Gister was net een van daardie dae wat ‘n mens nie by die huis kon bly nie en ons het besluit om ‘n daglange mini-vakansie by die see te gaan geniet. Ons het ‘n vriendin gaan oplaai in Oslo Beach en teen die kus afgery in Port Edward se rigting. So halfpad tussen Margate en Port Edward het ons ‘n uitdraaipad gesien vir Southbroomstrand en op die ingewing van die oomblik besluit om te gaan kyk wat daar aangaan.
Dit was ‘n wyse besluit, want na ‘n paar minute se rondsnuffel het ons op ‘n absolute juweel afgekom – The Granny Pool. Ek het eers gelag vir die naam en oomblikke later na my asem gesnak oor die pragtige natuurskoon. Die Granny Pool is ‘n getypoel op ‘n pragtige klein strandjie wat toeganklik gemaak is vir die meer senior strandlopers onder ons.
Die toiletgeriewe, storte en loopvlakke is alles toeganklik vir rystoele en toegerus om veiligheid te verseker. Die loopvlakke waarmee jy teen die steilte afgaan na die strand toe, is behandel sodat persone wat loop of rystoele gebruik, nie gly nie. Daar word ook rystoele beskikbaar gestel vir diegene wat nie hulle eie stoele gebring het nie. Daarvandaan is dit ‘n klein entjie se loop oor die sand om in die getypoel te kom.
Die strand is nie toegerus met haainette nie, ook geen lewensredders nie – albei baie goeie redes om liewer in die veiligheid van die poel te swem. Die water is ongelooflik skoon en die omgewing baie netjies.
Hierdie granny gaan beslis weer ‘n draai daar maak.
Hoe sluit ‘n mens so ‘n dag af? Jy ry tot in Port Edward om die heerlikste draairoomys op die Suidkus te gaan eet by die strandkafee. Met die terugryslag stop jy by ‘n padstal om tuisgemaakte gemmerbier te koop, asook die heerlikste stokvis, russians en tjips by ‘n voorslag-viswinkel. Dan huis toe om met die klank van die see in jou ore, die feesmaal oop te sprei op die waspapier. Gewapen met ‘n bottel tamatiesous, eet ons sommer so met die vingers en geniet die kuier saam met goeie vriende.
Hier "blok" Ek!
Wee jy, om my nou so groen hier op ‘n baie blou Maandag te kom maak is nie reg nie.
Ek dink my man lees dalk iewers sulke goed en dit is juis die rede waarom hy net wil pensioeneer.
Jou blog maak my rerig lus om dit saam met hom te gaan doen…. My one and only…
HesterLeyNel
Ja, ek wens ook ek kan elke dag so pensioeneer. Dis hoekom hierdie dae so spesiaal is – hulle kom net so nou en dan verby.
Hier "blok" Ek!
Geniet dit, die verskil is dit my man soek dit elke dag 🤔😂😂
Positief
Vrek oulik. Jou Granny pool kan vir my luigeid ook werk
HesterLeyNel
Die granny pool maak my lui vir werk 😄
Positief
Daai sandlopery, met brand-kuite en warm voete, is nie vir my lekker nie. Hierdie lyk net reg
Net Ek
Klink na ‘n fantastiese Sondag Hester!
HesterLeyNel
My soort ontspanning, Net Ek, baie laidback 😄
travel460
Stokvis, russians en tjips, plus draairoomys! Hierdie is defnitief die beste manier om ñ Sondag-vakansie mee af te sluit. Dis ñ pragtige Granny-pool, Hester.
HesterLeyNel
Ja, man, daar is sulke lekker weggesteekte plekkies daar waar daar heeldag lank niks gebeur nie. Ek het net vanoggend gesê dis tyd om ons tentpenne op te trek en verder teen die kus af te beweeg. Ek is soms ‘n bietjie lui om rond te ry – as ek nou ‘n man was, sou ek ook van my balkon af in die see wou piepie, haha 😄
ekmyselff
Ooh dit klink te lekker, ek is sommer groen van jalousie, daardie roomys en die see klink vir my net reg… dit is besonders mooi daar.
HesterLeyNel
Dit is ‘n baie mooi omgewing. So ‘n wegbrekie is net die ding wat weer my batterye herlaai.
ekmyselff
Dit is hemels, ek sal gereeld wegbreek of liewer uitbreek 😉
HesterLeyNel
😊
Tannie Frannie
Aha, ek voldoen aan die vereistes om daar te gaan ronddobber!
HesterLeyNel
Bring jou lilo!
travel460
Ek ook, ek ook!!!
HesterLeyNel
Jy ook, natuurlik. As jy nie in die see kan dryf nie, doen dit langsaan in ‘n getypoel!
rondomtaliedraai
Klink heerlik!
HesterLeyNel
Dit was
Anne
Wonderlik! My ouma and oupa het in Southbroom gewoon en ons het elke tweede jaar daar gaan vakansie hou. Ek was vyf jaar oud toe ek daar vir die eerste keer gaan kuier het and onthou nog hoe ek en ‘n vriendin met die trein gery het vanaf Nelspruit tot by Port Shepstone na ons matriek geskryf het. Daardie tien dae op Southbroom se strand was ‘n wonderlike ervaring – dit lyk nou SO anders in jou fotos. Dankie vir die herinnering!
HesterLeyNel
Dis ‘n pragtige omgewing. Die passassierstrein loop ongelukkig nie meer nie – ek sou so graag net een keer met die trein al langs die kuslyn af wou ry.
Lewies Mymer
Lekker man lekker! Ons het ook gister gevisentjips.
HesterLeyNel
Wens ons kon dit meermale doen, maar my mense het mos ‘n jodium-allergie wat hulle laat krap as hulle te veel vis of vark eet sug niks bacon vir ontbyt of hamtoebroodjies nie.
Kameel
Port Edward het ‘n baie spesiale plek in my hart….om verskeie redes. Ons kinders het eers in Munster gebly, en ek moet sê ek verkies daardie stiller strande. Nou wonder ek net hoekom ons nooit ‘n draai by Southbroom gemaak het nie. Lyk asof die weer mooi saamgespeel het 😊
HesterLeyNel
Dit was effens winderig – dis hoekom ek buite die water was, maar tenminste het die son geskyn.
sonell
Dit is nou vrek oulik!
HesterLeyNel
☺
Abrie Joubert
Granny pool kan jy dit oorvertel. Ek is beindruk met die netheid van die hele opset.
Abrie Joubert
En die pragtige krap
HesterLeyNel
Die krappe hier is talryk van soort. Ek het al voorheen ‘n hele galery fotos geplaas https://www.hesterleynel.co.za/2017/07/17/hou-net-aan-met-krap-hoor/, maar daarna het ons alweer ‘n hele klompie teëgekom wat elkeen anders lyk.
HesterLeyNel
Vreeslik oulik en dit word baie goed onderhou.
Tokeloshe
Aai-jaai-jaai! Pragtige fotos. Lekker! Hierdie granny sal baie daarvan hou 😉
HesterLeyNel
Dankie Linda. Ek wil beslis weer daar gaan kuier, maar hierdie jaar is ons weerpatrone so deurmekaar – dit bly koud en winderig.
coetzee2014
Baie, baie lank gelede, ‘n vakansie, by die einste Southbroom, deurgebring. Waar is die dae?
HesterLeyNel
Die dae is te vinnig verby. Die Suidkus is nie meer dieselfde nie. Die natuur is nog asemrowend (daar waar dit skoongehou word), maar die infrastruktuur is vrot, letterlik en figuurlik. Dis hoekom ek altyd sê ek woon in die “bos”. Dis die afgeleë strande en natuur wat my (op die oomblik) nog hier hou – ek beskou dit as ‘n heerlike vakansie in sy vierde jaar 😄
trommeltjies
Dis skrywes soos joune wat my hart verbly dat daar nog mooi instand gehoude plekke is waar daar veilig geloop of gerol kan word. Dit laat my net weer besef, ondanks al die negatiewe is daar wonderlike positiewe goed hier in ons sonskynland.
HesterLeyNel
Ja, dis nogal verblydend.