Dis Donderdag en tyd vir ons nuwe uitdaging vir die week. Ons gaan gesels oor die geslaagde en minder geslaagde pogings wat ons aanwend om ons lewens te ontrommel (ontklotter, of in Engels declutter). Dit wil voorkom asof ‘n mens se lewe deur verskillende stadiums gaan, waar jy probeer om soveel as moontlik aardse besittings, kennis, vriende en ervarings op jou kerfstok probeer kry as wat jy moontlik kan. Dan, op ‘n dag, word dit alles net te veel en laat jou kop draai. Nou betree jy die tydstip in jou lewe waar sekere dinge net nie meer so belangrik is nie en jy probeer met alle mag ontslae raak van die oortollige bagasie. Is jy al daar? Hoe suksesvol is jy in jou pogings om jou lewe te ontrommel? Is jy dalk al in die stadium dat jy jou klerekas kleur-koördineer? (Indien wel – ek haat jou).
Hoe ervaar jy jou nuwe lewenstyl. Enige nuttige wenke?
Danie van Coetzeeblog het vir ons ‘n kykie gegee in sy lewe nadat hy besluit het om sy lewe te ontrommel. Dankie vir die idee vir hierdie week se uitdaging, Danie.
Baie dankie aan almal wat deelgeneem het aan verlede week se uitdaging.









Kameel
En daar dog ek jy het my lief….nou hoor ek jy haat my….en dit oor my klerekas 🤔
HesterLeyNel
Ag, dis net omdat ek jaloers is. My Emily het altyd my klerekas so mooi georganiseer – ek gaan ‘n bietjie meer chaoties te werk.
Kameel
O ja, dankie dat jy my herhinner (herhinder?) het dit is Donderdag. Was vas oortuig dis Woensdag, en sou môre my belangrike afspraak gemis (nie die beste woord nie…maar die regte een is net weg) het.
HesterLeyNel
Ag, ek mis soms meer as net een dag. Dis my desktop kalender wat my vertel het dis Donderdag. Herinner. Viva-woordeboek 😀 altyd oop op my tweede skerm.
perdebytjie
Ek moet my kop begin ontrommel…heeltemal te veel snert wat my deesdae ontstel!
HesterLeyNel
Self!