Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Wandelstap op die kuslyn met Walking in Nature

Sonsopkoms by Ramsgate

Die groep Walking in Nature is betrokke by heelwat georganiseerde uitstappies op die Laer Suidkus van KwaZulu-Natal. Tans is hulle besig met hulle jaarlikse wandelstap (Shoreline Challenge Walk) vanaf Hibberdene tot by Mzamba (verby Port Edward tot anderkant die Wild Coast Sun). Elke week, op ‘n Sondag, loop die deelnemers ‘n paar kilometer langs die kuslyn af.

Ons het verlede week aangesluit vir die stappie van Ramsgatestrand tot by Marina Beach – ongeveer 7,5 kilometer ver. Gelukkig het ek nie geweet presies hoe ver dit is of hoe ongelyk die terrein sal wees nie, anders het ek vroegoggend teruggeduik in die bed. Ek het die vorige week reeds ‘n loopneus gehad en toe boonop ‘n pyn ontwikkel in my een heup. Nie erg nie, net genoeg om lastig te wees.

Ons het douvoordag hier weggevlieg, want ek moes vir Karen aflaai by Ramsgate, die kar gaan parkeer by Marina Beach en ‘n geleentheid kry terug Ramsgate toe saam met een van die stappers, want ná die stap sou ons nie weer terugkeer na Ramsgate toe nie. Gelukkig was ons vroeg reeds daar – vroeg genoeg vir mooi fotos van die sonsopkoms, voordat ons begin loop het.

Die foto heelbo en hieronder is geneem by Ramsgate se getypoel.

Onder is ‘n foto van Ramsgatestrand (met die Waffle House en die Blue Lagoon Restaurant oorkant ons, maar buitesig op die foto).

Daar was koffie by die beginpunt. Die 140 stappers is voorsien van genoeg water en 7:30 het ons in die (voet)pad geval, strandlangs.

Dis ek wat daar links loop met ‘n grys sweetpakbroek en blou windjekker. Effens koel so vroeg in die oggend. My heup het so ‘n rukkie gekla en toe besluit om te sjarrap.

Langs pad was daar baie mooi goed om te bekyk: die see self (natuurlik), die rotsformasies, getypoele langs elke strand – nee ek gaan nie hier fotos plaas van die hele landskap nie, want ek het reeds genoeg fotos daarvan op hierdie blogtuiste.

Hier is wel een wat ons geneem het van dassies wat vroegoggend op die rotse in die son gelê en bak het.

Pragtige vuurpyle vol in die blom. Let op hoe besig is die bye reeds vroegoggend.

Vissermanne (en -vroue) wat hengel van die rotse af. Links van die rots in die water is ‘n paar surfer dudes wat die groter golwe inwag – hoewel die see vir my baie kalm gelyk het.

By Southbroom het ek en Karen eers ‘n badkamerbreek geneem. Dis nou tipies wat gebeur wanneer ‘n mens so vroeg opstaan en ver ry om by die beginpunt van die staproete te kom – jou gewone roetines word lelik deurmekaar gekrap. Die res van die stappers het aangehou loop en hoewel ons hulle by tye daar in die doerte gesien het, het ons sommer hier al ver agtergeraak. Ons het hulle nie eens weer gesien by die halfpadmerk waar nog water uitgedeel is nie. Gelukkig het ons nie die ontbyt bespreek nie, want daar sou niks oor gewees het teen die tyd wat ons daar gekom het nie.

Ons is by Southbroom se Granny Pool verby en ook by Umkobi Beach. Teen hierdie tyd het ek al ‘n bietjie moeg begin raak, want die terrein was soms ongelyk. Ek het vroeg reeds my baadjie en my plakkies uitgetrek (Karen dra altyd ‘n rugsak saam) en die res van die pad kaalvoet aangedurf.

In die foto hier onder gebruik ek letterlik hand en tand om veilig oor die nat en glibberige rotse te kom. Die plastieksakkie het ons by die beginpunt gekry om rommel langs pad op te tel – die stappers maak skoon so ver as wat as ons gaan. Daar was wel ambulansdienste op bystand, maar ek was nie van plan om bene in die lug langs die strand te bly lê nie.

Ná twee ure (of meer) se swoeg en sweet was ons by Marina Beach en ek het vir oulaas die krag bymekaargeskrap om te glimlag vir ‘n foto by die eindpunt.

Soos ek gedink het, het die voorste stappers reeds klaar hulle ontbytrolletjies geëet en huis toe gegaan. Ons was darem nie heel laaste nie en die ambulanspersoneel het op hulle pos gebly om hulp te verleen. Hulle het my baie ondersoekend op en af bekyk, maar darem nie gevra of die ouvrou behandeling nodig het nie.

Ons het onmiddellik die terugtog aangepak. Ek was baie bly om die swart karretjie in die parkeerplek te sien – maar nie vir baie lank nie. Net by Ramsgate verby het ongenadige krampe my been verlam en ek moes aftrek by die vulstasie daar by Hibiscus Mall sodat Karen verder kon bestuur. Terwyl ek besig was om op een beentjie rond te spring, het sy haar bestuurderslisensie uitgekrap – net om my mee te deel dat haar lisensie twee dae vantevore verval het. Ek het tot nou nog toe nie ‘n woord gesê nie, maar daardie lisensie is is blitsig hernu, net enkele dae ná die uitstappie.

Ek moes maar deurdruk en huis toe bestuur. En hoekom het so ‘n piepklein karretjie ses ratte nodig? Sewe as jy jy die trurat bytel? Dis nie ‘n grap om ratte te verwissel met tone wat kromtrek van die pyn nie.

Ongelukkig het ek net na die uitstappie in die bed beland met ‘n baie seer heup en ‘n griep wat toe uiteindelik tot uitbarsting gekom het. Geen wonder ek het amper ‘n hele boks tiesjoes opgebruik op die staproete nie.

Ek sal eers moet herstel van hierdie kieme en pyne voordat ons weer kan saamstap. Ons gaan dus die gedeelte van die staproete tussen Marina Beach en Palm Beach (net voor Port Edward) misloop, maar hoop om daarna saam te loop tot by Mzamba.

Follow Dis Ekke

30 Comments

  1. Ma dink die foto’s is baie, baie mooi en ons hoop jy voel sommer gou beter. 😀

  2. HesterLeyNel

    Dankie, Rambo

  3. Jy sou ‘n goeie voortrekkervrou uitgemaak het. Kaalvoet oor die berge. Welgedaan Hester…. lig my hoed vir jou want al was my kop nie dronk nie sou ek nie daardie stapding gedoen het nie. Hoop jy is gou weer jou pynlose self.

    • HesterLeyNel

      Dankie vir die goeie wense. Maar ‘n voortrekkervrou? Pffft – ek sou dit nie kon doen nie. Hulle was van staal gemaak.

  4. Dit klink soos ‘n lekker uitstappie. Jammer julle was so ver agter (wonder hoe ander mense deurgekom het sonder om badkamer toe te gaan), maar julle kon darem die mooi dele van die roete ervaar sonder ‘n klomp mense om julle. Ek hoop die griep en pyne sal gou regkom.

    • HesterLeyNel

      Dankie Anne, ek voel darem al beter.

  5. Ai dit klink heerlik. Geniet

  6. Breathtaking nature! It was a fishing competition, wasn’t it? I hope you won something 🙂

    • HesterLeyNel

      No, it was an organised walk in nature – I’m sooo not into fishing, although the rest of my family members are. We walked along the shoreline for 7.5 km, and I was absolutely bushed in the end.

  7. Dit klink tog te lekker. Jammer dat jpu heup jou so gepla het.

    • HesterLeyNel

      Ja, kan jy dit glo? Ek het nooit enige probleme met my bene of my rug nie en nou skielik het ek pyne en skete. Ek moes seker iewers skeef getrap of myself ooreis het. Hierdie gedwonge rus is ietwat onaangenaam.

  8. Sou graag so ‘n ou kilometertjie of wat wou saamstap, maar beslis nie die hele ent nie! Lyk my ons kry maar almal ‘n beurt om deur te loop met die griep – vinnige beterskap vir jou. Julle foto’s is eenvoudig asemrowend mooi

  9. Dapper vrou!! Jy is tog so goeie voorbeeld vir ons ander. Trots op jou. Jammer vir al die geite agterna hoor. Hoop jy is gou beter en oor alles

  10. Una

    Mooiste fotos, Hester! Man, ek is trots op jou, so ń ver stap sit nie in elke ou se broek nie.

  11. Sjoe! Welgedaan. En dis die mooiste foto’s. Hoop jy voel gou beter!

  12. Pragtige foto’s! Was jou nooiensvan Van Helsdingen? 😉 So ‘n ongelyke roete het eenvoudig wat dit vat om die heupe lelik te laat pyn. Dis soos ons plaaslike parkrun roete. Baie mooi, maar lelik met my heupe. Word gou gesond. (Probeer flaxseed oil, propvol Omega 3,6 en 9 vir die heupe.)

    • Skusie, Flaxseed oil kapule. 😉

    • HesterLeyNel

      Dankie, ek moet dalk die omegas weer ‘n bietjie inspan. Ek is eintlik gewoond aan hierdie soort terrein, want ons loop feitlik elke oggend langs ons klipperige strand. Maar 7 kilometer aanmekaar sonder blaaskans is dalk ‘n bietjie erg.

  13. Ai… die skete!!
    Hoop jy voel nou al beter… en reg vir ‘n nuwe staptoggie…
    En om te dink… jy kan lekker kaalvoet loop… ja, selfs in die winter! Hier sukkel ek om in die somer kaalvoet te loop… ek ek was so lief daarvoor! 😉
    Ek laaik al daai mooi fotos van julle… en sien uit na die volgende stappie!

    • HesterLeyNel

      Ek het nog steeds ‘n pyn hier en daar en my kinders is hier vir twee weke. Oudste het gister gearriveer en die Kaapse klong sal Woensdagoggend hier wees. Ek hoop ek is in een stuk teen die tyd wat die vakansie behoorlik aan die gang is.

      • Hier’s ‘n plan… laat hulle al die werk doen… en jy sterk net aan… met behulp van ‘n paar druppels lawwesap! 🙂

        • HesterLeyNel

          😁 Ek wens dit was so maklik.

        • Maar ma… dit is…
          Ma… waar’s die suiker?
          Ma… hoekome is daar nie bier in die yskas nie?
          Ma… ek soek eires? Waar’s die wors?
          Ma… kan ons braai?
          Ma… het jy coke gekry vir die brannewyn?
          Ma… ma… MA!
          Ek soek ‘n dop…
          MA! Hou op slaan… dis seer!
          MA!!!!!!!!!

        • HesterLeyNel

          🤣😁😂

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: