My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Donderdag, en die dae loop kwaak-kwaak af na die naweek toe

Egyptian Geese parents and twelve goslings

Egyptian Geese parents and twelve goslings

Donderdag. Dis nog stikdonker in die kamer. O ja, dis mos reg so, dit moet donker wees, want ek slaap met blindings en donker gordyne styf toegetrek, maar daar heers ‘n vreemde stilte in die huis. Dis koud vanoggend en niemand wil vroeg opstaan nie.

Ek gaan sit op die trap met my bak oatspap. Die uitsig deur die venster lyk maar pateties met wolke wat die son versper, ‘n lagie nattigheid op die teer, nat herfskleur-blare op die pad en die grasperke. Verspotte boom. Weet hy nie die winter is al amper verby nie?

Ons kou so ietwat langtand aan die idee, maar besluit tog om maar te gaan loop. Ek dra ‘n sweetpak (met strandplakkies ingeval my voete in die water beland) en trek ‘n wolmus oor my kop.

Ons kies koers reguit oor die R102 en draf tussen die huise deur oor die spoorlyn tot op die strand. Dis laaggety, die wind is stil en die seewater is grys – so ook die wolkebank wat laag hang – maar dis nie regtig koud nie.

Die strand se naam is Sea Park, maar daar is ‘n gastehuis met die naam Dolphin View en dis wat ons sommer ook deesdae die strand noem, met rede: feitlik onmiddellik sien ons dolfyne wat sommer net daar agter die eerste branders speel. Net regs van hulle, maar dieper in die see, blaas ‘n walvis ‘n wit boog en waai met sy stert in die lug. Ons kamera kan nie daar diep in die see fokus nie, maar ons kry darem mooi fotos van die baai.

Ons stap ‘n entjie strandlangs en loop dan by die padstal verby huis toe. Skielik gewaar ons beweging in ‘n pragtige groot tuin nie te ver van ons sekuriteitskomplek af nie en die kamera kom uit. Is hulle nie dierbaar nie? Ma en Pa McDuck het van die onderpunt van die tuin af opgestap na die dammetjie met hulle krosie toe ons hulle gewaar het. Tel maar die koppies, daar is presies ‘n dosyn McQuackies.

Hierdie selfde ganse kom eet gereeld in ons kompleks. Hulle is so mak dat hulle nie eens padgee vir die motors wat op en af ry nie, maar hulle gaan broei darem toe in ‘n stiller gebied. Hoe weet ek dis dieselfde ganse? Wel, hulle is net so arrogant, skree op ‘n mens en die laaste drie weke dae kom net een van hulle op ‘n slag vreet – dis ‘n duidelike teken dat daar iewers eiers of ‘n nuwe krosie is wat opgepas moet word.

Die res van Vrouedag het maar stil omgegaan met ‘n boek en blogs om my besig te hou. Ek hoop die damesbloggers het hulle wil laat geld op hierdie dag 😄 en geniet nou die langer-as-gewoonlik langnaweek.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

30 Comments

  1. Ag jinne, maar dis ‘n skatlike spulletjie! G’n wonder kolganse is so volop nie…sulke groot krose sorg vir ‘n veelvuldige voortbestaan.So oulik geskryf, dankie Hester.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Bytjie. Hier is hulle nie so volop nie want ek dink die kleintjies het meer vyande. Die ouens wat by die lagoon broei eindig gewoonlik op met net een of twee oorlewende babatjies.

      • Ja seker meer vyande. In die Kaapstad omgewing is hulle blybaar vervuil.Ek dink hul natuurlike vyande is ook uitgewis deur die verskriklike ontwikkeling daar.

  2. Ag dis nou te oulik. Jy is ‘n flukse vrou om in daardie weer te gaan stap.

  3. 🙂 Hmm that’s a new breed of geese on me

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Yes, they can be found in Africa South of the Sahara and in the Nile Valley, although it seems that they have been introduced into the USA as well. The ancient Egyptians regarded them as sacred. In our Cape province they are considered a pest – they are seed eaters and that is where the grain fields are.

      • 😀 When you give place names in Africa I sometimes forget how far away you really are from me!!! And yes, around here we see flocks of Canada geese grazing in fields. Nice pics

  4. Sulke ou eenjies moet n mens mos laat glimlag. Hulle is go3d vir die siel.

  5. Mooiste foto’s.

  6. Dolfyne, ń walvis asook ganse! Julle het ń fenominale vrouedag beleef!!! Ek bly ietwat jaloers, Hester…😐

  7. Mon Dieu! What a pretty family!

  8. Hulle is so kostelik! Gelukkige vrouedag vir gister. 😉

  9. Baie oulik geskryf. Ek verlang na die see

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek verlang ook na die see wanneer die wind so waai en die grommet in my oor verbied my om buite rond te loop 😜 Maar dit bly nog steeds vir my verbasend dat die mense wat hier woon, bykans nooit by die strand kom nie. Ek moedig hulle altyd aan om te trek sodat die binnelanders die see kan kom geniet!

      • Ja asb iemand moet plek maak vir my om daar te kom bly. Ek het my matriek in Durban gedoen en dit gelove. Was alewig by d see. ..

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het hier gewerk vir ‘n paar maande in 1974 (of daar iewers) en het op die Noordstrand gelê net wanneer ek kon. Sommer gedurende etenstyd ook (ek het in die middestad gewerk). Toe al het ek myself belowe om eendag terug te kom, maar na ‘n vakansie aan die Suidkus in 2014, het ek besluit om aan hierdie kant te kom bly. Ek kom baie selde in Durban self.

        • Ja ek dink nie Durban sal my keuse wees nie maar see sal daar moet wees… George, Vicbaai en selfs die Strand naby Gordensbaai hou vir my groot bekoring in..

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het gehoop vir warmer oorde, maar nou kan ek vir jou sê, hier kan dit ook maar vieslik koud word.

  10. Wat ‘n pragtige strand, geniet dit ♥