My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Aan die einde van ‘n baie nat reën-week in KZN

Lexi's artwork

Liewe Towerinne, dit reën hier in die Zulu Kingdom. Mensig, maar dis nat hier in ons valleie. En op ons heuwels. En binne ons huise. Ons het baie lanklaas behoorlike son gesien en ons probeer nou die weerburo oorreed om bietjie reën te voorspel vir “elders” – KZN is nat genoeg.

Nee wat, ons kerm darem nog nie te hard oor die reën nie. Dis net dat ons al ‘n bietjie moelik asemhaal. Die humiditeit is so hoog dat dit letterlik voel asof ons water inasem.

Die water kan nie meer in die grond insink nie en slaan nou deur die huise se fondamente – dit voel asof jou voete nat word op die teëlvloere. Teen hierdie tyd lek almal se dakke. “Ons dak is ‘n lucky packet,” sê my dogter. “Jy weet nooit waar die volgende lek gaan uitspring nie”. So, ons het water van bo en water van onder. Ons klere, beddegoed, matte – alles voel klam. En die sout moet jy maar uit die soutpotjie uitbid.

Diegene wat koerant lees, sal weet dat ons oral water het, behalwe in ons krane. Die gereelde ou Suidkus-probleem. Die water is óf te modderig óf te sout vir menslike gebruik. Of die pype lek. Of die reservoir is leeg. Maar gelukkig het ons watertenks en gebottelde water. Dis meer as wat baie ander mense het.

Die arme diere. Klein voëltjies word in die huis ingebring vir skuiling. Slange word aangemoedig om hulle man te staan buite in die tuin. Ons het vanoggend ‘n tuinslang in die garage gekry. Dit was so hittete of ek het bo-oor hom gery. Dis nou net nadat ek amper op hom getrap het. Moes hom met behulp van die verestoffer uithelp tuin toe. Die verestoffer is ‘n paar keer gebyt. Beide slang en verestoffer het oorleef.

So, hoe beveg ons die kajuitkoors? Ons kyk flieks, ons lees boeke, ons resaaikel ons klere (minder wasgoed), ons sit rond en skinder met mekaar / van mekaar en wanneer die reën so ‘n bietjie bedaar, vlieg ons almal uit winkel toe of strand toe. Ons reën elke keer nat en almal hoes en proes. En ons eet.

Die Kaapse kinders het ‘n pakkie aangestuur met heerlike eetgoed. En prentjies wat ons kleindogter geteken het (sien hooffoto). Kyk nou mooi na die prentjies en veral die tweede een waar die mamma so lekker stuitig oogknip. Hoe dierbaar is dit? Sy was vyf in September en gaan volgende jaar skool toe – Graad R. Waar vlieg die tyd heen? Vanoggend het ons almal boodskappe van haar af gekry op ons WhatsApp-groepie. Luister hier na myne:

😍🥰💓💗

Ek en Karen was vanoggend by Umtentwenistrand by die riviermond. Sy het nie gekyk waar sy loop nie en te naby aan die rivierwal beweeg. Die wal het weggekalwe en sy het halfpad onder ‘n boomstomp ingeskuif, wat haar gelukkig uit die water gehou het. Al wat ek kon sien was die selfoon wat sy bo haar kop gehou het soos ‘n vlag. Behoede tog dat ons selfone in die water beland! Sy het ‘n hou teen kop oorleef en het nou ‘n knop agter haar oor. En haar ma het gelag. Kameel is reg – dis altyd snaaks wanneer iemand anders val. Toe reën ons nog nat ook op pad terug.

Op die wal van die Mtentwenirivier
Die bure se kat kuier by ons. Ook voos gereën en verveeld.

Ek hoop dis ‘n goeie week wat voorlê vir almal van ons. En ek hoop ons reën reis na julle almal toe op die vlerke van die wind (want waai gaan hy waai hierdie week). Behalwe vir Christa daar in Qazagstan – sy het sneeu en benodig nie reën nie. En Scrapy – ek dink sy kry genoeg reën daar in NZ.

Follow Dis Ekke

30 Comments

  1. Bly sy is ok. Geniet die eetgoed en sterkte met die reen. Bitter droog in ander dele van die land. Mooi week.

  2. Jy laat julle weer eintlik na ń hengse avontuur klink, Hester! En sies, jy mag nie vir Karen gelag het nie! Tot ń knop agter haar oor ook!🤗

  3. Dis net die allermooiste boodskap vir haar ouma.💖

  4. Oooo daardie humiditeit!!! Ek is baie bly ek is nie nou daar nie. Sien jy nou wat ek bedoel oor die vallery…. dit is snaaks. “I love you ouma.” ❤

  5. Lucky Fish … reën en ‘n hartsboodskap. Tens spyte van die ongerief is ek gepas jaloers.

  6. Stuur asb die reën. Noordwes is droog😥

  7. Ai sterkte!

  8. Man dit klink vir my nog steeds beter as werk werk werk in ‘n kantoor. I love you ouma, maak mens se hart sommer week

  9. woordnoot

    Daai boodskappie aan Ouma is die beste! Ja, En Elders hou biddae vir reën!

  10. Dis pragtige portrette vir ‘n vyfjarige! Ek soek nog steeds na ‘n gepaste klip om op myne se koppie vas te bind – as ek een kry wat werk, kan jy hom ook leen 🙂

  11. Love you Hester!

    Nie lucky packet nie, Lekkie plekkie

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, lekkie die nuwe grasdekkie. Maar aangesien ek nou nie kan swem nie, kan ek darem darem stort – onder die dak!

  12. Ek stem jy laat dit na n heerlike avontuur klink. Sal wat gee om te kan rondsit en boek lees en peusel. Luilekker…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Mmmm, dis lekker tot op ‘n punt. Dan begin die rooimiere byt. Ons is gewoond aan ‘n buiteluglewe en op hierdie stadium begin my gees ‘n bietjie krimp.

  13. En hier val die water nou al vir drie maande… ek dink ons ooskus veg met julle ooskus om the sien wie is die natste!
    Daar is net een groot verskil… julle reën is WARM reën… ons verkluim so saam-saam met versuip!! 🤣🥴😲😁
    Nee… ons kla nie… ons sê maar net!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hier rond durf jy nie kla oor reën nie. Veral nie wanneer die res van die land tot niet gaan onder droogtetoestande nie. Maar ek verlang darem soms na die son.

  14. Ek kan die humiditeit nie hanteer nie. Maar reen is reen en elke druppel tel.