(want soms voel dit of die lewe druk, sonder enige noemenswaardige rede)
… word ek wakker gemaak deur ‘n olifant wat my kamer inloop om voor my bed te kom staan en miaau.
“Sjarrap!” begroet ek haar.
Nee, ek is nie babelaas nie; ek het plankvloere en my kat loop nie, sy galop soos ‘n perd.
My dogter loop agter die kat aan, gee haar ma net een kyk en sug; ma is weer in ‘n Blou Maandag bui. “Wat sal ons doen vandag?” gooi sy ‘n olyftakkie uit.
Seker nie veel nie. Ek trek die duvet oor my kop.
“Staan op. Die wind is stil. Ons kan biblioteek toe loop,” probeer sy weer.
Ek sal hieroor moet dink. Die biblioteekstappie is 5 kilometer ver op my ou speedometer. Seker nie te ver nie. Tien minute en ‘n bak oatspap later is ek aangetrek en gereed vir die pad.
Ons kreun teen die bult uit, loop ligvoets met die sandpad langs en draai uit op die hoofpad waar ons oor die rivierbrug moet loop. Ons kan ons kompleks se dakke sien uitsteek daar van die brug af.
Die voertuie is veronderstel om 80 kpu te ry, wat beteken dat hulle teen 120 kpu oor die brug jaag. Die groot staalmonsters brul verby en veroorsaak windstrome wat ons hare laat regop staan. Ons klou vas aan die brugrelings en kom veilig aan die anderkant uit.
So in die loop sien ons dat daar ‘n ry mieliepitte langs die pad lê. So elke paar tree lê daar ‘n stukkie KFC hoender tussen die mieliepitte. Nog verder aan lê daar twee van daardie rooi en wit kapsules wat bedoel is vir ouens met maagsere. (Ek weet, want ek steel my man s’n wanneer ek sooibrand het). Mielies, KFC en maagpille. Op ‘n baie onsinnige wyse maak dit sin.
Ons wag ongeduldig vir ‘n opening in die verkeer en hop oor die pad. Loop verder met nog ‘n sandpad aan biblioteek toe, maar draai eers af strand toe om te gaan kyk hoe lyk die water. Die water is blou, kalm en warm genoeg om te swem. Ek het ‘n langbroek aan. Go figure.
Aan na die biblioteek toe. So in die verbygaan rus ons eers in ‘n ou verlate geboutjie wat aan Eskom behoort. Pragtige uitsig oor die see. Huisie by die see.
Die biblioteek se deure is nog toe. Ons loop na die opening tussen die biblioteek en die rolbalbaan, gaan sit op die trappies om te wag en verwonder ons aan die moerse molshoop op die gladgeskeerde baan.
Die baan-opsigter kom ook ondersoek instel.
“Wat gaan ons sê as hy vra wat ons op die baan doen? Dis privaatgrond.”
“Ons sê vir hom ons wag vir Saterdag se wedstryd om te begin”.
Uiteindelik is dit tyd en ons loop tussen die boekrakke in. Die boek-bewaarder lyk nie te bly om ons so vroegoggend (10:00) te sien nie. Haar moer ook. Krap-krap tussen die boeke maar vind vandag niks wat in my smaak val nie. Dan val ons weer in die pad huis toe.
So met die verbyloop steel ek ‘n vlasplantjie uit ‘n verlate tuin. Daar is ‘n oop kolletjie by my voordeur.
Nou is ons rasend honger en besluit om ‘n hoender-sampioen kasserol te maak saam met kraakvars spinasie, aangevul met ‘n sous van suur roomkaas (tuisgemaak van ons eie kefir-kultuur) en ‘n groot skep mosterd. ‘n Middagslapie is nou die antwoord.
Vroegaand sit ons ingeryg voor die TV om die tweede episode van die Lord of the Rings te kyk. Vir die vyfde op sesde keer. Soms moet ‘n mens kyk hoe ‘n paar Orcs se gatte geskop word om beter te voel.
‘n Onproduktiewe dag? Nee. Dit was ‘n broodnodige blaaskansie.
storiesvangister
O fok. Ek was lank Greenkeeper vir Oranjemund Bowling Greens. Niks wat jou hart vinniger in jou skoene parkeer as ‘n mol onder jou pristine greens nie.
HesterLeyNel
Ek sal dit glo, ja. Maar hoe raak jy ontslae van hulle en hou hulle dan weg? Die grasperke hier op ons common grounds loop net so deur. Ek hardloop so elke tweede dag met my geel emmertjie en gaan skep die molsand op om te gebruik vir topsoil op my eie lappie grasperk wat tot dusver, deur die genade, molvry is.
poerdez
So wie word waarheen gelok met die mielies, KFC en suurpille ala Hansie en Grietjie? 🤣😂
HesterLeyNel
Ek wonder … dalk moet ek die bloggers vra om PI te speel en ‘n storie te skryf.
perdebytjie
Klink my na ‘n heerlike uitstappie!
HesterLeyNel
Dis beslis beter as retail therapy en wie wil nou in ‘n shopping mall rondloop in elk geval?
perdebytjie
Psst…ek haat malls!
HesterLeyNel
Self. Ek hou daarvan om by die klein winkels in P. Shepstone se strate in en uit te pop om alles te bekyk, maar ek gaan net mall toe om by Food Lovers Market uit te kom.
Tannie Frannie
Klink vir my na ‘n volmaakte dag.
HesterLeyNel
Dit was, vir my, want dit was net wat my siel nodig gehad het. Ons kry net enkele sulke mooi dae sonder wind op die oomblik en ons maak goeie gebruik daarvan.
woestynkind
Ek wens dit was my maandag. Geniet dit en onthou om volgende keer jou baaikostuum aan te trek.
HesterLeyNel
In die somer is die baaikostuums altyd in ons rugsak, maar wie het nou daaraan gedink hier in die middel van ‘n ysige winter?
Abrie Joubert
Blou Maandag? dan moet jy aansluit by die Lens-artists want hulle tema is juis Blue die week!
Saterdag se wedstryd om te begin. Gits daar gaan my opinie van myself dat ek ‘n bietjie geduld het!
HesterLeyNel
Daar’s mos die Afrika grappie van die sendeling wat verby ‘n bushalte loop en ‘n man daar sien kruisbeen sit:
“Why are you sitting here?”
“I’m waiting for the bus.”
“When did you miss the bus?
“On Monday.”
“When is the next bus?”
“Saturday.”
This conversation took place on Wednesday.
Hier "blok" Ek!
Jou broodnodige daggie maak my grasgroen die kant waar ek eintlik moet sit en werk – met een hengse verkoue en gebruikte tissues wat oral om my lê.
En boonop is ek die hel in vir my man wat weet ek is siek, en met die intrapslag gister na werk vir my vertel “oe-eee ek word siek dit drup drup nog heeldag in my keel.”
Sonder om enigsins aandag aan my en my bloedrooi neus te gee – sorg hy dat ek vooraf moet weet hy is “siek”, wat ‘n lieg is, net vir as ek dalk ook so bietjie TLC nodig het wat hy nie kan gee nie…. omdat hy “siek” is. Dus gaan ek aan soos normaalweg, met ‘n tissue-boks wat ek oral saamdra. 😉
HesterLeyNel
Kry hom terug – dring daarop aan om vir hom ‘n eetlepel kamferolie elke vier ure in te gee.
Hier "blok" Ek!
😂 jy reken, dan kan hy rerig siek wees….
HesterLeyNel
Net so!
Toortsie
Daai hoender klink heeeerrrrlik. Ek glo jy is sommer weer op en top. 😁
HesterLeyNel
Ja, ek sien weer kans vir die week,
Toortsie
Jy het ‘n oulike dogter.
HesterLeyNel
Ja. Jy ook.
Toortsie
Dankie. 😁
Positief
Jou Maandag blou? Ek lees eers vandag hier by jou, so my /Maandag en Dinsdag was blou. Darem sien ons uit na ‘n lekker laaaaang naweek
HesterLeyNel
Ja, môre is ‘n vakansiedag, nè? Vir ons wat van die huis af werk, is naweke eintlik die besige werkstye. Ons vat liewer af in die middel van die week wanneer die kliënte besig is met ander dinge.
aj vosse
Al daai gestappery sal my vrek dors maak… 😉
HesterLeyNel
Ja, ek dra altyd my tupperware waterbottel saam 😇
aj vosse
‘n Ou splêrtsie ietsie so beter wees… pramfien vir meer krag! 😉
HesterLeyNel
Haha. Ons stop darem so dan en wan daar by die strandrestaurant vir ‘n koue bier op ‘n warm dag.
aj vosse
Klink na ‘n blink plan!! 😉
travel460
Ek kerm net nou die dag dat ek glad nog nie eers aan aftree wil begin dink nie…maar jy laat dit idilies klink!
HesterLeyNel
O nee, dis nie alles maanskyn en rose nie. Die ouderdom bring sy eie probleme, maar jy moet maar die beste maak van wat jy het.
Eveline Lenderink
De eerste foto is prachtig.
HesterLeyNel
Dankie Eveline. Dis met ‘n ou selfoon geneem.
Sartenada
Blue Monday – sounds great and interesting. So many happenings in one day. I enjoyed very much Your photos. Thank You.
Have a good day!
HesterLeyNel
Thank you Matti, same to you 😊