My vreugdes en frustrasies

My eiers

‘n Gruwelike gebeurtenis in die namiddag-verkeer

Die namiddag-verkeer is straf. Die karre wurm teen die skuinste op. Wiele gly op die nat teer wanneer bestuurders versnel in ‘n poging om hulle kleims af te steek in die lang ry. Die verkeerslig op die bult is buite werking en moet gebruik word soos ‘n 4-rigting stop, maar blykbaar het nie almal hierdie memo gekry nie. Ongeduld is ‘n resep vir moeilikheid op hierdie mistige reëndag.

Asof om hierdie gedagte te onderstreep, klink die geluid van sirenes op en die verkeer kom tot ‘n algehele stilstand.

Die lawaai van sirenes, kar-enjins en radios maak my kens. Ek skakel my gehoorstuk af en die skielike stilte wat klink soos ‘n engelekoor, isoleer my in die enge ruimte van my motor. Om effens doof te wees het soms sy voordele.

Ek sit en bekyk die motors rondom my. Selfs met petrolpryse wat fenomenaal snel styg elke maand en die ekonomie wat knel, spandeer die mensdom steeds met graagte hulle suurverdiende geld op opsigtelike duur voertuie.

In die lang slap silwer motor voor my, klou ‘n miniatuur oerangoetang teen die agterste ruit. Die oker tint van sy sonverbleikte pels steek skerp af teen die gesiggie, makaber swart geverf. Langs hom, vanaf die agtersitplek, loer ‘n seunsgesiggie. ‘n Klein vingertjie grawe verbete na ‘n ietsie waardevols in die neus.

Uit die hoek van my oog sien ek ‘n bende apies wat rats gebruik maak van ‘n klein gaping tussen die motors om oor die pad te kom. Van die wyfies het kleintjies wat onder hulle mae vasklou. Moedermooi. Twee van hulle spring op die silwer motor se kattebak en klouter tot op die dak, vanwaar hulle komieklik onderstebo hang; hulle loer deur die ruit na die beweginglose oerantoetang wat nie deel in hulle lewenslus nie. Die seunsgesiggie blom oop in ‘n wye glimlag en ek gryp na my kamera, stel die lens in om die komedie af te neem.

Dan gaan die voordeur aan die bestuurskant van die motor oop en ‘n groot man klim uit. In sy hand is ‘n golfstok waarmee hy met ‘n vinnige swaaibeweging die naaste wyfie van die motor se dak af slaan. Die ander apie spring betyds weg en kom veilig oor die pad. Die man bly staan en ons kyk albei na waar een baba-apie nou doodstil in die teerpad lê, terwyl die moeder langs hom hurk.

“Hulle naels krap my motor. Ek kan mos nie toelaat dat die goed my eiendom so verniel nie.” Dit dan die rede vir sy hewige en dodelike reaksie.

Ek knik my kop onseker, lafhartig, met my oë op die gholfstok.

Wanneer hy terugklim in sy motor kyk ek na die seunsgesiggie wat nou vertrek is in angs en hartseer. Ek sluit my oë in die bede dat hy hierdie onskuld en kennis sal behou. Dat hy sal leer om gesteld te wees, nié op dit wat die mensdom dink van belang isnie, maar op dit wat vir hulle van belang behoort te wees.

UITGEDUN – T.T. CLOETE
Ek dank U dat ek Heer
vanoggend soos van ouds weer
my baard mag skeer.
 
Vroeër was ek gesteld
op seks en soma, op geweld
en eer en geld.
 
Nou Here is ek goedkoop
gesteld op bloedsomloop
en brood en stroop


Hierdie blog vorm deel van ‘n bloguitdaging Woordsnoere uitdaging wat maandeliks, op die eerste Donderdag van elke maand, aangebied word deur Lekkervurig. Om saam te speel, skryf jou blog en plaas jou skakel op InLinkz sodat almal lekker kan saamlees. Dankie hiervoor Lekkervurig.

Ps. Bostaande is (gelukkig) ‘n fiktiewe gebeurtenis. Ons ape word streng beskerm deur wetgewing en oortreders word streng vasgevat.

Follow Dis Ekke

46 Comments

  1. Hester, aangrypend briljant! Sjoe!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Lekkervurig, maar ek moet bieg dat dit ‘n bietjie dinkwerk gekos het. Toemaar, ons sal oefen om beter te word.

      • Genade, ek is uit die water geblaas deur my maats se kreatiwiteit. Voel of ek ‘n ou opstelletjie geskryf het. Ek sal moeiliker leidrade se antwoorde moet string….. 😉

        • Ek voel keer op keer so ná elke bloginskrywing!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek was jaloers omdat jy joune so vinnig gedoen het. Ek moes lank en hard dink voordat ek my grysstof kon laat beweeg.

        • Dit was maar net beginners luck. Ek het net besef dat ek moet skryf en klaar, anders is die week om.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          En waar gaan die tyd heen? Veral in die somermaande vlieg die tyd net, hoewel ons heelwat vroeër opstaan. Ek wil ‘n stadige horlosie koop.

        • Dis juis omdat ons vroeër opstaan. Nou is ons energie minder en ons rig minder uit.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dit is nou wraggies net dit. Logika. Ek het nog nooit daaraan gedink nie.

        • 😊

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het al baie so gevoel oor die blogs wat jy en die ander skryf. Ek is bly ons kan mekaar bewonder en tot hoër hoogtes dryf.

        • Net so! Was die see lekker?

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Oe en hoe dan! Ons het in die reën geswem. Ons het vanoggend so van vieruur af reën gekry by die emmers vol en dit reën so deur die dag ook. Dit was warm en bedompig – die water ‘n koel lafenis. Die lug het nou ‘n bietjie afgekoel.

        • Dit broei hier by ons, maar die wind waai als elders. Gelukkige plek, elders.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Elders is gelukkig op die oomblik (vir ‘n verandering) nie hier nie. My seun sê dit was baie winderig daar by hulle in Johannesburg.

  2. Nare man! Fantastiese storie. Ek wens hy wil die oerangoetang in die kar ook loslaat.

  3. Hester, hierdie is ń uitstekende stuk!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Una. Lekkervurig het ‘n briljante uitdaging gestel. Ek moes mooi dink oor die betekenis van woorde voordat ek dit neergepen het. Ek het juis in die week gesê ek besef nou eers hoe my taal verswak het in die jare wat ek gewerk het.

  4. Sjoe sjoe, briljant Hester

  5. Daar skryf jy my nou in bewoënheid in.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Sulke wreedaardigheid sal enigiemand bewoë maak. Die outjies raak stout en maak soms ‘n pes van hulleself, maar daar is mense wat regtig onnodig hardhandig behandel.

  6. Sjoe, fantasties geskryf! Ek hoop nie dis waar nie, want ek kan dit nie vat dat iemand soiets aan ‘n dier doen nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hierdie spesifieke verhaal is fiksie, maar ja, daar is mense wat nie huiwer om hulle hardhandig te hanteer nie. Die probleem is dat hulle vreeslik oulik is en mense bederf hulle – dan raak hulle ‘n oorlas. Ons waarsku gedurig dat hulle nie gevoer en vertroetel moet word nie, maar tevergeefs.

  7. Sjoe, ek is so bly dit het nie regtig gebeur nie.
    Ek sou dalk iets onverantwoordeliks aangevang het met daai man.
    Maar dankie vir die boodskap en die besef hoe aardse goed mens se lewe kan beheer. Dankie!

  8. Wow… jy mag maar skryf!

  9. Dit is n WOW storie hierdie! Met gevoel, beskrywend en so asof dit werklik is. Daardie grysstof van jou het beslis goed lewe gekry toe jy dit begin gebruik het. Tien uit tien vir jou.

  10. Wat ‘n WONDERLIKE storie! Ek was dankbaar om te lees dat dit wel net ‘n storie is want ek het woedend gevoel oor die bestuurder van die motor. Jy jet ‘n goeie oog vir die klein besonderhede wat ‘n goeie storie maak. Ek het dit baie geniet.

  11. Mensig Hester maar jy het jou omtrent goed van jou taak gekwyt, jy het my glad ń traantjie laat pik.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Trommeltjies. Ek is bly daar is nog mense soos ons wat kan voel vir onskuldige diere (en ander mense) wat mishandel word.

  12. Jy het dit alles so goed beskryf Hester dat ek sommer saam gevoel het.