Somer met baie son en min wind is waarvan ek elke winter droom. Mits ek dan nou die weer mag bestel soos wat ek dit wil hê.
Op die oomblik is dit nog effens koel en die wind waai elke dag so van nege-uur af. Maar dit het ons nie verhoed om weer ons oefenprogram te hervat nie. Ná die griep en die koue van die afgelope twee maande, is ons nie meer so fiks nie, maar ten minste is ons weer aan die gang.
Die fotos is eergister by Umtentwenistrand geneem – daar waar ons gewoonlik in die see swem.
Vanoggend het ons van die huis af Sea Park toe en terug geloop. Langs pad het ons dragtige apies teëgekom (Vervet Monkeys). Die boepensies is te kostelik. Daar is klein gansies op die rivier. Die groentetuine op die sypaadjies word bewerk. Onder by die strand hang groen vruggies aan die tamatieplante wat wild daar groei. Die geur van jasmyn hang in die lug. Somer hang in die lug. Jip, dis tyd.
Dis nou regtig droog hier. Ons het in April laas reën gehad en die Natalse groen raak vaal. Ek moes die tuin natlei – iets wat ons nie dikwels doen nie. Toe lei ek sommer die bure oorkant die pad se strelitzias en wilde irisse nat. En hulle hond. Hulle het ‘n oulike Jack Russell wat vreeslik graag in die tuinslang se stroom water speel. Die spelery het gepaardgegaan met ‘n vreeslike geblaf en gelag, sodat Karen uitgekom het om te kyk wat aangaan. Net om ‘n nat, modderbesmeerde hond in die bure se tuin aan te tref. Sy het maar gaan verskoning vra vir haar ma se sondes 😊 en albei hulle hondjies gaan bad en drooggeblaas. Net so, sonder enige waarskuwing, beland ‘n mens in die moeilikheid wanneer die baldadigheid van die somer jou tref 😏
Net Ek
Jou foto’s is so mooi Hester!
Ek moet sê, ek is lief vir die winter, maar ek is in week 4 van griep / verkoue / amper-dood-wees, so ek is effens gatvol. Dit kan nou maar somer raak.
HesterLeyNel
Ek is nie ‘n winterkind nie. Ek ly sommer tjoef-tjaf aan winterdepressie. Ek het ook vir die eerste keer in vier jaar griep gehad en dit was ‘n NARE ondervinding. Ek hoop jy voel gou beter.
Net Ek
Dankie Hester!
Lekker naweek.
woordnoot
Whooppee Hester! Die somer is oppad! Gelukkig was Karen daar om die brakkies te bad.
HesterLeyNel
Ja-nee, ek dink hulle was ook verbaas dat iemand hulle honde kom bad. Die hondjies slaap in die huis en hulle sou ‘n mooi gemors veroorsaak het.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Lekker. Daai hondjie gaan jou vorentoe besig hou. 😂 Ek het vanoggend kruie geplant en hulle bedding gekompos om die winter te besweer. Die mannetjieswind van Augustus waai onlekker hier.
HesterLeyNel
Ons het verlede jaar Augustuswinde gehad van Junie tot in die helfte van Januarie. Ons hoop dit gaan beter hierdie jaar.
trommeltjies
Hier in die Kaap het ons drie heerlike lente sondae gehad, maar ek sien YR sê Sondag kom die reën en koue. Ek is bly vir manlief se part, hy is nog in die bed en in die hitte is dit onlekkerder as die onlekker in die koue. Ons het heerlik reën gehad hierdie winter. Vir die eerste keer in jare het my plafon in die badkamer mould gekry. Mooi foto’s Hester.
HesterLeyNel
Ek het gehoor daar is nog ‘n koue front op pad.
Positief
Ek het bietjie vitamiene see nodig, jou fotos laat my sommer in die kar spring en kom kuier
HesterLeyNel
Dis nog te koud en winderig. Selfs die Vaalies swem nog nie.
Positief
Ek sal maar in my volle duik-suit op die starnd moet gaan sit en net dalkies so bietjie swem
HesterLeyNel
Dis darem seker nie so koud onder die water nie.
Toortsie
Geniet dit. Hier by ons hoop ons nog vir winterreën
HesterLeyNel
En julle winter is nou seker amper op ‘n einde?
Toortsie
Het nog min winter gehad die jaar.
HesterLeyNel
Ek sien die grootste deel van die land kla dat hulle nie ‘n behoorlike winter gehad het nie.
Toortsie
Reen was vreemd. Kaapse damme baie water, maar groot dele het amper nie reën gehad.
perdebytjie
Jy is maar lekker onnutsig om die bure se brak so nat te spuit!Dis wat lente aan mens doen.Pragtige foto’s!
HesterLeyNel
Dankie Bytjie.
joke_dev
Oefeningen aan het doen op blote voeten! De foto van de golf is fantastisch. Hier is de zomer bijna voorbij, dan kunnen we spreken van kou 🙂
HesterLeyNel
Dankie, Joke. Ek is maar baie bly ons beleef nie die soort koue wat julle kry nie.
Una
Hester, jou hele skrywe getuig van jou uitbundige opgewondenheid omdat somer amper hier is! Nes ń kind, en jy doen my SO goed.
HesterLeyNel
😀 Una.
Kameel
Jy begin blom 😊
HesterLeyNel
😀 Jy weet dan!
Tannie Frannie
Mal oor die manier waarop Karen jou kastaiings vir jou uit die vuur gaan krap het!
HesterLeyNel
Sy moan kastig met my jong, maar sy hou daarvan om dingetjies te doen vir die oumense in die kompleks. Hulle dra haar op die hande.
Tannie Frannie
Sal dit goed glo – ek dink julle al drie kikker die ou spulletjie op.
scrapydo2.wordpress.com
Jy is bietjie haastig met die lente. Daar word n groot koue klap binnekort verwag vanaf die Suidpool. Dis blykbaar omstandighede wat hie gereeld voor kom nie wat die koue gaan veroorsaak. Jammer om bietjie koue op jou vurigheid te gooi. Darem bly jul kan weer begin om die oefenprogram aan die gang te sit. Die brakke kon seker nie hul geluk glo met al die water nie.
HesterLeyNel
Ja, ek het ook gehoor van die koue wat kom. Ek hoop net dit hou nie weer aan tot in Desember / middel Januarie soos verlede jaar nie.
scrapydo2.wordpress.com
Mmmm, sal maar stil bly as dit by die weer kom. Mens weet ook maar nooit hoe dit uitdraai nie.
Dr Christa van Staden
Ag lekker! Mooi foto van jou
HesterLeyNel
Dankie Christa 😀
ekmyselff
Ek hou nie van winter en wind nie.
HesterLeyNel
Dit verstom my dat mense kan oorleef in sneeu en temperature onder vriespunt.