Liewe Dagboek, vandag was my senuwees goed op hol, sommer vroegoggend al, toe ek opgelet het hoe die lig deur my kamer se dak skyn. Dis reg, déúr my dak. Die dakwerkers het Vrydag net die laaste bondel gras mooi netjies in posisie gelê, en huis toe gegaan. Ek gee nie juis om vir vars lug nie. My vensters staan dag en nag oop. Wawyd. Maar lug en lig wat deur my dak ingevoer word, is ‘n graspol van ‘n ander kleur. Ek weet ook nie hoekom ek juis verbaas is nie, want dinge wérk maar so hier by die Suidkus – as die uitvalklok lui, trek jy jou baadjie aan en gaan huis toe.
Die probleem was egter dat Saterdagoggend aangebreek het met die reuk van reën in die lug en druppels teen die oop vensters. Die weervoorspelling vir die naweek het niks gedoen om my beter te laat voel nie. Hoekom het ek gelag toe Karen kom rapporteer het dat sy dieselfde probleem in haar kamer waargeneem het? Sy lê en slaap reg onder haar luggat – my bed is darem tenminste teen die ander muur.

Oefenprogram: Dit was koud en nat. Ek en Karen het nie kans gesien om te gaan loop nie, maar dit was toe nou ook nie ‘n groot probleem nie, te dankie aan die dakwerkers. Ons het vroegoggend begin om (weer) ons besittings rond te dra. Ek is keelvol daarvoor om lessenaars met al die rekenaarparafernalia rond te skuif. Hier wil die wifi nie opvang nie. Daar is die sig te swak en ‘n lig moet geskuif word. Daar anderkant is ‘n koue trek tussen my blaaie. Op die onderste vloer is dit te koud en beknop. Maar die toerusting moet beskerm word, dus word die twee gewillige osse maar oorlaai.
Ons het maar gemaak asof al die afbuk, optel en swaar dra goeie oefening is. Ek sien egter geen verskil aan die tjoepie rondom my maag nie. En Maandag gaan hulle begin werk aan die nok, wat beteken dat ons nog ‘n rondte musical furniture moet speel. Hou senuwees, hou!
Die beloofde reën het toe nie gedurende die dag opgedaag nie (viva la weerburo!), maar daar is nog altyd die donker nag wat voorlê. Die res van die naweek ook. Ons het oral handdoeke neergelê en nou moet ons maar naels byt.
As troos het Karen vir ons ‘n heerlike pot groentesop gekook. Geurig en warm. Pa het nog onderlangs gebrom oor die stukkies wortel wat hy bespeur het, maar twee giftige kyke het hom vinnig sy lip laat zip.
Sosiaal: Die res van die middag het ons maar agter die rekenaars deurgebring. Sosiale verkeer in die kuberruim. Ek het ‘n slag tyd gehad om ‘n paar blogs te skryf en deel te neem aan die Towerinne se nuwe uitdaging.
Ek het ook besluit om aan Wolfie (Wolfshadowwhispers) se nuwe uitdaging #LeesMetGees deel te neem. Wolfie lees op die oomblik Stephen King se Duma Key, wat ek reeds twee keer geluister het (audioboek). Ek wag in spanning om te hoor wat hy daarvan dink. Die baie rekenaarwerk is ‘n stremming op die oë en ek verkies om audioboeke aan te skaf sodat ek rustig kan luister. Andersins gebruik ek my kindle sodat ek die leesfont kan vergroot.
Ekself luister op die oomblik nog steeds na die Game of Thrones audioboeke elke keer as ek ‘n tydjie te spaar het om Candy Crush te speel (ja, ek hoor hoe rol die oë). Ek is nou op boek 5 en geniet dit vreeslik, ten spyte daarvan dat ek ook die reeks op TV volg. Die reeks wyk so hier en daar af van die boeke en laasgenoemde is heelwat meer eksplisiet wat geweld en seks betref. Maar ek dra big girl pênties, so no problem.
Ek lees natuurlik deesdae met groot genot die nuwe Vrye Weekblad (daardie oë wat so rol!) asook die artikels geplaas op Ground Up. En dan – ek lees woordeboeke soos wat ander mense resepte lees en geniet alle artikels wat geplaas word oor die Afrikaanse taal, bv. op Maroela Media. Blogs. O ja, ek lees ‘n wye verskeidenheid blogs. Vir die doel van die uitdaging kan ek saamgesels oor al hierdie goete.
Saans in die bed lees ek op die oomblik ‘n tweede boek uit die No. 1 Ladies’ Detective Agency reeks van Alexander McCall Smith. Dis lekker ligte vermaak – stories wat in Botswana afspeel.
My “to do” lys
Sug. Ons gesels volgende week verder hieroor.
Beoordeling van hierdie dag
Yarwellnofine. ‘n Pilletjie vir die senuwees sal goed afgaan.
travel460
Ek gaan nou sommer ń middagslapie neem want jy was regtig net te besig. Onthou nou, jou dagboek is my leesgenot, so moenie so besig raak nie! Dis uitputtend, man.🤗
HesterLeyNel
Hahaha. So besig, en so niks kom ooit klaar nie. Ek begin sien hier ‘n patroon van ‘n ouvrou wat soos ‘n kat op ‘n warm sinkplaat rondspring en nooit ‘n muis gaan vang nie.
rondomtaliedraai
OOOOOOO ek hoop hulle maak die gate more toe want mens sal skade so kry.
HesterLeyNel
Hulle gaan môre die hele nok afhaal en oordoen. Ek hoop hulle kry dit klaar in een dag.
rondomtaliedraai
Dis dalk’n beter plan want anders lyk dit binne maande weer so
perdebytjie
Ai, dis ‘n gespook met daardie dak…sterkte Hester! Ek is darem bly jy kry tyd om aan Wolfie se uitdaging deel te neem. Ek doen dit ook…clandestine..wil nie verslag doen nie, sommerso by my sigselwers.
HesterLeyNel
Ag, jy ken my, waar die hart van vol is, loop die mond onmiddellik oor.
woordnoot
Sjoe…ek wens ek het tyd om so te lees!!! Sterkte met daai dak!
HesterLeyNel
Ek máák tyd, maar kry dit ook nie elke dag reg nie.
scrapydo2.wordpress.com
Jy is beslis n lees-a-holik(hoe mens dit ook al spel) Jy wikkel darem met die leesery. Die dakdekkers beter hul sokkies optrek en die ding nou reg doen.Hoop daar kan more rustiger geslaap word.
HesterLeyNel
Ek is bevrees dit gaan nog ‘n paar dae aanhou. Ek het hulle vanoggend uitgevra en hulle is nie heeltemal seker wanneer hulle gaan klaar wees nie. Die nok moet nog afgehaal, oorgedek en weer vasgeplak word.
shadowwhisper
Weet jy, ek het ook Vrye Weekblad begin lees te danke aan die feit dat ek weier om koerant te lees en TV Nuus te kyk want politiek neem jare uit my uit. Ek haat politiek. Ek haat ook geweld (behalwe in flieks en reekse). Maar ek moet nuus iewers inkry behalwe van Facebook af anders is ek een van daardie ‘clueless and oblivious heathens’ soos my een broer se Ingelse skoonma altyd gesê het.
Ek is verslaaf aan Game of Thrones se TV Reeks en het myself belowe om die boeke aan te pak wanneer die reeks klaar maak. Miskien my volgende #LeesMetGees uitdaging?
Dis so lekker dat jy ook saam #LeesMetGees, en ook dit op jou manier te doen. Lekker lees.
N.S. Ek gaan binnekort my eerste verlag indien op my uitdaging so ver. Ek kan solank noem dat ek so ver absoluut mal is oor die boek.
HesterLeyNel
Ek het gedink jy sal hou van die boek. Die karakter groei op ‘n mens en die donker ondertoon laat die heeltyd sulke klein rillinkies langs jou ruggraat afgaan.
Kameel
Hoekom voel ek nou so moeg? O ja ek het van Hester se gewoel en werfskaf gelees en ek raak mos een met die karakters. Sterkte vir julle daar by die see!!!
HesterLeyNel
Dankie, Kameel. Dit reën so effens hier vroeg op die Maandagoggend, maar die werk op die dak gaan voort. My huis raak al hoe meer deurmekaar en vol stof. Voel jy al ‘n bietjie beter?
Kameel
Vanoggend die stomer opgepak, voel darem ek kan nou self asemhaal. Heeltemal kragteloos maar gaan vir skoonseun en twee tienerseuns vanaand kook….Marlé stap vir vyf dae in die wildtuin rond. Sy is vrekbang vir die wilde diere….so ek sien uit na haar relaas wanneer sy Donderdag terugkom.
HesterLeyNel
Vat dit maar rustig. Los die skottelgoed vir die eters. Ek wil ook nie graag so van naderby met wilde diere kennis maak nie – daar is ‘n rede waarom hulle “wild” genoem word.
coetzee2014
Kan nie verstaan nie. O, eers sterkte, met die dak. Wat ek nie kan verstaan nie, is dat ek veronderstel is, om ‘n afgetredene te wees, maar daar is net nooit tyd om te lees nie. Ek sukkel om by die medebloggers se skrywes uit te kom. Nie eers tyd om self te blog nie, maar nou ja…. Julle is so besig en kry so baie dinge gedoen???
HesterLeyNel
Dankie Dankie, die dak is darem nou dig, hoewel daar nog afrondingswerk is wat gedoen moet word. Ja, ek is alewig besig, maar is dit dinge van “substance” – het dit iets om die lyf of jaag ek myself op hol oor goed wat liewer kon gebly het? Dit voel net nie vir my of ek my tyd konstruktief gebruik nie.