Liewe Dagboek, vandag het relatief goed begin, want die dakwerkers het opgedaag met sakke sement en riviersand en skielik was die span ook heelwat groter. Die hoofman het spoedig op die dak geklim en begin om die nuwe nok in te pleister. Net daar het die dag relatief moer toe gegaan.
Toe ek weer sien, val nat sement bo by die oop dele van die dak in die huis, en dit wat nie in die huis val nie, rol teen die dak af. Ek het net op my tande gebyt en my rekenaartoerusting weggepak. Weer ‘n keer. Nog ‘n verlore dag.
My man was buite en ek het ‘n rukkie geluister hoe hy probeer om die skade te beperk. Ek het besluit om op te vang met Game of Thrones episode 8 (wat ek toe after all nie gisteraand gekyk het nie) en oh my word …
- die Dragon Mother het op haar vuurspuwende drakie rondgezirts en ‘n hele stad van vernietig – dit het gelyk soos dominoblokkies wat val. Sy wen toe sommer die hele oorlog op eie stoom.
- haar geliefde Jon Snow (wat eintlik die koning behoort te wees) het gedoen wat hy in elke episode van elke seisoen tot dusver gedoen het – om rond te hang soos ‘n nat vadoek met puppy dawg eyes.
- Tyrion die dwerg het daar rondgestaan en sy kop geskud.
- die twee broers, Mountain en Hound het na ‘n ongeïnspireerde tweegeveg altwee van ‘n toring afgemoer
- bla, bla, bla
Hoe op die liewe aarde het ‘n reeks wat vir sewe seisoene so briljant was, gegrond op boeke wat so briljant geskryf is, so afgewater geraak in die finale seisoen? Nie eens Dallas was so vervelig na 14 seisoene nie. Ek gaan voorstel dat die res van die karakters massaselfdood pleeg net nadat hulle die ystertroon in die see gegooi het. Want wie leef nog enniewhy om uiteindelik op die troon te sit? Moeilik om te bepaal.
Nietemin, dit was, relatief gesproke, die beste uur van my dag, want daarna het alles moer toe gegaan. Die sand en sement was te min om die werk klaar te maak. My man het soos ‘n draak vuurgespoeg oor die bure se hosepipe en emmers wat teen sy duidelike instruksies in, gebruik is, en nou vol sement was; die plaveisel wat vol sement is en nie behoorlik opgeruim is nie; geleende toerusting wat nie behoorlik gebêre is nie … bla, bla, bla.
Ek het die baas van die werkers aangevat omdat die werk so lank duur en toe kom die storie uit dat hulle nie betaal word soos ooreengekom nie. Hulle is bang om hulle eie geld te gebruik om benodigdhede te koop en weier om verder te werk as die geld nie arriveer nie. Ek het hom laat sit en ons het albei probeer om die wanbetaler te bel, maar alle oproepe gaan na voicemail toe.
So, ek het die werkers huis toe gestuur en gesê hulle moet my laat weet as hulle môre nie kom werk nie. Toe het ek ‘n e-pos afgestuur wat aan die brand gaan slaan wanneer dit in die ontvanger se inboks beland. Drakevuur is ‘n formidabele wapen. Hierdie sage duur nou voort vanaf 2 Mei tot op datum en is amper meer opwindend as Game of Thrones.
Dit was nou ‘n lekker kak dag. Relatief gesproke. Ons gaan probeer om die huis leefbaar te kry vir die nag. En dan gaan ek bad en slaap.
woordnoot
Ag nee Hester!!! Jou daksage klink baie meer opwindend en geloofwaardig as GOT!! Ten minste is hierdie ‘n regte egte mens wat vuur spoeg! EK is jammer, het regtig gehoop dat jy teen die tyd al ‘n behoorlike dak oor jou kop sal hê.
HesterLeyNel
Ek het so pas verneem dat die betaling deurgekom het en die werkers sal môre terug wees 🙄 Ek dink ek gaan maar begin uitkyk vir ‘n ander plek. Ek kan nie met hierdie man werk sonder om my bloeddruk op te jaag nie.
Una
Nee, ek kan maar net my kop skud.
HesterLeyNel
Ja ou Unatjie, ek moet ook leer om my kop te skud in plaas daarvan om my teenstander te byt. Paplepel. Ek moet ‘n groot paplepel kry en ‘n paar houe uitdeel.
Una
Ek soek ook so ń grootte vir sommiges in my lewe.
HesterLeyNel
Haha
pajamasmetsokkies
Eish, en daar duik Game of thrones ook in die vuur. Kan seker nie NOG slegter gaan nie. Hou duim vas vir more! 👍🏻
HesterLeyNel
Dankie, ek het al die duime nodig wat my aangebied word, want ek gaan iemand aanrand met ‘n paplepel.
scrapydo2.wordpress.com
Jy is behoorlik onttroon in jou eie huis! Genade maar dis n gesukkel. As daardie werkers net wil besef as hul so met die sement mors en dit nie skoon maak nie dit moeilik is om op einde skoon te kry
HesterLeyNel
Dis reg, maar as dit my eiendom was, sou ek nie so vies gewees het nie, maar waar kom hulle daaraan om sommer die huis langsaan se goed te gebruik? Tsk. Ek moet liewer nie daaraan dink nie.
scrapydo2.wordpress.com
Wys jou ook maar hoe maklik dit gedoen word. Die ergste is dat hul dit nie behoorlik skoonmaak en teruggee nie. My man het nooit toegelaat dat een sy kruiwa sommer leen nie en dit nog vir sementaanmaak-aikona!
HesterLeyNel
Ons doen dit ook nie as ‘n reël nie, maar ons is nou desperaat om hulle net uit die erf te kry.
Bondelsgedagtes
Sjoe sjoe ek sou ook my speelgoed rond gegooi het. Sterkte Hester, gelukkig kan jy dorpie toe verdwyn as dit te erg raak
HesterLeyNel
Dis waar
Kameel
Weet nie hoe ek jou draakstorie gemis het nie. En hier dog ek alles is nou mooi toe en netjies daar by jou omdat jy die kombuis ingeklim en skoongemaak het.
HesterLeyNel
Nee, ek het net die ykas en vrieskas skoongemaak en reggepak sodat ek kon weet waar die kos is. Sê jou mos, my dogter se filing system is onverstaanbaar. Ek haat dit om te staan en soek na alles.