My vreugdes en frustrasies

My eiers

Woordsnoer no. 5: breek my kop met ‘n rymelary

Vuurvliegie het dit in hierdie bloguitdaging oor ‘n rymelary. Ek dink dit hou merendeels verband met die stuitige Afrikaanse liedjies wat so op ‘n lewendige ritme suggestiewe rymwoorde uitspoeg.

Ek het gisteraand besluit om ook ‘n rymelary aanmekaar te slaan met die sleutelwoorde wat Vuurvliegie vir ons gegee het. Gelukkig is daar nie ‘n ek-lus-jou ondertoon nie en gelukkig hoef dit nie ‘n musieklike ritme te hê nie. Want. Vanoggend moet ek erken dat ek simpatie het met die liriekskrywers wat probeer geld maak op hierdie wyse. Ek sal nooit my daaglikse brood so kan verdien nie. My kop is nie gebou vir sulke legkaarte nie.

Dus: ‘n Rymelary oor die herfs (dis nog nie winter hier nie)

Ons sien hoe die suidewind die wolke abba
en hoor vaagweg die geluide van die samba.
Die musiek verhoog die gevoel van fantasia
En daar buite in die tuin blom die kamelia.
Uit die skemerdonker verskyn die ronkedoor
en onmiddellik die verwagting van geskoor.
Sy hooghartige houding is so frappant.
Hy is sonder twyfel ‘n arrogante kalant.
Hy daag hier op met ‘n groot hoehaai
om maar net beloftes van reën in te waai.
Al wat ons tog kry is ‘n jakkalstroureëntjie;
Die verwagte storm is maar net ‘n kleintjie.
Wanneer fyn druppeltjies droomverlore,
luiweg rondrol in die stof van die leivore,
sit ons twee buite op die bankie – tjoepstil,
die eerste lemoene van die seisoen aan’t afskil.
Die soetigheid laat ons sug – so geluksalig.
Meteens lyk die toekoms weer rooskleurig.
Ons gesels oor dit en dat met elkander,
sit ons daar aan die natuur te verwonder:
die ondergaande son wat die horison verfyn
voor die eerste strale van die maan verskyn,
en sluit ‘n onverwagte vriendskapsverbond
met die bure se keffende steekhaarhond.
Smôrens vroeg, sommer nog douvoordag
Verwelkom hy ons altyd met ‘n blaf in sy lag.

So maak mens om deel te neem aan hierdie uitdaging:

Jy kan ‘n enkele stel woordsnoer rymwoorde as inspirasie vonk gebruik, of al die rymwoorde – nes jy lus het. Tower dan jou rym. Maak seker om die woord (e) in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe.

Ons uitdaging strek oor twee weke, 20 Junie sal die skakel sluit. Nooi blogmaats om saam te kom speel! En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie! https://fresh.inlinkz.com/p/86350a0e80e643788015a86178e3b125

Lekker snoer.


Image by Steve Buissinne from Pixabay

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

33 Comments

  1. Dis nou mooi herfs gerym.📚✏🌟

  2. Uitstekend! As ‘n mens kan, dan kan jy.

  3. woordnoot

    Sê net bietje weer daai stukkie oor kan nie rym nie? Welgedaan Hester! Jy kan toe rym!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis Vuurvliegie wat gerym het – ek moes net ‘n stertjie byskryf. Maar nou moet ek jou vertel – ek en ‘n ander blogvriend (AJ Vosse) kuier toe nou die aand so lekker op sy radioprogram waar hy die heerlikste musiek gespeel het. En vir elke liedjie het ek die lirieke gaan opsoek. Musiekmense het die wonderlikste talent om om te gaan met klanke, ritme, woorde, gevoel. Ek het groot bewondering vir hulle. Maar ek verdra nie hierdie klakkelose Afrikaanse liedjies wat handel oor – wel, waaroor handel hulle eintlik? Daar is tóg Afrikaanse liedjies met pragtige lirieke – Koos Doep, Anton Goosen. Om só ‘n talent te kan hê …

      • woordnoot

        Ek luister na baie liedjies want ek probeer altyd liedjies speel wat by die tema pas en veral afrikaans….ek hoor die mooiste goed van onbekende kunstenaars…maar ek sukkel ook met my baby en my bokkie en kaas bra!

    • Saam met Scrapy haal ek my hoed vir jou af….en maak ‘n buiging. Dis goed geskryf Hester!!! Nee liewe land die gestoei met my elektriese kombers was kinderspeletjies teen hierdie uitdaging. Het ek met potlood en papier probeer was ‘n paar potlode al middeldeur gebreek.

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        Ek vind die beste manier vir my om so iets te doen is om net te sit en te begin skryf. Dan sif ek net later die ergste woordevloed uit, rangskik die ou spulletjie en hoop vir die beste. Dankie vir die kompliment.

  4. Nou’s ek uitasem gelees. Daar is darem n ellelange storie in die rym verskuil. Welgedaan. Ek haal my hoed af vir jou.

  5. Hier is sulke mooi digterlike vondste – “…hoe die suidewind die wolke abba…”; “…met ‘n blaf in sy lag…” ek hou baie daarvan!

  6. Puik gedoen Hester

  7. Hester op haar beste… Sowaar, daar skryf ek iets war rym. Baie goed gedoen, Hester, sulke mooi, nuwe woorde wat hande vat.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Unatjie, jy doen my hart goed.

      • Alexander Baai en Oranjemundt was nou glad nie plekke om oor te skryf nie. Ons is terug Port Nolloth toe; ek lê op die bed en kyk na die see hier reg voor ons. Heerlik snoek geëet. Hierdie is vir my ń wonderlike kusdorp, Hester!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Die beste. In my kinderdae was ek mal oor die dae wat begin met so ‘n ligte motreëntjie en digte mis. Die reuk van vis en seebamboes wat so in die mis hang. En dis mishoring wat so mistroostig blaas om skepe te waarsku teen gevaar. Ek en my broers het daar met bakkies (klein bootjies) uitgegaan om krewe met nette te vang. My pa het vir ons bokkoms (visbiltong) gemaak van harders en hulle in trossies opgehang onder die bak van sy Bedfordlorrie. Bedags was ons by die water of tussen die sandduine en saans het ons so half in die lug geslaap – velle gaar gebrand deur die son. Dit was die heerlikste vakansies.

        • Ons het met ń paar baie interessante mense hier gesels.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek was nooit in Oranjemundt nie en slegs enkele kere in Alexanderbaai se binnekamp. In daardie jare is toegang streng gereguleer vanweë die diamantbedrywighede daar. Ons was wel baie naweke en skoolvakansies in Port Nolloth en laer af teen die kus by Hondeklipbaai.

  8. Hierdie het ek nou baie geniet. 🤗

    En ek stem. Die alewige ek-lus-jou liedjies blus sommer my lus om te luister.

  9. Uitstekend gedoen, Hester!

  10. Sonel

    Ek dink hier rymelary van jou kan dalk ‘n lied aan die gang sit hoor. Pragtig geskryf Hester. 😀