Vrydag breek aan met ‘n flouerige sonnetjie nadat dit die hele nag deur gereën het. Die reën is welkom, want ons het Februarie laas ‘n druppel van bo gesien en dis droog, baie droog. Selfs die aalwyne het hierdie jaar verskrompel van die droogte, die snerpende wind en die son.
Maar (daar is mos altyd ‘n maar), my dogter het my wakkergemaak met die nuus dat die dak gelek het – water in ‘n haar slaapkamer se hangkas. Daar is aan die dak gewerk voordat ons ingetrek het en die kas se rakke in die hoek is uitgehaal – moet nog vervang word, maar ons het met opset gewag vir die reën, want waar ‘n grasdak eers gelek het, is daar altyd probleme. Nou weet ons darem waar die water inkom en die kas gaan moet verhuis. Natuurlik sal die grasdekkers ook weer moet kom. Nat handdoeke die hele wasgoeddraad vol 😒 en hier is nie juis baie pakplek nie.
Telkom het nog steeds nie opgedaag nie en Karen se slaapkamer is ‘n tydelike kantoor (“tydelik” vir die afgelope ses weke reeds, want dis die enigste plek waar ons die bure se wifi-seine kan optel). Ek het ‘n klagte gelê by ICASA (Independent Communications Authority of South Africa) twee weke gelede en het onmiddellik ‘n epos met ‘n verskoning van Telkom af gekry. Verlede Maandag het ‘n vriendelike tegnikus opgedaag wat die kabel gelê het van die straataansluiting af tot in die kompleks – vyftien minute se werk. Ons het bygestaan toe sy die tegnikus gebel het wat verantwoordelik is daarvoor om die kabel van die kompleks se aansluitingspunt tot in die huis te lê, om hom in te lig dat die kabel in plek is.
Ons het twee dae gewag en toe weer die Call Centre gekontak, net om te hoor dat die tegnikus sewe werksdae tyd het nadat die kabel geïnstalleer is om die lyn na die huis toe aan te lê; hy sal ons bel en ‘n afspraak maak wanneer sy werkslading dit toelaat; dis hulle “proses”. Blykbaar is sy werkslading gròòt.
Intussen stuur Telkom vir my rekenings vir die maande van Junie, Julie en Augustus. Die lyn is gesny deur Telkom aan die begin van Junie (ek het hulle 30 dae kennis gegee van verhuising en dat my lyne oorgeplaas moet word op 29 Junie). Toe sny hulle sommer onmiddellik die lyn, enkele minute na die telefoongesprek. Nou moet ek betaal vir dienste wat ek nie gehad het nie? Ek dink nie so nie. Ek het hulle vanoggend laat weet dat ek Maandag weer met ICASA in verbinding gaan tree. Hopelik sal hulle na beide klagtes omsien.
Intussen het ek ook ‘n probleem gehad met my korttermynversekering. Ek het met hulle in aanraking gekom voordat ons getrek het en ‘n kwotasie gekry omdat ek bewus is daarvan dat premies hoër is vir grasdakhuise, maar ek was tevrede met die bedrae wat genoem is. Teen betalingstyd het ek agtergekom dat die premie gestyg het met ‘n whopping 250% en boonop het die maatskappy ‘n eenmalige fooi van R1700 bygevoeg vir Julie. Net omdat ek van adres verander het? Ek het die betaling deur die bank laat terugstuur (en R140 betaal vir die plesiertjie). Daar is ‘n nuwe premie beding en gevorder en hopelik is hierdie probleem nou iets van die verlede.
Die grootste irritasie bly nog steeds die feit dat ek nie ‘n huistelefoon het nie. Telkom kan slegs van ‘n landlyn af gebel word. Die meeste besighede het tolvrye nommers, maar hulle is ook net tolvry mits hulle van ‘n landlyn af gebel word. Ons selfoonsein is swak en dit werk bitter duur uit om aanhoudend te bel na ‘n landlyn toe (Call Centres!) waar jy lank moet wag voordat jy iemand in die hande kry om mee te praat. Ons “Deelnet” is stadig, met die gevolg dat epos laat ontvang word of dat die dokumente doodeenvoudig nie wil oopmaak nie. Ons sukkel om aanlynbankdienste te gebruik, om ons cloud server se adminfunksies te gebruik, om webtuistes in stand te hou. En wie moet ons bedank? Definitief nie Boland Bank nie.
Dis dan hoe ek my Vrydag deurgebring het – deur koud te kry, met ‘n lekkende dak te sukkel, besighede te probeer oorreed om dienste te lewer, my rekenaar luidkeels aan te moedig om ASSEBLIEF tog wakker te word …
Dankie dat jy bereid was om na my kak-en-kerm-sessie te luister. Om dit te lees, bedoel ek. Alles wat lekker is vir die naweek.
perdebytjie
Ai ek begryp jou frustrasie, Hester. Ons het meer as ‘n maand lank nie ‘n werkende foon gehad nie. Toe dit uiteindelik herstel is, kry ons ‘n rekening van R2000.00! Kan jy glo? Ons probeer nog om te sien wat hier gebeur het. Ons dink iemand het ons lyn getap. Ek is absoluut keelvol vir al die gemors wat deesdae aangaan!
HesterLeyNel
Dis regtig om van te huil Bytjie.
perdebytjie
Ons het maar die rekening betaal, want toe sny hulle die pas herstelde foon af…tsk, tsk!!
HesterLeyNel
Ek is bevrees dat dit hier ook gaan gebeur Bytjie, maar die verskil is dat my lyn nie foutief was nie – die dienste is opgeskort deur Telkom (hulle fout wat ek onmiddellik aangemeld het) en nie weer geïnstalleer nie. Dis waaroor die die bohaai nog die hele tyd gaan. Nou hoe kan hulle my lyn sny en dan verwag ek moet daarvoor betaal?
perdebytjie
Ek word woedend vir jou ontwil! Ek hoop julle kom nou reg.
HesterLeyNel
Dankie man
rondomtaliedraai
Ag ek kry jou jammer Ek voel jou pyn!!!! Sterkte
HesterLeyNel
Dankie Tina. Ek is bevrees dat dienslewering nêrens meer op standaard is nie.
Hier "blok" Ek!
Dit sal my van my kop af maak, ek is hopeloos te veel van ‘n beheervraat en kan nie so sukkel nie. Ek het so gevoel oor Vodacom se duur data by my kantoor.
Ek is oor na WebAfrica en dit is ‘n breeze veral wat koste betref – die opvangs is ook uitstekend ek weet net nie of dit oral so goed is nie.
HesterLeyNel
Ek is bevrees dat geen sein wat per toring of sateliet uitgesaai word van veel nut is hier rond nie.
Bondelsgedagtes
Ek deel jou pyn!!! Sterkte sterkte sterkte!!
HesterLeyNel
Dankie 😊 dit help baie om vrinne te hê by wie jy kan weeklaag.
Bondelsgedagtes
🌹💕
travel460
Hopenlik was Saterdag effe beter? Jou Vrydag klink soos ń riller; ek sou regtig julle hele internet-ordeal nie kon hanteer nie. Maar wat is mens se opsie…
HesterLeyNel
Saterdag was baie laidback. Soms moet ‘n mens ‘n dag afvat en niks doen nie. Was en stryk was my strafste oefening.
Tannie Frannie
Dis ook net jy wat was en stryk “niksdoen” sal noem! Daar’s ‘n blogger wat praat van “Helkom” – is dit dalk Abrie? Hoe ook al, dis ‘n baie goeie naam vir die lot!
Abrie Joubert
Nee tannie Frannie ek het net welkom 🙂 🙂
HesterLeyNel
Ek dink die hel sal dalk beter georganiseer wees Frannie.
Tannie Frannie
😀
seegogga
Ai sterkte tog . Ons leww word mos gereel deur klerke en die een weet nie wat die ander een doen nie.
HesterLeyNel
Dankie Seegogga. Ek is keelvol vir Call Centre mense wat geen idee het wat aangaan nie; al wat jy kry is vae beloftes. Dis ‘n probleem by alle groot maatskappye deesdae.
Abrie Joubert
Hester dankie vir die goeie wense en sterkte met Helkom (die benaming wat tannie Frannie aan my toegedig het). Hoop die klippe disintigreer tot welruikende poeier.
HesterLeyNel
Dankie Abrie, ‘n bietjie poeier sal welkom wees.
scrapydo2.wordpress.com
Die klippe foto moes eintlik sulke stekelrigge skerp klippe gewees het nie sulke gladdes nie. Wat n frustrasie hoe hou jou senuwees dit? Ek is nie so internet gebonde nie maar die bietjie wat ek wel gebruik moet darem werk al is dit vreeeslik stadig met tye. Daardie call centers gee my ook n pyn. Jy moet weet hoe duur kos dit om van hier af aan te hou en dan nie n antwoord te kry nie. Ek is bly julle weet nou waar die dak lek. Dit kan darem gefix word. Daardie tegnikus moet wraggies hulp kry om meer per dag te kan doen. Is dit privaat ouens of Telkom se ouens self?(Telkom sal beslis nie ekstra werkers gebruik nie want hul is bang die werk raak klaa, ha ha!)Patetiese ou spul.
HesterLeyNel
Dis almal subkontrakteurs, maar die subkontrakteur het ook verskillende afdelings – een werk op die paal, die volgende een lê die kabel van die paal af tot by die kompleks en daarna kom die daaropvolgende een die kabel lê tot by die huis. Wanneer hulle hier arriveer, blameer die een die ander vir elke oponthoud.
scrapydo2.wordpress.com
Regte kettingreaksie en in die tussentyd kom niks klaar nie. Besighede verloor baie omdat daar nie deurlopende diens is nie.
HesterLeyNel
En niemand gee om nie.
scrapydo2.wordpress.com
Presies, dis altyd die ander ou se skuld.
scrapydo2.wordpress.com
Moes net byvoeg: hier het mens privaat mense wat die werk doen. Dis hoe hul hier n bestaan kan maak small business people.
HesterLeyNel
Hier word die (kundige) privaatmense nie eens toegelaat om te help met gebarste pype, gate in die pad of elektriese probleme nie. Dis presies waaroor ons gekla het toe ons drie weke sonder water gesit het.
scrapydo2.wordpress.com
Dis n gemors. Hoe kan daar n gesonde ekonomie wees as niemand weet waaroor dit gaan nie.
HesterLeyNel
Presies
Kameel
Ek het ook gedink jou gekleurde klippies is te mooi vir jou gefrustreerde dag. Was en stryk…hmmmm… nope!!! Kan maar net weereens sê “sterkte!”
HesterLeyNel
Dankie Kameeltjie
Toortsie
Ek hoop Maandag is al hierdie klippies uitgesorteer.
HesterLeyNel
Dankie Toorts, ek is nie baie hoopvol nie, maar ‘n mens weet nooit.
seegogga
Ek het lankal agtergekom dat die wereld beheer word deur klerke- daardie ouens wat st 8 uit die skool is en toe agter n toonbank staangemaak is – nie politici, wysgere, beroemde medici, wetenskaplikes of skrywers nie, maar die ouens met hulle lêers, vorms en nommers en reëls, wat nie hoef te dink( of kan dink) nie.
HesterLeyNel
Dis voorwaar ‘n tragiese gedagte.
aj vosse
Ai… die gesukkel!
Jy kan my landlyn kry… telefoon en al… weet net nie hoe om die lyn te rek tot daar by julle nie… sal ‘n “clown” lyn werk?
Sorrie ek maak lig van julle gesukkel… nat handoeke, slegte diens… rip off versekiring… dit klink amper soos dit hier gaan! 😉
HesterLeyNel
fluister ons lyn is van oggend geïnstalleer, maar ek is te bang om dit hardop te sê – touch wood … touch wood dit hou.
aj vosse
Whooppee… (saggies) … ek is bly, weer saggies. Magnie laat hulle hoor ons is bly nie… anders kom vat hulle ons vreugde dalk ook!! 😉
HesterLeyNel
Dis net so.