Tegnologie van die soort wat meer ingewikkeld is as die houtskarnier aan die onderste deur van ‘n plaaskombuis, gaan nog my ondergang wees.
Die drukpot se stelsel wat nou nie meer wil druk opbou nie en die klein swart karretjie met sy byderwetse rekenaar wat nie sy mond kan oopmaak as hy dors is nie, het my laat terugverlang na ‘n era wat ek nie eens beleef het nie. Dis nou die era toe mense ‘n swart ysterpot in die vuurherd oorgehang het vir ‘n dronkie koffie. En toe hulle dorp toe gery het met ‘n perdekar – die enjin het bestaan uit ‘n gewillige dier wat luister wanneer jy op hom skel. Goeie betroubare tegnologie.
‘n Rekenaar is nou ‘n perd van ‘n ander kleur. Hierdie soort tegnologie verander vinniger as wat mense in die skeihof beland, en dis voorwaar ‘n prestasie. Ons probeer byhou so goed as wat ons kan, maar hier aan die buitenste frontier van beskawing, is dit nie maklik nie. Ek meen te sê, ons werk nog op ‘n ADSL lyn, bloot omdat daar geen ander opsie beskikbaar is nie. Veseloptika (fibre optics) en satelietdataseine is nie deel van ons bestaan nie.
Die probleem is dat die res van die tegnologie skoon by ons verbyhardloop. Elke keer as Windows en / of Microsoft hulle sagteware opdateer, kreun ons rekenaars ‘n bietjie harder. Myne, net meer as ‘n jaar oud, het al begin om sulke klein piepgeluidjies te maak soos ‘n siek veldmuis. En stadig! Vaderland, as ek ‘n dokument in Microsoft Word wil oopmaak, kan ek maar eers trap-af kombuis toe loop en iets in die yskas gaan soek om aan te kou. Skel help nie. Sweep klap ook nie.
Dis toe dat Oudste laat weet ons moet nou afsien van die hardeskywe in ons rekenaars en dit vervang met SSD (Solid State Drives). So gesê, so gedaan, maar nou raas my kop harder as wat my rekenaar ooit gedoen het. Pure senuwees. Hy het sy eie en sy suster se SSDs sommer self geïnstalleer, maar hy is in Johannesburg en ek moes myne toevertrou aan Ezy PC. Goeie keuse. Hulle het blitsvinnig die nuwe skyf ingesit en Windows opgelaai. Ek en Karen moes self die ander sagteware weer aflaai. Ons het ook nie te sleg gevaar nie en met Oudste wat hulp verleen op WhatsApp, hardloop my rekenaar nou teen die spoed van wit weerlig.
So wat is die probleem? Ons moes vooraf alle dokumentasie van ons rekenaars af verwyder en op ‘n eksterne skyf laai. Audioboeke, die kindle-biblioteek en dokumentasie wat eintlik nie op my Desktop hoort nie en waarvan ons wel backups het. Maar daardie oomblik wat jy besef dat jy met die druk van ‘n knoppie die helfte van jou lewe kan uitwis … 😰 Ek is bly om te rapporteer alles het goed verloop. Van nou af sal ek noodgedwonge elke dag alles moet back-up (Afrikaans?), want die SSD se lewensverwagting is nie noodwendig van dieselfde gehalte as die hardeskyf nie.
Ek het eers besef hoe rou geskaaf my senuwees was toe die swart karretjie vanoggend, op pad na die rolbalbaan, skielik kliphard aangekondig het dat sy petrol op is. Ek het so groot geskrik vir sy lawaai dat ek vir ‘n oomblik ‘n sweep gesoek het om die perd te slaan.
Te danke aan onverwante faktore, het Jetpack en WordPress ‘n week gelede opgehou om met mekaar te praat. Jetpack is die program wat my in staat stel om my blogs op die WordPress-dot-com Leser beskikbaar te maak. Ons het die fout oral gesoek, maar ek het die helfte van die tyd nie bloggers se kommentare raakgesien nie of kon nie daarop antwoord nie. In baie gevalle het ek dalk blogs misgeloop wat ek nie gelees het nie. Verskoon asseblief – dis net tegnologie wat my tydelik baasgeraak het. Ons het met die hoeveelste en laaste desperate probeerslag vanoggend om Jetpack weer te installeer, skynbaar die regte knoppies gedruk, en alles is weer wel in Blogland.
Ek kan nou eers weer my bloeddrukmasjientjie bêre.
Hoe het die mense in die ou dae hulle bloeddruk gemeet? Die eerste bloeddrukmasjien is dan eers in 1881 geprakseer.
Photo credit: By Janmad – Own work, CC BY 3.0, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=7897218
Anne
I can empathise with you.
HesterLeyNel
We are so dependent upon our computers systems and data lines – no wonder my nerves are shot.
Perdebytjie
Ek raak skoon senuweestig as ek hier lees.Sjoe Hester!
HesterLeyNel
Dis ‘n saak vir gebed, het een van my kollegas altyd gesê. Ek hoop die pyne is nou eers verby. Ek moet sê, hierdie laptop het nog nooit voorheen so vinnig gevlieg nie. Dis amper ‘n plesier om te werk.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
My rekenaars is immer altyd genaamd Fred, fucking ridiculous electronic device. Sela.
HesterLeyNel
Eisj. Jy moet lief wees vir jou masjiene.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Ek is, voorkoming is beter as genesing, hulle werk, ek noem nie die naam nie….🤣🤣🤣
HesterLeyNel
🤣
Bondelsgedagtes
Ek sit ook met stokou laptop wat ewigheid vat om te besef ek het ‘n sleutel gedruk. Dan kan ek ook eers op hol woonstel toe, so 450m ver van die kantoor af en brekvis maak teen die tyd dat dit kliek. Dan kan ek nog klaar eet ook teen die tyd dat dit die letter op my epossie neer sit. Dan praat ons nou nie van andrr funksies nie… tikmasjien van doerietyd was vinniger….
HesterLeyNel
Dis geweldig frustrerend. Ek is vandag baie gelukkig met my PC.
rondomtaliedraai
My keel trek sommer toe vir jou! Sterkte <3
HesterLeyNel
Ag, jy weet, ek ken mense … hahaha.
seegogga
My laptop is ook n harmansdrup en sê in die laaste tyd dat chrome verouderd is, maar darie anner deng wat jy van prat- ek ken hom nie dai deng nie. Mar ek soek hom ok, dai vinnige deng. Sal dar by die winkel hom gan soek.
HesterLeyNel
Wel, vandat ek daai deng in my lap het, werk hy 10x vinniger. Dis nie Chrome wat die probleem is nie – myne het net so gevries en het teen skilpadspoed opgelaai. Nou wil hy vir my weghol.
Rambo
Ma sê jy laat haar nou dink aan die ou stoof wat haar ouma gehad het in die kombuis. Mens moes nog vuur maak in dit. Sy sê dit was die lekkerste kuierplek, daai kombuis. Veral in die winter. 🙂
Dit klink asof julle omtrent besig was en ons is bly als is nou uitgesorteer. Daai bloeddrukmasjientjie sal ook nie lank hou as dit so gaan nie. 😁😂
HesterLeyNel
Ek het ook nog grootgeword in die tyd van koolstowe in die kombuis. Ons het ‘n groot kombuis gehad met ‘n groot kombuistafel (ons was baie kinders) en die kombuis was die kuierplek, veral in die winter.
Rambo
Ma sê dit was die lekkerste. Haar ouma het altyd die lekkerste sop en pannekoek in die winter gemaak 🙂
HesterLeyNel
En moenie vergeet van die blink koffieketel wat altyd eenkant op die stoof gestaan het nie. My ma het so ‘n reghoekige gegote ysterpan gehad – ‘n grote. Daarin het sy vir ons tjops ge”pot”braai in die varkvet. Toe kon ons nog bekostig om skaapvleis te eet.
Rambo
Ma sê ja, ouma het ook so een gehad en daardie ysterpanne was die lekkerste! Ma het nog so ronde een wat jy op die plaat sit en jy kan altwee kante gebruik. Een het riffels en een is net gewoonweg. Maar die goed is swaar. G’n wonder die oumense kon so hard klap nie sê ma. Hul spiere het goed oefening gekry. 😅
Ma en ek eet gelukkig nie skaapvleis nie. Dit maak ons naar as ons dit ruik. Haar ouma en oupa het dit ook nie geëet nie. Snaaks hoe mense verskillende goed eet né? Jy het ma nou laat dink aan Oregano speserye ook. Sy kan dit nie verdra nie en trek haar neus baie snaaks as sy dit ruik. Sy kan dit ook nie eet nie want dit maak haar ook naar. Sy wonder nog altyd hoekom dit so is. Ma is weird. 😂
HesterLeyNel
Ek gee nou nie om vir ‘n skaaptjoppie nie en ek vrek oor oregano. Wys jou net hoe mense verskil. Ons het as kinders nie juis beesvleis geken nie (ons was Namakwalanders) en hoender het ons Sondae of by spesiale geleenthede geëet. Varkvleis is eintlik my gunsteling.
Rambo
Ja, wys jou net. Ons het almal ons kleure en geure né? Maak ons net meer interessant.
Ma sê hulle ook nie juis nie en sy hou ook baie van varkvleis maar moet maar ligloop vir die vetterigheid. Sy wil nie hospitaal toe gaan dat hul haar galblaas moet uithaal nie. 😀
Ek en ma is bitter lief vir ons hoender en ek sal my doodeet aan lewer en niertjies, maar ma sê die niertjies hier proe te veel na pp. hahahaha!
HesterLeyNel
Sê vir jou sy moet daai niertjies afspoel en oornag in melk laat lê. Daar is op die aarde niks lekkerder as ‘n steak & kidney pie (paai!) nie.
Rambo
Ma sê sy sal dit rerig doen en baie dankie vir die raad, want sy is net soos ek baie lief vir niertjies, maar hier in Natal proe dit baie anders. Steak & kidney pie is hondlekker! 😀
woordnoot
Jare gelede het my sus se seuntjie (hy was toe 6 en is vandag 30) ekstaties by die huis ingehardloop en met groot vreugde aangekondig dat sy Oupa vir hulle ‘n ne(u)kenaar gegee het….wyse woord tegnologie word daagliks ‘n al hoe groter neukery…..
HesterLeyNel
Dis nogal waar. As ek terugdink aan my eerste Olivetti en ek kyk na vandag se toerusting, is daar ‘n wêreld se verskil.
Kameel
Ek het gedog dis net my rekenaar wat nou so stadig is. Skoonseun is nounet weer deur ‘n klomp eksamens om by te bly met IT. Hy sê dinge verander so vinnig jy kannie dink jy sit terug en ontspan nie. Ek gaan hom nou vra rondom daardie nuwe gedoente… miskien sal hy dink sy skoonma het uiteindelik bygekom in die lewe.
HesterLeyNel
Hahaha, dalk kry hy jou jammer en gradeer joune op.
Kameel
Hy weet van programme skryf…. aan die computer se binnegoed peuter weet ek nie so mooi nie. Sal bietjie by hom hoor 🤔
HesterLeyNel
Ja-nee, ek hou ook nie daarvan om my laptop se skroefies los te draai nie, dis hoekom ek myne na Ezy PC toe gevat het.
Una
My rekenaar is stokoud en blitsvinnig. Seker omdat ek hom net vir blog gebruik? Beteken dit nou hy is soos ñ zombie, die brein is ietwat leeg.☺ My oë rek soos gewoonlik as jy oor jou slim wêreld skryf!
HesterLeyNel
Nee, zombies beweeg maar stadig (in die flieks wat ek gesien het). Hy is seker ‘n blonde.