My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Strand toe vroeg op ‘n Sondagoggend

Strand toe, mits die weer dit toelaat, is waarheen ons ons skrede wend, vroeg op ‘n Sondagmôre. Rustige vrede. Tyd om kop skoon te maak.

Die weer is steeds baie gematig, hoewel daar ‘n knyp in die oggendlug is. Genoeg om ‘n ligte baadjie te regverdig. Ons het besluit om met die stofpaaie langs te loop tot in Southport en dan op die strand langs terug na Sea Park. Dis ongeveer 5 kilometer. Net genoeg om die bloedsomloop aan die gang te skop.

Bo-op die brug het ons eers stilgestaan om te kyk na die watervlak in die rivier. Dit het lanklaas hier gereën. Die laaste reën het geval in die tydperk toe my huis ‘n sterretjiesdak gehad en ek in my bed natgereën het. Die rivier is taamlik leeg en ‘n hoë sandduin het gevorm tussen die riviermonding en die see.

Die sand op die paaie is fyn poeier en ons het probeer kyk watter patroontjies ons plakkies maak in die sand. Soos skoolkinders met nuwe skoene. Ek dink ons plakkies is al ‘n bietjie oud en verweerd, want daar was geen noemenswaardige patrone nie 🤣

Oral in die bome het ons klein baba-apies opgemerk. Baie eienaardig vir hierdie tyd van die jaar, want die kleintjies is gewoonlik al gespeen en selfversorgend wanneer die winter aanbreek. Die walvisse het verlede week al opgedaag en vandag het ons ‘n groot skool dolfyne gesien. Hierdie groot visse (en die sardyne waarvoor ons nou wag), daag gewoonlik op wanneer die watertemperatuur al ‘n bietjie afgekoel het – wintertyd.

Ek het ‘n paar van die selfoonfotos wat Karen geneem het vir haar Facebookblad, gaan leen om te wys hoe pragtig die strand vandag was. Ek hoop ons kry nog sulke lekker dae. 


Photo credits: All photos in this blogpost are the property of Karen Nel (WeaverWorx) and were first published on the Facebook page Southport KZN South Coast.

Follow Dis Ekke

22 Comments

  1. Ai hoe lekker om langs die strand te loop – ek het dit jare laas gedoen.

  2. Een van die dae is julle weer terug in jul normale, ontspanne see-roetine. Fotos is baie mooi!

  3. Lyk lekker rustig

  4. 🙂

  5. Pragtige foto’s hoor! Dis baie lekker om so langs die strand te loop. 😀

    • Daar sien ek Karen se logo langs haar naam. Sjoe! Dis regtig pragtig hoor! Sy is baie kunstig! 😀

      • Dankie, sy is.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Sorrie, ek het van die verkeerde profiel af geantwoord (Karen is ‘n administrator op my blog) en nou lyk dit of sy vreeslik windgat is deur haarself kunstig en oulik te verklaar. Hierdie website gee my vandag grys hare.

        • Ek het nogal gedink dis nou te bakgat van Karen om so oulik te antwoord. My tipe humor 😊

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Haha. Tegnologie het ons rasend van gister af en ons val oormekaar om dit reg te kry – geen wonder ons identiteite raak al verstrengel nie. Ek moet sommer hieroor blog om te toets of al die fieterjasies op my webtuiste nou werk.

      • Ag hoe lekker en ons verlang juis so om te gaan kuier.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ons het op die oomblik die lekkerste weer wat ons hierdie hele somer gehad het. Die water is net ‘n bietjie koud na my smaak. Swem in ‘n verhitte swembad is al waaarvoor ek nou kans sien.

        • Dan kan jy hier in ons swembad kom ronddpring… te klein vir swem…en ons gaan see toe. 😋

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Nee wag jy, dis nou weer ‘n aweregse plan hierdie. Kom kuier maar net, ons hoef nie waters te ruil nie.

  6. Jack

    Mooi fotos

  7. Maat, ek kom nou eers by al my leesgoed uit. Die foto’s, soos altyd mooi. Oor die apies, moeder natuur is kwaai in haar maai en ons almal ook. Groetnis, ek is bly julle kan normaal.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Vuurvliegie. Ek is ook alte bly dat ons weer ‘n slag die natuur kan geniet in plaas daarvan om bont te staan met ‘n grasdak.

  8. Die foto’s spel vrede en rus. Daar is geen beter medisyne vir kop skoonmaak as die see nie.

  9. Pragtige fotos!
    Waardeer die golwe, sand, gety-poele en rotse. ♥

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Linda. Die weer begin ook nou draai hier en hoewel die dae nog lekker is, knyp die luggie vroegoggend en laatmiddag. Winter is beslis op pad.