‘n Week wat begin met ‘n Blou Maandag, verloop gewoonlik glad nie goed nie en vandag se haakplekke gaan die hele week voortduur. Wag maar en kyk. Dit het teen vieruur vanoggend begin reën. En ons het twee gate in die dak, een in elke slaapkamer op die boonste vloer. Enough said.
Oefenprogram: Ons het besluit om maar ‘n kans te vat met die reën en ‘n vinnige draai op die strand te loop. Net voordat ons die grootpad bereik het, het ons die dakwerkers teëgekom en besluit om liewer om te draai en te gaan hoor waarheen die meubels vandag geskuif moet word. Maar ons het met ‘n ompad teruggestap, oor ‘n duisend heuwels – wel, dit het so gevoel – net sodat ons darem ‘n bietjie sweet kan opwerk.
Haakplekke: Ek moes vandag my hele slaapkamer ontruim, wat beteken dat ek alweer in die kombuis sit en werk. Ek hou nie van die onderste vloer nie, want dis eintlik my man se domein en hy laat alle deure en vensters oophang. Dis koud, selfs in die middel van die somer. Dis ook nie goed vir my dieet om so langs die yskas en die vrieskas te werk nie.
Dit het die hele dag aan en af gereën. Die dakwerkers het aangehou met werk en die gemors rondom die huis hoop op. Niks word weggery nie en die man met die bakkie het ons verlede week laas gesien. Ons huur die huis en die reëlings vir die werk aan die dak word deur die huisbaas gemaak, so ek het ook nie regtig ‘n idee wat aangaan nie.
Die foto is geneem buite ons garagemuur aan die voorkant van die kompleks. Dis net die vrot gras en plastiekbedekkings plus bourommel wat verwyder is om die dak oor te dek. Let op dat alles opgestapel lê voor die brandkrane. Aan die anderkant van die huis lê die hout van die kaste wat uitgehaal is en die nuwe graspolle wat nog gelê moet word. Binne lyk dit nie veel beter nie. Stof in elke hoekie. Ek smaak hierdie leefstyl stukkend *druipende sarkasme*.
Plesier: (?!) Ons het hierdie week se episode van Game of Thrones gekyk. Sonder om snaaks te wees, dit was tydmors. Die draaiboeke was swak geskryf en die tonele het heeltemal afbreuk gedoen aan die boeke en die vorige episodes in die reeks. My bek is dik vir hierdie Blou Maandag en ek gaan vroeg slaap.
My “to do” lys
Stilte.
Beoordeling van hierdie dag
Een groot frustrasie.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Ag toggie Hester. Gelukkig sak die son, wyk die wolke en kry ons elke oggend om weer te probeer. Mwah.
HesterLeyNel
Dankie Vuurvliegie. Ek weet ek moet my nie vererg vir sulke strooi nie, maar regtig, het mense geen trots in hulle werk meer nie? Ek háát ‘n vuil huis – dit voel asof die vuil aan my vasklou.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Ons kom uit ‘n tyd wat vergete is. Ek bid vir sonskyn sodat die proses sal verby snel. Wat reekse betref, dis aaklig wanneer geldmaak en stories wat opraak vir ons opgedis word. Kyk bietjie die nuwe moordspanning ding losweg op OJ Simpson baseer. Ek vergeet die naam, die aktrise wat in Mentalist was is in hoofrol. Ek geniet dit. Lekker kat en muis.
HesterLeyNel
Ek het dit gemerk as iets wat ek wil kyk, maar ek doen eintlik ook min moeite om by die TV uit te kom. Dalk moet ek dit aansit vir my man – hy sal dit geniet.
Tannie Frannie
Ai, dis misrabel as mens se huis deur werksmense oorval word. Hoop hulle maak gou klaar, sodat julle rustig kan regskik.
HesterLeyNel
Dankie Frannie, my bloed kook al oor al hierdie gemors.
scrapydo2.wordpress.com
Sal goed glo dat alles jou frustreer. Daar moet tog darem n plekkie wees waar dit netjies en skoon is. Dis waar van die opruim en ophoop van die werkers. Is mos nie hul probleem nie. Ek hoop dat hierdie week darem op n hoë noot gaan eindig enjy weer in jou slaapkamer kan kom.
HesterLeyNel
Die huis is meesal open plan, so op die oomblik is my man se kamer en badkamer die enigste werklike “skoon” plekke.
scrapydo2.wordpress.com
Ja en dan moet jy nou nog deel ook.
HesterLeyNel
Jy verstaan.
Hier "blok" Ek!
Kyk die minireeks: Chernobyl, absolute moet kyk en verseker nie fantasie nie. 🤫
HesterLeyNel
Ek sal uitkyk daarvoor Elanè
Hier "blok" Ek!
Showmax, dit was elke oomblik se kyk werd. Die Russe is in denial en glo nogsteeds dit was sabotasie en nie kortpaaie vat van hulle kant af nie, vd VSA en skiet die eerlike objektiewe reeks af en sê hul gaan hul eie weergawe maak en dit dan in die wêreld instuur. My kennis oor kernkrag het met die reeks vergroot, en ek dink nie in Afrika moet ons staatmaak op kernkrag kragsentrales nie. 5 episodes se reine waarheid.
HesterLeyNel
Oukei, ek het nie meer Showmax nie. Ons kyk Netflix en ek dink nie ek het al hierdie reeks daar teëgekom nie.