My vreugdes en frustrasies

My eiers

Om by ‘n dam te kuier is ‘n heerlike belewenis

Map of Rietvlei Dam

Map of Rietvlei Dam

Una, ek het baie, baie lekker gekuier saam met jou en die Towerinne daar by die dam. Dis nou ‘n kuier wat my nog lank gaan bybly. Almal het reeds so uitgewei en verslag gedoen oor die kuier dat ek maar net my kop hoef op en af te knik. Maar ek wil darem net gou vir jou ‘n bietjie vertel van my eie ondervindinge by ‘n dam, jare gelede.

Ek het in my jonger dae baie Saterdae by ‘n dam omgekuier, meer dikwels as wat ek eintlik wou. Om die waarheid te sê, ek het blitsvinnig uitgekuier geraak met die gekuier by die dam, om verskeie redes. Ons het destyds in Pretoria gewoon en al die kuiery het plaasgevind by die damme in die omtrek, waarvan Hartbeesfontein een was, maar Rietvleidam is die een wat in my geheue vassteek. Met rede.

Vrydagaand se koorsagtige voorbereidings vir die volgende dag se dam ekspedisie: die potjie mieliepap wat op die stoof staan en aanbrand. Die doepa wat bygevoeg word: heel mielies, sardientjies, vanilla essence of wat ook al die geur van die dag was. Saterdagoggend die kar wat gelaai word: dop, vleis, braairoosters, opvoustoele, grondseiltjies, water en boeke (laasgenoemde my bydrae). Ek weet nie hoe lyk dit deesdae daar by die dam nie, maar 40+ jare gelede was die koeltebome maar skaars en vir diegene wat nie visvang of dop steek nie, was daar nie veel te doen nie. Dus, die boeke.

Nog voordat die eerste vislyn met die kano ingeroei is, was die dop en mieks reeds gegooi en die manne gesels net vis. Daar sit hulle in die son, nat sakdoeke waarvan die vier hoeke geknoop is op hulle koppe, glas in die een hand, sigaret in die ander en oë wat stokstyf staar na die “pappie”. Die pappie is die bolletjie stywepap op die vislyn wat op en af wip wanneer daar ‘n byt aan die lyn is.

So teen die middaguur trek die verveelde meisies hulle lywe al hoe skraler om in die skaduwee van ‘n enkele ou boompie in te pas. Mattys* het hom eendag vererg vir sy meisie omdat sy haar hare te kort gesny het na sy sin en hy het haar beveel om in die son te sit sodat haar hare vinniger kan teruggroei. Verder was die geselskap tussen die hengelaars en hulle metgeselle was maar bra sporadies.

Einste Mattys het altyd so agteroor in sy stoel gelê en gesing het terwyl hy gewag het vir die vis om te byt: “Sêra, Sêra Waaikant, lê met jou ….kant daaikant”. Volgens oorlewering was Sêra Waaikant ‘n baie bekende wit prostituut van Rundu. Dit was in die dae van die grensoorloë en hierdie was ‘n weergawe van die gewilde liedjie onder die voormalige soldate wat in die Caprivi strook geveg het.

Een van die hengelaars sou hom mettertyd verwerdig om ‘n vuur aan te steek vir die vleis om gebraai te word. Tydelike oplewing onder die koelte boompie. Enigiets om hierdie dodelike verveling tot ‘n einde te bring.

Toe breek daar ‘n dag aan wat heel voorspelbaar die laaste braai langs die dam ingelui het. Die vuur is aangesteek, maar daar was geen braairoosters nie. Nie eens ‘n enkele een nie. Kollektiewe geheueverlies moes die rede gewees het. Daar staan almal rond en wonder hoe om hierdie dilemma op te los totdat Willem* opvlieg en naderstap: “Kom ek wys julle hoe braai ‘n army-ou op die grens.” En met dié skop hy twee van sy Fort Cortina se wieldoppe af. Swiesj, swoesj deur die damwater en minute later lê die hubcap-tjops op die vuur.

Die volgende Saterdag het ek gaan fliek. En al die Saterdae daarna.

* name verander om verstaanbare redes


Die kuier daar by Hartbeespoortdam was ‘n belewenis van heel ‘n ander aard. Dankie, Una en Bertus, dat julle ons so heerlik onthaal het by die dam daar in die Noordwestelike provinsie.

Om die bydraes van die ander bloggers te lees, kliek op die volgende InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

Follow Dis Ekke

50 Comments

  1. Lekker man! Ek het visvang ondervinding by Doorndraaidam opgedoen saam met my swaer en suster. Nou nie rerig my cup of tea nie.

  2. Ek et ook al by Harties gaan kamp!
    Soos jong lugmag latte maak… van vis… en braai… en van nog vis, en braai nog… en maak die karevaan skoon… en vang nog vis! LEKKER!!
    🤣🤔🙃😜😂

  3. Jou dam storie is baie bekend – ek verpes dit ook om dieselle redes.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis nou sommer ‘n cheap date.

      • Ek onthou ‘n Rietvly braai met my varisty outjie en ons maats. Die een outjie het met sy langbroek en kerkskoene opgedaag. Siestog. Die res….dis maar te damduikerig om oor uit te brei.

  4. Ek het dit nou geniet Hester. Dit bring net baie herinneringe terug. My eks en sy pa plus ses broers was almal ywerige hengelaars. Ek het myself eendag amper aan die brand gesteek… gelukkig kon ek vinnig genoeg die brandende handdoek om my afruk. Dit was my goodbye aan die viswaters.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Oeps! Nee kyk, ek vang nie eens vis hier by die see nie, maar hier gee ek nie om as die hele familie met die stokke rondstaan nie. Ek loop my eie koers in.

  5. Rietvleidam is nogsteeds aan die gang met lieflike piekniekplekke, en ‘n lodge…. en koeltebome 😊

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het bietjie op Google gaan kyk en sien dat daar nogal moeite gedoen is. Ek sien ook dat die stad baie nader getrek het aan die dam – in ons dae was dit ver buite die stad en afgeleë.

      • Ja, die dam is nou maar deel van die omgewing. Alles is besig om toegebou te word… en dan volg die plakkerkampe agterna.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Maar die dam is geleë in ‘n natuurreservaat so die bebouery / beplakkery kan darem nie daar indring nie, of hoe?

        • Nee, gelukkig nie. Net skuins oorkant die een ingang is daar ‘n groot mall. So die dam voel maar soos deel van die omgewing. Die pad Irine toe is nou bebou en baie besig.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek sien so. Ek het in Pretoria gewoon (Sunnyside, Prinsloostraat en Pierre vanRhyneveld) van 1972 tot 1981. Ons het baie in Irene gekom. Van toe af het ek net ‘n paar blitsbesoeke daar gedoen en sal glad nie meer die wêreld herken nie.

  6. Hester, het ons Towwerinne niks pret by Pretville gehad nie? Niemand rep ‘n woord nie…ek het seker gedroom van die Diner, die Eiffel Toring, die glimps wat ons van ons van Hollywoodster gehad het?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee, niemand praat iets nie en ek ken nie meer daardie wêrelddeel nie. Was laas daar voor die runderpes. Dalk moet jy maar vertel?

  7. 😀 Hier bevestig jy nou al my duistere vermoedens oor visvang byrie dam…

  8. Vrolijke wandelgroet,

  9. As ek daai ou se meisie was wat in die son moes sit het ek hom sommer net daar soos ‘n warm patat gelos.

  10. Pappie lief ook die viswaters, maar ek het van dag een af, viervoet vasgesteek!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Slim vrou! Daar was baie dinge waaroor ek vandag spyt is dat ek nie eerder my voet neergesit het nie. Ek het my dogter beter geleer.

      • Mens leer maar so met die tyd. Ek hoop my dogters het ook iets hiervan by my geleer.

  11. Ek het jou skrywe nou so geniet, Hester! Dis heerlik as ons ons stories so uitdeel, ek vir een waardeer dit baie. Ek ken hierdie visvangstories, dis asof ek saam met julle was.

  12. Dit was heerlike lees en onthou die. Moet sê ek myself was altyd mal oor visvang, soos in self, daai “polisieman” (pappie) self so stip dopgehou. Die res van die visvang bedryf en aktiwiteite verveel my gou en van sonsit kry jy my nie naby nie, kyk eerder hoe raak verf droog. Ons het as studente so by Bronkhorstspruitdam gaan kamp… die 1 of 2 tente tussen die 8 mense was nagmerrie en ek het baie in my Beetle geslaap. Ek onthou einde van die maand se kar asbakkies leegmaak en sente tel vir ingangsfooie☺, maar kamp- die doen ons

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek is nie uitgeknip vir die kamplewe nie. Ek wil nie mense heeldag om my hê nie en dan is ek ook ‘n geheelonthouer – spoilsport, ja ek weet, maar misbruik van sterk drank in my nabyheid laat die bitch opstaan en brul. Ongelukkig het ek die indruk gekry dat die visvang tweede op die ranglys van aktiwiteite was; om te drink was die eintlike doelwit. Sommige mense ken nie hulle eie mate nie en my humeur is nie taktvol nie.

      • Dis baie waar wat jy sê, ongelukkig raak dit 2e tot baie dinge. Aktiwiteit self is heerlik. Kamp…jong, ek nie ‘n maklike kamper nie, wel nie meer nie. Maar as ek my “goedjies” het, heel ok. Ek wil weet ek kan na my eie plekkie gaan en hoef nie heeltyd te entertain nie. 🌻

  13. woordnoot

    Die enigste keer wat ek so saam gegaan het op ‘n visvang trippie, het een van daai wurms met die baie hare wat mens brand op my geval en het ek binne minute begin opswel. Pappie moes als los en hopsitaal toe jaag. Van toe af het ek kwytskelding gekry.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      O nee! Dit moes ‘n nagmerrie gewees het.

      • woordnoot

        Dit was nogal sleg…

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Hier’s jy ook in my spambox, wonder of WP ‘n aksie teen die Towerinne het?

        • woordnoot

          Eish…hoop nie so nie..ek het nou al vandag n paar swipez weg…ek gaan dalk net aan die grens gaan as hulle lelik is met my😢

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Een van daai dae, hè? Dit help nogal om soms te grens daaroor en dit uit jou gestel te kry. Ek het ook gister ‘n gaatjie in die grond gegrawe, ‘n bietjie gestel-gif daarin gespoeg en dit toe begrawe. Vandag is darem beter.

        • woordnoot

          Lol! Jip..een van daai dae. Moes 6u ORTambo toe gaan en ek het so spanning in my rug opgedoen want ek ry nie meer in sulke verkeer nie…so ek tjank vani pyn….jy sien. Dis omdat dit nie die Towerinne was wat ek moes gaan ontmoet het nie. Want as dit vir hulle was sou ek noual baie NZ skopdop en Franselekker ingehad het wat elke pyn sal laat waai!!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, die Towerinne se entoesiasme pomp jou energievlakke blitsvinnig op.

  14. My eks was ook ‘n papgooier van format, het tot vir Noord-Transvaal gehengel. Ek het die viswaters van kleintyd af gehaar, met die dat ek nie kan stilsit nie, so ek het gesorg dat ek iets anders moes doen, altyd

  15. Visvang is heeltemal buite my ervaringswëreld. Koppie Alleen was die visvangmekka hier by ons. Dis tans deel van die De Hoop Natuurreservaat, maar in my kinderdae het dit aan ons behoort. My pa het nie visgevang nie, so ons sou by Koppie gaan kuier, maar net soms gaan loer waar die ooms visvang. My man was ook nie ‘n hengekaar nie. Maar die mieks en diedrknks is maar ‘n realiteit by baaaaaie aktiwiteite.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      So dit was nog maar altyd jou wêreld daardie? My kennis van die suidelikste punt is maar baie skraps en dit ook net omdat twee van my halfsusters (pa se dogters) in die jare negentig daar gebly het. Een het ‘n huis in Struisbaai gehad vir baie jare totdat sy nou baie onlangs oorlede is. Die ander het òf in Bredasdorp òf in Napier gewoon. Kan nie meer onthou nie; ek het net eenkeer vlugtig daar gekuier. Jy sal aflei dat die familiebande maar baie lossies hanteer is 😊 Drank is my doodsteek; ek verdra nie die smaak, die reuk, of die uitwerking daarvan nie en ek gee nie om hoe seldsaam of duur daardie bottel wyn is nie. Ek drink wel so once in a blue moon ‘n ligte bier. Dis nie lekker om die enigste nugter persoon by die paartie te wees nie en ek bly liewer weg. Dit beperk nogal my sosiale lewe 😜

  16. Nee dankie vir visvang, dis nou nie my koppie tee nie. Daai stil sit en ń lyn dop hou, nee wat. Ek maak maar soos jy Hester, vat pad. Ek geniet kamp baie, ons kamp ook spartaans, in ń tent. Dis heerlik so na aan die natuur. Seker maar die voortrekker bloed in my are. Geniet dit die meeste by stil afgeleë plekkies. Hou ook nie van ń spul mense om my nie. Ek persoonlik dink jou keuse van fliek was ń baie beter keuse.

  17. Dit klink vir my of ek dalk anders aan mekaar gesit is as ‘n damduiker. Ai mis darem baie uit….

  18. Lees ek sommer weer hierdie stuk van jou en geniet dit van vooraf. Dis soos met ‘n boek…”n mens lees meer raak die tweede keer.