Vanoggend, op hierdie Woensdag, is daar geen kat in my kamer nie. Snaaks. Die lawaai in die kombuis het my wakker gemaak. My man kry mos ‘n groot lekkerkry as hy vuil skottelgoed in die wasbak kry, al is dit net een vuil koffiebeker. Ou Vroetels, sy dogter se bynaam vir hom, sorg dat dit onmiddellik gewas en gebêre word. Tussenin skakel hy die ketel aan vir koffie en maak roosterbrood, en dan was hy sommer daardie skottelgoed ook. Hierdie huis is open plan en EK IS NIE DOOF NIE!
Dis nog effens vroeg, net voor 7-uur. In die winter hou ek daarvan om laat te slaap. Maar nou is ek honger en dors. Ek slof-slof die trappe af en gryp my ontbyt uit die yskas: drie-minute oats in die mikrogolf, gooi ‘n handvol muesli by, ‘n eetlepel Lifestyle sade en ‘n spatsel melk. Ek hou van roetine. Dan gryp ek my bak pap en gaan sit op die trap en eet, daar voor die venster waar ek op die bure kan spaai. Hulle kan my ook sien en hulle dink heelwaarskynlik hierdie ou vrou het net pienk pajamas. Hulle is reg.
My dogter kom drink haar koffie ook op die trap. Vandag moet ons by die bank uitkom. Elke keer as ek aanteken vir ‘n aanlyn banktransaksie, word ek vermaan om my FICA-besonderhede op datum te bring. Alweer.
By die eerste bank staan ons in die ry by die Customer Services toonbank. En ons staan. En toe staan ons nog ‘n bietjie. Toe beweeg ons tot voor die toonbank en staan die hele tyd terwyl ons dokumente geprosesseer word. Nou is my voete seer en my bek dik. By die tweede bank kry ons ‘n nommer, gaan sit op leerbanke en heel gou word ons genooi om by toonbank 4 te kom sit. Tjop-tjop is ons ge-FICA en daar uit.
Nou gaan ons winkels toe. Daar is baie winkeltjies in ons dorp waar ons allerhande winskopies uitsnuffel. Ek hou van die klein winkeltjies; ek verpes ‘n inkopiesentrum en groot kettingwinkels word net gebruik vir basiese items.
Vandag soek ons na botter. Teen ‘n redelike prys asseblief. En ons speserye moet aangevul word. Ons weet presies waarheen ons wil gaan. Met die intrapslag verwelkom die ryk geure van speserye ons. Hier word speserye in oop bakke uitgestal en die winkelassistente skep die hoeveelheid uit wat jy wil hê. Op aanvraag meng hulle ook die kruie volgens jou voorskrif en as jy ‘n beginner kerriekok is, verduidelik hulle presies hoe die mengsels aanmekaargeslaan moet word. Vir die vitterige mense is daar pakkies en botteltjies kruie te koop.
Dis ook maar goed assistente doen die skepwerk, want ek het ‘n oorweldigende lus om my neus in elke bak te druk en die heerlike geure op te snuif. Die bykosse soos die erte, bone, gort, klapper, rys, ens., word in groot sakke uitgestal. Nee, jy mag nie jou hande daar indruk om die sade so deur jou vingers te laat glip nie! Maar ek sou darem graag wou …
Die winkel is vol en besig, die gangetjies nou en ons skuur almal so in die dwarste by mekaar verby. Dis Woensdag en môre is ‘n vakansiedag. Groet en gesels in verskillende tale. Help mekaar om goed daar bò van die rakke af te haal. Ons kry die botter, kyk net verlangend na die niekerbôls (te veel suiker) en gaan val in die ry by die kassiere waar ons heerlike vars rottis opraap. Dis ‘n lekker soort van shopping.
Stop by die groot kettingwinkel om die een en ander op te tel. Parkeerplek is skaars en ek parkeer doer ver. Nou begin my voete regtig kla en selfs my Green Cross skoene is nie meer gemaklik nie. Ek en my voete verlang na strandplakkies.
Laatmiddag haal ons die varkribbetjies uit die yskas, tower hulle om in sticky ribs en eet hopeloos te veel. Vroegaand steek ek die verwarmer aan voor die TV en raak sommer net daar aan die slaap totdat my man my wakkerskud om bed toe te gaan.
Dit was ‘n lang, vermoeiende, heerlike dag.
Tannie Frannie
Wonder nou al twee dae lank hoe jy binne 10 minute oatspap gemaak kry en sien toe dis die kitstipe – geheim opgeklaar 🙂
HesterLeyNel
Haha, ek is ‘n vinnige dame!
Tannie Frannie
Hmm, vertaal hierdie stelling in Engels en jy kry ‘n heel ander effek!
HesterLeyNel
😂😂Daar vang jy my uit!
Toortsie
Maar oats kook vinnig. Dis mieliepap wat so lank kook. ‘n Uur as ek reg onthou?
HesterLeyNel
Nie my mieliepap nie. Ek maak mieliepap in die mikrogolf – 15 minute tops, alle kooktyd ingesluit. My man kook mieliepap op die stoof, dan vat dit baie lank en jy bly sit met ‘n aangebrande pot. Hy sê die stoofpap smaak beter, maar hy kom nie eens agter as ek dit in die mikrogolf maak nie en eet smaaklik saam 😂
Toortsie
Ek het vergeet! Ek hét wel later die mieliepap in die mikrogolf gekook, in min tyd.
Tannie Frannie
Ag wee-jy, Toortsie, my normale tempo is stadig – ek het menige raakvatter al gefrustreer! Ek kook tot die hawermout langer as wat nodig is om dit so lekker “lymerig” te kry.
HesterLeyNel
Ek hou my hande af van enigiets wat langer as 20 minute moet kook. Na 20 minute is ek moeg gekook.
Tannie Frannie
Onmiskenbare raakvattersindroom!
HesterLeyNel
Nee, ek weet nou nie van daai raakvat-idee nie – dis dalk liewer net veiliger om my nie vir ‘n langer tydperk in die kombuis toe te laat nie.
Tannie Frannie
😀
Toortsie
Dis ook reg. 😁 en ek weet dut sal lekker wees.
Bondelsgedagtes
Heerlik beskrywend…. hoop jy het vandag om geluilekker
HesterLeyNel
O ja. Vandag was pure ontspanning. Die dorp is vol vakansiegangers en vir die volgende paar dae bly ons rustig tuis.
Rob Alberts
Ik kom graag eens bij jou eten.
Al is dat alleen maar om te ruiken en re proeven.
Zonnige groet,
HesterLeyNel
😊 Jy is welkom Rob
Hier "blok" Ek!
Luilekker dae wat broodnodig is.
Ek het vandag wat Donderdag is, vir my man gesé: waarnatoe vat JY my vir uiteet. Dit is vrouedag en as jy my nie uitvat nie, eet jy nie want ek vat vandag aan geen kastrol nie. Wel hy vat my toe uit, en raai wat toe dit by betaal kom het hy so waar as wraggies sy beursie by die huis “vergeet” – ai, die lekkerte van vrouwees. Dit klink darem of jy bederf word al is dit ‘n gewone dag… 😊
HesterLeyNel
Stuur vir hom die rekening! 😄
Hier "blok" Ek!
Toemaar hy het, nadat ek gal gebraak het… nogal in kontant 😋
HesterLeyNel
Goed so!
Hier "blok" Ek!
haastige vingers – galgebraak… moes dit net iewers reg gaan maak het. 😉
seegogga
ag hoe lekker klink dit -veral daardie kleurvolle hopies kerriepoeier wat hulle vir jou meng!
HesterLeyNel
Dis die heerlikste geure!
scrapydo2.wordpress.com
Dis nou die moeite werd om n dag so te belewe al het jou voete geprotesteer. Ons het nie n “vrouedag” nie. Ons is mos veronderstel om gelyk te wees,ha ha! Hul kan maar n “mannedag” ook instel!
HesterLeyNel
Dis dalk ‘n goeie ding om die aandag op vroueregte te vestig, maar ek is bevrees dis merendeels net lippediens. Teen hierdie tyd moes vroueregte al so algemeen aanvaar wees dat dit nie nodig is om ‘n spesiale dag daarvan te maak nie.
scrapydo2.wordpress.com
Ja, daar is maar nie regtig verbetering wat plaasvind. Die vrou bly steeds maar die verwaarloosde persoon.
Kameel
Scrapy dit was gister Vrouedag… ‘n baie koue onplesierige dag. Skoonseun dink dit toe goed om op ons familiegroepie die volgende te sit. “Vrouedag is presies soos ‘n vrou…. koud en mislik.” Ek het dit gate uit geniet 😂😂😂
HesterLeyNel
Hallo! Kom ons teer en veer hom.
Kameel
Dink ook so…. hy het nodig om op sy plek gesit te word.
scrapydo2.wordpress.com
Oeps, dit is darem nou nie baie netjies om ons die skuld te gee vir die onaangename dag nie – Tong in die kies.
Kameel
Ek kan jou sien rondsnuffel tussen die winkeltjies. As jy so lief is daarvoor trek die Midlands jou nie? My see skoondogter lewe wanneer sy in die Midlands kom met al sy inloer plekkies.
HesterLeyNel
Meen jy daai mall in PMBurg? Ek hou nie van malls nie – ek verdwaal so dat ek later geen idee het hoe om daar uit te kom nie. Hierdie winkeltjies wat ons besoek se stalletjies en ware loop sommer so uit op die sypaadjies. Dan weet ek darem in watter straat ek is.
Kameel
Nee, die Midlands is oppad Durban toe. Draai na Mooirivier van snelweg af en ry die ou pad deur die Midlands. Moeilik om hom te beskryf…. hy het sy eie atmosfeer met die oulikste plekkies, gastehuise en plekname. Mens moet eintlik paar dae daar bly en elke dag ‘n ander koers in ry. Kom op die oulikste plekke af. Dis die mooiste mooi in die herfs…. omdat dit so boomryk is. Ons eet altyd in Nottingham by ‘n restaurant waar daar oulike winkeltjies is. Nou verlang ek skoon Midlands toe.
HesterLeyNel
Midlands Meander. Nee, ons was nog nie daar nie. Ek ry nie meer dikwels buite die Suidkus omgewing rond nie. Ek het myself belowe as ek die dag aftree gaan ek nie ry wanneer dit nie streng noodsaaklik is nie. Ek het te veel ure agter ‘n kar se stuurwiel spandeer. Ek wonder of hulle bustoere doen? Moet gaan google.
Kameel
Dit was nou so snaaks. My skoondogter sit nounet ‘n foto op ons groepie. Daar sit sy, haar seun, skoondogter en haar twee dogters by ‘n tafel in die veld en eet. “Where are you?” vra ek. “In die Midlands mamma, duh!” antwoord ons jongste dogter. yep, my skoondogter is rêgtig lief vir die Midlands. Ek wonder ook nou of daar bustoere is.
HesterLeyNel
Daar is toere beskikbaar sien ek, maar ek sal nog moet google want hulle gee nie juis baie besonderhede nie.
Kameel
My man sou jou beste toergids wees…. hy voeter plekke in waar ‘n toerbus nooit sal kom nie. Maar dan moet jy van avontuur hou 🤔
HesterLeyNel
Maar jy weet, op my ouderdom kan die ou lyf net sòveel avontuur hanteer en dan gaan die liggie uit.
perdebytjie
Dit klink of jy ‘n heerlike dag beleef het. Jy beskryf dit so goed!
HesterLeyNel
Dankie By, ja ek hou van hierdie “winkel”dae – dis ‘n lekker tydverdryf wanneer die weer goor is.
Toortsie
Jou Woensdag was sowaar kleurvol en geurvol. Jy vertel so lekker.
Ek het al menige bloginskrywings in die bankry gedoen.
HesterLeyNel
Jy is beslis ‘n beter mens as ek. Die dinge wat ek daar staan en uitdink kan jy nie in ‘n blog skryf nie. Dit het dalk iets te doen met die feit dat ek die proses en die stelsels so goed ken en weet wanneer hulle kleitrap of onnodig tyd mors.
Toortsie
Niks van een mens is beter as die ander nie. My blogkop het net die manier om verskriklik aktief te raak wanneer ek nie kan skryf nie. So, as ek in die bankry sit, dan gryp ek my foon en tiktiktik. 🙂
Dan kom ek ook sommer nie agter hoe stadig die ry beweeg nie.
HesterLeyNel
Nee o Griet, ek is te aandagafleibaar en ek haat ‘n selfoon met ‘n passie. Word selfone deesdae toegelaat in die bank? Jy sal my nie glo nie, maar ek gaan letterlik nooit in ‘n tak in nie, net wanneer dit absoluut noodsaaklik en onvermydelik is.
Toortsie
Ek gaan ok nie sommer in ‘n bank innie. Lyk my dit word wel tiegelaat, of mense kyk nie rond nie.
HesterLeyNel
Ek weet toe selfone net uitgekom het, is dit beskou as ‘n groot risiko in ‘n banksaal – hulle het mos tydbomme gemaak van selfone (die ou Nokias) en was altyd bang dat bankrowers dit sou gebruik om met hulle mede-kriminele buite in die straat te gesels. Ek het Woensdag nogal gekyk, maar sien nie meer die “selfoon verbode” bordjie nie.
Toortsie
Soms terwyl ek by die bank is, stuur hul sekuriteits sms wat ek moet antw. Dit us eintlik vreemd dat hul dit toelaat.
HesterLeyNel
O hemel, daai SMS’e met die OTP’s. Teen die tyd wat ek my selfoon oorreed het om die app oop te maak, is my 60 sekondes al verstreke. Dan moet ek dit weer aanvra. Ek weet nie op wie ek die meeste swets nie – die bank, my selfoon of Vodacom.
Toortsie
‘n sekere bank se 60 sekondes gaan vreeslik vinnig verby.