My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Dinsdag het blink oë en ‘n huppel in sy stap

Op die bankie Oktober 2017

Vroegoggend word ek wakker en daar sit ‘n kat op my bors. Sy kyk my stip in die oë. Ek beweeg my oë na links en kyk op die horlosie op my bedkassie – dis, Dinsdag, 19°C, datum onbelangrik, en dis 8:30vm. Nie ‘n slegte begin nie.

Iewers klink stemme op. Ek draai my oë terug en die kat knik haar kop vir my; dis geselstyd vir my man en die buurvrou hier op die patio by ons kombuisdeure. Elke oggend se ding. Nou word die mense, die dinge en die gebeure van die dag bespreek. Die gesprek gaan vanoggend oor Grandpa-poeiers. Ek frons vir die kat en sy lig ‘n wenkbrou, maak dan haar oë stadig toe Goeie plan, ek gaan ook my oë laat rus. Dankie buurvrou, dat jy so lekker gesels daar oor die onderdeur.

Dan klap ons agterdeur skielik toe en my oë vlieg oop, beweeg na regs en ek sien die horlosie seg nou 9:00vm. Oh shit, ek is laat. My man moet vandag sy maandelikse voorraad pille gaan haal; die hospitaal se aptekers kom deel dit uit by die biblioteek.

Tien minute en ‘n bak oatspap later sit en wag ek in die kar om hom weg te vat.

By die biblioteek bly ek in die kar en luister na Annelie van Rooyen se CD:

Ek lewe
gemaak om na liefde te strewe
op vlerke van vriendskap te swewe
sonder vrae sonder sorge!

Hoe toepaslik dink ek, terwyl ek kyk hoe my man na ‘n paar minute alte vrolik op sy loopstokke terug huppel kar toe. Hy het nou eers met daardie vriendelike apteker gesels, sy gee hom altyd goeie raad en newwermaaind die raad, hy hou daarvan om met haar te gesels oor alles en nog wat. Dankie vriendelike apteker, dat jy tyd afknyp in jou besige skedule om ‘n pasiënt te laat goed voel.

Ek stop by die tuisnywerheid om vars melk te koop. Hy hou van die suurmelk wat ons vir hom maak. Hy klim ook uit, begin dadelik gesels met die twee dames voor by die toonbank. Ek loop agtertoe om die melk te kry, kyk langs pad na die vrugte en groente. Terug by die toonbank, hoor ek die dames het vir hom ‘n werk aangebied. As ek die saak reg beluister, sal sy werk wees om daar by die deur te sit en koffie drink. Hulle lag al drie hartlik vir die uitdrukking op my gesig. Dankie dames vir die hartlikheid en skertsery wat so opbeurend is.

Nou eers gou ‘n draai maak daar by die ysterwarewinkel. Ek kom dikwels daar, die mense is vriendelik en jy word mooi gehelp. Vandag tros ek maar sommer net so agter my man aan. Nog twee dames agter die toonbank glimlag breed, begin dan geduldig soek na die goedjies wat my man wil koop. Hy hou van vroue, kan ure lank tyd spandeer in vrouegeselskap.

“Liewe ouers tog”, sê ek vir hom, “jy koop weer vandag soos die outydse plattelanders by die Algemene Winkel – 20 sent se suiker, 50 sent se koffie, 30 sent se roltabak …”

Hulle lag almal vir my, gesels oor dit en dat, deel raad en raat uit. Dankie dames, dat julle soveel geduld het en soveel medemenslikheid uitstraal.

Op hulle aanbeveling gaan koop ons lugtyd vir sy selfoon by die rekenaarwinkel op die boonste vloer. Hy klimp 20 trappe op met sy loopstokke om daar te kom. Nou gesels ons almal saam, want daar is twee vriendelike mans en ons het ‘n gemeenskaplike vyand ontdek – alles te doene met telefone en rekenaarlyne en so aan. Dankie manne, vir die lekker gesels.

Af met die trappe tot by die viswinkel. Die behulpsame jong dame agter die toonbank lag vir die meneer wat met ‘n groot gebaar wys hoe groot sy gebakte vis moet wees – tenminste 2 meter lank smaak dit my. “Jy moet die vis dan maar eers vir my gaan vang”, giggel sy. Nou gesels hulle visvang en ek gaan sit in die hoekie met die tweedehandse boeke. Hy kom later by my staan en pak die boeke van die boonste rak af om vir my te wys. “Nee, toe”, sê ek, “dis nou genoeg.” Hy begin om die boekrakke reg te pak.

Minute later sit ons in die kar op pad huis toe. Hy grawe in die sak om by die pakkie slap tjips uit te kom. “Gaan jy tjips eet in my kar?” “Nee nooit!”. Hy maak ‘n ander bakkie oop en ek sien die goue uieringe staan hoog gepak. Ek kan die verleiding nie weerstaan nie en pik ‘n uiering raak. Smullekker. Nou is my hand olierig en kan ek niks sê oor die etery in die kar nie.

Hy het vir my nuwe pietersielieplantjies gekoop daar op die winkelstoep, want “jy en jou dogter eet mos die plante totdat hulle duime ver van sterwe af is – gee nie kans dat hulle ‘n bietjie groei nie”. Die pietersielie word saam met die oreganum sommer in die voortuintjie geplant. Eetbare plante is mooi genoeg vir die straataansig. Ek plant, hy skil ‘n lemoen en ons eet daar op die bankie voor die huis. Dan help ek hom om sy boor en ander gereedskap aan te dra. Hy wil die bankie letterlik aan die huis vasketting, want “waar gaan ons sit en lemoen eet as iemand die bankie wegdra?”

Namiddag verdwyn elkeen in sy eie rigting. Vroegaand kom ek by die trappe af en kry hom voor die TV. Dis tyd vir die derde episode van Lord of the Rings en my dogter daag ook op om saam te kyk.

Ek gaan haal die draagbare gasverwarmer en plak my ook op die lang bank neer. “Dis ook die enigste rede waarom jy hier onder kom sit, net sodat jy die verwarmer kan aansteek”. Die gasvlamme word nie op die boonste vloer onder die grasdak toegelaat nie.

Ons grinnik vir mekaar.

“Dit was ‘n lekker dag”, sê hy. Ek dink skielik weer aan Annelie van Rooyen se stem, diep en soet soos donker sjokolade:

O ek lewe!
verstaan weer van droom en van vrede
die vreugde van leef in die hede
dat ek hier is vir ‘n rede.

 

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

37 Comments

  1. A day for counting blessings: we need to do that from time to time …

  2. En sit sommer by da kie Hester vir jou liefdevolle geduld met manlief. Jy sit seker die blink in sy oë…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek is nie juis die geduldigste mens nie. Ek dink hy het so ‘n natuurlike lus en liefde vir die lewe dat hy homself nie laat onderkry nie. Om die waarheid te sê, soms moet ek die remskoene aandraai om te keer dat hy nie net voortstorm nie.

  3. 🌻🌻🌻🌻🌻

  4. Dis nou so mooi…klein dingetjies wat ‘n dag heerlik kan maak! Pragtig geskryf, Hester.

  5. Ek stem met die kommentare saam; hierdie heel gewone dag van julle klink so lekker, so sonder gejaag. Ek is effe jaloers, Hester, ek het op die oomblik so ń behoefte na eenvoud.🌺🌺🌺

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek ook; ek raak al hoe erger in hierdie opsig Una. My dae moet vreedsaam en sonder molshope verloop, anders raak ek goed omge-ellie.

  6. Ag lekker!

  7. A lovely photograph full of warmth 🙂

  8. Dit klink na ‘n wonderlike dag!!

  9. Een prachtdag!

    Ik heb samen met jullie mee genoten.

    Vrolijke groet,

  10. Ag, dis hemels lekker om so n dag te he. Daardie geselsies langs die pad maak die lewe die moeite werd. Geniet sulke dae terwyl julle kan.

  11. Het nou heerlik saam met julle gekuier. Kruie wat op so ‘n dag geplant is, kan mos nie anders as om te gedy nie!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Jy’s welkom. Die sonnetjie begin nou net so oortrek oor my kruietuintjie vroeg in die oggend en die plantjies staan punt in die wind. Ons beplan om ‘n klein green house te bou waarin ons die plantjies kan hou waaraan die apies so graag help eet.

  12. Julle twee… vermaak die hele dorp! Een van die dae betaal hulle julle vir al die pret! 😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Vrouens is mal oor my man. Hy hou van vroue en hulle voel dit aan. Dis ‘n belewenis om te sien hoe hulle ophelder wanneer hy begin gesels. Ek sê altyd vir hom “ja, ja, hulle hoef nie saam met jou te leef nie”, dan lag hy net.

      • My vrou mompel ook so iets… wonder hoekom??

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Iets te doene met die beste voetjie voorsit? Die ander vrouens dokter natuurlik nie die pyne, luister na die klagtes en tel die vuil sokkies op nie. Dit maak ‘n verskil.

  13. ‘n Dag uit my Dagboek. Ek hou van hierdie dag van jou…. van begin tot einde!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit was heerlik Kameel. My man gaan nie meer baie uit nie en geniet die dae wanneer al die aandag op hom toegespits is.

  14. Dit het so lekker gelees en is eintlik so mooi. Dankie dat jy dit gedeel het, jy my nou sommer terug laat verlang na Ogies, want so shop mens mos,🌻

  15. Dit is wat ek nou die lewe noem – droom dit vir my man – hopenlik volgende jaar die tyd loop hy ook so gesels, gesels deur sy dag – want sy vrou is maar ‘n stil wese wat meer met haarself as mense praat. Waarom? Want sy hou nie van mense nie en hy is mal oor mense. Maar ek gesels, moenie my verkeerd verstaan nie, ek gesels saam al wens ek in my kop ek was eerder naby ‘n mooi boek.

  16. Klink heerlik