Dis al ‘n hele rukkie dat deelname aan die Uvongo Parkrun op ons lysie van “dinge om te doen” is, maar in die winter beweeg jy my baie moeilik uit die bed so vroeg in die oggend. Sowat ‘n maand gelede maak Toortsie toe daarvan melding dat sy ‘n Parkrun in hulle dorp meegemaak het en toe kon dit nie hoër of laer nie – ons moes registreer. Vir vier weke lank het ons gewag vir warmer weer en Saterdagoggend 06:30 het ons uiteindelik in die pad geval om die bul by die horings te gaan gryp.
Die Uvongo Parkrun vind plaas tussen die Mhlangarivier wat uitmond in die see by St Michael’s-on-Sea en die Vungurivier by Uvongostrand. Hierdie is twee van die gewildste strande op die Laer Suidkus van KwaZulu-Natal en die panoramiese omgewing is ‘n groot aantrekkingskrag vir toeriste.
Die 5km roete begin net langs die St Michael’s on Sea-parkeerterrein en lei na die Saints Walk graspaadjie langs die Orange Rocksweg, verby Orange Rocks, deur die kusreservaat op die grasrand tussen Staffordlaan en die see, en dan op die plaveiselbaan af na Uvongostrand. Die baan draai terug op die sand onder die kranse by die Uvongokloof en volg dan dieselfde roete terug na St Michael’s on Sea, waar ‘n ekstra 300m draai oor die strand gehardloop word tot by die eindpunt op die grasperk voor die C-Bali Restaurant.
Hierdie fotos van die twee riviere is geneem in Julie 2017, gedurende die hoogtepunt van die vakansieseisoen:
Saam met ons het nog 327 Parkrunners opgedaag, sommige met honde aan leibande of kinders in stootwaentjies. Daar was mense van heinde en verre: Alberton, Johannesburg, Kroonstad, Walkerville en Meyerton (daar in die Vaal Driehoek), ook van Kroonstad en ‘n paar daar van die Kaap se kant af.
Diegene wat die eerste keer deelnaam aan die Parkrun (onder wie ek en Karen) is geskei van die veteraandeelnemers en die ernstige hardlopers. Laasgenoemde het reguit oor die parkeerterrein in die rigting van Uvongo begin draf terwyl ons nuwelinge se “run” begin het op die Saint Michaels strand. Dit het ‘n bietjie ruimte geskep op die smal bospaadjie wat maar taamlik crowded kan raak wanneer die hardlopers begin terugkeer terwyl die groter stroom nog aanbeweeg in die rigting van Uvongo.
Ons het gewag totdat die laaste van ons groep oor die strand begin hardloop / draf / stap het en toe is ons agterna, heel agter in die koor en dis ook waar ons gebly het! want kyk, stap is een ding hardloop is ‘n perd van ‘n ander kleur. Ons het nogal teen ‘n taamlike vinnige pas beweeg, want ons wou darem nie heel laaste opdaag en die beamptes laat wag nie, maar ons moes tog fotos … haha. Kyk na die fotos hieronder wat op die pragtige roete geneem is. Hulle is geplaas in die volgorde waarin hulle geneem is op pad na Uvongo toe.
Op pad terug het ons die kameras gebêre en probeer om die agterste klomp lopers in te haal. Nà een uur en 4 minute het ons by die eindput aangeseil gekom, ek met ‘n oranje kappertjie wat ek langs die pad gepluk het as trofee agter my oor. Karen was nommer 318 en ek 319. Ek moet sê, ek verkies om teen ‘n meer gedrae pas te beweeg, so ek glo nie my Personal Best sal ooit verbeter nie, maar ons is nou vuur en vlam om elke Saterdag te gaan (as die weer dit toelaat).
Daarvandaan is is South Coast Mall toe om kruideniersware en ‘n nuwe selfoon te koop. Vaderland maar daardie Mall was Saterdagoggend groot – my tong het letterlik op die grond gesleep en ek moes eers by die roomysstalletjie gaan rus. Ons het eers teen middagete se kant by die huis gekom. Toe het ons begin regmaak om goeie ou vriende te ontvang vir ‘n braai. Het ek gesê dit was Karen se verjaardag? Ons het heerlik gekuier.
Teen negeuur was ek poegaai en in die bed. Halftwee (in die oggend, nè?) het ek wakker geword met twee kuite wat gelyktydig begin kramp het. Daar staan ek toe langs my bed en trippel soos wafferse perd om my spiere te laat ontspan. Met die krampe op hulle plek gesit, moes ek vinnig draf om my blaas gelukkig te hou en skaars was daardie takie afgehandel, toe slaan die ouma van alle sooibrande my en ek moes die trap afklim op soek na Enos. Terug in die bed het my neus toegetrek en ek het regop daar gesit en myself bejammer terwyl ek na ‘n audioboek op my ipod luister.
Dis toe dat ek besluit om die nuwe selfoon te bekyk. Met die druk van ‘n paar knoppies het ek (per ongeluk) op Youtube beland en ‘n bietjie musiek geluister, maar daar was fout met die klank en ek het die volume so ‘n bietjie oopgedraai. Kwart oor twee word my muskietnet oopgepluk en daar staan ‘n wraakengel by my bed: “Ma, is jy van plan om die hele buurt wakker te maak?” Maar die klankvolume … “Ma, jou oorfone is in jou ore, plug dit net in die foon!” O. Oeps.
Vanoggend was ons nog ietwat vakerig. En styf.
seegogga
Ek het my nou slap gelag vir daardie oorfone!
HesterLeyNel
Ouderdom!
dromer777
😂😂😂 wens ons roete was so. Klerksdorp sn is maar vaal
HesterLeyNel
Dit moet ek toegee, hierdie is darem maar ‘n mooi wêrelddeel.
travel460
Die oorfone ding het ek ook al oorgekom! Dit klink of dit ń heerlike ‘uitstappie’ was, maar ek kry jou jammer oor die krampe en sooibrand en toeneus.
HesterLeyNel
En alles gebeur mos op een slag. Dankie Una, die jammertjies laat my darem beter voel.
Bondelsgedagtes
Hahahaaa reg ingewy vir ‘n towerinne toer se manewales…
HesterLeyNel
Praat jy, ‘n mens moet fiks wees om so ‘n toer te oorleef.
Rob Alberts
Luie groet vanuit mijn voortuin met knisperend vuurtje
HesterLeyNel
Ek gaan ook eendag slim word en rustiger leef 😏
Toortsie
Jy is ‘n treat! 😂
HesterLeyNel
Ek is ‘n bedreiging vir myself
Toortsie
Dis heeltemal oraait. Ek is ook. En ek soring ook laaste weg by die parkrun, so as die Towerinne so iets wil doen, hou ons net agterlangs! 😁
HesterLeyNel
Dis reg so
Toortsie
Ek het nou nog net die 2 keer geparkwalk, ek het ander bedrywighede op die program gehad of het rondgeloop. Dit het ook een keer gereën. Ek dink ek kan weer hierdie naweek saamstap.
HesterLeyNel
Ons wag ook altyd vir goeie weer. Ek sukkel nog met my ore as die wind waai.
Abrie Joubert
🤣😂🤣 Ai dat die nuwe foon sulke klank probleme het! Hester jy hoef nie getres te wees wat om met towerinne te doen wanneer hulle by jou is nie. Laat hulle parkrun🏃♀️🏃♀️🏃♀️
HesterLeyNel
Ek weet nie of hulle jou toelaat om met rooiwyn in die hand te hardloop nie.
Tannie Frannie
Ahaa! So ek kan rooiwyn as alibi gebruik??
HesterLeyNel
Hahaha, slim van jou. Jy kan daar op die Orange Rocks gaan sit en die nuwe dag indrink – letterlik.
Tannie Frannie
Nog voor die Boeing oorgevlieg het?!
HesterLeyNel
Hy’s mos gister al verby?!
Tannie Frannie
Ag dankietog – tjeers!!
scrapydo2.wordpress.com
Dit klink darem te veel na n sweterige besigheid om so aanmekaar te loop. Ek sweet mos maklik so dit sal goed wees as ek kan droog aantrek tussenin! Gelukkig is ek gladnie n oorfoon ou nie. Klink maar n gedoente om so met toegestopte ore te wees. Ek wil weet wanneer daar gevaar kom so my ore moet oop bly!
HesterLeyNel
Dit gaan baie warmer mort wees bootdst el dal begin sweet 😜 Ek het klaar besluit om volgende keer my swembroek saam te vat – het jy daardie getypoele gesien?
scrapydo2.wordpress.com
Ja, so jy kan bietjie afkoel ook! Klink na n goeie plan.
Positief
Ek het heerlik vir jou gegiggel, eers vir die rus by die roomysstalletjie, daarna vir die oorfone afêre. Nog steeds is jy beter as ek, doen deesdae niks, niks niks
HesterLeyNel
Jy kan nie net werk nie! Gaan uit en gaan speel. Ek predik dit heeldag vir my seun.
Kameel
Ek het dit nou geniet… sien jou daar langs die bed trippel. Daardie oorfoon ding kom my ook oor…. ek kies net my tyd beter 😁😁😁😁
My kuitspiere is vanoggend baie seer, en dit van twee dae die honderd treë bultjie hier by ons uitstap en weer terug. Jy verstaan dus ek sal nie ‘n parkrun oorleef nie…. so vergeet Abrie se voorstel!!! Hester as jy kans sien om dit elke Saterdag te doen is jy baie dapper…. en fiks.
HesterLeyNel
Diè Abrie – hy het nou weer almal op hol. Vergeet dit, ons gaan ontspan wanneer die Towerinne hier is. Ek moet sê, deesdae se “ou mense”, onder welke groep ek ook nou resorteer, neem geesdriftig deel aan die Parkrun. ‘n Hele paar van hulle het voor my by die eindpunt gearriveer. Ek sal moet lòòp om by te hou.
Kameel
Het sommer my skoondogter gebel om te hoor hoekom parkrun hulle nie… hoor toe ons seun en twee kleindogters het ook Saterdag vir eerste keer gestap/draf.
HesterLeyNel
Dis deesdae ‘n groot ding jong. As jy eers geregistreer is, kan jy op enige plek in die wêreld net instap en gaan deelneem. Die klomp het agterna nog gaan gaan help strand skoonmaak en by die C-Bali gaan koffie drink, so dis ‘n hele sosiale besigheid.
vuurklip
Geluk!
Vuurklip se 2e parkrun is hier:
http://www.parkrun.co.za/fishhoek/results/weeklyresults/?runSeqNumber=246 (#154)
HesterLeyNel
In 37:49 minute! Liewe vaderland, ek sou morsdood neergeslaan het van moegheid (ek voel vandag nog effe styf in al die spiere en ek is nie juis super-onfiks nie). Baie geluk, dit wil gedoen wees. Dit lyk my daar is ‘n hele paar bloggers wat deelneem aan die parkrun.
perdebytjie
Nou so lekker gelag vir jou oorfoontjies! Jy was seker verlig dat die probleem nie by die nuwe foon se klank lê nie.
Ek is effe lui, gee Parkrun vir my nie, dankie!
HesterLeyNel
Nie eens as jy deur so ‘n mooi omgewing kan stap nie 😛
perdebytjie
Dalkies wel daar by julle rond…beslis nie hier nie!
Lewies Mymer
Hier in onse dorp word die stappers/drawwers en hollers geskei in die Fast and Furious en die Slow and Steady. By lg groep voel ek meer tuis.
HesterLeyNel
Haha, dis ‘n goeie benaming. So jy is ook ‘n Parkwalker – ek is verstom oor die aantal bloggers wat deelneem.
Lewies Mymer
Lui in die winter,dan is dit teen 8:00 nog donker. Ek het nou 23 parkruns gedoen, uit ongeveer 120 wat reeds hier plaasgevind het.
HesterLeyNel
Ek slaap ook laat in die winter, hoewel dit ‘n bietjie vroeër lig word hier. Ons het Saterdag heerlike weer gehad en lekker op die strand rondgedwaal vir ‘n uur voordat die parkrun begin het.
trommeltjies
Agge nee liewe towerinne, nou moet ek my totale program verander. Ek het dan gedink ń uit klim teen Tafelberg is die aangewese aktiwiteit hier in die Kaap😱😱🥂😲.
HesterLeyNel
Jy het vergeet sommige Towerinne het knieë met ‘n wil van hul eie 🤔