My vreugdes en frustrasies

My eiers

Eienskappe: Sy is oud maar haar bene is nog mooi

Pixabay free download

Hierdie Lê-Jou-Eier bloguitdagings maak my ook soms lam in die bene, maar siende dat ons nou hierdie week oor onsself en ons eienskappe mag praat, sal ek sommer bene eerste inspring met my bydrae. Ek is immers gebore onder die teken van die Leeu – ons hou van aandag en is glo baie arrogant. Is ons? 🤔

Een van my opmerklike eienskappe is dat ek baie vinnig boos word, en net so vinnig weer kan lag ook – vir die persoon wat my boos gemaak het en sommer vir myself ook. Maar soms bly daar tog so ‘n bietjie boosheid vassteek en ek broei daaroor. En wanneer ek loop en kekkel oor ‘n gewaande onreg, kan jy die bose heks binne my herken.

‘n Paar dae gelede loop ek en Karen straataf strand toe. Daardie tyd van die oggend kom ons heelwat mense teë wat op pad is werk toe, en ons stop soms vir ‘n geselsie. Op hierdie besondere oggend roep iemand van agter ons:
“Hello”. Ons kyk om. Sy is pragtig. Die glimlag breed en spierwit. “Is this your mama?” vra sy vir Karen.

Onmiddellik gaffel boosheid aan my psige. Wanneer ek in my dogter se geselskap is, ignoreer mense my gewoonlik. Oumense, ouer mense, mense van my ouderdom, word mos onsigbaar – ons is nie all there nie. Diegene wat so dink, ignoreer ek sommer ook, want ek kan my nie bemoei met ander se onnosele aannames nie.

Maar die gesprek op die strandpad gaan voort ten spyte van my geestelike afwesigheid. “I can see your mama is old, but she still has beautiful legs.”

En mama se boosheid verdwyn soos mis voor die son. Mama loop op die strand en maak verspotte liedjies op oor haar beautiful legs. En sy lag.

Maar daardie stukkie boosheid wat vasklou … Ek dink dat mense te geneig is om ander in boksies te plaas en dit grief my geweldig. Ek het ‘n “ding” omtrent diskriminasie op grond van ouderdom, geslag, seksuele voorkeure, godsdienstige oortuigings, noem dit maar op. Daar is altyd die verwagting dat mense op ‘n sekere manier moet optree om te pas by die boksie waarin hulle geplaas is.

Kyk! ek loer oor my boksie se rand en lig my vloekvinger op.

Aan die ander kant, as jy lus het om die hele dag lank te teem oor jou boksie, met die bedoeling om my te oortuig om by jou in te klim, gaan doen dit in iemand anders se ore asseblief. Het ek genoem dat ek baie vinnig verveeld raak? Moenie jou oortuigings in my keel afdruk nie. Ek kam my hare soos ék wil en niks wat jy daaromtrent te sê het, maak enige indruk op my nie.

Ek is darem nie heeltemal “af” nie. Ek slaan nie my man nie. Ek vloek nie. Nie te erg nie. Ek is redelik verdraagsaam, maar ek vat nie k@k van kabouters nie: moenie probeer om my te misbruik nie; moenie my privaatheid te diep probeer binnedring nie; moenie enigiets doen wat my verhouding met my gesin kan benadeel nie en moenie my in die rede val wanneer ek iets probeer sê nie. Sien? Kom net my reëls na, dan sal ons goed klaarkom.

En gaan herdink tog asseblief jou opvattings oor oumense.


Hier is die Inlinkz-skakel vir die uitdaging wat vandag om 12:00 pm open:https://fresh.inlinkz.com/p/6061e1ded6fa403bb328f7fe5decfe6d

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

Follow Dis Ekke

33 Comments

  1. Kragtig uiteen gesit, hierdie opsomming van onse Hester. En ek het sowaar die kans gehad om die mooie bene te kon sien!😎

  2. Capiche? Ek verstaan jou Hester Sintester, en deel jou gevoel oor jou liefmense en die vinnige humeur….mwah!

  3. Anonymous

    Ek wil reply?

  4. liewe n Hestertjie, ek stem bogger almal wat nie wil hoor nie…. jy is ONS Hester Sintester en ons like jou stukkend in ons wereld, nes jy is. Hopelik as ek eendag in jou omgewing is, kan ek ook saam op die strand speel, looooooooove die see

  5. O liewe ek sal moet lig trap om die vrou met die mooi bene. Het daardie bene nou die dag op fotos bekyk en tot dieselfde gevolgtrekking gekom 😄 Verstaan goed van die boksies!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Kameel en daardie boksies – mense oordeel te vinnig.

      • Wou nog vir jou sê jy laat my heerlik lag met jou sêgoed. Wanneer ek die kommentare lees is daar altyd Hester en iets wat sy kwytraak wat my lagspiere prikkel. So ek geniet jou gate uit. Hierdie is jou gesiggie 😄 wanneer ek hom sien dink ek aan jou.

  6. Ek het jou reg opgesom, Hester! Jy is ‘n vrou na my hart en ek sal jou altyd in my kamp wil hê as daar vir reg en geregtigheid gestry moet word! Die oumensding vang my ook. Wat ons al vergeet het moet die spul jonges nog leer. Wat ‘n voorreg om mooibeen Hester te ken!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Bytjie. Dis vir my ‘n voorreg dat ek julle mag ken – ek het dit gelukkig getref met die mense wat ek in Blogland raakgeloop het.

      • Ja, hier is werklik ‘n klomp lieflike mense in blogland…bittermin trolle en mense wat beledigings uitdeel, soos destyds op LitNet.

  7. Ons is jou so baie verskuldig – danksy jou energie kom ons almal in beweging, skryf en speel!

  8. woordnoot

    Dankie Hester…dat jy is wie jy is. Jy laat my veilig voel. Omdat jy nie k@k van kabouters vat nie. En ent sommer omdat jy jy is…

  9. Wel aangename kennis…

  10. Nogal altyd gedink jy vattie-nonsies-van-kabouters-nie. Oe en jy vertel toe nie jy is slim ene van rekenaars tot wette nie! Mooi bene of de not.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Slim. Nee man ek weet nie – my oorlede broer het eendag baie hoogdrawend vir my vertel “die Leys (ons familie) is almal super-intelligent, maar hulle het geen f….n common sense nie”. Van toe af strewe ek na common sense, maar ek weet nie of ek al naby kom nie. Nou vermy ek ook maar die “slim” idee.

  11. Daar is net een van jou, Hester, jy het ‘n spesiale boksie, met sulke baie kante, paar skerp hoeke en heerlik fluffy binnekant

  12. Jy is awesome🌻

  13. Hester… vl@kkies… jy laat my lekker lag! Dankie.
    Ek het laas maand die GROOT Ses-Nul bereik… en ek voel nie oud nie… maar, my lyf neuk al na die kranke kant toe!
    Anyway… ek stem saak met wat jy gesê het oor diskriminasie… en hier in die plek is dit gewoontlk oop seisoen in die werksplek teen die oudstryders soos ons! En boonop hou hulle nie van indringers of sterk opinie nie!
    Oukei… elk laaik dat mense nog weet hulle moet mooi praat van en met jou… en, ek onthou ek het so ‘n paar jaar gelede ‘n ou rympie vir jou geskryf… miskien moet ons daai ou versie gaan opsoek…
    😉 😛 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Baie geluk met jou verjaardag. Jy weet dat 60 die nuwe 40 is nè? Ek onthou daai gediggie en presies waar dit is ook – gaan kyk onder die kommentaar by jou blog https://ouchmybackhurts.wordpress.com/2016/04/29/april-a-to-z-y-is-for-yellow/. Ek sal mos nooit tred verloor met so ‘n mooi gedig en groot kompliment vir my nie.

      • Sjoe… nou vlei jy my! Dankie!
        Ja, die nuwe 40! Die dag van my verjaarsdag het ek almal gekoggel en gesê dis die begin van my “mi-life crisis”… twee van my dogters het amper gehuil… en my goed laat veet hulle sien nie kaans dat ek 120 gaan word nie!
        Ek dink ek het hulle skrik gemaak… ek is nou al te veel van ‘n handvol vir hulle… en as hulle dalk vir my moet oppas op pad 120 toe gaan hulle stype trek! 😉