My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Van sirenes, klokke en apps / toeps

Dit val my gisteraand op hoe my lewe deesdae beheer en regeer word deur apps. Deesdae kry ‘n mens ‘n app om te pas by elke faset van jou lewe. Ek praat nou nie eens van die sosiale media apps soos whatsapp, facebook, messenger, instagram, youtube en die wordpress app wat ons gebruik om in kontak te bly en mee te ding met die Joneses nie. Ook nie die games apps nie. Dis gister se nuus.

Ek verwys na die apps wat ek werklik nodig het om my lewenswiele in die regte baan te hou. Dit sluit nou in die apps van die kettingwinkels wat my op die hoogte hou van hulle spesiale aanbiedinge; wat my elke oggend wakker maak en herinner om my bloeddrukpille te drink; wat my meedeel hoe die weer lyk, hoe sterk die wind waai en wat die stand van die getye is; wat my bedags elke 60 minute daaraan herinner om water te drink; wat my in kennis stel van Eskom beurtkragroosters; wat my toelaat om my banksake te doen, versekering te reël, hulp te ontbied as Pandosie my langs die pad los; my herinner aan my belastingvorms wat ingedien moet word, tv-lisensie wat betaal moet word, motor- en / of bestuurslisensie wat hernu moet word, boetes wat betaal moet word (moenie my man van hierdie een vertel nie, asseblief), ens. en so aan, soos my oom op die plaas altyd gesê het.

Dan is daar ook die apps wat regtig “nice to haves” is.

In hierdie kategorie val Deezer, die app wat my toelaat om deur die nag te slaap met sagte musiek van my keuse in my ore. In plaas van snorkgeluide, blaffende honde, snaterende eende en ‘n kattemaaiery. Salig.

Ook VIVA, die app wat my help om te spel en om daardie woorde te vind wat so op die tippie van my tong bly huiwer.

En moenie vergeet van Plantsnap wat my help om die plante in ons omgewing te identifiseer nie. Jy neem net die plant af met jou selfoon en Plantsnap bekyk jou foto, vertel jou wat dit is en verskaf sommer besonderhede oor die kweek en voorkoms daarvan. Dit verskaf my baie genot.

Vir seker is daar nog ‘n paar ander apps wat nuttig kan wees 😀 en ek sal my oë oophou.

Gisteraand het ek gesien die nooddienste ER24 het bekendgemaak dat hulle ook die nuwe internasionale app What3Words in gebruik gaan neem. Die app word gebruik om mense in nood vinniger op te spoor en te bereik. Die ander nooddienste gaan heelwaarskynlik vinnig op hulle hakke volg. Hier in die bos, waar ons soms sukkel om ‘n ambulans betyds op die regte plek te laat opdaag, kan dit lewensverlies voorkom. Dis hierdie app wat my aan die dink gesit het.

Ek wonder soms hoe op aarde ek my lewe voorheen bestuur het sonder al hierdie selfoonhulp. Ek onthou die dae toe die Big Ben wekker my wakker gemaak het vir werk. Later was dit ‘n radio, en een verpestelike radio-omroeper in die Vrystaat het elke oggend vyfuur ‘n hoenderhaan laat kraai oor die eter. Die boere het dit seker waardeer, maar vir ‘n stadsjapie was dit eens te erg.

In ‘n myndorp waar ons gewoon het, het die mynsirene die ruiling van skofte, die etensuur en uitvaltyd aangekondig. Wie onthou nog die dorpsirenes wat elke aand om nege-uur aangekondig het dat die aandklokreël nou in werking is? Die kerkklokke het ons kerk toe geroep op ‘n Sondag. Dan was daar die skoolklok wat die begin en einde van die skooldag, pouses en die einde van periodes aangekondig het. Ek kon nooit besluit wie se verligting groter was wanneer die klok gelui het nie – die onderwysers of die kinders.

Nou het ons apps. Ons raak vinnig bederf.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

40 Comments

  1. Jy laat my diep dink…ons lewens het werklik radikaal verander sedert selfone skaars twintig jaar gelede verskyn het.

  2. Ek het by VIVA probeer registreer, maar kom nie reg nie…🤔😫

  3. Ek onthou die mynsirine en het vir veertig jaar in die onderwys gewerk so ek ken daardie klokke baie goed. Jy gaan ons almal laat diep dink vanaand oor hoe ons lewens so verander het – dankie daarvoor.

  4. EK dink nie enige een verlang na skoolklokke of sirens nie. EK het ook plantsnap. Baie interresante blog. Dankie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie, Woestynkind. Plantsnap is vir my goud werd, want ek het daar in die Noordkaap grootgeword en hierdie subtropiese plante is heeltemal onbekend.

  5. Dit het baie beslis ons lewens verander!

  6. woordnoot

    Ons het so afhanklik geword van apps….ek is nou kort kort op die Currency converter om te probeer bepaal hoeveel rande ek gaan nodig he in skotland!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Baie! Ons rand is maar swak. Moet net nie te veel omswaai in pond voordat jy gaan nie, want as jy dit wil herverkoop wanneer jy terugkom, kry jy nog ‘n swakker koers.

      • woordnoot

        Haha…ek het nie baie om saam te vat nie!! Hierdie is n totale onbeplande ding…gelukkig is ons verblyf verniet. Sal dapper en stapper waar ons moet….dis n gebedssaak😆😆

  7. Eish ,,, ek is is dol oor allerhande apps want ek is aardsnuuskierig

  8. Ek gebruik maar net die gewones: Whattsapp, Facebook, WordPress, banke.

  9. Nee wat, ek kan gladnie so baie verskillende apps hanteer nie. Ek het whatsapp begin omdat suster dit wou he. Ek is gladnie ingestel op al die goed nie. Tog geniet ek my enkeles wat ek het. Ek onthou ook daardie skoolklokke en sirenes wat bler as daar gevaar in die stad dreig(Secunda se noodsyne)

  10. Is hierdie klomp apps nie veronderstel om vir ons tyd te “koop” nie? Waarom dan kom ek by niks uit wat ek altyd gedoen het nie, lees, oefen, stokperdjies? Seker omdat ek te veel op my apps speel

  11. Neeeeee Hester soveel apps sal my kop nog deurmekaarder maak. Jy weet mos ek sukkel klaar met die wat ek het.

  12. Kan jy dink hoe verward al die apps die ou boere op die ossewa sou gemaak het…..sjoe die lewe het so verander, ek het nie eers geweet van al hierdie apps nie

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die ou boere se ossewaens en hulle voorlaaiers sou my seker mal gemaak het – dink net hoe moeilik het daai goed bestuur en geskiet 😀

  13. Mmmm, ek is nou opsoek na ‘n nuwe app.

    Ek probeer nou ‘n “capsule wardrobe” begin en daar is glo apps wat jy die klere in jou kas afneem en dit maak verskillende uitrustings en so. Sover was ek nogal onsuksesvol. Maar ek soek nog hard.

    Ek het besluit ‘n capsule wardrobe is die ding wat ek nou so op die vooraand van my 40ste moet aanpak. (ek het egter geen idee hoekom ek myself so uitput nie. Seker omdat my kinders nou groot is. Sug)

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis ‘n goeie idee, though, want mens is geneig om soms kledingstukke te koop op die ingewing van die oomblik wat jy glad nie kan meng en pas nie. En dan dra jy dit ook nooit weer nie of baie min. Of jy dra ‘n sekere paar kledingstukke oor en oor totdat hulle gaar is. Ek haat shopping. Met ‘n passie!

  14. Ek sit net vandag en wonder wat ons sonder google gedoen het, dis so maklik om vinnig dit waarna jy soek in tebtik en whoopa daar is jou info. Google maps veral.

  15. Sjoe, ek gebruik paar van hulle. Lief die Viva App, hier het ons toeps om die taxi te bestel. Handig