My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Una se beenhare plaas ons op die soustrein

Una se beenhare is besig om opslae te maak en nou blyk dit dat sy dalk nog wêreldroem kan verwerf. Die Towerinne staan natuurlik gereed om op die soustrein te spring. Gaan kyk maar daar op Woordnoot se blog. Dis nou waar ek in die prentjie kom, want daar word nou woes gesoek na ‘n fotograaf om daardie veelbesproke beenhare te gaan afneem. 

Daar staan ek vanoggend sorgvry in die stort, van plan om hare te was en my eie beenhare, armhare en so aan te versorg, toe ek ‘n noodroep kry: ons profesionele fotograaf is nie beskikbaar nie en kan ek uithelp asseblief? Ek het maar my skeermessie neergesit en afgedroog. Om my eie ongeskeerde bene te bedek, het ek een van die nuwerwetse pare leggings aangetrek wat nou van China af ingevoer word. Toe ek in Bondels se badkamerdeur opdaag, kamera in die hand, het Una my bene net een kyk gegee, onaards gegil en flou geword in die bad. Waddehel??? Ek reken sy het gedink ek is in kompetisie met haar.

Ek dink Una se senuwees is heeltemal oorspanne. Nadat ons haar bygebring het met vlugsout, het sy daarop aangedring dat haar beenhare onmiddellik geskeer word. Die probleem is dat daar geen skeermesse beskikbaar is in Rebusfontein nie. Nie eens Lorenzo se badkamerkassie bevat so ‘n uitheemse martelinstrument nie. Die Towerinne het ‘n paar ander voorstelle gemaak om die saak te beredder, maar nie een van hulle het byval gevind nie. Ek het darem goeie fotos gekry.

Daar was die skerp byltjie wat Christa gebruik om haar vleis mee op te kap:

En daar was ‘n oulike toestelletjie wat Lorenzo gebruik in die tuin:

Helaas, Una was nie tevrede nie en het besluit om maar liewer die skeerdery te los en uiteindelik kon ek die professionele fotos neem waarvoor Mr. Barnum wag. Teen hierdie tyd was my senuwees ook al gedaan en ek het per ongeluk die video knoppie op my kamera gedruk, maar ek dink dit sal werk – wat dink julle?

Ns. Wat het deur Una se kop gegaan toe sy net een been geskeer het? Dit het die fotografie effens bemoeilik. Om ordentlike, kuise fotos te neem van een been op ‘n slag, is ‘n moeilike saak.

Sjoe, nou was ek regtig moeg en wou ‘n bietjie ontspan. Dis so ‘n heerlike sonnige dag en ek het afgestap rivier toe. En wie sal ek daar sien? – Camilla wat ronddryf op ‘n binneband met Lorenzo wat lyfwag speel.

Wel, dan keer ek nou maar weer terug huis toe. Ek moet die video aanstuur vir Toortsie. Una het spesiaal gevra dat Toortsie aangestel moet word as haar Besturende Agent, om seker te maak dat haar loopbaan dat haar sirkusloopbaan profesioneel hanteer word. 


Photo credit: https://images.app.goo.gl/FZmtcMTT4Hqorop98


Lees die ander bloggers se bydraes by hierdie InLinkz skakel: https://fresh.inlinkz.com/party/556868f82eae403d9143258e74ee97b1

Follow Dis Ekke

35 Comments

  1. Ahaaaa! Besturende agent, nogal! 🙂

  2. Bravo Hester, toe red jy ons……

  3. Ek hoop wraggies by hierdie tyd is almal behalwe Una se beenhare geskeer. Nee liewe ek gril my dood. En wat maak Camilla hier en ek weet dit nie eers nie??? Dankie vir die fotos…. weet sommer Mnr Barnum gaan in ekstase wees.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Myne is. Dis ‘n verligting ná dae se krapperige bene …

      • Een ding waaroor ek seker dankbaar kan wees… my liggaam is maar haarloos. Moet so nou en dan onderbene skeer. Ons Portugese dogter is baie harig. Wonder waarby dit inkom?

        • Ek het by ‘hulle’ gehoor dat baie hare ñ hoë testosteroon vlak beteken. Met ander woorde, na die menoupause kan ons begin snor kry… soos ons pas begin lyk. En niemand het my daarop voorberei nie!

        • O liewe!!! Nou kla ek nie meer oor my min hare nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, is testosteroon nie daai ding wat ‘n mens laat bles word nie? Dan groei jy hare op die rug en op die bene, maar niks op die kop nie.

        • O liewe 😄

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          En woeste wenkbroue! Ek moet so elke nou en dan by Departement Bosbou aanklop om myne te help uitroei.

        • Hahhhhsha….ja!!!!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek dink dis maar oorerflik. Kan beslis nie die nagevolge van evolusie wees nie. Of kan dit? Dalk is jy al lankal ge-evoleer, meer beskaafd as ons.

        • Ag Hester jy laat my lag. Miskien is ek ‘n engel 😇

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          😀

  4. woordnoot

    Oe…julle is absoluut ‘n span!!! Met julle kan ons die wêreld op sy kop skeer…ag jinne, ek bedoel keer!!!

  5. Ek lees toe eers by Toorts, en sien jou skrywe daarna! Hester, hierdie klomp Towerinne kan op die ingewing van die oomblik alle reëls oortree en skryf dat die spoeg spat! Dalk moet Rebusfontein sy eie koerant kry, kan net dink wat als daar sal uitkom. Jy is skerper as enige Minora blade, hoor, dis nou met jou idees.🙉🙈

  6. Ek sou ook skrik vir my byl vir beenhare! Julle is baie snaaks. En die somer is op pad!

  7. En elke keer as ek jou Ns. paragraaf lees, proes ek soos ek lag! Fyn uitgedink. Lekker onder die belt!☺☺☺

  8. 🙂

  9. O my vy! Dis maar goed ek lees alleen hier waar ek sit. Hester, Hester. Bwahaha! Una, dat jou beenhare nou op so ‘n prettige avontuur kan uitloop!

  10. Ek kom nou eers hier aan en lees gou almal se bydraes. Dankie Hester…ek het nou heerlik gelag vir jou foto’s. Ek kon dit beslis nie beter doen nie. Tien uit tien!