Ek het besluit om ‘n dagboek te hou vir die maand van Mei. Hier op my blog. Ek bedoel nie die soort dagboek wat jy hou om seker te maak dat jy al jou afsprake nakom nie nie, nee, ek bedoel die soort waarin jy ‘n brief aan jouself skryf met die aanhef “Liewe Dagboek”.
Dis ‘n eerste vir my. Ek het nooit soos my skoolmaatjies ‘n dagboek gehou van al my romanses en jolyt nie. Hoe jammer – ek kon dalk die naam van my eerste groot liefde hierin nageslaan het.
Hoekom ‘n dagboek op hierdie rype ouderdom?
Omdat my dae, weke en maande verbyvlieg en ek geen idee het waar my tyd heen gaan nie. Omdat ek nie weet of enigiets wat ek doen werklik enige belang inhou nie – vir myself en vir ander mense. Omdat ek so ietwat bang is dat ek toelaat dat my tyd wat ek nog oorhet deur my vingers glip sonder dat ek dit bewustelik waarneem.
Omdat.
Ek is deesdae te lui om die pen (oukei, die toetsbord) op te tel om te blog en ek dink hierdie sal ‘n goeie oefening wees om my weer aan te moedig om te skryf. My blog en blogvriende is immers belangrik vir my. Ek hoop nie my daaglikse sleur verveel julle tot in die afgrond nie.
Dalk, net dalk, inspireer my dagboek my om weer nuwe dinge aan te pak – of ou dinge wat ek aangepak het klaar te maak. Hierdie vat-los, vat-los manier van leef frustreer my nou rêrig. Presies wanneer gaan ek sover kom om my strykwerk te doen wat al weke agterstallig is?
Enniehoe, ek gaan probeer om myself ‘n bietjie reg te ruk. Of dalk vrede te maak met die idee dat my lewe presies is soos wat ek dit wil hê en dat ek asseblief nie verder geïnspireer wil word nie. Dan kan ek ophou skuldig voel.
Skuldig? Waar val dit nou uit? Is dit waaroor hierdie hele sage gaan – ‘n skuldgevoel omdat ek nie my tyd aan “belangrike sake” spandeer nie? Ek moet nou eers hieroor gaan dink.
Arriewarrie tot môre.
Image by David Schwarzenberg from Pixabay
travel460
Dit klink nou na ń heerlike reis wat ons saam met jou gaan aanpak hierdie Meimaand. ń Gewone reis met gewone lewens dinge.
HesterLeyNel
Ek hoop nie ek verveel julle tot die dood toe nie. Ek kan nogal wegraak in my eie klein wêreldjie.
woestynkind
Dis nou ‘n goeie idee.
HesterLeyNel
Dankie, ek hoop dit help om my te oortuig dat ek nie heeltemal “useless” geword het nie. Lyk my ek kan nog steeds nie heeltemal afskakel van die gedagte dat ek produktief moet wees en ekonomie moet pleeg nie. Ek is mos afgetree, vervlaks!
Bondelsgedagtes
Ons sien uit na jou reis…
HesterLeyNel
Ja, maar ek hoop ek reis jou nie in die landskap van verveling in nie.
Toortsie
Dit klink opwindend, maar as jy soms sommer net lus het om jou plakkies aan te trek en see toe te stap, sal ons dit ook verstaan, omdat jy aandag gee aan belangrike dinge.
HesterLeyNel
Ja, en see & son is belangrik. Vir my, hahaha. Die winter lê voor – blegh. Ek raak ietwat neerslagtig wanneer dit winter word, maar hopelik ka ek noual begin om my geestelik voor te berei deur ‘n paar ander dinge aan te pak wat my besig sal hou.
Toortsie
Sterkte vir die winter wat voorlê. Mag dit vir jou’n tydperk van rus en vernuwing wees, sodat, wanneer die lente kom, jy sommer baie vars en nuwe idees sal kry.
HesterLeyNel
Dankie Toortsie
Anne
Dit is ‘n goeie idee. Jy sal seker vind dat jy meer oplettend sal word oor klein dingetjies wat jy sien of hoor of voel. Die veranderinge in jou omgewing, in jou lewe, in die land – selfs onkruid kan interessant wees wanneer jy oplet waar dit groei en hoe mooi die blomme is wat ons gewoonlik verby loop 🙂
HesterLeyNel
Dis alles baie waar, Anne.
perdebytjie
Ek kan nie dink dat ‘n dag in Hester se lewe ooit vervelig kan wees nie! Ek sien uit na hierdie reeks. Wat dit lekker gaan maak,is dat ons daarmee sal kan assosieer.
HesterLeyNel
Dankie Perdebytjie, ek hoop dit sal aanklank vind en weer ‘n slag my muse laat wakker word.
scrapydo2.wordpress.com
Klink nogal na besigheid in die regte rigting. Dalk inspireer jy my ook om maar te dagboek. Ek het n dagboek maar dae gaan verby sonder dat ek iets skryf. So die boek is daar maar nie die inhoud nie.
HesterLeyNel
Ja, val in en skryf. Beskou dit as nog ‘n goeie skryfoefening. Ek dink ‘n mens raak lui en dan moet jy eers weer in die skryfgewoonte inkom. Ek karring nou al maande lank aan wat ek net nie lus het nie en ook nie aan iets kan dink waaroor ek graag wil skryf nie. Ek hoop my dagboek bring inspirasie.
scrapydo2.wordpress.com
Jong eintlik kan ek boekdele skryf oor my ondervindings by die skool. Never a dull moment. Ek het besluit om my nie meer op te wen nie en wat doen ek? Stap met die intrapslag reeds diep in die modderpoele van kinders se lewens. Letterlik en figuurlik.
HesterLeyNel
Dit wys jou betrokkenheid by hulle wel en wee.
scrapydo2.wordpress.com
Het toe gou dag een geskryf wat eers in die niet verdwyn het. Moes die draft uitgrawe en gebruik.
HesterLeyNel
Dit gebeur altyd wanneer jy haastig is om iets klaar te kry.
scrapydo2.wordpress.com
Dit sal beslis!
Hier "blok" Ek!
Yummy – meegevoer oor iemand anders se op en affe. Dit kan my dalk net help om te besef dat ons almal is heelwaarskynlik in dieselfde reis vasgevang al lyk myne op die beste v tye maar baie grys. 🤫
HesterLeyNel
Jip, daar mag dalk sulke klein verskilletjies wees in vreugdes en frustrasies, maar uiteindelik is die somtotaal dieselfde.
Hier "blok" Ek!
💖💖💖Hester, jy het die wereld se wysheid in jou. Jy het die vermoë om my altyd beter oor myself te laat voel. En dit is ‘n tall order vir enige mens na aan my 🤫🤫
HesterLeyNel
Dankie vir die kompliment, Elanè, ek wens ek kan soveel geloof in myself hê. Soms is ek my eie grootste vyand. Altyd lekker as jy saamlees.
trommeltjies
Jy onderstreep wat ek deesdae voel. My dae rol ook onder my uit en met ń terugblik weet ek nie waar het tyd weg geraak nie, dit is net weg.
HesterLeyNel
Ontjou jy hoe lank was ‘n week of ‘n skoolkwartaal toe ons jonk was? Nou vlieg dit verby teen die spoed van weerlig.
aj vosse
Mmmm… ek dink, tussen jou poste en ‘n nota wat ek gelos het op Vuurvliegie se blog… julle twee het my aante denke… ek laaik die iedee… so, miskien maak ek ook so en begin sommer more met ‘n dagboek! 😉
HesterLeyNel
‘n Afrikaanse een?
aj vosse
Lyk my so! Die reëls sê so… ek en die stukkende taal… dankbaar dat die taal polisie nie hier sal kom klop nie!! 😉
HesterLeyNel
Ek daag jou uit: gaan lees gou hierdie twee blogs https://bondelsgedagtes.wordpress.com/2019/08/13/wakker-word-op-rebusfontein/ en https://travel4601.wordpress.com/2019/08/13/geheime-en-rebusfontein/ en skryf vir ons ‘n kort episode om die verhaal te laat vervolg. Los ‘n pingback op Una se blog (die tweede een).
aj vosse
Mmmm… ek sal later kyk… jy het my nou op ‘n ander paaitjie verly… kyk more!! 😉
HesterLeyNel
Ek sal dophou!