My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, Dagboek

Liewe Dagboek: Dag 3 begin met Koos Doep

Umtentweni Beach at the river mouth

Liewe Dagboek, ek was wakker so van eenuur se kant af (middel-van-die-nag-eenuur) vir ongeveer drie ure en ek het na Koos Doep geluister toe ek moes geslaap het. Ag, maar Koos Doep mag maar elke nag vir my sing en ek het darem ingehaal op my slaap so van vieruur af tot na sewe.

Oefenprogram: Ons het ná wik en weeg besluit om na Umtentwenistrand toe te ry en ’n entjie daar te gaan loop, want my energievlakke is verstaanbaar laag. Onderbroke slaap werk nie vir my nie. Karen was Saterdag deel van ’n span wat mensgemaakte rommel by dié strand gaan opruim het (ek het stokkiesgedraai en my kar laat was). Ons wou gaan kyk of daar al plan gemaak is met die riete, stokke, boomstompe en ander plantmateriaal wat deur die riviere in vloed uitgespoel is.

Toe nié. Ons weet nie of die munisipaliteit die plantmateriaal dalk wil laat droog word en dan aan die brand steek en of hulle doodeenvoudig wag vir die hooggety om dit weer weg te voer nie. Ons hoop om binnekort te hoor. Ons het tot by die rivier gestap en ’n paar lawwe foto’s geneem. Dis ’n baie mooi strand en een van die heerlikste plekke in hierdie kol om in die see te swem. Ons het nog nie weer geswem na die reënvloed nie, want die water is nog troebel en vol sand. Haaiwater.

Die strandlandskap verander al hoe meer, hoe vinniger die winter nader kom. Dis iets wat ons elke jaar oplet – die voorkoms van die strande verander met die seisoene. Die water is nou baie verder teruggetrek en ons sien heelwat meer rotse uitsteek. Sommige sandduine word hoër, ander raak meer afgeplat.

Werk / pligte: Nie veel gedoen nie, nè Hester? ’n Bord kerrie verorber (ek het hierdie sooibrand verdien), skottelgoed gewas en ’n paar blogs gelees. Dis net hier waar ek afgedwaal het en dis deels die Towerinne se skuld.

Bondeltjies het vertel van haar stryd met ’n wit bad en ek het besluit om te gaan stort, hare te was, beenhare te skeer, ens. Ek en Karen deel ’n bad-met-stort op die boonste vloer. Die bad is nou elke dag vol stof, gekko-kakkies en andersoortige goetertjies (hulle is besig om ons dak oor te dek onthou? – en al hierdie goetertjies val op die vloere en in die bad!). Ek moes eers die bad en die wasbak uitskrop. Uiteindelik was die bad bevredigend skoon en toe gaan stort ek op die onderste vloer. Ek kon dit nie oor my hart kry om die bad weer vuil te maak nie. Twee ure later was ek terug voor my rekenaar – skoon, drooggeblaas, beroom, naels geknip en gepolitoer. Hoe doen mans dit so vinnig? My man kan in ’n halfuur se tyd sy shit, shave en shampoo (sy woorde, nie myne nie) afhandel. Maar dan, hy skrop nie die bad nie, nè?

Toe sien ek Vuurvliegie se nuwe Woordsnoere uitdaging. En ek ry rond met behulp van Google Maps om te kyk presies waar Rebusfontein is. En ek kuier rond op Viva se toep om die onbekende woorde op te soek. En ek verdwaal in my taal. Mense, julle het geen idee hoe ek verlore kan raak tussen daardie woordeboeke nie. Dis magies.

Tussenin kom maak die bure almal ’n draai om te kom kyk hoe die dakwerk vorder. Dis fassinerend om die werk dop te hou. Een werker sit bo-op die dak en lê die bondels gras. Nog ’n werker staan in die huis. Dan ryg hulle ’n dun tou met ’n reusenaald deur die grasbondels voordat dit stewig vasgeknoop word aan die onderkant. Dit lyk asof hulle ’n tapisserie weef. O ja, ek het seker vergeet om te noem dat ek ’n groot deel van die dag rondgestaan en hulle werkery dopgehou het. Tenminste het ek iets geleer.

En vanaand gaan ek vroeg slaap. Witruismusiek vannag, geen Koos Doep nie.

My “to do” lys

  • Gee aandag aan skryfkursus (meer besonderhede later)
  • Gee aandag aan Zulu-kursus (meer besonderhede later)
  • Begin met daardie skryfprojek (meer besonderhede later)
  • Skryf daardie storie oor die Platjan-kroeg klaar
  • Ja, ja – ek weet.

Beoordeling van hierdie dag

Geen bydrae tot die politieke stryd of die ekonomie nie, maar ek het dit geniet.

Die foto bo-aan die blog is vanoggend geneem op Umtentwenistrand van die rivier se kant af. Die drie fotos hier onder is Saterdag geneem terwyl die span vrywilligers besig was om die plastiese en ander sintetiese rommel op te tel.

Follow Dis Ekke

25 Comments

  1. Daai stomp, daai stomp het ‘n storie – hy het iewers skadu gemaak, en nou daar lê hy. Sjoe, ek is hartseer en klein as ek sulke tonele sien. Moeder Natuur se wille buie, sy wys duidelik as sy omgekrap was.

    Op ‘n ligter noot: Het jy Rebusfontein gekry? Dis in ons harte, liewe Hester, en in ons verbeelwêreld. Google Maps werk nie daar nie. 😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nou hoekom sit jy hier in my spamboks rond? Nee, ek het Rebusfontein nie gekry nie en het so ‘n bietjie daaroor gewonder. Die enigste Rebus wat ek ken is ‘n boekie wat uitgegee word vir prokureurs en ander regsgeleerdes. Dis natuurlik ook ‘n meervoud-verbuiging van die Latynse “res” wat “ding” beteken. Toe gaan googleloer ek en sien dis ook ‘n legkaart waarin woorde verteenwoordig word deur kombinasies van prente en individuele letters of ‘n ornamentele toestel wat verband hou met ‘n persoon aan wie se naam dit koppel. En daar haak my brein toe vas. So, hoekom Rebusfontein?

  2. Die strand lyk mooi skoon op daardie boonste foto. Is dit nie maar natuurlik dat die opdrifsels wel later ingetrek word seetoe nie? Ek praat nie vd plastiek nie…dis iets viesliks!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Daar is geweldige groot boomstompe (ek sal later fotos plaas daaroor) en ‘n enorme hoeveelheid opdrifsels, meesal suikerriet) wat hoër op buite die waterlyn lê. Op baie van die strande sleep hulle die boomstompe heeltemal terug, sodat dit nie ‘n gevaar vir baaiers en bote word nie. Die opdrifsels kan gelaat word om weg te spoel, maar dan dan duik dit net later weer op by ‘n ander strand. Dit word gewoonlik op ‘n hoop gestoot en aan die brand gesteek. Dis moeilik om daaroor te loop en die munisipaliteite wil graag die strande skoon hê voor die volgende vakansieseisoen.

      • Sjoe dis ‘n hele gewerskaf. Ek is seker daar is mense wat die hout ook kan gebruik om vuur te maak. Is daar baie mense wat rondloop en optel?

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, daar is nogal. Mense versamel dryfhout vir rangskikkings en kunswerke. Van die vakansiegangers het “hutte” begin bou op die strand. Ek glo egter nie dit word weggedra om vuur te maak nie, want suikerriet het ‘n onaangename soet reuk wanneer dit brand – soos aangebrande suiker – en dit maak nie kole nie. Dan is daar ook nog die probleem van luise wat saamgaan huis toe.

        • Oeps..luise! Mens dink nie aan al hierdie goed nie.

  3. Hierdie blog is ń goeie afsluiting van my heerlike kuierdag. Weereens wil ek sê, Hester, hierdie was ń goeie besluit van jou.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Una. Dis bevrydend, dink ek. Ek sal graag wil terugkyk na ‘n maand en ‘n mening kan vorm oor wat ek hier geskryf het.

  4. Toe ek sien jy is al by dag vier dog ek eers jy kroek lekker. Toe lees ek Koos Dup was die oorsaak. Eks ook mal oor hom. Ek het n klomp Afrikaanse CDs gekoop en saamgebring. 9 jaar later het mens hul nie meer nodig nie met al die “gestromery” van al die musiek. Ons het ook gereeld by Umtintweni strand vakansie gehou; toentertyd. Jy het darem n produktiewe dag begin.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek “stroom” ook deesdae al my musiek. Ek hoor nou liedjies en musiek waarvan ek nooit voorheen bewus was nie. Umtentweni is nog steeds een van die gewildste strande hier rond en word baie goed onderhou (die geboue en fasiliteite).

      • Goed om te hoor van die strand wat nog die moeite werd is. Ek was vroeer jare baie ingestel op musiek. Nou luister ek maar meer net radio wat meer moderne goed speel.

  5. Eers gou gaan ondersoek instel! Geen wonder ek was deurmekaar nie maar jy het dag drie geskiep!

  6. “shit, shave en shampoo” hiehiehie Oulik gestel.

    Party dae red Koos Doep my lewe. Ek luister altyd sy musiek as ek moeg is en dit gee my krag.

  7. Sjoe dit is ‘n groot klomp rommel. Ek haal my hoed af vir mense wat bereid is om vrywilliglik te gaan skoonmaak. Dit is mense met mooi harte. Sulke mense soek ek as vriende.

    En jy het ook ‘n mooi hart. Al het jy stokkies gedraai. 😜❤️

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek draai darem net soms stokkies, haha. Ja, sowat 10% van die bevolking is baie trots op hulle strande en doen al die werk. Die ander 90% gee nie ‘n flenter om nie.

      • Dit is so waar. Jy mag ook nou en dan stokkies draai 🤗