My vreugdes en frustrasies

Dagboek, Dis Ekke

Liewe Dagboek: Dag 22 voel ons bedreiging aan eie nerf

Breaking glass with a fist

Liewe Dagboek, ek het nog nooit ernstig daaraan gedink dat ‘n persoonlike bedreiging deur ‘n landsgenoot ‘n werklikheid sal word in my eie lewe nie. Ja, ons is almal versigtig en veiligheidsbewus. Ja, ons sluit ons deure, ons het veiligheidshekke en alarmstelsels, ons ry nie alleen of na donker rond nie, ons bly weg uit onlustegebiede, ons bly op die hoogte van nuusgebeure, ons laai nie duimryers op nie. Jy weet? Ons is doodgewone burgers wat ons eie gang gaan. Ons handhaaf vriendelike betrekkinge met almal rondom ons. Wanneer jy dan skielik by jou eie huis aan so ‘n bedreiging blootgestel word, kom dit nogal as ‘n skok.

Ons het nou vir drie weke saam met die werkers gearbei om hierdie vervlakste grasdak klaar gedek en die omgewing weer netjies aan die kant te kry. Ons het koffie uitgedeel, gereedskap voorsien, self ingespring met besem, graaf, hark wanneer dinge druk gegaan het. Ons het geweet daar is probleme met die betaling vir die projek, maar ons het van die begin af duidelik gemaak dat ons tussengangers is – huurders, nie eienaars nie – en dat die kontrak en betalingsooreenkoms niks met ons te doen het nie. Ons is net slagoffers, wil ek amper sê.

Ek het ook met die eienaar gepraat toe ek bewus geword het van wanbetaling wat ‘n oponthoud aan die werk veroorsaak. Die werkers was bewus hiervan.

Nou is die werk klaar en hulle het skynbaar nie die laaste betaling ontvang nie. Toe kom kla hulle by my en sê dat die eienaar hulle telefoonnommer geblokkeer het. Ek het hom ook probeer bel en raai-raai-riepa – ek kon ook nie deurkom nie. Dan, sê die hoofman so ewe, moet hulle maar ‘n deel van die dak gaan vernietig, want hoekom moet hulle werk as hulle nie betaal word nie? En toe strip ek my moer.

Dis mos nou mode in Suid-Afrika. Wanneer ons ontevrede is, brand ons af, en ons vernietig, en ons berokken skade aan onskuldige partye, en ons neem onskuldige lewens en – wag vir hierdie mode-frase – “we bring South Africa to a stillstand”. Nou toe nou. Ek het nuus vir jou. Suid-Afrika het lankal tot ‘n stilstand gekom. Suid-Afrika is ‘n lyk. Morsdood vrek opgedônner. Al wat nog moet gebeur, is dat Suid-Afrika omval en begin stink.

Ek het gedoen wat elke denkende diertjie doen tydens ‘n bedreiging – ek het my beroep op my trop se samewerking. ‘n Ander buurman het die eienaar gebel – hy’t belowe om die betaling onmiddellik te doen, maar sal hy? Gee hy hoegenaamd ‘n moer om oor sy huurders wat nou in die kruisvuur van sy oorlog staan? Ons veiligheidsmaatreëls is verskerp en almal rondom ons is paraat. Dis die nuwe leefwyse. En ek betaal niks – sorrie my ou borrie.

Ek wonder net: was dit ‘n poging om my sover te kry om die balans te betaal? ‘n manier om my te oortuig om druk toe te pas op die eienaar? net ‘n uiting van woede. En ek wonder wie is eintlik die vark in die verhaal?

My dak is nog steeds heel. Kom ons hoop dit bly so. Maar ek is diep teleleurgesteld. En onthuts.

Ek is nou so vies dat ek nie eens skoonmaakdienste aan boord wil bring nie – ek dink nog daaroor, maar NOG vreemde mense in my huis! – en het ingespring om self te begin skoonmaak. Op hierdie manier verloor nog ‘n besigheid inkomste. My spiere protesteer en ek vergeet knaend om my man kos te gee 😜 

Soooo, vandag het ons hamburgers gaan eet onder by die strand. Ciabatta met regte vleis patties en aartappelwiggies met heerlike speserye. Dieet? Waddehel is dit? Ek het darem ‘n pak vleis uitgehaal vir ‘n potjie bredie vir môre.


Image by Wendy Corniquet from Pixabay

Follow Dis Ekke

42 Comments

  1. Aijaaijaaaaaaai, dit is wild. Bly jy is veilig en vertrou dit bly so. Sê as die groenbus moet kom help…

  2. Ek is bly jy het nie ingegee nie. Hulle het probeer om hulle probleem jou probleem te maak. Your landlord has a lot to answer for! Ek hoop hulle is nou almal weg en dat hulle sal wegbly!

  3. Sjoe! Ma sê volgende keer moet jy net bel en ek en sy is daar! Ek sal hul en sommer die eienaar laat les opsê! Ek het reeds my tande weer vandag skerp gemaak. Die hele storie het mos niks met julle te doen. Dis tussen die eienaar en die mense wat daar gewerk het. Nee genade! Ek wonder of party mense se breine roes hier by die see? En nou moet julle sit met al die ongerief en bekommernisse. As hul weer kom dreig, bel die polisie en laat hul die eienaar bel en hom ook sommer regsien. Wees maar rustig of probeer maar sê ma. Sy ken van seer spiere. Skoonmaak is harde werk. xxx

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Rambo. Ek weet nie of die polisie hulle sal steur aan sulke dreigemente nie. Hulle is ook oorwerk en onderbetaal. Ek kan nie eens meer kwaad wees vir die eienaar nie – dis net ‘n vermorsing van tyd. Gelukkig nader ons die einde van ons kontrak met hom en ons gaan heelwaarskynlik voor einde Julie hier uit wees.

      • As mense skade wil doen aan ‘n huis wat julle huur, is dit saakbeskadiging sê ma en die polisie sal dan iets moet doen. Julle het niks te doen met die betaling nie en as mense so moet mors en ma moet skoonmaak, sal sy sommer gou laat geld aftrek vir dit ook. Sy sê altyd: Don’t get angry, get even!

        Dis gelukkig dan vir julle. So eienaar verdien julle nie. Julle moet maar hier in Margate kom bly. 😀

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          O Rambo, ek weet nie of ek in Margate wil bly nie. Julle het nog meer probleme met water en misdaad as ek die saak so beskou – dis beter hier in die kleiner dorpies en ons moet naby die Port Shepstone hospitaal wees.

        • Nee, ek weet nie van enige misdaad of water probleme. Ek het altyd water maar ma sê van al die plekke is daar Ramsgate wat baie probleme met water maar dis omtrent al. Hier by ons is dit gelukkig rustig en ma sê misdaad is maar orals, maak nie saak hoe groot of klein ‘n plek is. Dit is dan maar beter dat julle naby die hospitaal is. Die plekke is maar ver uitmekaar uit. 🙂

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Sê vir jou ma ek het darem nie bedoel om julle mooi dorp af te kraak nie. Dis net ‘n kwessie van hoe meer mense op ‘n bondel saamgetrek word, hoe meer misdade is daar wel omdat daar meer geleenthede is. Persentasiegewys is dit egter dieselfde as in die klein dorpies. Hier is dit nie so besig nie, minder vakansiegangers, minder verkeer, minder alles, in fact. Ek hou van die stilte. En ja, die waterprobleem tref maar oral, maar oor die algemeen het ons nie juis ‘n probleem hier nie – weer eens omdat hier minder druk is op die stelsel dink ek.

        • Ma sê dis regtig nie ‘n probleem nie. Hier is wel mense wat Margate slegmaak en dan is daar mense soos ons wat altyd die mooi probeer raaksien. Ons is ook maar versigtig en hou maar als gesluit en dit is waar dat daar meer geleenthede is, veral as die vakansiegangers kom kuier.

          Hier by ons is die vakansiegangers ook minder en ons is gelukkig nie mense wat rondry nie, so dit pla ons nie. Ons hou ook baie van ons stilte en dit klink lekker daar aan julle kant ook.

          Ma sê ons is maar dankbaar as daar nie probleme is nie en vat dinge maar soos dit kom en probeer die beste daarvan maak.

          Julle moet ‘n lekker dag hê en die naweek geniet hoor! 😉

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dankie, julle ook.

        • 👍😊

      • Eintlik moet julle nou daar bly, want die huis is nou reg en julle het die ongerief daarvan verduur.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Eintlik ja, maar ek wonder tog of die eienaar nie dalk die huis in die mark wil sit nie – hier is beter huise in hierdie selfde kompleks wat huurders soek.

  4. Hoop jou verontwaardiging het die hoofman aan die dink gesit! Dis so jammer dat goeie burgers so moet voel oor SA…

  5. Vies is ek nou! 😳😟

  6. Ai. Veilig wees

  7. Shucks this story stinks! Nou strip my m..r sommer saam met jou. Dat mense so gemeen kan wees met eerlike mense om hul nie te betaal nie. Die skoonmaak is ook n storie op sy eie en om n hamburger te eet is ook nie sleg nie. Innige simpatie vir julle aan daardie kant van die wereld.

  8. Dit gaan nog altyd my verstand te bowe dat daar mense is wat nie hul werkers betaal nie. Dis nou die een soort mens om wie ek draaie loop want ek sal glad nie eers met hulle gepraat kry nie. Hopenlik is die saak vanoggend opgelos, Hester, laat weet tog.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het nog geen spoor van die werkers weer gesien nie. Van weë die proteste en die feit dat die N2 weer so beskadig is dat hulle moet heelmaak, daag min mense op vir werk. Viva la stillstanding South Africa. Ek wonder hoeveel produksietyd gaan nou weer verlore. Politiek krap my gat deesdae.

  9. Jy weet, as ons almal begin afbrand en afbreek as ons ongelukkig is sal hier oor ‘n week niks meer oor wees nie. Ek kan daardie “mentaliteit” nie verdra nie. Dankie tog ons almal is nie so nie. Maak my woedend. Ons ALMAL word een of ander tyd op een of ander manier ingedoen, maar daar is “beskaafde” maniere om dit op te los, nie te brand en breek nie. Dit maak my hart koud vir mense se swaarkry.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit is so, dis net daardie klein aantal wat moet afbreek en vernietig. Maar dan kry hulle hulle sin en volgende keer het hulle meer volgelinge – hulle word mos nou beloon vir slegte gedrag. Kort voor lank syfer dit deur na die hele bevolking.

  10. Brand vandag die bus en more word daar gewag vir die bus wat gister gebrand is, SUG….

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek sug ook maar net. Maar daai somme kan hulle nie maak nie, want die staat sal mos regmaak en betaal – wonder of hulle weet waar die staat sy geld kry. En of hulle besef dat hulleself ook daaronder ly.

  11. woordnoot

    Ag nee. Hester!!! Daar is niks wat mens se vrede so versteur as sulke bedreigings nie….ek hoop dit word vinnig opgelos.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek ook, maar die eienaar praat liefs nie met my nie. Ek weet die werkers sou teruggekom het om aan die huis langs ons se dak ook te werk, maar ek glo hulle is klaar betaal – hulle is sub-kontrakteurs. Hulle kan nie by die wewrk kom nie agv die vervoerprobleem na die protesoptogte.

  12. Ai… ek voel vir julle daar onder in daai mooie land. Ja, net omval en begin stink… dis blykbaar al wat oor is! Sterkte… :/

  13. Dis absoluut skokkend, maar dis die mentaliteit! ‘n Vriend van ons moes nou die dag werkers afbetaal oor ‘n onwettige staking. Toe steek hulle drie groot konstruksiemasjiene van miljoene rande aan die brand..hulle moes weer aangestel word en het verhoogde salaris gekry! Ek is soooo gatvol vir die mentaliteit! Sterkte Hester.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis ongelooflik. Ons kort vir Margaret Thatcher hier – sy het daai klomp vakbondvabonde in die VK destyds bloedneus geklap om orde te skep.

      • Die Sjinese sal hulle ook op hul plek sit. Ek kry eintlik lag…oor ‘n paar jaar is Afrika vir die tweede keer gekolonialiseer…dis orals duidelik. My dogter wat nou al drie jaar in Sjina is, sê as hulle ‘n vakansiedag kry, word dit op ‘n Saterdag of Sondag ingewerk. Jy hou jou bek en jy vat die salaris wat jy kry.