Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

My eiers

Die Kersgety van my kindertyd, jare gelede

Die komende Kersgety laat meer en meer deesdae my gedagtes terugdwaal na my kinderdae. Daar doer in my verre verlede. Kersfees was die absolute hoogtepunt van ons jaar. Na geen ander dag in die jaar het ons so opgewonde uitgesien nie.

Ek onthou die weke se voorbereidings wat die Kerstyd voorafgegaan het:

Hoe ons geoefen het om Kersliedere te sing vir die Oukersaandopvoering: Betlehem ster o wonderlig, heerlik lieflike gesig. Dit was my gunsteling en ek het altyd gewonder hoe helder hierdie ster geskyn het. Daar in ons klein dorpie, waar daar maar enkele straatligte was, het die sterre so helder geskyn dat ek in my verbeelding my hand kon uitsteek om hulle uit die hemelruim te pluk. Ek hoor nie meer hierdie liedjies nie. Boney M oor die winkels luidsprekers moet maar instaan vir die gebrek aan Kersmusiek.

Die konsertklere wat die mammas met ou lakens en handdoeke prakseer het vir die kindertjies wat ’n rol gekry het in die Kersopvoering. Ek wou altyd een van die Drie Wyse Manne wees wat hulle skatte by die krip oorhandig, maar dogtertjies het nooit daardie rol gekry nie. Of dan ’n herder. Maar dogtertjies kon ook nie skape oppas in daardie dae nie. Ek wou tog so graag ook ’n staf dra – ’n lang towerstaf waarop ek kon leun terwyl ek met die engel gesels. Ek is ook nooit gekies as een van die engele nie – die oumense het seker gereken vlerke sal my nie pas nie. Ons rolle is toegeken volgens tradisie en ons het dit klakkeloos aanvaar.

Die reuk van outydse soetkoekies, gemmer en kaneel wat dae lank in die kombuis rondgehang het. Kleinkoekies is lank voor die tyd gebak en in groot blikke in die spens gebêre. Nie elke jaar nie, want ons boot met die geld op het sommige jare nie opgedaag nie en daar was nie altyd geld vir koekies en kersgeskenke nie.

Wanneer dit wel ’n goeie jaar was, het ons lank voor die tyd al blinkoog na die toegedraaide pakkies in die sinkbad op die eetkamerkafel gestaar. Daar was gewoonlik ’n klein geskenkie vir elkeen wat die feesdag saam met ons gekuier het. Niks in vergelyking met wat kinders deesdae ontvang nie – dalk net nuwe haarlinte, vetkryte, kleurpotlode of ’n paar wit sokkies met die hand gehekel. Dit was kosbare skatte wat ons met dank ontvang het.

Ons het ook nooit ’n Kersboom met versierings gehad nie. Nie waarvan ek kan onthou nie. Ek het altyd daarvan gedroom om eendag by so ’n pragtige versierde boom soos wat op die Kerskaartjies was, my geskenkie te oopmaak. Een met donsvere. Sneeu. Ons het baie van die Kersversierings wat in die huis opgehang is, van gekleurde kreukelpapier gemaak. En wanneer ons sneeu nodig gehad het, het ons altyd watte of vere van my pa se eende gebruik. Nie dat ons regtig geweet het wat sneeu is nie. Sand en klippe is al wat ons geken het in die halfwoestyn. Nie dat dit ons gekeer het om White Christmas van Bing Cosby saam met die radio te sing nie.

Kerskaartjies het ons met die hand gemaak en self uitgedeel aan die mense waarvoor ons lief was. Elke kaartjie is noukeurig versier met prentjies wat ons self geteken het of dalk uit ’n tydskrif geknip het. Dis eers later jare wat ons die kaartjies gekoop en gepos het. Die kaartjies is in ’n ry aan ’n toutjie bo die kaggelrak gehang, om eers ná Nuwejaar afgehaal te word.

Kersdag het familie en vriende saamgeëet. Ná ete, op die hitte van die middag, moes die kinders gaan speel, sodat die grootmense kan gaan skuinslê. Dan het dit tyd geword vir die heerlikste avonture:

Die lekkerste speletjies was in en rondom die huise wat my pa besig was om te hou. Die sand- en gruishope was ’n groot aantrekkingskrag. Ons het elkeen ’n paar beurte gekry om bo van die halfvoltooide mure en dakkappe af tot op die naaste sandhoop te spring. Ons het goed geweet dat ons sou raas kry wanneer Pa die volgende dag die afgeryde sandhoop sien, maar dit het ons nie gekeer nie.

Andersins het ons die groot oliedromme uit my pa se bouerf gerol en onsself daarop gebalanseer vir ’n resies straataf tot onder by die kerkhof. Dit was redelik gevaarlik, want as daardie dromme eers vaart gekry het berg af, was daar geen sprake van vangskote nie. Jy moes maar trippel en balanseer tot waar die pad opgehou het – onder by die kerkhof. Tot ons ouers se verstomming het ons nooit geval en bene (of erger) gebreek, soos wat hulle altyd voorspel het nie.

Wanneer dit donker geword het, is die klappers uitgehaal. Daardie jare was honde, katte en papegaaie nie bang vir die knalgeluide van klappers nie. Hulle is gekondisioneer deur die klank van geweerskote van die kommando’s wat teiken geskiet het by die skietbaan buite die dorp. Die ooms het vir ons sigarette aangesteek waarmee ons die klappers se lonte aan die brand kon steek. Jip. Dit was veiliger as ’n oop vlam. En nie een van ons het ooit ’n ongeluk gehad met die groot klappers of die enkele vuurpyle wat ons lanseer het nie. Die klein klappertjies wat aanmekaar vasgebind was met ’n toutjie en wat so rondgespring het terwyl hulle een ná die ander ge”skiet” het, het ons laat skaterlag. Hierdie lawaai het laatnag aangehou, totdat die kinders pootuit was en die grootmense lang gape begin gee het.

Deesdae vier ons die Kersgety baie stemmig. Net die gesin bymekaar. Ons stuur ons Kerskaartjies oor die internet, nie meer per pos nie. Ons het ’n klein origami Kersboompie wat Karen gemaak het. Sy het digby drieduidend papiervierkantjies gevou vir die boompie se blare en die klein versierinkies. Ons maak nie meer versierings van kreukelpapier nie – ons het nou gekoopte veelkleurige liggies wat flikker en flonker sodra dit donker word. Ons versier die voorkant van die huis elke jaar op 1 Desember en hou die liggies aan tot Nuwejaar. Sien foto’s.


Hierdie blog is geskryf vir Vuurvliegie se Woordsnoer uitdaging.

Wil jy saam woordsnoer? So maak mens : Jy kan ‘n enkele woord as inspirasie vonk gebruik of al die woorde – nes jy lus het. Skryf dan jou blog. Maak seker om die woord (e) in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe. Onthou om die skakel hieronder in jou bydrae in te sluit. En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie! Gebruik die volgende skakel:

https://fresh.inlinkz.com/p/4225e6b64b13421fb9cce1662a75d805

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

28 Comments

  1. Jy neem my terug na ons kersfees dae in die platteland: min geld, klein presentjies en baie liefde.

    • HesterLeyNel

      Wanneer het geld so belangrik geword dat dit al die genot in die lewe weggeneem het?

  2. Una

    So baie van wat jy hier vertel is vir my ook bekend, Hester. Ek mis nogal die kinderlike opgewondenheid rondom Kersfees in myself. Nie altyd lekker om groot te wees nie.

    • HesterLeyNel

      Nee, ek verlang nogal na die dae toe my pa nog vir my gesorg het.

  3. Dis ‘n lekker vertelling wat ‘n mens na jou eie kinderdae terugneem. So julle het ook op daardie dromme gehardloop. Ons het dit op die plaas gedoen. Verwonder my nogsteeds vir ons vernuf en dat niemand ‘n arm of been gebreek het nie.

    • HesterLeyNel

      Met ‘n lang plank daaroor, was dit ook ‘n goeie wipplank. Ons het goeie balans geleer. En ons het ook geleer dat dit geen plesier is om daardie dromme bergop te rol om dit te gaan bêre nie 😄

      • Nooit gedink aan wipplank ry nie. Op daardie dromme is daar nie net resies gehardloop nie… maar dit was ons vervoer “long drop” toe. Sien, net ‘n bietjie oefen en ek en jy sal daardie dans regkry. Jy kan die appel van daar doer bo in die balke met jou mond beetkry. 😀

        • HesterLeyNel

          Uhm – ek het winkeltande …

        • Oops 😂😂😂😂 Dit sal nou ‘n gemors afgee as jou tande uitval wanneer jy so agteroor buig. Prestik???

        • HesterLeyNel

          Nee, ek dink darem nie hulle sal sommer uitval nie – ek swem gereeld met hulle. Maar ek sal wraggies nie ‘n appel kan vasbyt nie.

  4. Wonderful Christmas spirit, dear Hester! 🙂

  5. Hester, dankie vir die lekker onthou kersfees, daardie opgewonde gaan slaap in die krismisbed spring nou op uit my onthou. Dankie dat jy kom snoer het. Mwah!💝🎅🤶👼

    • HesterLeyNel

      O ja, die krismisbeddens in die sitkamer en op die sonkamer se vloer. My pa het destyds ons ellelange systoep toegebou (beskerming teen die oostewind) en dit het ons “sonstoep” geword. Ons kinders het sommer heeljaar daar geslaap, elkeen in ons eie afskortinkie. Sodat die oneindige strome gaste die slaapkamers kon beset met nagmaaltye en feestye en alle ander kuiertye.

  6. Lekker terug gedink aan daardie skool Kerstablos. Lakens en handoeke was klere genoeg om almal te laat deelneem. Vandag se gerieflike vinnige boodskappe is gladnie meer so besonders nie. Handgemaakte kaartjies is werklik spesiaal.

    • HesterLeyNel

      Ons het altyd foto’s van die gesin daarby ingesluit as ons die kaartjies vir veraf familie en vriende gestuur het. Dan het ons vreeslik uitgesien daarna om hulle foto’s te sien. Dit was ons Facebook.

  7. Ons het ook kindertyd so uitgesien en voorberei vir kersfees. Maar nou het jy my lus gemaak vir koekies bak….

    • HesterLeyNel

      Ons het een van daai wit hout/koolstowe gehad (‘n Dover?). Vir my ruik die koekies nie “reg” in ‘n elektriese oond nie.

  8. Hemels, laat my aan my eie kinderjare dink.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: