My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

GOT – ‘n man en ‘n vrou en ‘n remote control

In afwagting van die 8ste reeks van Game of Thrones, word ons huishouding weer regeer deur die tv remote control. Seisoenreekse 1 – 7 van GOT is uitgekrap en word weer (die hoeveelste keer?) gekyk om seker te maak dat elke karakter, elke gebeurtenis en die dead body count vasgelê is in die geheue.

Nou moet ek eers bieg dat ek nog nooit voorheen die reeks gekyk het nie, maar hierdie keer het ek my laat ompraat om “op te vang”. Ek moes van beter geweet het. Ek hét van beter geweet. Maar.

Dis ’n goeie reeks, dit moet ek op hierdie stadium toegee. Dis net nie al die smart en lyding werd waardeur ek moet gaan nie. Die smart en lyding het niks te doen met die reeks self nie. Dit het alles te doen met

‘n man.

‘n Man kan mos nie voor die tv wegkom as hy eers begin kyk het nie, wat beteken dat ons deur die loop van die dag ten minste vyf of ses episodes moet kyk om by te bly. Tussendeur moet ons dinge doen soos huishou, kook, inkopies doen, toilet toe gaan, ens. Dit beteken dat ‘n vrou soms deur ‘n hele episode slaap en die plot verloor. En dan moet ons dit weer kyk.

‘n Man kan nie tv kyk sonder om die remote control in sy hand vas te hou nie. Dit beteken dat ons heel dikwels by die verkeerde episode hervat en na ‘n lang stryery eers op die regte plek beland. Dit beteken ook dat ons soms lang stukke moet kyk waar die mense tale praat wat ons nie verstaan nie, want ‘n man kan nie betyds die knoppie beetkry wat die sub-titels in Engels wys nie. Dan moet ons weer kyk.

‘n Man kan nie sy mond toehou nie. ‘n Man het sy mening omtrent elke gebeurtenis in elke episode en hy lewer lopende kommentaar daarop. In die proses lap hy uit wat in volgende episodes voorlê. Daarvoor kry ‘n man telkens ‘n klap teen sy kop met die remote control wat ‘n vrou by hom gryp.

Gelukkig is ons nou reeds besig met reeks no. 5.

Wanneer ‘n vrou opgevang het met al die ou reekse, gaan sy Dirty Dancing op repeat stel en die remote control wegsteek. ’n Man moet soms gestraf word.

Follow Dis Ekke

33 Comments

  1. 😆

    O ek ken die pyn en lyding!

    Maar ek KAN NIE WAG VIR DIE NUWE SEISOEN NIE!!!!! (ons het ook weer oor begin kyk net om weer te weet wat gaan vir wat!)

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek moet sê, ek geniet dit nogal bo alle verwagting. Ek kyk nie graag tv nie en my gesin hou van raserige bloed en geweld.

  2. O so nè, DIS waar jy rondlê, voor die tv. En hier dink ek jy is dalkies in die hospitaal… Miskien moet ons julle voorbeeld volg, net sodat ek weer imuun genoeg kan raak teen al die wreedheid en dan reg is vir die nuwe seisoen.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      hahaha, nou weet jy! Ek moet darem soms ‘n man ook tevrede stel – dis min dat ek voor die tv inskuif. Maar nou kan ek uiteindelik ook al die one liner GOT grappies & memes verstaan.

  3. Doen jouself die guns om die boeke te lees, dit is wel net geldig tot by S6, maar soveel beter as die tv, dan kan jy vir man die fyner detail vertel

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis ‘n uitstekende idee. Ek wonder of dit in audio beskikbaar is – dan kan ons sommer al;mal saamluister. My man is dislekties, maar sy geheue is fenomenaal. As hy eenkeer ‘n storie geluister het, vergeet hy nie ‘n woord nie.

  4. Anonymous

    😂👍🏻Geniet!

  5. ‘n Man en ‘n remote behoort verban te word. Ek dink dis die hoofoorsaak vir egskeidings….en moord. Lekker kyk….ek het gelukkig hierdie een vrygespring 😊

  6. Ek sien daardie prentjie waar jy hom teen die kop klap met die remote! Ek her nog nooit hierdie reeks gekyk nie…klink of ek iets mis.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, as jy nie hierdie reeks kyk nie, is jy glad nie “in” nie, want almal gesels daaroor en herhaal die dialoog. Ek is nogal aangenaam verras dat daar wel ‘n storielyn is.

  7. Nou lekker gelag

  8. Hoe lekker lag ek vir die vrou….

  9. Ek het nou gele soos ek lag. Nou is ek amper spyt ek het nie ‘n man nie. Dit klink amper asof die lewe ekstra prettig is as jy een aanhou.

  10. Ari tog, ek bly dan eerder uit en kyk elke repeat vn Dirty Dancing. My seun het egter probeer om my aan GOT voor te stel. Toe wou ek eerder minder bloed en derms sien.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit is nogal bloedig nè. Ek gril ook daarvoor, veral as hulle die bloed op hulle swaarde afvee aan hulle klere. Wie doen die wasgoed? Ek probeer egter in my agterkop onthou dat dit ‘n storie is, want ek kan nie toelaat dat ‘n tv-reeks my in ‘n emosionele spin gooi nie.

  11. Ha ha, dis heel amusant hoe jy tog wel tot sit kom en kyk. Ek dink jou beskrywing van die TV-kyk omstandighede geld in baie huise.

  12. woordnoot

    Daai liewe remote…..ons was vrywillig verplig om afstand te doen van TV kyk. Ons TV speel net elke tweede naweek as die kleintjies kom kuier en dan is dit net Tom en Jerry. Maar ek het meer as een keer die remote se batterye uitgehaal om die derde wereldoorlog te voorkom!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hahaha. Ek kyk nie juis tv nie – so nou en dan koop my man my om om saam met hom te sit en kyk, so die remote is altyd onder sy beheer. Ook maar goed, anders het iemnd al seergekry.

  13. En sonder die remote kan ‘n man ook nie channel hop nie.

  14. Sjoe ek het al die storielyn vergeet, dis verskriklik ingewikkeld, sal ook maar weer moet recap. Mooi beskrywing van menige huis se realiteit wat tv aanbetref.