My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Die visse loop en die visserman is aan die hoek

Die visserman se oudste het gister hier aangekom van Johannesburg af vir ‘n welverdiende vakansie by die see waar sy mense woon. Sy Ford Fokas se kattebak was vol bederfies vir sy mense (en vleis van Gauteng af vir die groot krismisbraai).

Die visserman se aandag was egter geheel en al gevestig op ‘n pakkie wat Oudste
vroeër die week al laat aflewer het. Hy’t geweet dis fishing tackle wat Oudste internetlangs by ‘n plaaslike maatskappy bestel het en hy kon nie wag om daarin te krap nie. Die pakkie was nog nie behoorlik oop nie, toe pak die visserman ‘n handvol blink vissies met sulke wrede drietandhoeke aan hulle lywe uit.

“Jong,” sê hy vir Oudste, “ons beter hierdie goed op ‘n veilige plek bêre voordat ‘iemand’ (vertaal – die stoepit vroumense) daarin trap.” En met dié begin hy die vissies ophang aan die onderkant van die trapreling, juis daar waar die stoepit vroumense kaalvoet op en af hardloop na hulle slaapkamers toe. Slim.

So gesels-beduie, gesels-beduie draai die visserman om en die volgende oomblik laat los hy so ‘n lang uitgerekte kreet. Oudste staan stargeskrik daar en die stoepit vroumense loop nuuskierig nader. Daar hang die visserman aan die hoek van die vissie wat teen die trapreling hang. Gevang. Hook, line and sinker. Nee, daar was nie regtig ‘n lyn of ‘n sinker nie, maar dit klink goed.

Met Oudste se hulp is beide die visserman en die vissie van die trapreling af verwyder en daar staan die visserman met die vissie in sy hand. Letterlik.

“Bring ‘n mes,” sê hy.

Slagmes? Kapmes? Vleismes? Broodmes? Groentemessie? Tafelmes? Nee-nee, skud hy sy kop.

“Loop klim in die kar,” sê een van die stoepit vroumense. Sy weet dat die visserman bloedverdunners drink en by die gedagte aan al daai bloed op die badkamerteëls … nee, dit sal nie deug nie. Buitendien het hy lanklaas ‘n tetanus-inspuiting gehad.

By die kliniek is die personeel baie behulpsaam en baie goedgemanierd. Hulle lag nie openlik nie. Die skelm glimlaggies word so agter die hand weggesteek. Heel gou is die visserman en sy vissie van mekaar geskei, die wond ontsmet en verbind, inspuitings toegedien en die visserman verlaat die kliniek met sy vissie in ‘n sakkie en ‘n paar antibiotikapilletjies in ‘n ander sakkie.

“Ag,” sê die visserman so ewe in die kar op pad huis toe, “gelukkig is ek dubbelhandig (ja, hy is) en kan net so goed met my ander hand werk.”

Die stoepit vroumens agter die stuur het niks gesê nie, net gedink dat ‘n mens darem maar twee hande nodig het om skottelgoed te was. En die Groot Eet van krismis lê voor.

Follow Dis Ekke

40 Comments

  1. O jinne, ons visserman-seuntjies en hulle speelgoed en logika. My Rots het weer gisteraand vir my so ewe vertel dat ek nog vyf jaar se opleiding – lees “Educating Erna” – oor het. Hy sal stop om my alewig reg te help as ek 65 word! Ek het hom gewaarsku dat hy daarna sal moet rond bly hang om te kyk of dit gewerk het!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      O nogal! Ek kan so ergerlik raak as hy alles uit my hande vat omdat hy dink hy kan dit beter doen. Dis hoe hy opgeëindig het as chief bottle washer.
      Jy verjaar een van die dae nè!

      • Mmm, dit smaak my ons het selle lap se ouens. ja, ek sit verstom dat my 60e jaar hier is! Met my ouers wat so jonk dood is, het ek nooit ver gedink nie…en kyk nou ouer as my eie ouers. Dis nog altyd ‘n stil verjaardag datum – mense is mos immer met die Nuwe Jaar besig!;)

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ons is destyds getroud 31 Desember 1976, maar die enemisery is nooit regtig gevier nie. Teen NuweJaar is ek ook al so gatvol vir al die vierings dat ek doodeenvoudig net bed toe gaan op ons gewone slaaptyd.

        • Nou sal ek aan jou dink as daai dag aanbreek. Dis lekker om te weet. Daai troudag van jou was my matriek verjaar en eerste sonder my pa. My ouers is ook 31 Desember 1957 getroud. Ek was vlge jaar op die dag hulle persoonlike troupersent. Dit was maar altyd verwarrend.. toe hulle dood is so aardige dag geword. Nooit juis feesgevier nie. Goddank vir ouer word.

  2. Kleinkinders was nou vir twee weke hier en daardie hoeke wat party vissermanne verloor en dan spoel dit op die strand uit het my kwaai bekommer!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit is ‘n gevaar en nie net vir mense nie – die voëls en strandkrappe loop ook deur. Ons hou maar die inspuitings op datum.

  3. Dat mens nou so gevang kan word! Eina jelsim!

  4. Lekker visvang storie…

  5. What a horrible thing, dear Hester! Take care! By the way, check the post office. THe tracking shows me that the parcel might have arrived to you.
    Merry Christmas whatever happens! 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      That is fast. I’ll check and let you know, thank you Maria.

      • Indeed! They have changed the parcel route. I suppose that it is linked with the current political situation around the Ukraine. Even to Europe parcels go through Latvia.

  6. ‘n Geval van vis het sy baas gevang. Hoop die res van die vakansiebesoek, is ongeluk vry. Ek sou verkies, om eerder, die skottelgoed te was.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      My man ly aan OCD. Hy kan nie ‘n vuil teelepel in die wasbak sien lê nie – dit moet onmiddellik gewas en afgedroog word. Hy maak ons soms gek met sy skoonmakery en wegpakkery. Dis hoekom ons nou lag vir die verband, want hy moet nou noodgedwonge die skottelgoed aan ons oorlaat.

  7. 😮 Omg!!!! An looks painful.

  8. Ja-nee toe vang slim sy baas. So n hoek en sy hakies is maar n seer affêre. As ek so op TV sien hoe die ouens visvang en dan die visse loshaak en teruggooi wonder ek altyd of dit nie baie seer vir die visse is nie. Mens kan beslis sê die stupid manne weet altyd beter. Ek hoop jy het n gesellige tyd so saam met almal daar.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Scrapy, ons kuier altyd lekker. Ons hoop net vir beter weer. Jy sal nie glo nie, maar ons waai nog steeds weg en soms kry ek koud hier.

      • Dit is nie lekker nie. Hier word nou weer hewige reën voorspel more. Dit is reeds besig om te verspoel in boonste dele van die land. Gelukkig is dit nie te koud nie. Mooi Kersfees more vir julle.

  9. Kyk, die weer is goor maar ons klomp Noord-Westers swem!! Eina, dit moes nogal aanvanklik seer gewees het, Hester. Ek lag lekker in my mou vir jou storie…soos gesê is, vis het die visserman aan die hoek gevang.

  10. Ag die manne en hulle speelgoed. 😅

  11. Dit sal hulle leer om hoeke aan die trapreëling te hang, dit kon een van julle gewees het. Geniet die kerstyd hoop dit is ongeval vry.

  12. Einaaaaaa! Jy moet ook hare op jou tande hê die tyd van die jaar.

  13. Wha ha HAAA!!! Oubaas lei van voor af!!
    Lekker skottelgoed was… lekker braai en lekker partietjie hou daar onder by die see!
    🐟😃🥂🎅🐟😎🔥😵🐟

  14. 😂😂😂

  15. Ek lees jou storie laat maar het dit geniet 😁😁😁 Moet seker nie dink dis snaaks nie 🤔

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het gedink dis snaaks. Gewoonlik word ek mos aangewys as die een wat my eie vingers afsny as ek net naby die kombuis kom.