Hierdie bloguitdaging is aanvaar deur 14 Afrikaanse bloggers wat ‘n virtuele toer deur Suid-Afrika onderneem. Die gasblogger van die week moet op ‘n Donderdag, op die datum wat toegewys is, ‘n blog publiseer oor hulle tuisdorp/streek, asook ‘n fiktiewe weergawe van die ander 13 bloggers se kuier by sy/haar tuisdorp.
Klik op hierdie skakel om die lys van deelnemende gasbloggers te sien, asook die datums waarop hulle blogposse gepubliseer gaan word.
Die 13 kuiergasbloggers vir die week (en hul lesers) kan dan vir die res van die week ook blogposse bylas waarin hulle beskryf hoe hulle die kuier geniet het, of hulle kan ‘n blog skryf oor die streek waarin die gasblogger van die week die kuiergaste onthaal het – vertel van ‘n eie ondervinding in daardie provinsie/streek/dorp, deel herinneringe of plaas fotos wat daar geneem is. Enige lekker storie sal doen solank dit in die gasblogger se streek/provinsie afspeel. Kuiergasbloggers en hulle lesers moet asseblief ook hulle skakels byvoeg op InLinkz sodat ons almal kan saamlees.
Om jou blogpos by te voeg of om die ander bloggers te lees, kliek op die volgende skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928.

Jô, dit was ‘n lang rit daar van Dullstroom af tot hier aan die laer Suidkus van KwaZulu-Natal. Die probleem was natuurlik dat my sitvlak blikners was van die perdryery saam met Perdebytjie. Ek wou nou nie eintlik kyk nie – ek meen, wie wil nou jou eie alie in ‘n spieël sien? – maar ek vrees daardie liggaamsdeel was nerfaf en vol blou kolle. Selfs die sagte sitplekke van die giggelgroen bus het nie getroos nie. Ek was so bly toe my oog uiteindelik die padwyser vir Elysium op die N2 Suidkuspad gevang het.
Elysium is ‘n klein kusdorpie daar tussen Ifafa en Mtwalume, net so skuins voor Hibberdene. Daar is nie winkels, garages of eetplekke nie; die tyd staan letterlik stil op hierdie plekkie en die Towerinne is vooraf gewaarsku om horlosies en selfone te bêre. Ons was hier om te rus en te ontspan na die fisiese en emosionele mallemeule wat ons die laaste paar weke op gery het. Ons doel was om die hele dag te gebruik om te herstel na liggaam en gees en vir hierdie doel was ons op die regte plek:
“In classical mythology, Elysium, or the Elysian fields, was the home of the blessed after death, the final resting place of the souls of the heroic and the pure. So it’s easy to see how the word came to mean any place or state of bliss or delight.” Merriam-Webster. In kort, Paradys.
Ons was ingeboek by die Sugar Beach Resort gastehuis wat geleë is op die wal van die pragtige Mtwalumerivier, 600 meter van die strand en die lagoon af. Ons het sommer al die beskikbare eenhede uitgeboek, siende dat ons toergroep gegroei het tot drie busse vol Towerinne, aanhangers en besoekers en nog ‘n paar Harleys ook. Sommige van die houthutte is laer af teen die heuwel gebou, weggesteek tussen die bome, maar die Towerinne het verkies om oor te bly in die familie-eenhede net langs die hoofgebou. (Dit was ‘n fout, maar hiervan gaan ek later meer vertel).
Elkeen van die goed toegeruste eenhede het ‘n private balkon met ‘n pragtige uitsig oor die see. Die gastehuis se African Chimes Restaurant is geleë in die hoofgebou, waar die swembad met twee groot sondekke ook tot ons beskikking was en ons het ‘n heerlike laat ontbyt daar geniet.
Famielie-eenhede Uitsig vanaf balkon Uitsig vanaf swembad Hoofgebou en swembad
Die son was warm en die strand het gelok. Sommer gou-gou het die Towerinne en metgeselle met die bospaadjie afgestap tot op die strand, koue drankies, handdoeke en sondbrandmiddels in die strandsakke wat hulle sommer daar by die gastehuis se snuisterywinkel gekoop het.
Die Mtwalume riviermonding was oop en water het van die lagoon af uitgeloop in die see. Die Towerinne het hulle eers gestaan en vergaap aan die rivier en ons pragtige uitgestrekte strande. Hulle kon nie besluit of hulle met hulle voete in die water wou wees of met hulle tone in die goue sand wou vroetel nie. Aan hierdie deel van die kus is daar nie haainette nie en ek het verduidelik dat hulle liefs in die lagoon of in een van die twee getypoele moet swem. Die Ifafastrand se getypoel is sowat 2,5 kilometer links teen die strand op en die Mtwalume getypoel net meer as ‘n kilometer na regs.
Ek, Scrapy en Perdebytjie het besluit om die lagoon aan te durf en onder groot gejuig van die ander towerinne het ons besluit om van onder die brug af met die rivier af te dryf tot op die strand. Dit was so lekker dat ons dit ‘n paar keer oorgedoen het. Toe eers het ons besef dat die ander Towerinne nie meer met ons is nie en ons het na hulle gaan soek daar onder op die strand.
“Whaaa”, gil Scrapy, “kyk vir Kameel!” Ons kyk. En daar ski Kameel oor die water met ‘n vlieër wat soos ‘n paar vlerke oor haar hang. Op die strand staan ‘n kêrel met sulke lang blonde hare wat tot op sy skouers hang en skree vir haar instruksies. Hou my hart vas!
Positief lag vir ons geskokte gesigte en stamp aan die blonde Adonis se tweelingbroer. Hy is besig om haar touwys te maak met ‘n groen vlieër wat sy in die lug opstuur soos ‘n wafferse Kite Runner. Hulle gaan probeer visvang met ‘n drone wat aan die vlieër vasgemaak is.
“Waar is die ander klomp?” gil ek en sy beduie in die rigting van Mtwalume. Ek en my twee riviermaatjies draf in aller yl in daardie rigting en waai so in die verbygaan vir Virgo wat verbyskiet op ‘n jetski WADDEHEL waar kry sy ‘n jetski? En toe hardloop ons. Ons ken moeilikheid as ons dit sien.
By Mtwalume se strand waar hulle die vissersbootjies lanseer, staan en spring Una op en af van opgewondenheid. “Ek gaan ook ‘n beurt kry wanneer Virgo terugkom!” gil sy haar vreugde uit. “Dis baie beter as ‘n lilo”.
Ek stamp aan Perdebytjie en beduie sy moet haar mond toemaak voordat haar onderste kaak seesand skep. Ons rek ons nekke om te kyk waar die res van die geselskap is en sien vir Bondels en Woordnoot op kampstoeltjies sit met hulle voete in die golfies. “Wel, hulle is tenminste veilig”, sê Scrapy.
“Nee hulle is nie, die gety is besig om in te kom”, kreun ek my ontsteltenis uit. “Gaan sê vir hulle om hoër op te skuif”.
Ek en Perdebytjie draf verby na die getypoel toe waar die golwe reeds oor die mure slaan. Daar in die middel van die poel speel hulle waterpolo of iets soortgelyks: Trommeltjies en Frannie aan die een kant teen Lekkervurig en Seegogga. Hulle kyk nie eens na die golwe wat dreig om oor hulle koppe te breek nie.
“Julle moet klaar speel en uitkom”, skree ek van die kant af.
“Nee, watwou, ons is besig om te wen”, skree Trommeltjies terug.
“You wish!” reken Seegogga, “jy tel maar sleg”.
Ons het ‘n probleem. Ek kyk rond vir ‘n lewensredder en sien … vir Lorenzo. Dankie tog. “Kry hulle uit die water voordat die gety hulle oor die poel se muur trek”, sê ek. Gelukkig laat hy nie op hom wag nie en swem in om die Towerinne uit te bring, sommer so een onder elke arm.
Bedaar senuwees. “Maar Hester,” sê Perdebytjie, “vermis ons nie iemand nie?”
Ons hou kajuitraad daar op die strand en tel weer ons skapies. Twee met vlieërs, twee met jetskis, twee met hulle voete in die water en Scrapy wat besig is om hulle uit te jaag. Vier in die getypoel. Ek en Perdebytjie. Dertien. “Toortsie”, fluister ek. “Toortsie!” gil Perdebytjie. Ek voel hoe my hartslagaar verkrummel van vrees. Verdrinking. Ontvoering. Aanranding. AMBULANS!
“Toortsie cooks”, sê Lorenzo ewe rustig. WAT? “Cooks. Food”. Meerdere pare oë gluur hom aan. “I go search”, sê hy en gaan aan die draf, terwyl die res van ons moeg en bekommerd begin om die Towerinne bymekaar te skraap en begin aanstap in die rigting van Sugar Beach.
Mtwalumerivier Dryf rivier af Ski met ‘n vlieër Windvlieërs Jetski Voete in die water Getypoel met hooggety
Terug by die gastehuis vind ons vir … Toortsie en die res van die volgelinge onder die bome. Sy verduidelik dat sy vir Lorenzo gevra het om die boodskap af te gee dat sy gaan omsien na die slaaie en bykosse vir vanaand se ete; sy weet mos dis nie Hester se fortè nie. Lorenzo kyk ons leedvermakerig aan; hy hèt mos die boodskap oorgedra. Ek voel nie eens lus om hom te klap dat hy kan bykom nie. Toortsie is veilig en dis al wat tel.
Laat namiddag bring die manlike geslag in die ander twee busse hulle kant en braai vir ons vleis in die pragtige piekniekarea onder die bome. Al die bekommernisse is vergete en vergewe en ons kuier ‘n hond uit ‘n bos, ten spyte van die Natalse muskiete wat dreig om ons weg te dra.
Nie lank daarna nie het die dag se son en oefening sy tol geëis en ons is bed toe.
Maar my ooglede was nog nie mooi op mekaar nie, toe word ek sonder seremonie wakkergeskud. Iemand speel met sy lewe. Ek hou nie daarvan om wakker gemaak te word nie LIEWE HEL waar kom al die eet- en drinkgoed vandaan? Die Towerinne staan daar met groot breë glimlagte en kondig aan dat dit tyd is vir ‘n Middernagfees.
Scrapy deel energiedrankies uit en daai Frangelicoman – wat soek hy in ons slaapkamers? Hoe later hoe kwater en die aanvanklike onderdrukte giggels ontaard in ‘n kabaal wat die hele dorp gaan wakker maak.
Ek gaan nie vertel wat se stories daar uitgekom en waaroor ons gesels het nie. Ek hoop niemand lap dit uit nie. Eers toe die eerste daglig deur die vensters begin skyn het (sonop is ongeveer vyfuur in hierdie geweste), het die Towerinne teruggesluip bed toe.
Déjà vu. My twee ooglede is nog aan mekaar vasgeplak toe ons geroep word vir ontbyt. Ek weet nie of ek wil eet nie, maar twee Panados sal in orde wees. My lyf kreun, maar ek is die gasvrou en moet die voorbeeld stel.
Die Panados doen hulle werk en die ontbyt is heeltemal te lekker om te laat verbygaan, maar ek is nog so vaak … ek sal maar in die bus moet slaap: ons is op pad na Lake Eland in die Oribi Gorge toe vir die dag.
Gaap. Nee! Julle kan nie aanhou om my wakker te maak nie. Ek is nog so aangetas deur al die gebeure van gister, ek kan nie hierdie blog klaarmaak nie. Het julle geen simpatie met ‘n ou vrou nie? HIERDIE BLOG VERVOLG. Môre.
travel460
Laat ek net eers ñ stukkie lag…☺☺☺☺☺☺
HesterLeyNel
Ja, ek kan ook nou lag, maar my senuwees was rou, sê ek jou …
travel460
Kameel wat ski, ai, dit was nou ñ mooi gesig. En sy het gestraal onder die blonde instrukteur se aanmoediging! Virgo, wat de hel, jy het daai jetski hanteer asof jy op ñ yslike motorfiets sit. Well done!
HesterLeyNel
Jammer dat jy jou beurt misgeloop het!
Kameel
Una ek konnie wag om by die see te kom om my brander te ry nie….maar hierdie het my grootste drome oortref!!! Was ek ‘n digter het ek nou ‘n gedig daaroor geskryf. 😍
HesterLeyNel
Kameel het oor die branders gebons
En hoog in die lug gesweef
Dit was ‘n meesterlike kotiljons
Die soort wat ons net in drome weef
Kameel
Ag dankie….my eie gediggie ❤
Waar kom jy aan kotijons? El laaaaik!!
HesterLeyNel
Cotillion (‘n Franse dans) wat die boere verafrikaans het.
VirgoC
:):):):):):)
VirgoC
Mammie laat nie op haar wag nie…
travel460
Woordnoot en Bondels met hul voetjies in die water…? Jy weet hulle het planne beraam vir die aand se middernagfees, nè Hester. Hulle skuld dat daar alweer moleste was, ek sê jou. Sjame, en nou moet jy en manlief en Karin alweer trek…Ai.
HesterLeyNel
Nee, gelukkig nie – dit was baie versigtig beplan. Elysium was ons heel eerste woonplek aan die Suidkus. Ons het reg langs Sugar Beach gewoon en elke dag daar rondgekuier vir twee jaar terwyl hulle besig was om die plek te omskep in die lushof wat dit vandag is. Ons is daar weg nadat Jac ‘n ligte beroerte gehad het en nie meer die trappe en heuwels kon op- en af klim nie. In my hart bly dit nog steeds Paradys.
VirgoC
LOOOOOOL
travel460
Die vier wat so lekker waterpolo gespeel het, wie het gewen? Want ek het gaan tel, een van Frannie se broodjies is missing… Was daar alweer gewed? Terwyl ek nou so ewe besig was om ñ sport te be-oefen. Sies.
HesterLeyNel
Nee, wie sal weet? Hulle stry nog steeds, maar ek het ander planne vir die diamantjies.
woordnoot
EK WIL NET HIER BLY!!!! LOS MY NET HIER! EK GAAN IN DIE BOSSE WEGKRUIP!!!
Bondelsgedagtes
Sê ek ook Woordnoot….watsege planne maak, bollie man ons is onskuldig. Sit net hier neffens…
travel460
O nee, daar is niks onskuldig aan julle nie. Niks.
Bondelsgedagtes
Hi Una ek is my ma se soetste kind…
VirgoC
Bondels jy is ook haar een met die grootste verbeelding….
Bondelsgedagtes
wel, dan moet ons werk maak daarvan….
HesterLeyNel
… die watertjies totdat daai groot brander jou wegsleep 😄 Hier rond is ons maar versigtig vir die onderstrominge. Ek is meer as een keer reeds “gedoop”.
woordnoot
Ja nee Bondels…ons mind ons eie besigheid…nou is ons alweer ini sop
Bondelsgedagtes
Hulle moet ‘sop vir hulle😋
HesterLeyNel
Ek weet presies wat jy bedoel 😄
travel460
☺☺☺Nogal in die bosse!
woordnoot
Ja!!! Soos n regte egte Eva
HesterLeyNel
Saam met die hordes ape wat ook daar woon en ‘n pes van hulleself maak !
Rob Alberts
In Bangkok zat ik voor 3,5 Baht ongeveer 4,5 uur in een vooral stilstaande bus door een file.
Maar ook daar heb ik van genoten.
Vrolijke groet,
HesterLeyNel
Dit het ons oorgekom in Port Louis, Mauritius. Ons het afgeklim en sulke kort entjies om die bus geloop om alles te bekyk. Genot vind jy op onverwagte plekke.
Bondelsgedagtes
S.A.L.I.G.!!!! hier wil ek bly, baie dankie Hester..
Maar sjoe, het ek nou lekker hier langs die kant gesit en lag vir julle manewales…..
travel460
Gesit en uitrus omdat julle planne gemaak het.
Bondelsgedagtes
Nee net gerus Unatjie…😋
HesterLeyNel
😄 Ek dink die eerste ses maande wat ons daar gewoon het, was ons voete permanent in die water.
Bondelsgedagtes
Myne sou ook gewees het, lafenis vir die helle lyf en sommer gemoed
Bondelsgedagtes
Virgo, wow jy het lekker op daai jetski baljaar. Ek kon nie glo watse esse jy gooi en almal natspat nie. Oe ek het lekker gelag al was ek ook sopnat
HesterLeyNel
Ek was skoon jaloers toe ek nou agterna daaraan gedink het.
Bondelsgedagtes
Janee dit het so lekker gelyk ek moes mooi dink en kies. Stilsit het gewen…
VirgoC
Volgende water “gat” wat ons trek gaan jy vir ‘n lift Hester..
HesterLeyNel
O hel nee, ek is ‘n senuweeagtige passassier
VirgoC
Moenie worry nie, met al die kokoksies wat die klomp maak om te drink is dit gou oor..
HesterLeyNel
😳
Bondelsgedagtes
Kameel, jy het my so verras met jou gevliegery. Ek dog na die valskerm fiasko is niemand lus vir die lug nie
Jy is my heldin
HesterLeyNel
Het Kameel nie juis gekla dat sy aan hoogtevrees ly nie?
Bondelsgedagtes
Versta’ djy????
VirgoC
LOLOLOL
Bondelsgedagtes
😁
Kameel
Ek het Hester mooi gevra of ek groot seblief ‘n brander kan uitry wanneer ons by die see aanland. Toe moet ek hoor ons mag nie in die see ingaan nie… verbeel jou….moet in ‘n getypoel swem. Vir ‘n diamant…ag ek bedoel die diamant van ‘n jong adonis was meer dan gewillig om my brander te laat ry. Ek was so opgewonde dat ek skoon van hoogtevrees vergeet het. 😎
Bondelsgedagtes
Janee Kameel dis net so erg soos om Dullstroom deur te ry vir niks…
Kameel
Presies Bondels, nou verstaan jy hoekom ek ‘n diamant se prys betaal het om daardie brander te vlieg…ek bedoel ry.
Bondelsgedagtes
🤣🤣ek bewonder jou durf sowaar
HesterLeyNel
En die feit dat daar nie haainette is nie 🤔
Kameel
Not to worry…ek het heel veilig uitgekom 🤗
Bondelsgedagtes
Janee Kameel dis net so erg soos om Dullstroom deur te ry en vir niks te stop…
Bondelsgedagtes
Una het jy jou beurt geniet????
HesterLeyNel
Ek dink sy is weggeraap voordat haar beurt aangebreek het
Bondelsgedagtes
O koek jy gaan moet troos…..
HesterLeyNel
Sy sal nog avonture beleef
Anonymous
Iets het gebeur voor ek my beurt gekry het…
Bondelsgedagtes
Hopelik kom daar nog n kansie…
Bali Drome
Nou het ek skielik anonymous geword… Mooi man.
HesterLeyNel
En nou is jy Bali drome sonder ‘n foto. Hou moed – jy is besig om terug te keer van waar jy ookal rondswerf.
Toortsie
Ek hoop nie ‘n seestroom het haar gegryp nie!
HesterLeyNel
Sy raak so van tyd tot tyd weg maar ek weet al as “Someone” kommentaar lewer, is dit altyd Bali Drome.
Toortsie
Liefste Una. 😁
HesterLeyNel
Jy is nou “Someone” hier by my Una
sonell
Gedorie tog! Mens kan julle ook nerens heen vat nie. Hahahahahaha!
HesterLeyNel
Nou weet jy dan uit ondervinding …
sonell
Hahaha! Behoorlik. Mens kan sien ek is nie daar nie…
HesterLeyNel
Ja, dalk sou jy die orde kon gehou het. Of sake nog verder aangeblaas het.
sonell
Die laasgenoemde klink na meer pret. Hahaha!
lekkervurig
In die mooi omgewing het ons gesin so drie Kersfese gelede besoek. By ons liefling nefie se strandhuis Bluewaters op Hibberdene so lekker gekuier. Dis mooi wêreld. Ag en die see en die son!
Ek is so bly Lorenzo is so sterk. Is hy op USN of wat dat hy sommer so gewigte ekke en nog iemand uit die water kan sleep? Was maar ook net betyds, want my swemvlerkies wou nie meer nie…hehe!
Die middernag partiekie kan ek so vaagweg onthou. Moes alweer na die Panado’s gryp. Jy sê ons op pad Oribi toe….o my vy! Dis bebos en hoog. Goete wat Towerinne weer vele avonture gaan gee! Dankie vir die mooie verblyf!
HesterLeyNel
O die son, as die son net wil skyn. Ek en ou buurman hier langsaan gesels noual oor vergange se dae toe ons nog seeweer gehad het. Tot dusver nog geen teken daarvan dat die reën en veral die wind gaan wyk nie – nog nie nie ‘n toon in die water gehad nie. Lorenzo is ‘n sterk outjie, jy kan maar sy spiere vertrou, weet nou nie van die bymiddels wat hy inneem nie. Dalk drink hy skelm van my kefirmelk.
lekkervurig
Vertel van daai melk……
HesterLeyNel
Probiotics. https://www.healthline.com/nutrition/9-health-benefits-of-kefir
Ons maak ons eie kefir melk en roomkaas met vars melk wat ons by ‘n melkdepot koop. Gebruik dit in souse, maak smoothies en chip dips daarmee.
lekkervurig
Ag, ek laaik om iets nuut te leer. Dankie. Ek gaan op lees, my gesin is op die smoothies eksperimenteer.
Bondelsgedagtes
Dit maak ook lekker roomys….
HesterLeyNel
Dis jou USN (whey milk) wat my nou daaraan laat dink het.
Kameel
Jou swemvlerkies Lekkervurig…..ek sien die prentjie 😁😁😁😁😁 Ook vir Lorenzo met julle onder die arms. Ag eintlik is dit skreeusnaaks. Dink nie hy het besef waarvoor hy hom ingelaat het toe hy die Towerinne se busbestuurder geword het nie.
lekkervurig
Nee kyk, die arme man is die eerste ‘multi-tasker’ wat ek al teëgekom het. Hy moet sy hardloop ken! Ek het maar die oomblik geniet so onder sy arm vas geknyp, gelukkig vir hom het die water my ligter gemaak vir die oomblik….bwahaha! 😉
HesterLeyNel
Dalk is hy regtig ‘n lewensredder. Ek sien die jong outjies met die rooi speedo’tjies wat hier toesig hou, het almal sulke maer wilgerlatlyfies. Maar hulle kan ‘n barshou swem as dit moet.
perdebytjie
O, dit was nou heerlike pret, veral die drywery in die rivier af see se kant toe! Hoe jaloers is ek nou dat Lorenzo my nie ook onder ‘n arm vasgeknyp het nie. Daardie middernagtelike fees het my tussen die oë geslaan. Ek gaan ook ‘n uiltjie knip op die bus oppad na Oribi Gorge.Wonderlike wêteld, Hester…dankie vir die bekendstelling en heerlike verblyf.
HesterLeyNel
Ek is bly jy het dit geniet. Lorenzo word nou ‘n regte staatmaker en redder van Towerinne – ek is seker jy sal ‘n beurt kry.
perdebytjie
😄
Toortsie
Ag, maar jy is skerp! Dankie dat julle my darem gemis het 😊
HesterLeyNel
Natuurlik het ons!
Toortsie
Al die sportiewes het my bewondering!
HesterLeyNel
Myne ook, haha, ek sien myself nie ski of waterpolo speel nie.
Toortsie
So bly jy het my dít nie aangedoen nie, ek sou die see leegdrink!
HesterLeyNel
Ek het ook al ‘n paar groot slukke gevat.
Toortsie
Mauritius se see was leeg nadat ek daar was.
woordnoot
Ek en Bondels het baie lekker rustig gesit en gesels oor Naked Cakes…heel onskuldig. Ons het net die kalm see geniet want ek is maar sleg met enige sport aktiwiteit…is mos maar ;n gebore boekwurm en couch potatoe. Kon darem die ander se genot waardeer…. maar tussen ons…daar het maar ‘n paar idees uitgebroei rondom die toer en die towerinne. Maar as ek nou te veel sê, is die pret daarmee heen! Maar ek moet julle komplimenteer. Na daai Ma se ete van Toortsie het ons gewonder of julle nog lus sal wees vir marie koekies, kondensmelk en sardientjies. Julle was ware sportmanne…of is dit nou vroue? Askies dat dit aand weer hande uitgeruk het. DIs daai klomp manne wat alles so bedons. Ek en Bondels wou net in ons pajamas sit en kuier….
HesterLeyNel
Naked Cakes? ? O, oukei, ek het op die internet gaan kyk en dit lyk onskuldig. Wel. Kondensmelk en sardientjies – dis geen wonder die sooibrand het my so opgekeil nie.
woordnoot
Ek dink dit was in die Maasdorp reeks waar hulle in die koshuis middernagfees gehou het met kondensmelk en sardientjies…kan eintlik nie meer onthou nie, maar dit klinks so middernagtelike feeserig
Bondelsgedagtes
Ja ons sal maar niks sê van mense wat die sardientjie in die kondensmelk wou druk nie….natuurlik salit sooibrand gee. …eeeuw
HesterLeyNel
Dis net koshuiskinders (en Towerinne) wat so ‘n kombinasie sal bedink.
VirgoC
Gelukkig het hulle nie dit in die ou Transvaal koshuise gehad nie, ek sou seker weg geloop het ek sweer
HesterLeyNel
Kondensmelk is ‘n ander saak. Hou dit net weg van my af asseblief.
VirgoC
Bly by una, jy sal nie eers daai blikkie ruik nie. Jy staan geen kans met dit nie
HesterLeyNel
Ek weet sy het so ‘n besonderese liefde vir die ou soet spulletjie.
VirgoC
Kondensmelk en Sardiens….Pardon??
Kry ek nou so nare terugflits na my ma toe met daai haatlike Radiostasie “Vrouerubriek”. Sy het daaraan geglo soos die Bybel en hulle mos eenkeer gesê hoe gesond is Sandientjies en met die beentjies in (ek voel sommer klaar groen). Wel, danksy hulle, het ons klokslag een dag per week so bleddie toebie gekry. Ergste was as jy hier by Donderdag kom en jy weet môre is die dag van daai broodjie….)
HesterLeyNel
Haai, ek vrek oor sardientjies en ek doen ook nie moeite om die ruggraatjies te verwyder nie, Baie goed vir cholestrol. Jou ma was slim.
VirgoC
Is ek seker die enigste mens in die woestyn nou met hoendervleis op my arms…. En ja, sy lag nou lekker op haar wolkie hieroor
HesterLeyNel
Het jy nie geweet nie? Ma weet ALTYD beter. Ek predik dik dit heeldag vir my kinders. 😀
Kameel
Nou is ek baie bly ek weet niks van daai middernagfees nie. Maries en sardientjies 😣 As ek dit geeët het weet ek gelukkig.niks daarvan nie. Sou julle kondensmelk weggeraak het lê die skuld voor my deur. Ek sal kondensmelk in my slaap uit die blik uit drink. Aan Scrapy se konkoksie vat ek nie weer nie…energiedrankie se voet…daardie goed skop jou onderstebo!!!
HesterLeyNel
Jy sal met Una moet kompeteer vir kondensmelk
Positief
Dankie tog ou Broodina het die klein dorpie gemis, sy vlieg nog in die vuurpyl rond, hoop ek.
Ek wou nog altyd ‘n vlieer gevlieg het, nog ‘n ding af van my bucket list af, dankie
Middernagfees met al Toortsie se lekker goed en Frangelico klink na groot pret, ek gaan nou ook maar so rukkie moet slaap op daai bus
HesterLeyNel
Ja daai dorpie is so klein, sy sou soos ‘n seer duim uitgestaan het. Ons het baiemaal daar rondgeloop op die strand sonder om ‘n enkele mens te sien.
Lewies Mymer
Elysium sal nie weer dieselfde wees nie!
HesterLeyNel
Ek moet ongelukkig saamstem
Kameel
Ek het nou lekker gelag vir die Towerinne wat jou so laat hardloop 😁😁😁 Dankie Hester dit was heerlik. My branderry was beter as wat ek ooit kon droom!!! Is jy seker ek was by die middernagfees…my oë val negeuur al toe?
HesterLeyNel
Ek is ook ‘n “9-uur is slaaptyd” persoon, maar met sulke raserige geselskap … jy het seker maar in jou slaap geloop Kameel.
Kameel
Was altyd ‘n later hoe kwater persoon…maar die ouderdom maak jou weer ‘n babatjie. Ek het laas ook mos uitgepass van Scrapy se konkoksie….nie my les geleer nie. Gelukkig darem nie in die tronk wakker geword nie. 🤔
HesterLeyNel
Gelukkig, ja.
Bondelsgedagtes
Hester, nikse ge 9 uur slapery met jou nie. Ek slaap gewoonlik nog vroeer as dit as ek my sin kan kry maar siende dat jy aan die begin vd toer vir my loop vertel hrt ek moet my kussing maar bere vir heelwat later, moet jy nou maar saam wakker bly. Maar dit het nie gelyk of jy sukkel nie hoor…😋
HesterLeyNel
Sjuut! Jy moenie alles oorvertel nie.
Bondelsgedagtes
Dis omdat jy die kondensmelk en frangelico so bly meng en toets het Kameeltjie.. snaaks jou kop makeer niks…
HesterLeyNel
Hahaha, daar kom die waarheid nou uit!
Kameel
Ek het ge WAT?????? Bondels ek preek al van Toweropstal se tyd oor die Frangelico wat so vrylik vloei tussen die towerinne. Nou kom staan en vertel jy my ek het meegedoen. Ek het Scrapy se energiedrankie vertrou….maar nadese sit ek my mond nie weer daaraan nie. Van nou af drink ek net water, en klim negeuur in die bed.
Bondelsgedagtes
Hahaha, nope ons sal jou nie toelaat nie…
HesterLeyNel
Camilla ook?
Kameel
Ek vat geen verantwoordelikheid vir Camilla nie….sy het wil van haar eie 😗
HesterLeyNel
🤣
VirgoC
Ek moet sê, ek het baie lekker gelag nou, dankie Hester. Ek sweer ek kon jou sien in jou skrywe, dit was awesome.
HesterLeyNel
🤗
trommeltjies
Ek wil net sê, hoor my mooi, ons het gewen, finish en klaar!!!!!!!!
Oe, daai Lorenzo laat ń vrou darem soos ń vrou voel, selfs al knyp hy jou so onder die arm vas.
Perdebytjie se konkoksie doen snaakse dinge aan ń mens. Wat is daarin wonder ek? Kan g’n snars van mariekoekies, sardyne of kondensmelk onthou nie, net van Woordnoot wat buite sing: Liewe maan jy seil tog so langsaam……💬🎼🎼🎼🎼
HesterLeyNel
Whahaha, ek het daai sanguitvoering gemis. Wel, ek is bly om te hoor julle het gewen – nou weet ons wie sit met die diamante waarvoor julle gewed het.
trommeltjies
My lippe is geseël. Diamante, watter diamante??
HesterLeyNel
🤪 Ja sjuut, moenie eers asemhaal oor die diamante hier in die publiek nie. Ons gesels later weer daaroor.
trommeltjies
Dis in Frannie se bekwame hande soos altyd.
trommeltjies
Wil ook net vra, waar was Una tydens die middernagfees, want as sy daar was sou sy die kondensmelk gegryp het. My gevolgtrekking is dus, sy was nie daar nie????
HesterLeyNel
Ek het nie tred gehou nie, maar jy kan reg wees – al wat ek onthou is die hengse sooibrand en kopseer.
Kameel
Hester ek raak bekommerd…lyk my niemand onthou die middernagfees nie. Iemand moes darem ‘n ogie gehou het dat ons veilig is, en netjies in die bed gesit, en mooi toegemaak word. 🤔
HesterLeyNel
Lorenzo? Dis ‘n aangename gedagte, dink jy nie so nie?
Kameel
Hester jy sal moet praat…WAT van Lorenzo?
HesterLeyNel
Hy was van groot hulp en dis AL wat ek gaan sê.
Kameel
Seker om ons spul bed toe te dra, sjame 😩
HesterLeyNel
Dit veral ja
HesterLeyNel
Natuurlik onthou iemand daarvan – ek 😡 Ek probeer gewoonlik wegbly van daai man met die monnikjas. Maar ek vertel liewer nie oor nie …
Kameel
Vertel dat ons hoor!!!
HesterLeyNel
Nope! Ek kan nie cope met rooi gesigte en skuldige gewetes nie.
Kameel
😨
Abrie Joubert
😉 Ek stamp aan Perdebytjie en beduie sy moet haar mond toemaak voordat haar onderste kaak seesand skep 🙂
Rus? Klink asof julle wesenlik uigerus was na daai dag
Ek vermoed die Towerinne het aspris in die dieper wordende water rondgehang sodat Lorenzo hulle kon uitdra…
HesterLeyNel
Ja, ek het van die begin af gesê ons moenie ‘n man op die bus toelaat nie, maar Camilla, jy weet, is soos ‘n heuningpot.
aj vosse
die wereld sal nooit weer die selfde wees nie!!
Pasop vir die haaie… en seekoeie!! Hulle byt seer…
O-ja… en al daai mambas wat daar inni bosse bly!
🤣😀🙄😂😎😁😈
HesterLeyNel
Ons het darem nie seekoeie nie!
aj vosse
Maar… julle het rivier koeie!!
HesterLeyNel
Jy meen wanneer ek daar in die rivier swem?
aj vosse
Nee… ek is nie ‘n lelike mens nie… ek praat van al daai swart koeie met die lang horings wat ek al op jou blog gesien het!! 😉
HesterLeyNel
Hulle word opgepas soos goud, sê ek jou. Daai koeie is ‘n fortuin werd deesdae. Ja en jy is nogal reg, hulle woon gewoonlik naby die riviere,
Tokeloshe
Pragtige fotos, veral die gety-poel en wat ‘n heerlike gastehuis.
Ek het lekker gelees 😉
Geniet dit ♥
HesterLeyNel
Dankie vir die saamlees Linda