Woordnoot se uitdaging om deel te neem aan ‘n uitstaling van ons kunswerke, laat my nou heeltemal buite my gemakzone beweeg. Ek weet van kuns soveel as ‘n kat van saffraan. As Lorenzo en Jinay nie so aan my getorring het nie, het ek nou nog in my seeskulpie gesit en slaap en die hele uitstalling misgeloop. Ek het nogal by myself gewonder of Jinay nie haar neus gaan optrek vir my versiersels nie, maar tot my verbasing spin sy soos ‘n tevrede katjie.
Laat ek eers sê: Toortsie, ek het toe nie die waarheid gepraat toe ek vir jou vertel het ek het net een oorspronklike skildery nie – ek het toe oorwegend oorspronklike skilderye in my huisie. Daar hét jy dit nou. Hester weet nie wat in haar eie huis aangaan nie 🙄 (sê my man en kind in die werklike lewe).
Ek is natuurlik ‘n aanhanger van die minimalistiese leefstyl. Dis ‘n goeie verskoning daarvoor om nie te veel kaggelkakkies (Rondomtaliedraai!) aan te hou wat stof en gekko-mis versamel nie, want ek is ook nie ‘n goeie huisvrou nie.
Kom ons gesels eers oor die kunswerke wat ek saam met my huisie by die see geërf het en wat ook nou in my Rhebusfontein-huisie gereplikeer is. Die donker skildery op die foto daar heel bo het ek teen die muur bo die balkon van die boonste vloer aangetref. En mense, daardie skildery is so stewig vasgesit dat niks op aarde hom ooit weer gaan afkry nie. My landlord het goed seker gemaak dat sy eiendom nie weggedra word deur sy huurders nie. Die probleem is dat ek by daardie muur moet verbyloop op pad na my slaapkamer en die donker prent maak my bang. Ek het summier die gloeilampie wat die skildery moet verlig, uitgehaal sodat die donker prent liefs in die donkerte moet bly. O ja, en hierdie is die enigste afdruk in my huis.
Ook saam met die huis geërf, hierdie twee houtbeeldjies wat ek heel amusant vind en dus op die uitstalling moet plaas. Hulle was op ‘n rak in die garage en het seker deur ‘n vorige huurder vergete gebly. Hulle word nou nie juis uitgestal in my huisie nie, maar word sommer gebruik om stapels CDs en DVDs regop te hou. Dis my enigste ornamente, benewens my uitstalling van seeskulpe en natuurlik my Bali-eend wat nou permanent in Lorenzo se kamer is.

Die skildery hier onder hang in my slaapkamer, reg bo my bed, om my elke dag te herinner aan die feit dat ek nié ‘n huisvrou is nie. Ons het sowat 30 jaar gelede in die Kaap ‘n groterige voorstedelike huis gehad, met heelwat kunswerke waarvan ek mettertyd ontslae geraak het. Die meeste daarvan was maar afdrukke, met glas bedek. Ek het een reënerige naweeksoggend besluit om my tyd nuttig te gebruik en ‘n slag al die stofvergaarders skoon te maak. Gewapen met lappe en ‘n bottel Windowlene het ek alles mooi blink gemaak, maar hierdie skildery – hierdie skildery het nie net blink geword nie. Dit het sommer halfpad verdwyn. Hierdie een was ‘n oorspronklike in olieverf. (Ek het tóé al nie geweet wat in my huis aangaan nie!) Die wasige wit agtergrond is nie deel van die oorspronklike skildery nie – dis my Windowlene-behandeling. My man weier koppig om van die prent ontslae te raak en dit het al die land vol saam met ons getrek, en dit hang altyd bo my bed en is nou ‘n familiegrap. Boetedoening! En Jinay wil dit nou opsluit deel van die uitstalling maak.

Die volgende skilderytjie, net ongeveer 30 cm lank, is ‘n oorspronklike olieverf wat my ma vir my gegee het. Sy het jare gelede in Goodwood in dieselfde woonstelgebou as die skilder se moeder gewoon. Hierdie is een van sy beginjare-skilderye (1982) en Toortsie, dis die een wat in die laai gebêre word. Karen is vasberade om haar ouma se skildery goed te bewaar en leen dit met ‘n swaar hart uit vir die uitstalling.

Ek verneem dat my man verwoed op soek is na sy skildery wat onverklaarbaar wegraak uit sy kamer elke keer as ek na Rhebusfontein vertrek. Hy het dit jare gelede by ‘n uitstalling in Kaapstad gekoop en hy doen sy bes om die prent uit my hande te hou. Dis ook ‘n olieverf en ná 30 jaar is die Windowlene-oomblik nog helder in sy geheue. Ek is dus eintlik verbied om aan sy skildery te vat. Hier rond kom vergifnis nie maklik nie.

Die volgende twee skilderye is in waterverf, deur my gunsteling skilder – my dogter. Die eerste een is ‘n nabootsing van ‘n Van Gogh wat Karen gemaak het toe sy nog my klein dogtertjie was. As jy die prentjie kan vergroot, sal jy die verklaring op die blomvaas sien: “Vincent & Karen”. En onder in die hoek “For Hester” – ‘n verjaardaggeskenk.

Die volgende een het sy enkele jare later geteken en die klein raampie staan op Oupa Nic se teetrollie in die woonkamer.

Ek het in ‘n vorige blog geskryf oor legkaarte wat ek en Karen gepak en laat raam het. Toe ons na hierdie huis toe getrek het, het ons dit geskenk aan die Lions Club vir hulle jaarlikse fondsinsameling. Soms is ‘n herinnering (en ‘n foto en ‘n blog) genoeg, en dit was tyd om ‘n ou lewe agter te laat.
Hierdie is ‘n denkbeeldige kunsuitstalling en elke Towerin word gedaag om haar unieke kuns (hetsy self gemaak of sommer net self gelief) te kom uitstal! Die In-linkz skakel is: https://fresh.inlinkz.com/p/ea9c1f40af104092b8ababac55311c85
woordnoot
Wow!!! Sjoe…dis so lekker om te sien wat in my mede bloggers se huise hang…ons mag wel nie art experts wees nie, maar damn….ons hou van mooi! Dankie vir die deel, Hester…. dis almal mooi, die Windowlene ene het baie karakter! (Te danke aan jou ywerige skoonmaak!)
HesterLeyNel
Haha, karakter, ja. Dankie Woordnoot 😀
Kameel
Ek het nou hier met ‘n smile sit en lees. Sê vir jou man ek verstaan hoekom hy daardie skildery uit jou hande hou…. dis pragtig!!! Windowlene 😂😂😂
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Hester, mooi,mooi gewindowlene😂 Ek is mal oor jou kind en Vincent , dis superspesiaal verby. Dankie dat ons na jou mooi en onthou en boetedoening kan kyk.🤗
HesterLeyNel
Dankie Vuurvliegie 😊
Abrie Joubert
Hester daar is ‘n moontlikheid dat jy nie opgelet tydens die kunsrestourasie kurses wat jy gedoen het nie. Toe die eksentrieke kunslektor van Windowlene gepraat het, het hy ‘n grap gemaak n.a.v. die uitsig deur die venster van die kunsateljee. Slegs hierdie beelde kan deur Windowlene verbeter word…
HesterLeyNel
Whaha, ja, enige verskoning sou gehelp het.
Bondelsgedagtes
Windolene, o koek dit klink soos ek. Watwou, met die regte kyk lyk dit soos ligstraal wat deur die wolke skyn….
HesterLeyNel
Sê ek mos ook. Ek glo dis ‘n verbetering op die oorspronklike.
Bondelsgedagtes
Ek stem heelhartig saam. Ek het jare gelede eneki here wat ek nie wou gehad het nie, toe modify ek hom …
HesterLeyNel
Haha … met opset? You go girl!
Bondelsgedagtes
Met opset…
Bondelsgedagtes
Eneki ge- erf…
perdebytjie
Hoe lekker lag ek nou vir jou Windolenepoging! Jou dogter se skilderye is pragtig..daardie inskrywing op die van Gogh, is so oulik!
HesterLeyNel
Dankie Bytjie 😀
seegogga
Daardie windolene wolkie lyk eintlik baie mooi. Die kunstenaar moet jou bedank!
HesterLeyNel
Hahaha, dankie Seegogga 😀
Dr Christa van Staden
Ek stem saam, lekker om te kyk en te lees. Mooi, hou daarvan
trommeltjies
Dis nou ń oulike versameling en ń lekker storie daarmee saam.
HesterLeyNel
Dankie Trommeltjies 😀
Abrie Joubert
Hi Hester is jou nuutste post veronderstel om password protected te wees?
HesterLeyNel
Ja, dis deel van ‘n bloguitdaging wat Vuurvliegie gerig het (https://lekkervurigeaffere.blog/2019/09/08/woeste-woordsnoer/). Ons gaan alles “reveal” wanneer almal se blogs gereed is. Dis ‘n lekker lawwe kopkrap 😀
Tokeloshe.
Dit is ‘n interesante kykie in jou lewe en oulik geskryf.
Jou dogter is kunstig ♥
HesterLeyNel
Dankie Tok 😀