Handewerk is nie noodwendig altyd harde werk nie, maar in hierdie geval is dit presies wat ek bedoel – harde handewerk. Nog voordat ons by die stembus kon kom om ons kruisies te trek vir nasionale Stemdag, was die dakwerkers reeds hier. Hulle gaan vanaand laat eers stem, wanneer ons dag reeds lankal verby is.
Die leier van die tweemanspan wat die gras dek, het vandag die ou nok verwyder. Hy het die hele dag kaalvoet bo-op die nok gesit en van vrooegmiddag af het hy die ou mengsel van riviersand en sement gesit en stukkend kap. Met ‘n tweepondhamer. Die werk het stadig verloop, want wanneer hy ‘n paar stukke losgekap het, het hy dit eers van die dak afgestoot met ons hark.
Die huise hier is baie naby mekaar. Aan die voorkant is die eenrigtingstraatjie waarmee al die motors van die motorhek af inry om dan links of regs af te draai na hulle huise toe. Aan weerskante is daar twee strate waarmee hulle in die teenoorgestelde rigting kan uitry. Tussen ons en die huis agter ons is daar plaveisel – ons deel ‘n patio.
Die werker wat op die grond die sementstukke moes optel, het rondgedans van die voorkant na die agterkant en kon nie byhou nie, want die sement het in alle rigtings gespat . Dis waar ek en Karen op die toneel gekom het. Ons het besef dat daar probleme kon ontstaan met die karre wat inry en die kinders wat buite op hulle fietse speel. Dus het ons begin sementstukke bymekaar vee en optel. Handewerk waaraan ons nie juis gewoond is nie. Gelukkig is ons naby die motorhek en kon die motors lei teen die eenrigtingstrate af, sodat hulle nie nodig gehad het om by die daklere verby te skuif en die gevaar te loop van beskadiging nie.
Buurman-by-die-hek het besef dat ons sukkel om die sement weg te vee met ons gewone ou werfbesem en het ‘n harde straatbesem gebring. Buurman-langsaan het die probleem van die tweepondhamertjie reg opgesom en ‘n veertienpondhamer uit sy garage gaan haal. Die groter hamer het korte mette gemaak van die oorblywende stuk nok en die werkers het vroeër klaargekry as wat hulle andersins sou. Ook maar goed, want ‘n lastige reëntjie het kort-kort uitgesak.
Dis harde werk om jou brood so te verdien. Dit het ek vandag eers ten volle besef toe ek gesien het hoe die persoon op die dak sukkel met ‘n ontoereikende instrument. En later in die moegheid van sy skouers wat begin hang het van die gewerskaf met die groot hamer. En die dankbaarheid vir die bekers koffie wat Karen aangedra het. Tog het hy dit ure lank volgehou, totdat diedag se mylpaal bereik is.
Die gemors wat van die dak af geval het, het ons sakdoekgrootte tuintjie aan die voorkant feitlik gestroop van plante. Die plaveisel agter lê nog vol klippe. Die boonste vloer van die huis is besaai met klein stukkies gras, sand en klippies, en ons moes eers skoonvee voordat ons kon gaan bad. Maar gelukkig was daar geen werklike skade nie en môre is ‘n nuwe dag met sy eie probleme.
Beoordeling van hierdie dag
Vandag is ek vol bewondering vir mense wat so hard werk, ook op vakansiedae, sonder enige klagtes, net dankbaarheid vir die brood wat hulle op die tafel kan plaas.
Net Ek
My seuns moes gister help om 2 bakkievragte vol plaveisel bakstene af te laai.
“Ma, ek weet nie hoe doen die mense dit wat hierdie werk elke dag, heeldag doen nie!”
Ek is net bly hulle kon besef dat hulle net weereens moet dankbaar wees vir wat hulle het.
HesterLeyNel
Ek hoor jou.
Anne
This re-thatching job sounds amateurish. Given all the mess and inconvenience involved your landlord should give you a month or two off your rent to sugar the pill.
HesterLeyNel
The workers are not amateurs. They are highly skilled, but they run a very small operation which is just in its startup phase, and they are doing their best with the equipment they have. They’ve been subcontracted by a firm who gives them no support. I agree with you about the landlord’s moral duty, but I will deal with him in a different way.
woordnoot
Ek hoop van harte jou dak is nou gefieks…jy sal maar weer moet teleport Rebusfontein toe. Daar maak ons immers reg vir ‘n moewiese party!
HesterLeyNel
Jip, ek sal daai ding moet doen.
Tannie Frannie
Stem saam met Anne oor die huur! Hoe wonderlik dat jy en Karen ingespring en met die opruim gehelp het en dat julle buurmanne die regte gereedskap voorsien het.
HesterLeyNel
Dis die lekkerte van so ‘n klein gemeenskappie wat so in mekaar se sakke leef – almal help uit wanneer nodig.
scrapydo2.wordpress.com
Dis regtig lekker dat almal n handjie bysit as hul kan. Daardie twee dekkers is beslis n goeie voorbeeld van wil werk. Jammer die maatskappy wat hul geker het is so sleg om hull nie te voorsien van basiese dinge nie. Toe hul die biblioteek in Potties vergroot het het die oorspronklike ou wat kontrak gekry het kleiner kontrakte aan sy bekendes gegee wat nie bekwaam was nie. Daar moes toe n ander kontrakteur gekry word om aan te gaan(wat ook maar gesukkel het om dinge te doen) Baie bly jul kan darem weer droog in die boonste deel wees.
HesterLeyNel
Nog nie droog nie, nee, dit sal eers Vrydag wees (vandag). Ek moes verlede nag weer inderhaas my bed skuif. Hierdie dorpie kry meer reën as die plekke verder op, dis hoekom ons plantegroei so welig is. Hierdie tyd van die jaar reën dit feitlik elke nag en die gras is wel klaar gelê, maar die dak moet nog ‘n “hoed” kry. Die nok bestaan uit ‘n kombinasie van riviersand en sement, vasgegemaak met ogiesdraad en dan plastiek of iets soortgelyk.
scrapydo2.wordpress.com
Aaa ek sien. Het vergeet van jou nok wat nog gedoen moet word.