My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Wanneer kajuitkoors hokgeslaan moet word

Kajuitkoors. So ‘n mooi woord wat ek hierdie week by Lewies geleer het. Ná afloop van al die siektes en skete, peste en plae wat ons die afgelope twee maande in die huis gehou het, het ek behóórlik aan kajuitkoors begin ly. Toe ek Donderdagoggend by die voordeur uitloer en ‘n bewolkte, windstil dag begroet my, kon dit nie hoër of laer nie, ons moes ‘n bietjie gaan rondskuur.

 In die winter sit ons son so laag dat jy die hele dag lank met skrefiesoë rondloop. Die hoed se rand kan nie laag genoeg aftrek om die son uit jou oë te hou nie. En natuurlik is die son op die kamera se lens meer seën as wat enige amateur fotograaf kan verduur. Die laaghangende wolkebank is dus dubbeld welkom – dit hou beide die son en die wind weg. 

My seun het ‘n Samsung kamera hier aangebring tydens ons familievakansie en hy het sy ma so ‘n bietjie touwys gemaak. Nou moes ons net iets soek wat ek kon afneem. Met die kameras om die nek, die Samsung en Karen se betroubare Nikon , is ons vroegmôre hier weg.

Glenmore Beach, ook bekend as Kinderstrand, is sowat 45 minute per motor van ons af, in die rigting van Port Edward. Sommer daar naby die Mpenjati Natuurreservaat.

Dis duidelik waarom hierdie deel Kinderstrand genoem word – hier word kinders getrakteer en geleer omtrent die natuur. Hierdie klomp kleintjies het deelgeneem aan sakresies op die strand en daarna het hulle gaan afkoel in die see, terwyl ons verder strand op gestap het.

Hoog op die strand, op die gedeelte wat bekend is as Munster Beach, lê die skeepswrak van die goedereskip, The Nightingale, wat in 1933 daar op die rotse geloop het. Op die foto onder is dit duidelik waarom die skip hier vergaan het – die rotsbanke strek myle ver oor die strand. Die oorblyfsels van die skeepsketel (“boiler”) kan in die agtergrond van die foto gesien word.

Rondom die ketel lê nog gedeeltes van die wrak versprei.

Ons was teen eenuur terug by die huis met ‘n yslike bottel vol tuisgemaakte gemmerbier en ‘n pak vis, russians en tjips, toegerol in waspapier, wat ons langs pad gekoop het. Die pak is sommer so op die kombuistafel oopgerol en ons het nie gebodder met borde nie – net die bottels tamatie- en rissiesous nadergetrek en sommer so van die papier af geëet. Koningskos.

Kajuitkoors? Watwou. Ons sien nou weer kans vir die lewe.


Scrapy se skrywe vir die uitdaging Maandag = Wasdag 7 2019 oor ‘n mooi oggend in haar lewe, het my geïnspireer om ‘n dag uit my week te beskryf. Dis tans “winter” hier by ons ook, maar die temperature is darem nie onmenslik laag soos in die res van die land nie. Ons probeer altyd om die lekker dae goed te benut en hierdie een was besonder genotvol.

Follow Dis Ekke

30 Comments

  1. Jy neem sommer uitstekende foto’s.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie. Ek het sommer uit die mengsel fotos gekies. Die fotos van Kinderstrand en die kindertjies het Karen geneem. Die kameras is beide idiot proof (outomatiese instelling) en die fotos kom gewoonlik mooi uit.

  2. Koningskos, inderdaad!!! Ag Hester, verlang ek sommer nou terug Glenmore toe. Die fotos is pragtig.

  3. Mooi fotos! En dis die regte manier om kajuitkoors in sy glory te stuur!

  4. Mooi foto’s … bly kom bietjie uit!

  5. Nou het jy my rêgtig aan die verlang. My niggie het ‘n huis op Glenmore gehad waar ons ‘n paar jaar na mekaar gaan vakansie hou het. Na ons Engelse seun se troue het hulle jare in Munster gebly. Soveel Munster herhinderinge en mense wat ons daar leer ken het. Bly jy is weer aan die rondloop en fotos neem 😊

  6. Die foto’s is pragtig!So rof eet uit die papier met die tamatiesous byderhand, was nog altyd die lekkerste!

  7. Ooooo daardie Russians! Hoe water my mond nou. Die goed wat hul as “wors” hier het is net meel en afval vleisies, as daar ooit regtig vleis in is. Ek was nog nooit by Glenmore strand nie. My Ousus het wel een jaar met die skool gegaan , seker so 1957 rond. Sy het dit baie geniet en ek het gehoop ons kon ook gaan maar dit het nie gewerk nie. Ons is toe in st 5 Warmbad toe vir n week. Baie dankie dat jy n mooi dag beskryf het. Dis werklik pragtig en opwindend om so uit te gaan na n lang siekwees tydper. Bly om te hoor jy het jou neus uitgesteek en gegaan.

  8. Heerlik heerlik . Nou is ekself sommer lus vir chips. Mooiste fotos.

  9. woordnoot

    Wanneer laas het ek russians en chips uit die papier gehad? Ek glo dit was heerlik. Jou fotos laat my vandag dik stukke see toe verlang…ek ly aan missie-see koors!

  10. Jy het my nou ver terug geneem: toe ek in St. 5 was het my laerskool vir ‘n termyn die VaderlandseKinderstrandskool op Glenmore bygewoon. DIt was ‘n wonderlike ervaring en ek onthou die Nightingale daar op die rotse!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit sou vir my, ‘n kind van die droë platteland, ‘n hemelse ervaring gewees het. Dis ‘n baie mooi omgewing.

      • Die vyf laerskole wat saam gekom het vir die termyn was almal van die binneland. Behalwe vyf van ons het al die kinders die see vir die eerste keer daar gesien!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dit moet ‘n belewenis wees vir so ‘n kind. Ons het darem gereeld vakansie gehou aan die Weskus (baie anders as die Suidkus), maar ek weet daar was kinders saam met my op skool wat nooit die see gesien het nie.

  11. Hier zijn prachtige foto’s te bekijken!

  12. Munster, ek het nog altyd gesê ek sou daar kon aftree, die plekkie het so ouwêreldse gevoel. Dankie vir die saam stap

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, jy kry daardie gevoel. Ongelukkig het daar nou ‘n paar ander elemente ingesluip wat maak dat ‘n mens maar die heeltyd oor jou skouer loer. Maar dis maar oral in SA so, nie waar nie?

  13. Ek hoor die woord ook hier by vrouens wat deur hulle eerste winter in Ust is. Ons gaan blykbaar kajuitkoors kry as ons so lank in die huis moet bly. Ek twyfel, maar praat soms te gou. Mooi foto’s

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Oeps, jou kommentaar het in my spambox beland en ek moes dit nou eers gaan uitvis. Dit hang seker af waar ‘n mens se belangstellings lê. Ek kan nie lank besig bly onderdak nie, want jy kan net soveel boeke lees, op die internet surf, flieks kyk, slaap – en dis letterlik al wat ek onderdak doen. Ek leef buite in die natuur. Ek raak lyflastig en geïrriteerd wanneer die weer sleg is en ek nie uit die huis kan kom nie. Kajuitkoors!

  14. Kajuitkoors!!
    Nou… daars vir jou ‘n ding! Anyway… ek laaik daai woord en het hulp om te offer… om julle gevaninis ‘n bietjie meer geriefliker te maak… luister Maandag to Vrydag aande so omtrent 7 uur saans… en Saterdag oggend van 09h30 (julle tyd) en ek sal probeer om daai koorserige gevoelens weg te dryf!
    Russians & Chips… nou verlang ek!! 😉
    Yep… en Karen het ‘n Nikon!! Dis ‘n ding so naby my hart… Nikon wen… elke keer… en het ek russians genoem? LEKKER!! 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ons sal ‘n draai maak by jou program een of ander tyd, maar vroegaand is nog werktyd – wanneer al die websites stil is 😀 Dis wanneer ons updates doen. Ons het twee Nikons en ek is nou baie gewoond aan hulle. Ons het ook twee Canons. Die Samsung is nou ‘n nuwigheid, maar wil jy glo? – ons weer is nou so horrible dat ek nie buite kan gaan oefen nie. It sucks. Ons bly maar binne en eet sop.

      • Ja… ons ook! Sop! En om te dink… dis veronderstel om somer hier te wees!!!
        Wha ha HAAA! 😉 Lekker sop eet!! 🙂