Liewe Dagboek, vandag is dit Sondag, wat veronderstel was om ‘n rusdag te wees, maar dinge werk nou nie altyd so uit nie.
Oefenprogram: Belangrikste dinge eerste. Dit was ‘n heerlike oggend, weersgewys. Die reën het gewyk, en dit was bewolk en windstil. Ons het afgestap na Sea Parkstrand toe en het daarvandaan deur die vlak waters van die riviermonding geploeg om na Southportstrand toe te loop. Dit was rustig genoeg – geen wind in die ore nie, geen son in die oë nie. Hierdie tyd van die jaar hang ons son mos so laag dat almal van ons die hele tyd met sulke skrefiesoë rondloop.
By Southport was heelwat mense op die strand. Die water was kalm en redelik skoon. Die getypoel het spieëlglad daar gelê en die water was nogal nie te koud nie. Net jammer ek het nie my swemklere saamgebring nie. Wel, ek het nog nooit voorgegee om geniaal te wees nie.
Ons het met die grondpaaie tussen die huise langs teruggeloop, want dis waar die grenadellaranke en die avokadopeerbome nou hulle vrugte begin vertoon. Die oes was maar effens skraal – nog te vroeg in die seisoen.
Werk / pligte: Ons gaan nie graag weg van die huis af terwyl hier gewerk word nie, dus het ons besluit om die rusdag aan te wend vir noodsaaklike inkopies. Ons kry ons medikasie by ‘n apteek in Shelly Beach, nogal ‘n entjie se ry van ons af. Ek het nie my volle voorskrif ontvang aan die einde van die maand nie, omdat die oorspronklike voorskrif wat ek spesiaal verlede maand gaan inhandig het, onverklaarbaar verlore geraak het. Dis net so onverklaarbaar weer gevind ook en ek moes die uitstaande pille gaan haal.
Terselfdertyd het ons ‘n nuwe voorskrif vir my man gaan ingee. Hy kry mediese sorg by die staatshospitaal in Port Shepstone, maar op die oomblik is daar ‘n groot tekort aan die medikasie wat hy benodig. Ons het ‘n voorskrif by die hospitaal gekry en koop nou self die pille aan. Die staatshospitale hier lewer uitstekende dienste en die hospitale / klinieke is skoon, netjies en goed toegerus. Ons verneem die tekort aan medikasie is ‘n landwye probleem. Onrusbarend, maar hierdie is nie ‘n nuwe probleem nie.
#LeesMetGees: Ek praat met die mense wat aan ons dak werk oor dit en dat en tot my verbasing is hulle Afrikaans goed magtig. Dit hoor jy nie baie hier rond nie. Ek gebruik Pressreader.com om op die hoogte bly van nuus en het so pas hier gelees dat Justus Tshungu die afgelope week oorlede is. Ek wonder of Afrikaanssprekendes hom nog onthou – ek dink veral aan sy TV-gesprekke met P G du Plessis – was dit daar doer in die 80s? Beide groot geeste. Albei taal-ghoeroes.
Ek het die idioom op die prentjie hierbo raakgelees op die Viva App wat ek by Google Playstore afgelaai het. Eintlik gebruik ek dit om te kyk of ek reg spel. Ek vind egter die app (toep as jy wil) baie vermaaklik en sit kort-kort foontjie in die hand en kyk wat daar aangaan. Sodra jy hom oopmaak, begin jy taalwenke sien en dis waar hierdie idiome uitspring om my te verras of te laat lag.
My “to do” lys
Ag sjarrap tog. Hierdie lys pla my meer as die DA voor verkiesingstyd.
Beoordeling van hierdie dag
Die baie gerondlopery op die strand en toe in die ellelange wandelgange van die winkelsentrum gaan my vanaand vroeg in die bed sit.
Net Ek
Ek voel oor my “wintersklere uitpak en somersklere wegpak” soos jy oor jou tuh-duh lysie (nie op jou gemik nie -die snotty aanspreekvorm is vir my eie pes van ‘n lysie bedoel) voel 😆
HesterLeyNel
Ek doen nie daai winter-somer ding nie. My somerklere bestaan meesal uit kortbroeke en t-shirts – jeans as ek ietwat meer ordentlik moet lyk. In die winter trek ek dieselfde aan, net met ‘n baadjie en skoene. Ai, die voordele daarvan om ‘n afgetredene te wees!
Net Ek
O jy moet eers nie praat nie hoor. Ek is SO naby daaraan om myself te laat aftree….
HesterLeyNel
Ja, as ek tog net nie my salaris so gemis het nie … andersins is dit ‘n wonderlike leefwyse.
Hier "blok" Ek!
Saligheid – ek onthou vir Justus maar net te goed, die suiwer Afrikaans waarmee hy gepraat het ~ ek moet sê ek het nogals graag geluister wanneer hy so mooi Afrikaans gepraat het. En die staatklinieke wat so uit medikasie hardloop is onrusbarend selfs hier midde in die hartklop vd ekonomie, GP. Ek hoop jou dak is dubbeld gedek soos jy gewens het en dat die skuiwery nou op ‘n einde is. Jou dag het die ene saligheid gelees… Rustigheid en kalmte van Gees xx
HesterLeyNel
Die dak word ordentlik gedek. My man het nounet hier gesê dis nie ‘n werk nie – dis eintlik ‘n kuns. Hierdie mense weet wat hulle doen. Maar dit gaan stadig en hulle kan nog so twee dae besig wees hier (en Stemdag is ‘n vakansiedag). Dan gaan ek skoonmaakdienste moet inkry. Ek dink nie dit gaan beter lyk hier binne voor volgende week nie. Dankie vir jou goeie wense.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Hester, jou dagboek inspireer my. Danksy Justus kan ek Dumela en so myself in my omtes help. Groot gees. RIV. Die grasdekkers is kunstenaars verseker. Gelukkig sal alles weer na normaal. Sterkte mater.
HesterLeyNel
Dankie Vuurvliegie
Bondelsgedagtes
haai siestog, ek onthou vir Justis, so swart as wat hy was, so ordentlike witmens was hy…. ek was mal oor hom
Hier "blok" Ek!
Ek het nou die Viva App afgelaai. Verseker my nemesis ek moet myself wegskeur. Veral dat ek nou agterkom hoe vrot my skryf taal is met die dat ej half baster Ingels en Afrikaans is dat ek nou nie een 100% onder die knieg het nie. Maar ek is absoluut versot op die app en blaai en blaai en blaai en sal myself moet beperk. 🥴🥴
HesterLeyNel
Dis absoluut verslawend Elanè. Ek gebruik ook hulle webblad en daardie woordeboekportaal is my gusteling leesstof. Ek was onaangenaam verras toe ek meteens besef het ek ken my taal nie so goed as wat ek gedink het nie.
Kameel
Is nou so vaak sukkel om my oë oop te hou. Het skoon vergeet wat ek wou skryf. Lekker slaap!!!
HesterLeyNel
Jy moet rustiger wees. Jy gaan nie gesond word as jy jouself aanhou ooreis nie.
scrapydo2.wordpress.com
Dit was darem n lekker rusdag al moes julle heelwat doen. Daardie dak dek is beslis n kuns op sy eie. Ons het n rondawel gehad wat my pa en n helper self gedek het. Eenkeer was daar n storm terwyl hul nog halfpad was en het alles afgewaai en hul moes van vooraf dek. Daardie tweede keer het hul dit darem klaargekry voordat dit weer gewaai het.
HesterLeyNel
Ek is nogal verstom om te sien hoe kunstig die gras ingeweef en vasgebind word.
scrapydo2.wordpress.com
Dis beslis vakmanskap wat nodig is om dit te kan dek.