My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, Dagboek

Liewe Dagboek: Dag 2 begin met die Musiek van Stilte

Bright orange mushrooms growing on a tree trunk

1 Mei 2019. Tweede agtereenvolgende nag wat ek deurgeslaap het. Ek het ‘n uur voor sonop wakker geword met lieflike stilte – geen hadedas – net die klank van
Debussy se Suite Bergamasque: Clair de lune (maanlig!) in my oorfone. Een van die min stukke klassieke musiek wat ek so uit die vuis uit herken. Ek het op die selfoonskermpie geloer en gesien dit is ‘n klavieruitvoering “Musiques du silence” deur die pianis Guillaume Coppola. Hoe paslik. Musiek van die Stilte is net wat ek nodig gehad het om te slaap.

Ek is ‘n baie slegte slaper, maar het geleer om musiek te gebruik as witruis (white noise) in die nag. Skynbaar is ek nie die enigste wat hierdie soort stilte opsoek nie, want daar is nog mense wat op hierdie musiekprogram playlists (Afrikaans?) saamstel om aan hulle die verlangde stilte en rus te gee waarna almal smag. Ek moet genoeg slaap kry, anders is ek sommer goor met myself en die res van die wêreld wanneer ek wakker word. Vanoggend het ek vars en uitgerus gevoel.

Ek en Ponsie het nog ‘n uurtjie in die bed gekuier – sy steur haar nie aan die musiek nie, maar draai haar kop konstant teen 360° (Exorcist-styl) per minuut sodat ek haar koppie behoorlik kan krap.

Net voor halfsewe was ek op om die vuilgoedsakke gereed te kry en seker te maak dat al my vuil klere in die was is. Kan julle glo, my swart skinny jeans was oortrek van wit mufkolletjies! Die vreugde van “by die see” woon. Ons moet voortdurend ons leerskoene, -handsakke en -gordels behandel teen hierdie witroes. Karen het die wasmasjien beman en my jeans het darem skoongekom.

Oefenprogram: Ons het vroegoggend see toe gestap. Rivier se kant toe. Daar lê nog ‘n klomp gemors rond wat saam met die rivierwater afgespoel het. Ons moet môre ‘n vuilgoedsak saamdra sodat ons die zwerfies kan optel. Plastiekgemors en ander soorte rommel is nie net onaansienlik op die strand nie, dit hou ook gevaar in vir die seelewe.

En dankie tog, met die terugkomslag het ons ‘n roering op ons dak se gesien. Die manne het opgedaag om die dak oor te dek op die plek waar die reënwater ingelek het. Daar was geen verdere stilte vir die dag nie. Hulle het ‘n kas in Karen se slaapkamer uitgekap om by die lekplekke in die dak uit te kom en die hele dag lank met lere op en af geklim. Dis nog nie klaar nie en die hele werf lê vol dekgras, maar tenminste is dinge aan die roer.

Werk / pligte: Ek het rekenings betaal en gesug oor die stand van my bankrekening. Niks nuuts daaraan nie. Dankie tog vir aanlynbankdienste – die dae toe ek nog met kontant of tjek in die hand rondgery het om my salaris uit te deel, is lank reeds iets van die verlede. Maar ek mis nog die salaris.

Die onderste toilet se waterbak het begin lek. Ek het hardop gedink dis dalk my man wat gelek het en toe is ek summier op die vingers getik. Boonop moes ek luister na ‘n lang lesing oor ‘n toilet se binnewerke (waarvan ek niks verstaan het nie) en as verdere straf moes ek ry om die nodige binnegoed by die ysterwarewinkel te gaan koop. Die toilet werk nou weer soos dit moet.

Strykgoed. Sug. Dit het my ‘n paar ure besig gehou. Ek gaan my man verbied om katoenhemde te dra. Ek het hierdie somer vir hom ‘n paar help-my-sterk-lyk-hempies gekoop (daai wat nie moue het nie en net ‘n bietjie lap), vir was en dra. Maar nou seg hy dit raak ‘n bietjie koel daarvoor. Dalk moet ek vir hom ‘n poncho koop. Die strykery het my darem kans gegee om na ‘n audioboek te luister. Multitasking.

My “to do” lys

  • Stryk! Dêmmit. Yes!
  • Gee aandag aan skryfkursus (meer besonderhede later)
  • Gee aandag aan Zulu-kursus (meer besonderhede later)
  • Begin met daardie skryfprojek (meer besonderhede later)
  • Skryf daardie storie oor die Platjan-kroeg klaar

Beoordeling van hierdie dag

Nie te sleg nie. Eintlik heel orraait.

Die (selfoon)fotos is geneem op pad strand toe. Die sampioene groei op ‘n dooie boomstomp langs die pad. Die blommetjies groei teen ‘n heiningmuur. Mooi, nè?
Oranje is my gunstelingkleur.

Follow Dis Ekke

22 Comments

  1. Wat een prachtige foto’s!

    Ook ik slaap steeds slechter.
    Misschien moet ik ook maar gebruik maken van jouw slaapliedjes.

    Vriendelijke groet,

  2. Lol, sal jou man nogal in ‘n poncho wil sien. Kan dit ASSEBLIEF een wees met tossels 😆

    Ek sal gek raak as ek met oorfone moet slap, ek moet hoor wat om my aangaan. So gevolglik is ek ook ‘n sleg slaper. Oor die strykwerk – ek ken jou pyn. Ons het so mini burger oorlog IN ons woonbuurt, dis iets vreeslik. So my bediende kan nie by die werk kom nie en ek moes gister al die was en strykwerk opvang. Maak my moerig om die minste te sê. (nie vir haar nie, maar die klomp barbare wat ons so gevangenis hou hier).

    Laastens – ek LOVE hadehas, ek prober soveel moontlik in my tuin kry! En ALMAL se naam is George of Hugo. My katte is bietjie bang vir hulle 😆

    En nou het ek ‘n hele boek hier kom krap, skies Hester. Maar ek lees lekker by jou en Scrapydo se dagboeke!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het jou in my spambox gevind! Hierdie week gooi WP weer alles in spam. My man kry ‘n oorval as ek vir hom ‘n poncho wil laat aantrek. Konserwatief se moses. Ons hadedas (die oorspronklike ouerpaar) se name is Saartjie en Sarel, hahaha. Ons gee nie om as hulle in die kompleks rond wei nie, maar ai, daai gesnater as mens wil slaap. Dankie dat jy kom lees – ek het nie gedink dat my daaglikse lewe enigsins vie ander mense interessant sal wees nie. Ek geniet nogal die kommentaar daarop.

  3. Ag nee, ek het ‘n HELE boek vir jou geskryf, en poof! Gone.

  4. Dis nou baie lekker om te lees van jou dag se gebeure. Jy het eintlik ‘n baie vol lewe.Pragtige foto’s.

  5. Klaar begin ek uitsien om oor jou dag te lees! Saam met jou bly dat die strykwerk agter die rug is.

  6. Ek het spesiaal kom kyk of jou dagboek op is. Besig inderdaad, janee ons deel sentimente oor stryk hoor…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis iets wat ek indeel in die kategorie van “mindless activity”, maar as ek ‘n audioboek byderhand het, word dit amper ‘n genot.

  7. Ek lief die fotos. Ek gaan daai white noise soek.

  8. Die slaapmusiek klink tog te goed.
    Oor die mufkolletjies. Sal jy my oor die naweek weer hierna vra as ek by sie huis is? Ek dink die goed se naam is Stop Mildew. Dis sulke sakkies goed wat jy in jou kaste sit. Dit maak die swamme dood ilof so iets dan vorm daar nie nuwe muf nie.

  9. Dis goed om te hoor van die stryk. Ek is ook lui om dit te doen. Die was en dra klere is baie geriefliker. Die musiek klink nogal na n goeie idee. Ek is meestal doodmoeg as ek begin slaap en dan word ek wakker net na twaalf en elke uur daarna. Dit maak mens meer moeg as uitgerus as mens so aan en af slaap. Eintlik is dit my rug wat my opkeil en dit maak die slaap nie lekker nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Gebroke slaap is werklik ongerieflik en ‘n mens voel altyd moeg die volgende dag. By my is dit beslis nie ‘n fisiese probleem nie – dis my brein wat nie wil afskakel nie.