Liewe Dagboek, vandag het ek vroegdag reeds besluit om te teleport na Rebusfontein, want hier in my gewone woonplek sou ek dit nooit oorleef het nie. As gister vol haakplekke was, was vandag ‘n hele haak-en-steek-bos. Ons het, soos goeie werkerbytjies, die kamers ontruim en ons rekenaar-toerusting rondgesleep na veilige(r) plekke waar ons kon werk, maar alles verniet. Die dakdekkers het net eenvoudig nie opgedaag nie. Geen vooraf reëling of waarskuwing nie, maar toe ons teen laatmiddag die baas in die hande gekry het, moes ons verneem dat hulle nooit werk aan ‘n grasdak die dag nadat dit gereën het nie. Call me stupid, maar ek weet nie van hierdie dinge nie. Sulke goed laat my bloed kook en ek moes ontsnap na waar daar stilte en rus is.
Ek het myself amper winduit geval in die voortuin van my huisie in Rebusfontein. Lorenzo het my net betyds gevang. Hierdie teleport-ding is eintlik gevaarlik wanneer jy dit te vinnig probeer doen. Lorenzo is my inwonende nutsman, tuinier, kok en hy pas my huisie op in my afwesigheid. In hierdie dorpie is hy ‘n groot aanwins, want hier woon net ‘n klomp vroumense en hy sien om na almal se huisies.
Rebusfontein is ons wegkomplekkie, waar ons in stilte (of groot lawaai wanneer ons daarvoor lus het) ons energievlakke kan herlaai en wonde kan lek. Daar is altyd vriendskap en ondersteuning te vind. Klop maar net aan die deure totdat jy ‘n buurvrou vind wat tuis is, of maak soos ek: gryp ‘n glas in die kombuis en loop straataf na die dorpsmeent toe. Daar by die waterput, onder die groot bome, is die bymekaarkomplek.
Op een van die sementbankies het ek vier katte gesien wat in die son lê en slaap. Ek was so moeg, geestelik en figuurlik, dat ek ook begin rondkyk het vir ‘n sonnige bank. Maar eers het ek die handpomp gebruik om vir my ‘n glasvol van die soetste suiwerste water in die land te pomp. Uit ‘n bak wat op die put se rand gestaan het, het ek ‘n lemmetjieskyfie en ‘n paar kruisementblare gegryp om in my water te gooi. Dis ‘n heerlike opkikker. Toe het ek begin soek na die eienaars van die katte. Ek het hulle een vir een opgesoek en ons het begin gesels oor dit en dat. Bietjie gekla, bietjie gelag, soms ‘n tisjoe gesoek vir ‘n traan.
Algehele ontspanning. Ek kon voel hoe die stres van my afgestroop word.
Ek gaan vanaand in my huisie hier in Rebusfontein slaap en wanneer ek môreoggend wakker word, gaan ek uitgerus wees, met nuwe moed en ywer vir die dag. As ek vroeg genoeg terug teleport na my ander huis toe, kan ek betyds daar wees voordat die dakdekkers daar aankom. Ons het immers nog onafgehandelde werk op hande.
Sou jy graag hierdie besondere groep vroue wil ontmoet? Wil jy graag deel word van die gemeenskap op Rebusfontein? Gaan maak dan ‘n draai op Vuurvliegie se blog en kyk hoe jy by ons kan aansluit of volg ons doen en late by hierdie skakel:
https://fresh.inlinkz.com/party/c79e46273dd84a68bceb38fb23d1f7c5
Image by congerdesign from Pixabay
travel460
Te lekker saam met jou gesit en klets daar op die bankie. Het jy nie jou kat saamgebring nie?
HesterLeyNel
Nee, sy is nie ‘n goeie reisiger nie en ongeskik met ander katte. Ek sal maar ‘n Towerinkat moet aanneem.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
🤗🌻
Kameel
Danksy jou Hester lê ek – darem gebad in my wintersjapon – hierdie tyd van die dag en lees deur die ou skrywes….wat jy so oulik was om vir ons op te sit. So ‘n wegbreek na Rebusfontein doen mens goed. Sal ook wanneer ek nie so ontspanne voel nie waterput toe loop en jou resep met die blare probeer. Seker Lorenzo wat daar ook die wiel aan die rol hou. Sterkte met die dak vorentoe!!!
HesterLeyNel
Dankie Kameel. Ja, ek dink die ergste deel van die dak is nou verby. Die nok is afgehaal, die hele erf lê vol sementklippe en die tuin is so te sê verwoes, maar ons het hoop dat alles verby gaan wees teen Maandag.
Bondelsgedagtes
Ai Hester, jy het nou vir my die antwoord gegee op .y verwondering. My wereld is op sy kop en ek het nie geweet herwaarts of derwaarts. En my kar is stukkend zo, hoe nou. Ek gaan ook daai e e probeer. Dankie!!!
HesterLeyNel
Ai Bondels, ek is jammer, dis so sleg vir jou gemoed (en jou beursie) as jou kar stukkend is. Ek hoop dis nie ‘n vreeslike groot fout nie. Ontsnap maar down the rabbit hole so vir ‘n paar uur.
Toortsie
Jy het beslis die regte ding gedoen.
HesterLeyNel
Ja, ek voel baie beter.
Tannie Frannie
Wie gaan jou vang by jou ander huis? Of is jy van plan om op ‘n dakwerker te val? 😀
HesterLeyNel
O ek het net ‘n bietjie minder entoesiasties ge-teleport en reg bo-op my (onklaar) daknok gaan land. Die gemors wat ek daar van bo-af beskou het … ek sal later my Dagboekfotos opplak sodat jy kan sien.
Tannie Frannie
O wee, jou arme vrou…Sal daar gaan kyk sodat ek behoorlik kan simpatiseer!
HesterLeyNel
Ja, ‘n bietjie simpatie sal help.
VirgoC
Floki gesê julle het lekker gesels en sê ek moet jou laat weet hy is altyd daar as jy wil gesels, hy weet blykbaar jou kieter travel nie lekker nie. Sterkte met die dak
HesterLeyNel
Ag dankie, sê vir Floki hy is ‘n goeie vriend.
scrapydo2.wordpress.com
Dis nie goed vir laiggaam en siel om so gefrustreerd te wees met werkers nie. Was dit nie gister 8e n afdag om te stem nie!? Bly jy kon bietjie bevryding van jou opgekropte gevoelens kry. Nou weet jy sommer dat als nog reg is daar by ons huise.Trompie was natuurlik nie baie in sy skik met die katte op die bankie in die sonnetjie nie. Die katte het hom net mooi gewys daars nie plek vir hom saam met hul nie. Hy het toe maar huistoe gekom en in my “luie seun”stoel gaan le.
HesterLeyNel
Arme ou Trompie. Katte kan maar lekker snobbisties wees. Hy moet hom nie te veel aan hulle steur nie. Ja, gister was stemdag (dis nou my gister – jy is my ‘n dag vooruit), maar die werkers het wel opgedaag. Gelukkig is ek afgetree en kan my eie rusdae kies.
scrapydo2.wordpress.com
Netso! n Dag of ure later gaan nie n verskil maak nie.
woordnoot
My kat kom ook Rebusfontein toe…sy is nog in kwarantyn want ek vervoer haar mos na ‘n heel ander wêreld toe. Maar ek hoop sy maak ook vinnig maatjies. Sy kan soms bitsig wees. Siamese dink mos hulle regeer die wêreld!
HesterLeyNel
Hulle is reg. Mense hou nie katte aan nie – katte hou troetelmense aan. Haha.