My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Dis hierdie dae by die strand wat jy onthou

River mouth opening At Umtentweni

Umtentweni strand by riviermonding

Die eienaardige ding omtrent kusbewoners wat my opval, is dat die meeste van hulle nie dikwels strand toe gaan nie. Hoe kan jy nie strand toe wil gaan nie? Die inwonersgetalle hier in ons dorpie bestaan meesal uit afgetredenes wat daar uit Gauteng se wêreld kom. Soos ek. In my boeke beteken dit dat almal elke oggend vroeg moet opstaan en strand toe hol. Soos ek. Maar nee, hulle is dolgelukkig daarmee om by die huis en in die tuin rond te ploeter, winkels toe te gaan en aan hulle rygoed te peuter. Mense raak seker gewoond aan hulle omgewing en om die strand te geniet is nie hoog op die prioriteitslys nie. Nie ek nie. Ek lê elke oggend teen sesuur in die bed en kyk na die weervoorspelling en die getykaarte sodat ek kan besluit waarheen ek wil gaan – dis immers nog nie winter hier nie.

Gisteroggend was ons by Umtentwenistrand. Die Mtentwenirivier het deurgebreek see toe en ons het sommer by die hoofstrand verbygeloop om eers in die rivier te gaan swem. Ons het vir ‘n uur of wat daar in die helder rivierwater rondgespeel. Die water was reeds lekker warm daardie tyd van die oggend. Die op en af dryf saam met die stroom is die rustigste aktiwiteit wat jy jouself kan voorstel; ek voel altyd na die tyd so ontspanne. Toe die gety begin inkom en ons ‘n bietjie rondgeskommel het in klein brandertjies soos wat die seewater die rivier binnegestroom het, het ons traag uitgeklim en terugbeweeg na die hoofstrand toe. Karen het eers gou hierdie video geskiet – dis ek wat nog so ‘n bietjie ronddobber daar in die rivier.

 

Terug by die hoofstrand het ek so ‘n rukkie op die golwe gedryf, maar die water wat van die diepsee af inkom is gewoonlik ‘n bietjie kouer en die golwe het begin sand uitstoot. Ek swem daar links op die voorgrond.

Swimming at Umtentweni beach

Ons gaan hierdie weer, wat merendeels nog baie aangenaam is, benut so lank as wat ons kan. Ons kan reeds voel dat die seisoen begin draai, maar solank as wat die wind nie koud is nie, spandeer ons elke moontlike oomblik buite.

Follow Dis Ekke

24 Comments

  1. Julle benut julle omgewing werklik reg. Mens raak gou gewoond aan iets en beleef dit naderhand nie meer as besonders nie, totdat jy dit nie meer het nie.

  2. Hester, jou liefde vir die see en genot wat jy uit jou omgewing put is goed na liggaam en siel. Geniet voluit. Ag siestog vir die dommies om jou!

  3. Jy ken my hart wat swem in die see aanbetref. Ek moes nou maar eenmaal ñ meermin gewees het. Sug. Bygesê, ek verkies ñ rustige see en warm water, so die Kaap is nie die plek vir my nie. Ek sit hoeka alreeds ure lank op die internet en soek na ñ plek in Mosambiek om vir die Desember vakansie toe te gaan. Julle geniet jul omgewing darem so, Hester!

  4. Strand of bos ik kan van beiden genieten.

    Vrolijke voorjaarsgroet,

  5. Mmmm … skielik is ek erg jaloers!

  6. Ek het in my matriekjaar in Durban gebly en kon ook nooit genoeg daarvan kry. Verlang steeds terug. Geniet elke oomblik

  7. Ag hoe heerlik – maar een ding bekommer my: Valies swem mos veral in die middel van die winter te heerlik daar aan die Suidkus, nie waar nie 😉

  8. Niks is fijner dan een wandeling langs het strand. 👍🏻👍🏻👍🏻

  9. Om op die stoep te sit en see dop te hou is wat my seun hulle die beste doen. Ek is bly die weer het gedraai en julle kan nou die water geniet.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die weer skommel maar. Dis alweer koel en winderig van Sondag af. Daar sal darem seker nog ‘n paar goeie dae verbykom.

  10. Hester, ek kan elke dag na jou strand-fotos kyk.
    Dankie ♥