Liewe Dagboek, vandag was, volgens alle standaarde en norme, ’n annerlike dag. Dis wat die Noord-Kaapse mense dit sou noem. Annerlik is nie noodwendig sleg of noodwendig goed nie, dis net andersoortig.
Oefenprogram: Vanoggend met die wakkerwordslag het ek aan my bas gevoel dis ’n winterse dag met ’n skraal windjie wat vroegoggend al woelig was. Ons het besluit om weg te bly van die strand af en het windjekkers gegryp met die uitgaanslag. Loop moes ons loop, want gister se oefening was maar so effentjies – vandag het ons ’n goeie kardio-aktiwiteit nodig gehad.
Gewoonlik draai ons links by die motorhek om tone te klap strand toe, of dalk winkel toe. Vandag het ons regs gedraai en teen die bult begin uitstap. Ons woonkompleks lê onder in ’n laagte by die rivier en die res van die mensdom bly daar bo teen, of op, die bult.
Die pad om die perimeter van die dorpie is gedeeltelik grondpad. Baie stil en rustig onder die bome deur. Die eerste kilometer of so het ons onsself verwonder aan die skade wat die vloedwaters aangerig het. Die teerpad aan die onderkant is letterlik opgefrommel deur die krag van die water, en hoër op is daar groot slote op die ryvlak. Die water syfer steeds uit die grond.
Halfpad teen die bult op, om ’n draai, het ons op ’n groot trop ape afgekom – daar het tenminste vyftig van hulle in die pad rondgesit. Toe ons nader beweeg het, het die brandwagte sulke kort blafgeluide begin maak en die hele trop het in die bos verdwyn. Ons is maar lugtig vir hulle as hulle in sulke groot getalle saamtrek.
Teen hierdie tyd het my tong al op die grond begin sleep en my kardiotoerusting het dringend teen my ribbebene begin skop. Opdraandes is nie my sterk punt nie. Teen die afdraandes af terug huis toe moes ons briek aandraai om nie teen die bult af te rol nie en my kuitspiere is ietwat geïrriteerd met my vanaand.
Werk / pligte: Ek het probeer en darem een webblad geproeflees voordat ek totaal my humeur verloor het. Chrome is soos ’n steeks donkie en Microsoft Office trek stadiger as ’n ossewa. Dis al lankal ’n probleem, maar vandag was die dag wat ek besluit het om te migreer na Firefox en Google Docs toe. So halfpad deur my migrasieproses het die internet gevrek. Ek het alles net gelos en die oorblyfsels van gister se kerrie uit die yskas gehaal om verder te werk aan my sooibrand.
Na ete was die internet weer terug en ek het net my sit gekry, toe hoor ek hamerslae bo my kop en stof begin neersif oor my lessenaar (wat nou in my slaapkamer staan). Die dakwerkers het besluit om oor te skuif na hierdie punt van die huis toe. Ek moes inderhaas kombuis toe trek en daar gaan sit en werk. Nog nie behoorlik gesit nie, toe roep my man dat die stof op die bure se wasgoed reën. Hulle slaap elke middag na ete vir ’n uurtjie of twee en ons wou hulle nie pla nie – het maar die wasgoed gaan afhaal en ingebring.
Teen drie-uur het die dakwerkers opgepak en ek kon weer by my lessenaar kom, maar alles, insluitende my bed en die los goed wat ons oorgebring het van Karen se kamer af toe hulle daar gewerk het, was toe onder stof. Ek moes my weg oop stofsuig. Hulle kom weer Maandag terug. Ek sal moet begin rondbel vir skoonmaakdienste.
In die nuus: ’n Vrou is helderoordag ontvoer hier in ons omgewing en is gelukkig ná 10 ure veilig teruggevind. Ons het heeldag die nuusgroepies dopgehou en is baie verlig oor die gunstige afloop. Ons is altyd op ons hoede wanneer ons gaan stap of selfs net winkel toe ry, maar sulke gebeure maak ons net weer bewus van die gevare wat oral lê en loer.
My “to do” lys
- Gee aandag aan skryfkursus (meer besonderhede later)
- Gee aandag aan Zulu-kursus (meer besonderhede later)
- Begin met daardie skryfprojek (meer besonderhede later)
- Skryf daardie storie oor die Platjan-kroeg klaar
- Ja. Sug.
Beoordeling van hierdie dag
’n Annerlike dag, ja. Dankie, tog dis naweek.
woordnoot
Jou dae is so interessant en vol!!
HesterLeyNel
Dankie Woordnoot. Ek is bly ek het hierdie reeks aangepag – eerstens laat dit my besef dat ek darem nie ledig my tyd omsit nie en andersyds dwing dit my om elke dag te skryf.
woordnoot
Dis wat mens nodig het…mens moet elke dag skryf anders verwaarloos jy daai talent… en jy skryf so goed…So hou maar aan uitdagings uitgooi. So is jy die bloggers se offisiële cheerleader!
HesterLeyNel
Haha. Nou sien ek myself ronddans met pom poms! Wat ‘n gesig.
Bondelsgedagtes
Sjoe die gewerskaf aan die dak is n groot storoe, sterkte daarmee
HesterLeyNel
Ja, dit raak nou harig. Dankie Bondels.
travel460
Ek stap nou elke dag saam met julle daar in die omgewing rond, te heerlik. My oefening vir die week.☺
HesterLeyNel
Hau! Haha. Daar is mos lekker wandelpaaie daar by die dam – begin ‘n stapgroep. Daar is niks so goed vir die gemoed soos ‘n wandeling in die natuur nie.
scrapydo2.wordpress.com
Ja-nee, jy het ook nie veel tyd vir rustig gaan sit en skryf nie. Die arme pad lyk darem maar erg verspoel. Word dit nog gebruik deur motoriste? Ek beny jou nogal om so lekker te loop daar by die see/rivier. Kan jou ook nogal sien met pom-poms en daardie spring cheering.
HesterLeyNel
Oe, die pom-poms is nog oukei, maar ek weet nie van die springery nie. Daar is darem ‘n ander (om)pad wat die mense kan gebruik, maar daar is gelukkig nie veel verkeer nie. Ek wonder net wanneer gaan die gemors opgeruim word. Dit vat soms lank.
scrapydo2.wordpress.com
Ja en nou is dit net eers verkiesing ook.
Kameel
Hoop Scrapy gaan ook so ‘n goeie buurvrou wees en my wasgoed vir my afhaal terwyl ek slaap. Jy is ‘n bedrywige vrou Hester!!!
HesterLeyNel
Dis hoe ek van my lewe hou, maar dis ook hoekom ek nie by die skrywery uitkom wat ek so graag wil aanpak nie. Ja, ons hou maar mooi met die bure. Hulle is darem baie oulike mense – so 10 – 12 ouer as ons.
Kameel
Ek het gister gedink ‘n skrywer leef seker die hele tyd in ‘n ander wêreld. Vandat Vuurvliegie die Rebusfontein uitdaging geplaas het wou my kop nie tot rus kom nie. Ek het te pap gevoel vir skryf maar moes net gister dit doen sodat ek na die hede toe kan terugkeer.
HesterLeyNel
Jy behoort te skryf – boeke. Jy het hope talent.
Kameel
Sjoe groot kompliment van iemand wat so goed skryf. Ek wou bitter graag toe ek jonger was skryf. ‘n Paar Christelike verhale vir die Baptiste Unie se Goeie Tyding geskryf. Was besig om ‘n verhaal te tik toe Chanté – toe drie – die kantoordeur oopstoot om iets te sê. Op daardie oomblik was ek smoorkwaad oor die onderbreking. Die kind so gesit en bekyk en besef ek sal moet kies tussen skryf of ‘n ma vir my kinders wees. Die laaste opsie gekies.
HesterLeyNel
O daardie soort keuses het ons almal op die een of ander stadium gedoen. Maar dis nooit te laat nie, hoor?