My vreugdes en frustrasies

My eiers

Lê-Jou-Eier Skryfsafari – Deur die venster

Hierdie week se bloguitdaging “Deur die venster” word aangebied deur Kameel van Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se blog. Dankie aan almal wat bereid is om op te tree as gasbloggers vir ons Skryfsafari; dit verskaf groot pret, laat ons diep dink en gee sommer nuwe woema aan ons weeklikse geselsies.

Die uitdagings wat reeds geplaas is, kan gelees word deur die InLinkz-skakels en is moontlik gemaak deur die bydraes van:

  1. Toortsie My tyd in die towerpaleis
  2. Lekkervurig Skryf die storie klaar
  3. Travel460 Trek jou stapskoene aan
  4. Seegogga Skryf ‘n feëverhaal
  5. Scrapydo2 Dieremaniere
  6. Kameel Deur die venster (tans nog aan die gang)

Op ons kalender vir die volgende paar weke is die volgende gasbloggers reeds bevestig:

  1. 31/05/2018 – Sonell van ‘n Skrywer se Blok
  2. 07/06/2018 – Abrie van Abrie dink hardop
  3. 14/06/2018 – Bondelsgedagtes van Bondels Gedagtes (‘n relatiewe nuwe lid van die “bende” 👏)
  4. 21/06/2018 – Liza van Country Living in South Africa (nog ‘n nuwe lid 👏)
  5.  28/06/2018 – Frannie van Tannie Frannie

Dankie aan almal wat reeds gasbloggers was, diegene wat ingestem het om ‘n uitdaging aan te bied in die toekoms en aan Toortsie wat onverpoosd poog om nuwe bydraers te soek. Hoe meer siele, hoe meer vreugde. Sluit enige tyd by ons aan en speel saam – dis groot pret!

Ja, ek wil self ook nog graag “gasvrou” speel, maar ek het besluit om oor die rivier te trek die einde van Junie – nuwe weivelde en so aan – en tussen my, julle en Telkom wil ek op die oomblik nie beloftes maak wat ek nie kan nakom nie.


DEUR DIE VENSTER

Dis laataand en ek trek my reënkappie effe vorentoe om die koue motreëntjie af te weer van my brillense. Dis nie regtig ‘n aangename tyd om buite in die wind en weer rond te loop nie, maar ek voel bedruk en het nie lus vir my eie geselskap in my koue woonstelletjie nie.

Daar is nog ligte aan in ‘n paar huisies in die kompleks en dit straal ‘n warm uitnodiging uit na die straatkant toe. Die weerkaatsing van televisieskerms flikker op die ruite. By die hoekhuisie staan ek ‘n oomblik stil en verwonder my aan die rangskikking van pienk rose op die vensterbank.

Ek wonder wat sal die inwoners dink as ek aan die deur klop en vra vir ‘n koppie warm tee … en ‘n geselsie? Ek glimlag vir my eie gedagtes, maar sluip tog ‘n bietjie nader aan die venster om in te loer. Is ek nou al so uitgehonger vir geselskap dat ek op ander mense wil spioeneer? Hulle sal tog nie agterkom as ek net vinnig inloer en ‘n klein deeltjie van hulle samesyn ook myne maak nie.

Die sagte lig van die leeslamp val oor ‘n vrou wat roerloos in ‘n groot leunstoel sit, met ‘n boek op haar skoot. Sy skyn verdiep te wees in haar boek … maar iets is verkeerd met die prentjie. Haar aandag is nie by die boek nie; sy sit penregop, gespanne, en haar kop is skuins gedraai asof sy na iets luister. Het sy agtergekom dat daar ‘n afloerder in die straat is?

Dan hoor ek swaar voetstappe aangesleep kom. Ek kyk oor my skouer en sien ‘n man wat slingerend oor die nat teerpad sy weg vind na die hoekhuis toe. Hy loop en mompel onder sy asem, maar dit reën nou harder en ek kan nie hoor wat hy sê nie.

Ek maak my lyf skraal agter die roosbos met die vuilpienk rose en wag totdat hy by die hoekhuisie se hekkie inslof. Een laaste blik na die vrou in die leunstoel laat my ‘n oomblik lank huiwer. Sy is skielik ingedoke, haar rug krom en haar hande vryf senuweeagtig oor haar gesig. Dan hoor ek die man se stem in die huis en sien hoe sy weer orent sit en ‘n verwelkomende glimlag oor haar gesig forseer.

Stilletjies gee ek pad agter die roosbos en loop om die hoek van die huis, versigtig om nie my voetstappe te laat weerklink op die pad nie. Skielik dink ek met waardering aan die vrede van my woonstelletjie wat vir my wag.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781709

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Follow Dis Ekke

37 Comments

  1. Baie vrouens verkeer in hierdie dilemma. Uitstekende atmosfeer geskep, Hester.

  2. Jip, hierdie is die storie van so baie vrouens reg oor die wêreld.

  3. Jy het die atmosfeer uitstekend weergegee Hester. Net jammer dat dit die werklikheid is wat hier weergegee word.

  4. Ugh. Wat ‘n naarheid. Ek voel sommer jammer vir die vrou.

  5. So jammer vir vrouens wat hierdeur moet gaan,,, pragtig geskryf Hester!

  6. Die harde werklikheid vir so baie. Ai dis jammer.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit is Toortsie en dis ‘n situasie wat my woedend kan maak. Daar is te veel boelies en te min goeie mense om die boosheid uit te kanselleer.

  7. ek kan net saamstem met allekommenntaar hierbo. Uitstekend geskryf en baie hartseer. En nou los jy ons om die storie klaar te maak in ons gedagtes.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Seegogga. Jy weet natuurlik wat die ergste deel van hierdie storie is – 99% van die tyd is daar nie ‘n “einde” nie. Dit sleep voort vir jare en word ‘n leefwyse tot een van hulle die moed het om op te staan en te sê “dis genoeg”.

  8. Ai, Hester…en dalk is daardie man die dierbaarheid vanself as dit tog net nie vir die vloek van alkohol was nie.

  9. Nilanjana Bose

    Any chance of a translation? pretty please?

    I was over hoping that you do one like you did with the A-Z. Your visual is stunning!

    Best wishes always,
    Nilanjana.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      😊 I’ll translate just because you ask me so nicely and will let you know when it is published! This was written in response to a blog challenge which required us to write a piece of fiction styled “Through the window”, using the given picture as a prompt.

  10. Sjoe! Jy kan baie goed skryf.

  11. Diep geskryf. Ek is ook geneig soos jy om in n sekere gemoedstoestande te wees om “stories” soos die te skryf. Ongelukkig is dit n alledaagse ding wat gebeur. Die drinkery is maar n groot pyn vir die naasbestaandes. Sulke ouens dra maar ook swaar aan hul omstandighede. In die tussentyd besef hul nie watter leed hul doen nie. Selfs vroue wat drink is ook n aaklige ding vir haar familie. Dis nie altyd net manne wat boelie nie. As jy nou oor die rivier gaan, gaan jy darem as jy gesetle is weer verder eieres le?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ons plaas maar weer ons vertroue in Telkom!

      • Ek het gladnie meer n landlyn nie. Kannie vir jou se hoe dit werk nie maar dit is darem weg van die telefoonlyn hick-ups.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ons het nie satelietgeriewe of enige ander soort toevoer hier nie Ineke. Telkom is op die oomblik al waarop ons kan staatmaak. Die wêreld is maar wild en woes hier!

        • Glo jou goed wat die wildgeit en tekorte betref. Dis so jammer dat dit so moet wees. Ek kan my amper nie indink hoe n mens kop bo water kan hou nie. Ek moes een aand(dag by julle) pensioenfonds bel mer my selfoon. Na 20 minute het niemand opgetel en het die lyn uitgesny. Danwil jy nie weet hoeveel d oproep gekos het nie!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, maar die hele houding is verkeerd. In JHB was ons darem gewoond aan beter diens en as jy hier iets gedoen wil hê, hoor jy gereeld die refrein van “onthou, dis die Suidkus hierdie”, so asof ons iewers van die planeet afgeval het.

        • Kan net my kop skud in moedloosheid as dit so gaan.

  12. Ek sien so uit na my beurt as gasblogger… ek moet net sê

  13. Hi. Ek is nie seker hoe om die skakel te skep vir more se blog nie. Kan jy dalk help?