My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

ESKOM is regtig besig om my stout te maak

Dryfhout by die Mtentweni riviermond

Stout, ja. Dis wat ek gesê het. Maar nie die soort stout wat jy nou in gedagte het nie. My ma het my beter geleer: “Donkerwerk is konkelwerk”. Maar ek raak by die dag meer beïndruk met die feit dat ESKOM my hardhandig dwing om op te hou met werk en liewer my tyd op die strand te gaan deurbring. Ek gaan gewoond raak aan hierdie niksdoen-effek en dan? Dan gaan ek heeldag vakansie by die see hê.

Gelukkig speel ons weer saam en ons het lieflike dae hier. Natuurlik is daar die winderige dae – soos vandag – maar dan gebruik ek die wind om gou-gou my wasgoed (en swemklere!) droog te maak. Ander dae is dit bewolk en reënerig, maar glo my, dis dalk beter. Dit raak geweldig warm hier op die oomblik en die son het net een doel voor oë – hy wil alles tot as verbrand.

Ek en Karen gaan swem graag by Twenistrand tydens hoogwater. Daar is ‘n sandbank waar die branders rustige hobbels maak waarop jy kan lê en dryf. Tydens laagwater moet jy heelwat dieper in die see ingaan om behoorlik nat te word. Ons was eergister weer daar, maar die rivier het deurgespoel en die seewater was ‘n vaal sanderige kleur. Karen swem nie in sulke water – haaie hou blykbaar van vuil water. Ons het dus strandlangs geloop om te gaan kyk hoe lyk dit daar by die riviermond. Kyk net na die grafitti wat ons van naderby kon beskou. Gewoonlik is die rivier te diep om dit regtig te waadeer.

Ons hou daarvan om in die river te swem, maar die water was regtig modderig en ons het besluit om uit te wyk na Southport toe. Die foto hieronder is geneem in Januarie – ek en Oudste wat swem in die rivier.

Southport (loopafstand van ons huis af) het natuurlik die beste getypoel hier in ons onmiddellike omgewing en ek het al fotos daarvan geplaas, maar newwermaaind, hier is nog een. Ek het die hele swembad vir myself gehad (kan jy my kop sien uitsteek daar agter teen die muur?) en selfs die reënbuitjie wat uitgesak het, kon my nie uit die water dryf nie. Ek het hier rondgedryf vir ‘n lang tyd terwyl Karen op ‘n rots gesit en die see aan die anderkant van die muur dopgehou het vir … ahem … haaie en so aan. So dankie ESKOM.

Op ‘n ander trant: ons is genoodsaak om werk te staak as die krag afgaan, want die selfoon-netwerk word ook geaffekteer. Blykbaar is daar nie batterykrag of enige ander soort krag beskikbaar om ons selfoontorings aan die gang te hou as ESKOM ons krag afsit nie. Die gevolg is dat ons selfone se stemmetjies ook stil is en selfoondata is vir my dan niks werd nie. Dis hoekom ons Telkom se ADSL moet gebruik. Ons is sekerlik nie die enigste mense in hierdie posisie nie en waar gaan ons land se produktiwiteit heen?

Follow Dis Ekke

34 Comments

  1. een woord: GROOOOEEEEENNNNN!!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, maar “winter is coming”. (Dis ‘n Game of Thrones sê-ding wat ek oor die afgelope paar dae aangeleer het 🤣 Ons moet die somer goed gebruik.

  2. Jy gaan nog vinne groei, Hestertjie! Jul lewe klink heerlik.

  3. Dit lyk so lekker, jy maak ons jaloers Hester

  4. Heerlik heerlik, viva see swem!!

  5. Jy moet oppas, netnou verander jy in ‘n dolfyn!

  6. Daar gaan ek vanoggend dorp toe om by die winkel tyd te spandeer – toe sit ons vir 2 plus uur en tone tel. Bab is gister 16h00 na een van die inkopie sentrums, ek praat groot plek. Die hele sentrum was toe behalwe Woolworths wat ‘n eie kragopwekker het. Dis verskriklik. Krag het eers na 18h00 aangekom, en dit was die amptelike sluitingstyd. Hoeveel mense het tyd en brandstof gemors om voor doiemans deur te kom? Wat maak die plekke wat moet huur en salarisse en inkomste verdien as dit elke dag so gaan? JO! Ons land brand kragloos uit.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ons maak eers seker in watter wyke die loadshedding geskeduleer is voordat ons winkel toe gaan. Ek gebruik EskomSePush Notification App en dit werk nogal kwaai lappies, want ek moet ver ry winkel toe.

      • Mater. Dis nie my ongerief wat pla nie dis die effek op die ekonomie en werksekerheid. Wat as daai mall se winkels toe maak en mense afgelê word. Net nog werkloses en armoede. Dat hulle apps het is oulik, maar sjoe….

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek hoor jou. Dis ook waaroor ek gekla het, want ek word self verhoed om te werk. Maar ek verneem die Eskom-werkers sou vandag gestaak het, sommer so tussen loadshedding deur. Cyril wil die entitieit in drie deel. Watter deel gaan die 420 biljoen rand skuld terugbetaal? My kop raas – is ons die enigste mense wat omgee?

        • Ek kyk kyk en lees. Wat is die eindspel. Vieslike politieks en vraatsug. Flippen mense het skatryk uit ons hulpbronne geraak. Ek verneem die Guptas het steenkool uitgevoer met hulle voorskot miljoene

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Maar hoekom lyk dit vir my asof die huidige regering nie veel doen om die sondaars aan die kaak te stel nie. Mis ek iets? Of is hulle bang dat inkriminerende inligting gaan uitlek? Al wat ons kry is baie woorde wat fokol sê.

        • 🙈🙉🙊

  7. Alles het sy voordele. Kyk hoe lekker swem jy nou!

  8. Sjoe Hester, dut is ‘n pragtige wêreld waar jy woon.

  9. 🙂 Looks kinda unusual (top pic) seeing a block of Flats in a rural countryside setting.

  10. Dis darem erg. Niks kan staande bly met sulke omstandighede nie. Op die einde gaan daar beslis onluste onder die mense plaasvind. Dit sal nie werk soos ou Trump met she ‘Shi(u)t down” nie. Sy mense het darem steeds gaan werk sonder betaling. SA kannie sonder kos voortgaan nie! Dis n gemors. In die tussentyd moet jy maar “Swem Jannie swem” doen.

  11. Mmmmm… ja, lekker vakansie hou… pasop net dat julle nie dalk so lui word soos 84.7659% van die bevolking nie… dan is die land heeltemal in sy maai in!! 😉

    • Ja… luister vir Karen… die haaie sal julle kou as die water so vuil is… en bowendien, mens weet nie of daar ander bruin bollie saam dryf in daai vuil water nie!! 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Waar is die land nou? Vir my lyk hy klaar in sy maai in.

      • Ek het net probeer positief wees… ja, poer in sy moer, so ek dink! :/