Ons kuier op hierdie lomerige Sondagmiddag oppie familieplaas by my oompie Sareltjie en antie Sienie. Twee regte ou fossiele. Hulle dateer albei uit die dae van die Groot Runderpes. Sê Pa. Ma se familie gaan mos nie sommer vanself dood nie – hulle moet met ’n langklip doodgeslaan word. Sê Pa.
Eweso Pa se familie, dink ek by my sigselwers, want daai kant leef daar ook nog ’n paar verdroogde pruimpies. Maar ek sê liewer niks, want Pa is kapabel en gee my ’n oorveeg.
Maar selfs ’n kanniedood soos oompie Sareltjie kan nie altyd ontsnap van die lewe se groeipyne nie. So nou en dan kry hy ook te doene met liggaamlike sorge, soos ’n ou verkouetjie. Hy lê vandag pens en pootjies in die bed. Pa het van sy beproefde doepa vir oompie Sareltjie ingejaag: ’n paar blertse Jamaikagemmer opgetop met Pa se selfgestookte witblits, en tjoklit peperment essens vir smaak. Hierdie medisyne is die sleutel tot ’n lang gesonde lewe. Sê Pa.
Ja, dis nou te sê as die mengsel hom nie nog boonop appelkoosmaag gee nie. Sê Ma.
Oompie Sareltjie was ’n aansienlike man in sy jongdae. Hy was ’n regte Adonis. Sê antie Sienie, waar sy sta’ en snoek smoor in die kombuis. Ek verwonder my aan die kalkoenvel onder haar arms wat dán links en dán regs wapper wanneer sy die mengsel in die pan met egalige hale omdraai.
Vir my lyk oompie Sareltjie meer soos ’n adoons. So met sy groterwordende kopvel wat sy yl haartjies wegja. Wanneer hy praat, wip iets wat lyk soos ’n tikseltjie swart Nugget op en af op sy bolip. My oompie praat graag oor die Tweede Wêreldoorlog. Sy heldedade. Sommer ’n klug, sê Pa. Oompie Sarel is alte ekkerig – en om te dink hy het die oorlog omgesit in ’n weduvrou se hoenderhok daar in Italië.
Ons beter huis kry, sê Ma. Lyk my sommige mense het hulleself ook gehelp aan die wonderdoepa.
Ek sê liewer niks. Kinders moet gesien en nie gehoor word nie.
Voordat iemand my wil braai: Oompie Sareltjie en antie Sienie is fiktiewe karakters. Die weduvrou in Italië ook. Daar was nie ’n familieplaas nie. My pa het nie witblits gestook nie. Of gedrink nie. Ek is nie disrespekvol teenoor ouderdom nie – ek is oud genoeg om te besef dat ouderdom net met humor besweer kan word.
En dit was Vuurvliegie se opdrag dat hierdie Woorsnoer bloguitdaging op humoristiese wyse aangepak moet word. Om die ander bloggers se bydraes te lees, besoek hierdie skakel: https://fresh.inlinkz.com/p/b4994a70bde246a8aca2b9b45ddb2193
Image by Clker-Free-Vector-Images from Pixabay
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Bwahahaha! Jy kon net sowel ‘n blaai uit my geskiedenisboek gevat het, ek ken sulkes en daar was Italië! Daai lelle wat so swaai, het jy my by die stoof afgeloer? Ek kraai te lekker van die lag. Dankie vir die deelneem aan Woordsnoer, Hester!
NS. Dit het oornag 30mm by ons gereën, whoohoo en tjiptjir fluit in die boom, ek het gedink die boveldvisvangers kom nooit tuin toe vanjaar nie!
HesterLeyNel
Dankie Vuurvliegie, dit was ‘n lekker uitdaging. Nee, daai lelle is myne – hulle waai so onder die arms, onder die ken, en op ander plekke ook. Ek is baie bly oor julle reën. Maar ek is net so bly dat ons vandag son het, hoewel ek verkoue het van al die nattigheid en nie kan uitgaan nie. Alles lyk skoongewas en vars hier uit my kamervenster.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Word gou gesond.🌻💝
woordnoot
Ag Hestertjie…hoe lekker laat jy my lag met jou fiktiewe storie….dankie hoor!
HesterLeyNel
🤗😀
Kameel
Lekker skrywe Hester…. en ai daai lelle wat so swaai en draai. Ons Portuguese dogter sê oumas moet dit hê want daar is niks lekkerder vir ‘n kind om mee te speel as daardie lelle nie. 😂😂😂 Gesond word!!!
HesterLeyNel
Nou word ons speelgoed 😂 Dankie Kameel.
Kameel
Dit gee ons darem nog waarde in ons gryse ouderdom 😊 Ek onthou nog my ouma op die plaas se lelle waarmee ek so heerlik gespeel het. Sy het ‘n vratjie op haar voorkop gehad wat my net so fassineer het. Ek wou daaraan vat dan hap sy na my hand… en elke keer skrik ek. Lekker herinneringe.
HesterLeyNel
Ai ja 🙂
perdebytjie
Heerlike vertelling soos net onse Hester dit kan doen! So lekker gelag vir die lelle en die Nugget op die bolip.Ai,jy is ‘n verteller van formaat!
HesterLeyNel
Dankie Bytjie 😁
Abrie Joubert
🙂 Hester ek het elke woord geglo en weet dit is waar. Al wat nie waar is nie is nou fiktiewe vrywaring. Pa se doepa klink na wat ek nodig. Terloops ek het ook lekker. Oorlelle
Abrie Joubert
Sug moet lees het ook lelle – oorlelle
HesterLeyNel
Dis die enigste lelle wat ek NIE het nie. Myne is so klein dat ek nie aanknipoorbelle kan dra nie. Sug. Die lewe is swaar.
Abrie Joubert
😁
sonell
Ek het nou lekker gegiggel hiervoor. 🙃
HesterLeyNel
😁
Una
Dis nou jammer dat diè familielede nie werklik was nie! Dink net hoeveel pret sou hulle aan die mensdom verskaf het, Hester! Jy is darem maar net ń uitstekende skrywer.👏
HesterLeyNel
Dankie Una. Maar soos Vuurvliegie gesê het – ons ken almal sulke mense. So, hulle is nie heeltemal fiktief nie.
scrapydo2.wordpress.com
Ja daardie lelle. As ek soggens voor ek stort myself in die spieël sien is dit net afsaksels en niks stewigs meer nie. Klei Bea sien die laaste tyd my arm lelle raak en wil dit net skommel.
HesterLeyNel
😀 jy waag dit nog om in die spieël te kyk?
scrapydo2.wordpress.com
Kannie anders nie. Badkamer is so klein daars nie plek om weg te kruip nie! Net n stort, wasbak met spieël en toilet in die hokkie.
Bondelsgedagtes
Jy het my lekker laat giggel, oulike vertelling
HesterLeyNel
Dankie Joey 😀
aj vosse
Goeie dag Dame!
Ek’s op soek na jou e-pos asebleif… stuur an safferww@gmail.com…
Ja, ons is lewindig!! Die radio werk, Tannie Auto DJ werk hard in die agtergrond! Ek wil vir jou ‘n possie stuur, om te bedel! Net so btw, ek het vir Karin ‘n versoek gestuur op LinkedIn om die groep the join!!
Dankie!! Mooi loop… lekker partytjie hou!! 🤣👍😁