit!!! Baie bly jy is faain. …

  4. Ai dit klink so lekker

  5. O ek is sooo jammer ek gaan daardie kuier met jou en die ander bloggers mislooop…kom eers op 12 Mei weer in SA aan.

  6. Dit is baie goed om weer van jou te hoor. Ek bestuur ook kaalvoet.

  7. Ja-nee, daardie offisiere het nie geweet wat hul tref nie. Bly dit was nie n spoedlokval gewees nie. Dis te lekker om so in die water te wees. Bly jy is oraait. Ek neem aan die beurtkrag raak jou skrywery ook maar.

  8. Lekker om jou weer hier te sien, maar ek sien almal is baie stil die afgelope tyd. Dit sal lekker wees om ‘n kuier in te werk. Mens moet net ingedagte hou dat daar baie vakansiedae in April is en mense gaan weg, so hopelik kan ons gou die datum vasmaak?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, dit sal blybaar die laaste week in April wees en ek sien daar is twee vakansiedae in daardie week. Om verlof goedgekeur te kry, is vir my seun ‘n vreeslike proses, maar hopelik sal ons hierdie week reeds weet.

      • Ons beplan om Umkomaas toe te gaan die laaste week van April, laat weet maar nog steeds, miskien kan ons ‘n plan maak om later te gaan

  9. En wat ek eintlik wou sê, Voetplaatpark het die lekkerste karavaanpark ooit, ons het gereeld daar gekamp in een van my vorige lewens

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, dis gewoonlik baie besig daar en juis daarom, een van die strande wat ons gewoonlik vermy. Hierdie tyd van die jaar is daar egter nie meer baie vakansiegangers nie.

  10. Nou kyk, sies vir jou. Jy is nie baie lus vir gesels nie en dan laat jy my skaterlag, en teruggesels. Ek dink die man kon sy geluk nie glo nie. En ja, ek wonder oor skoene aan of af. Ek het so ‘n idee iewers in my kop dat die skoene aan moet wees, dat my pa of ma dit iewers in my ingedril het. Dalk manlief, hy kan ook soms maak of hy my pa is.

  11. woordnoot

    EK is bly jy is faain…ek dink almal probeer nog faain raak na Januarie se afskop!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit was ‘n terrible maand vir ons almal! Ek kan nou nog nie vrede maak met 2020 nie.

      • woordnoot

        Ekke sukkel ok…asof 2019 my beroof het van fokus….

  12. Stormachtige groet uit Amsterdam

  13. Ek het nou heerlik gelag vir jou, veral toe jy daardie bakkie so winduit laat teen die bult op!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek kan my so vererg vir die manne met die groot voertuie wat my probeer intimideer.

      • Veral daardie bakkies met die dik “bullbars”, wat so in jou uitlaatpyp opry.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, nou moet jy weet, my karretjie is so laag op die grond – as ek in my spieëltjie kyk, lyk dit of ‘n monster vir my grynslag met staaltande.

  14. Ek is bly jy is faain!

  15. Ai toggie… ek dink aan jou al reken jy jy is faain <3

%d bloggers like this: