My vreugdes en frustrasies

Maandag = Wasdag

Die Afrikaanse taal is beslis nie vervelig nie

Couple trading insults

Ek het vervelig gekies as my sleutelwoord vir Scrapydo2 se bloguitdaging. Dit gee my die geleentheid om ‘n glimlag op julle gesigte te sit met ‘n onlangse pos op die Facebookgroepie Argaïse uitdrukkings is cool! Een van die groeplede het tereg genoem dat Afrikaans nie vervelig is nie. Nee, beslis nie.

Die groepie het reeds rondom 10,000 lede en groei daagliks. Hier bespreek hulle argaïse uitdrukkings en die herkoms van sekere woorde en uitdrukkings, verkry die insette van taalghoeroes en bevorder korrekte gebruik van Afrikaans. Soms laat hulle my lag, soos met hierdie pos wat skreeusnaakse vergelykende beledigings bevat. 

Ek sien die lede deel (share) die Facebookposte, dus sal ek darem seker nie streepsuiker kry omdat ek dit op my blog deel nie.


Ek het ‘n paar aangehaal vir julle plesier. Hierdie aanmerkings is in vandag se sosiale klimaat nie regtig polities / sosiaal korrek nie, maar dit rol so lekker van die tong af. So, as jy lus voel om iemand te beledig en nie omgee om sy/haar persoon aan te val nie, laat waai met:

“Jy het:
litterige tone soos ‘n bergvolstruis
waterige oë soos ‘n fonteinpadda
bolkieste soos ‘n kafeekat
skurwe hakskene soos n kombuiskuiken
‘n skerp gesig soos ‘n kwartpond kaas
‘n lang gesig soos ‘n donkie wat berg-af kyk/polisieperd/voorbode
‘n groot kop soos ‘n vet kat
‘n klein koppie soos ’n bazaarfrikkadel/hotelsepie
blomkoolore soos ‘n stoeikampioen
tande/oë soos sterre, nie so blink nie maar so ver uitmekaar uit
hangboude soos n polisieperd/hokleeu
‘n hanggat soos ‘n vleimerrie
uithangboude soos ’n matriekboeksak
‘n toetrekgat soos ‘n tabaksak
een-een tande soos ’n vendusieklavier
hier-en-daar tande soos laasjaar se mielie-misoes
uitpeulogies soos ’n kêffievlieg
omkrullippe soos ‘n piepiepot
rooirandjie oë soos ‘n verkoue toktokkie
bakore soos ‘n Volksie met oop deure/twee waenhuisdeure wat oopstaan
deurskynore soos ’n haas wat voor ’n lamp sit
opgeblaaste wange soos ‘n verkoue kalf
‘n boepens soos n vendusievark
hangwange soos ou baadjiesakke
‘n afdraande gesig soos ‘n wasplank/buitetoilet se dak/koeltekrans/weeluis se rug/dors bobbejaan”

Om deel te neem aan hierdie uitdaging, besoek Scrapydo se blog Maandag = Wasdag. Die reëls is baie eenvoudig: Scrapydo2 verskaf vyf woorde waarvan jy een, twee of almal kan kies om iets oor te skryf. As jy geen gevoel vir een van die woorde kry nie kan jy sommer net ‘n ietsie skryf vir ontspanning. Die lengte of hoeveelheid woorde maak nie saak nie. Dit gaan oor skryf en dit nogal in Afrikaans.

Follow Dis Ekke

17 Comments

  1. Afrikaans bokspring plesierig.😍

  2. Sjoe die meeste ken ek nie… taalarm raak ons.

  3. 😁 Ek ken nie een van hulle nie.

  4. Die mense wat hierdie uitgedink het is flymskerp! Ons is vanmiddag by ń sestigste verjaarsdag en ek gaan hierdie bietjie vir hulle voorlees.

  5. 😂😂😂

  6. Beslis nie vervelig nie. Dis tog wonderlik hoe mense hul sintuie gebruik om hulself mee uit te druk. Dis veral die familie uitdrukkings of selfs streeks uitdrukkings klink so lekker. Dankie dat jy saam geskryf het.

  7. Daai een oor die poliesperd… ons gebruik hom dikwils hier… maar ek moet sê… ek is minder diplomaties… dis sommer net…

    ‘n Gat soos ‘n poliespard!! 😵

    Ek sal my kop ‘n bietjie krap… in die lugmag (tussen ‘n spul jongmans) was daar baie puttige sêgoed… 😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Doen dit – ek geniet die weermagsêgoed vreeslik, maar ek kan nie my man se arsenaal hier aanhaal nie. Hy is ‘n rowwe diamant.

      • Ja-nee… ek sal ook maar moet lig loop… vuilbek was die in ding!! 😉

  8. Sjoe!!!