My vreugdes en frustrasies

Dagboek, Dis Ekke

Liewe Dagboek: Dag 29 & 30 verloop taamlik normaal

Candy Crush Soda screenshot

Liewe Dagboek, “normaal” is nie eintlik ‘n woord wat ek ligtelik rondgooi nie, veral nie in hierdie huis by die rivier nie. Nie in hierdie familie nie. Maar tog – daar is dae wat die lewe ietwat kalmer verloop. Amper normaal.

Ek is bly om te kan rapporteer dat operasie huis-skoonmaak nogal goed vorder. Ons drie het gisteroggend vroeg ingespring om die garage uit te pak, skoon te maak en reg te pak. Die afgelope maand het die werkers hulle gereedskap en lere hier gebêre. Hulle het verskeie stukke gereedskap by die man geleen en weer neergesit waar hulle plek gevind het. Die man het ook met belangstelling buurman-by-die-hek se werkery aan ‘n ou motor dopgehou en gereedskap oorgedra na hom toe. Gister was dus die tyd om reg te pak, want ‘n ding het ‘n plek!

Ek het in die proses ook ‘n paar impromptu lesse gekry: hoe om ‘n elektriese koord en kragprop te vervang (my bedlampie werk nou weer) en watter soort vloeistowwe, olies en ander medisyne gebruik word om klein karretjies gesond te hou (my geweeklaag het dus inslag gevind). Alles is mooi netjies uitsorteer en in verskillende houers gepak. Terug na normaal.

Die bure-oorkant en skuins-oorkant het ons gewerskaf met groot belangstelling dopgehou. Ek is seker hulle wonder of ons besig is om te trek of dalk wonder hulle presies wáár daai klein swart karretjie is. Hier rond is ons baie nuuskierig oor mekaar se sake 😂 In ‘n kompleks soos hierdie, waar ons so nou saamleef, is dit seker normaal.

Buurman-onder-by-die-rivier het verbygestap met sy hondjie. Hy en Karen het ‘n gesprek aangeknoop oor ons wet and dry stofsuier en die uiteinde van die saak is dat hy vir haar ‘n tweedehandse matwasser, in baie goeie kondisie, persent gegee het. Daardie spesifieke soort kry jy nie meer in winkels nie en hy sê hulle gebruik nie meer daardie een nie. Bonus! Dis hoe die mense hier is en dis hoe ons met mekaar deel.

Daarna het Karen en die man tuin natgemaak. Ook die twee buurvrouens wat tans albei by hulle kinders kuier, se plante is versorg, katte en voëls is kos gegee.

Vandag het ek nie veel lus vir die lewe nie. Ek het nou eers weer ‘n periode van gebroke slaap betree. Dit gebeur en dis baie goed vir my Candy Crush loopbaan, want as jy nie kan slaap nie, moet jy speel. Of lees. Of musiek luister. Enigiets wat nie jou huisgenote steur nie. Net nie werk nie. Dit beteken natuurlik dat ek later geslaap het as gewoonlik, want ek moes opmaak vir die slaaptyd wat ek verloor het.

Karen was besig om te stoei met ‘n databasis van ‘n webtuiste wat in Drupal gebou is en ek het my stilletjies onttrek. Haar ystervarkiepenne staan orent. Die man het gaan koffie drink by ‘n ander buurvrou laer af in die straat. Ek het Lorenzo se resep vir Ossibuchi alla Toscana aangepak. Groot sukses en almal ly aan die groot tevredenheid wat net ‘n goeie maaltyd kan meebring. Ek ly ook aan ‘n Sooibrand alla Toscana. Dis die wyn. Of die tamaties. Of albei. Ek sal die resep moet aanpas. Of beter wyn moet koop.

Ons het ‘n draai by die strand geloop, maar die wind is koel. Nou is die laaste wasgoed (vir vandag) uitsorteer en die man wil na verdere episodes van Doc Martin kyk. Ek raak nou verveeld daarmee en gaan voorstel dat ons liewer Dirty Dancing kyk. Sug. Dream on.

Follow Dis Ekke

27 Comments

  1. Ons is bly alles gaan nou terug na normaal by julle en ek is seker jy kan nie wag vir Pandosie om terug te kom huis toe nie. 🙂

    Ma sê sy ken ook van die nie-slaap stories. Sy sit en speel dan haar hidden object games of gaan kyk maar haar series of movies. Ek en pa raak gelukkig gou aan die slaap. Lyk my dis ‘n vroueding. 😅

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, dis omdat die mans alle worries oor die lewe aan die vrouens oorlaat! Deel van my probleem is dat my kat, ook ‘n vrou, daarvan hou om in die nag te gesels. Sy loop op en af in die huis en maak my wakker om saam met haar te gaan toilet. Sy het ‘n sandbak in die badkamer, maar kan skynbaar nie alleen daardie halfdosyn treetjies loop nie 🙄

      • Ma sê sy stem saam met jou. Jou kat klink soos ek maar ek gaan gelukkig alleen badkamer toe. Ma het my grootgemaak met klein handdoekies waarop ek wiepsie en sy sit altyd een in die badkamer sodat ek nie in die aand van die trappe hoef af te loop nie, en ook omdat sy bang is ek val van die trappe af in die donker. Ek maak ma egter 5 uur in die oggende wakker want dan soek ek my beskuitjie. Partykeer is pa ook dan wakker, dan gee hy vir my. As ma dan wakker word, dan maak ek asof ek nog niks gekry het nie. Ek’s slim né? Jou kat klink net so slim soos ek. 😜

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, ons is goeie troetelmense met uitstekende slawedrywers, nè!

        • 😂🤣😂 Hoe lekker lag ons nou! Ma sê ja, net so. Pa sê altyd hy is maar bly ma is so lief vir diere.

  2. Goed om te hoor die skoonmaak vorder. Ook goed dat jul die garage gedoen het terwyl karretjie in die hospitaal is. Alles sal nou weer in n ander rigting beweeg, Dis lekker om in so n kompleks te bly. Almal gee om en stel belang in almal.

  3. Ek hoop die maand van Junie 2019 bring vir jou meer vis en tjips langs die see, matige winterdae om ver te gaan loop en sommer net tonekrul lekkerte en sielevrede. Mwah! Ek hoop die karretjie kom ook veilig terug huistoe. Groetnis van yskoue Waterval – 2grade vanmore vroeg. Brrrr!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      2 Grade? Liewe hemel maatjie, woon jy in Siberië. Haha. Ek onthou daardie gruwelik koue wintersdae in die Vaal Driehoek – teen sesuur die oggend, wanneer ons op pad was werk toe, het die kwik gaan draai by -8 tot -11. Hoe het ek dit oorleef? My rug het permanent gepyn omdat ek so dik aangetrek was dat ek soos ‘n laaistok beweeg het.

      • Ek het vandag nog wintertone danksy in die koue afstap skool toe op Kokstad, daar selfs stofies in die klasse gehad vir die wintersnerp. Toe ons jonger was het ons lywe beter met uiterstes afgereken as nou ! 😉

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het grootgeword in Namakwaland en moes in daardie ysige wind bushalte toe loop. Ons het almal koerantpapier onder in ons skoolskoene gedruk. Ek kon nie wag om in die middag by die huis te kom om voor die swart koolstoof by die kombuistafel te gaan aansit vir ‘n warm ete nie. Selfs hier, as die temperatuur benede 16 grade daal, pluk ek my twee blou gasbottels uit en steek my verwarmers aan. Koulik. Ek sien my seun daar in Johannesburg het ook so ‘n gasverwarmer aangeskaf.

        • Ek is gebless met ‘n kaggel, so hier van 14h00 begin ek vuurmaak en gou gou snoesig ons lekker.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Jy is gelukkig. Daar is deesdae min plekke waar jy nog toegelaat word om kaggelvuur te maak.

        • Dit is gewild hier by ons. My lekkerwinkel se voorraad wikkel.😉

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek is bly bly oor die ekonomiese vooruitsigete – mag dit lank koud bly daar in jou dorp 😁

        • Solank die mense mansions bou vir koelte in die somer, sal ons veilig wees. Die groot huise is yskaste in die winter. 🙊🏘

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dit is nogal makliker om hierdie klein grasdakhuisies warm te maak (mits my man die deure toemaak agter sy alie). Die hitte gaan op verby die plankvloere en word vasgekeer onder die gras. Selfs in die koudste deel van die winter slaap ons hierbo met oop vensters, anders kry ons warm.

      • Klink of dinge darem nou na normaal terugkeer. Dis net die Panda wat kort. Darem lekker as alles weer op hul plekke is.

  4. Dit klink na ‘n meer normale dag….en daardie ete het my nou honger. ‘n Mens mag nie ondankbaar wees nie maar my dogter maak vir ons ook kos. Die spaghetti word van pampoen gemaak (dis soos ek verstaan) Alles is gesondheidskos, en ek is so lus vir net ‘n lekker ryk pasta of ‘n bord boerekos. En ek is nie eers lief vir eet nie 😑
    Hoop ook Juniemaand verloop vir julle beter daar onder by die see!!! Vra sommer oor sooibrand. ‘n Vriend het my aangeraai om vier tot vyf piesangs ‘n dag te eet. Ons lewe nie in piesangwêreld nie…so nee ek doen dit nie. Vind wel as ek piesang voor slapenstyd eet ek nie sooibrand kry nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek koop ook nie juis piesangs nie. Dit bevat potassium, waarvan my man nie te veel mag inkry nie. Iets met sy hart te doen. Ek kry sooibrand van vetterige vleis en alkohol (nie noodwendig op dieselfde tyd ingeneem nie), asook van die meeste voorafbereide souse en gemengde speserye.

  5. Anonymous

    En so is die nare Mei verby en lê die lekker Junie voor!!